Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



17.11.14

Die hart kan aanpas

Jou hart kan jou dalk al jou slegte gewoontes vergewe.

’n Onlangse studie het bevind dat as persone in hul 30’s en 40’s hul slegte gewoontes laat staan en ’n gesonde leefstyl volg, hulle enige koronêre hartsiekte onder beheer kan kry, selfs die toestand omkeer.

Met ’n gesonde leefstyl begin beteken in die konteks dat jy jou gewig onder beheer kry, ophou rook, matige drinkgewoontes het, ’n gebalanseerde dieet volg en gereeld oefening doen.

Die slegte nuus in die algemeen is dat die studie bevind het dat 40% van mense se slegte gewoontes toeneem soos hulle ouer word.

12.11.14

Koolstofmonoksiedvergiftiging

Koolstofmonoksied is ’n kleurlose reuklose gas. Dit is gevaarlik omdat koolstofmonoksied die suurstof vervang wat reeds in die bloed aanwesig is.

Algemene bronne an koolstofmonoksied is dampe van gedeeltelik verbrande brandstof en die uitlaatgasse van petrolenjins.

Simptome:
• Moeilike asemhaling
• Blou lippe en vingernaels
• Verwarring
• Hoofpyn
• Die persoon se kleur kan wissel van normaal tot kersiepienk, afhangende van die hoeveelheid koolstofmonoksied reeds in die bloed.

11.11.14

Oefening help ouer persone

Fisiese agteruitgang is ’n natuurlike deel van veroudering. Amerikaanse navorsers het nou bevestig dat ouer persone wat gereeld oefening doen minder fisies agteruitgaan as diegene wat niks doen nie.

Stap is gewild onder ouer persone. Om fisiese agteruitgang meer suksesvol te beperk behoort hulle egter ook kragoefeninge te doen. Daar word spesifiek verwys na oefening vir die biseps en dié wat die knieë gebruik.

10.11.14

Neussproei in plaas van pille vir die brein

Elke keer as jy ’n pil drink vir infeksie of ’n hoofpyn, dan kry jou liggaam soveel meer medikasie as wat dit nodig het. Die rede hiervoor is dat die pil daarvoor voorsiening maak dat slegs ’n fraksie dié plek in jou lyf gaan bereik waar dit werklik nodig is. Dit is veral waar wanneer dit kom by medikasie vir die brein, omdat die brein nie sommer stowwe van buite toelaat nie.

Deense wetenskaplikes het nou na die neus begin kyk as ’n manier om breinmedikasie toe te dien. Hulle het moontlik effektiewe maniere gevind om medikasie na die brein te stuur deur die neuswande. Die behels die sproei van medikasie in die neus, vanwaar dit deur die neuswand na die plekke in die brein gaan waar dit nodig is.

5.11.14

Noodhulp: Versmoring as gevolg van rookinaseming

Versmoring as gevolg van rookinaseming kan plaasvind as gevolg van ’n brand wat al die suurstof uit ’n vertrek haal, of rook wat die keel so irriteer dat dit in spasma gaan en die lugweg afsluit. Die volgende stappe kan gevolg word om so ’n persoon te behandel:

1. Neem die persoon na veiligheid.
2. Blus enige brandende of smeulende klere.
3. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, moet hy / sy in die herstelposisie geplaas word.
4. Begin met mond-tot-mond asemhaling indien die persoon moeilik asemhaal.
5. Behandel enige brandwonde.
6. Neem die persoon sodra moontlik na ’n hospitaal.

4.11.14

Oorgewig middeljarige vrouens behoort te oefen

Vir andersins gesonde middeljarige vroue wat oorgewig is, kan fisiese aktiwiteit hul beste opsie wees vir die vermyding van hartsiektes.

Oorgewig middeljarige vrouens is geneig om te sukkel met hartsiektes, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, diabetes en inflammasie.

’n Onlangse studie het bevind dat selfs ’n klein bietjie oefening help om dié groep se kanse vir die ontwikkeling van hartsiektes kan verminder.