Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

6.11.25

Kruie vir kwale: Longe

Kanferolie is uitstekend vir kinders wat ly aan borsmoeilikheid as dit warm gemaak en goed in die bors en rug gevryf word. Hou die kind warm.

♦♦♦

Die stoom van gekookte wildeals blare kan ingeasem word om respiratoriese kwale te verlig.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir slym op die bors. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Die jel van die bontaalwyn se blare kan op die bors gesmeer word om kongestie te verlig.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om kongestie te verlig.
Soms word heuning of ander medisinale kruie, soos die blare van die lemoenbossie of gemmer, bygevoeg om die doeltreffendheid te verbeter. (is reeds gebruik, gaan na volgende)

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om longkwale te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir longprobleme. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Tee van die wilde salie word wêreldwyd gebruik vir die behandeling van borskwale.
Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en drink vir borskwale.

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir borskwale.

♦♦♦

Gekookte suurvye kan gebruik word vir die behandeling van longkwale.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit vir borsprobleme.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

5.11.25

Vinnige raad vir lae bloeddruk

Raad om jou lae bloeddruk vinnig te laat styg.

Drink koffie – koffie of enige ander kafeïenhoudende drank kan help om jou bloeddruk te verhoog. As jy aan lae bloeddruk ly, kan 'n koppie koffie in die oggend 'n kitsmiddel vir lae bloeddruk wees. Jy kan dit ook as deel van jou maaltye hê, veral wanneer jy met ortostatiese hipotensie te doen het.

Peusel aan amandels en rosyne – die maklikste manier om lae bloeddruk tuis te behandel, is om amandels en rosyne te eet. Rosyne is 'n ideale natuurlike middel om hipotensie natuurlik te genees. Jy kan 'n paar rosyne oornag in water week en dit soggens op 'n leë maag eet en ook die water drink waarin dit geweek is. Jy kan dit vir 'n paar weke en maande probeer. Amandel is nog 'n alternatiewe boereraat vir lae bloeddruk Jy kan dieselfde prosedure vir amandels volg as wat jy vir rosyne gedoen het.

Drink wortel- en beetsap – om jou dag te begin met 'n glas vars wortelsap met heuning kan help om bloeddruk te handhaaf, aangesien dit help om die hart- en nierfunksies te reguleer. Beetsap is weer 'n doeltreffende teenmiddel om jou bloeddruk te help stabiliseer. Vir mense met hipotensie kan die inname van twee glase beetsap vir 'n week goeie resultate gee.



(foto: Diana Lorena García)

4.11.25

Kruie vir kwale: Verkoue

Witolien word tradisioneel in Suid-Afrikaanse kruiemedisyne gebruik om te help met simptome van verkoues.
Kook 'n paar vars, skoon blare om ’n tee te maak. Gooi die tee deur ’n siffie, koel af en drink.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir verkoues. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Die blare van die bontaalwyn word rou gekou of fyngemaak om die jel of sap te onttrek. Hierdie jel kan oraal ingeneem word om die algemene ongemak wat met verkoues geassosieer word, te verlig.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van verkoues van ‘n minder ernstige aard. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas.
Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Die Sotho-mense rook die gedroogde blare van klipsalie as ’n behandeling vir verkoues.

♦♦♦

'n Aftreksel van die wortels van die swarthaak word gedrink vir verkoue.

♦♦♦

'n Aftreksel van die blare en bas van die lekkerruikpeul word gedrink vir verkoue.

♦♦♦

'n Aftreksel van die blare en bas van die soetdoring word gedrink vir verkoue.

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om verkoue te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Week 'n deel van wildepietersielie se wortel in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Vyf blare van Rivier Jasmyn in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Twee blare van wilde-kiaat in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Ses blare van die Njalaboom in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Vir verkoue week Rastafariërs een wildeknoffel plant se bol en blare in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik die bol van wildeknoffel vir die behandeling van hoë bloeddruk.
Een plant se bol word fyngedruk en in melk gekook vir 10 minute. Klein bietjies van die aftreksel word dan in die oggend en aand gedrink.

(Cock, IE & Van Vuuren, SF. The traditional use of southern African medicinal plants in the treatment of viral respiratory diseases: A review of the ethnobotany and scientific evaluations. Journal of Ethnopharmacology. 2020)

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir verkoue. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel geelblomsalie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
Die Nama mense gebruik al lank tee van geelblomsalie vir die behandeling van verkoue.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n ¼ koppie vars groenment-blare.
Laat dit staan vir 3 minute voor jy die tee drink.
Drink dit vir verkoue.

♦♦♦

Gebruik 10 g wildedagga-blare, stele en/of blomme om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir verkoue.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute.
Dreineer en voeg bietjie heuning en suurlemoensap by en drink dit vir verkoue.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar gedroogde takkies heuningtee en laat dit trek vir 20 minute. Drink dit ten minste 4 keer per dag vir verkoue.

♦♦♦

Tee van suurlemoengras help om verkoue te verlig.

♦♦♦

Kruisementtee help vir verkoue.

♦♦♦

Stamp gedroogde basielkruid blare fyn en maak vir jou snuif vir verkoue.
Drink dit vir verkoue

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir verkoue

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir verkoue.
Gooi deur ’n sif en drink vir verkoue.

As jy erge verkoue het, kneus die stam van die klimop en snuif dit. Dit sal ’n genies meebring.

’n Paar druppels van die klimop se sap word in die neus gedrup vir ’n kopverkoue.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar blare van die medisynebossie en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir verkoue.

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir verkoue

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir verkoue.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Drink die tee vir verkoue.

♦♦♦

Gooi kookwater oor ’n teelepel bloekomblare (Eucalyptus globulus) gemeng met ’n teelepel bokboegoe (Coleonema pulchellum). Laat dit trek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink vir verkoue.

♦♦♦

’n Eetlepel boegoebrandewyn twee maal per dag.

♦♦♦

Kook ´n stuk saliebos in water, totdat vloeistof lyk soos sterk tee. Neem een koppie daarvan en kook tot ´n stroop met 2 koppies suiker. Voeg 1 botteltjie borsdruppels en en ´n halwe koppie suurlemoensap by en skud goed. Drink 1 eetlepel vol 3 maal per dag.

♦♦♦

’n Koppie boegoetee sal help om ’n verkoue te verdryf.

♦♦♦

Maak ’n tee van ’n hand vol bloekomblare en drink dit.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.11.25

Kanker - 'n eenvoudige verduideliking

Selle in die menslike liggaam word deur seine van die brein af beheer. Dit laat die selle verdeel, tussen 20 en 50 keer, oud word, en sterf. Dit gebeur egter dat sommige selle hulle boodskappe ignoreer en aanhou verdeel. Die liggaam se immuunstelsel kry dit ook nie reg om die sel te vernietig nie. So word 'n massa selle gevorm. Ons noem dit 'n tumor.

Daar is twee soorte tumors; goedaardige tumors, wat op een plek bly en nie verder versprei nie, en kwaadaardige tumors, wat kan versprei en ander weefsel en organe aantas. Een manier waarop hulle kan versprei is met behulp van die bloedvate in die liggaam. Kwaadaardige tumors is kanker. Wanneer kankerselle een plek verlaat en ander weefsel en organe aantas noem ons dit metastase.

Tumors het verskillende oorsake. Ons verwys na die oorsake as karsinogene:

• Dit kan oorgeërf word - dit beteken jou kanse is beter om dit te kry as een van jou ouers dit gehad het.
• Dit kan gebeur as gevolg van bestraling - deur sonstrale, x-strale of radioaktiwiteit.
Rook veroorsaak dit.
Hormoonversteurings kan dit veroorsaak.
• Die inneem van te veel verwerkte voedsel veroorsaak dit.
• Besoedeling kan dit veroorsaak.
• Virusse maak jou ook vatbaar daarvoor.

Daar is verskillende oorhoofse groepe kanker waarna ons kan verwys:

• Karsinome – die in die voering van organe, kliere en die vel
• Sarkome – in die been, kraakbeen en spiere
• Leukemie – in die bloed en limf- en immuunstelsel

Die naam van 'n spesifieke soort kanker verwys gewoonlik na die area wat dit aantas, byvoorbeeld borskanker, longkanker, prostaatkanker of kolonkanker. Daar is in totaal meer as 200 verskeie soorte kanker.

Behandeling hang af vanwaar die kanker is, die tipe tumor, die stadium tot waar dit reeds gevorder het en die algemene toestand van die pasiënt. Die basiese behandeling is:

• Chirurgie – die kanker word uitgesny, indien moontlik.
• Chemoterapie – chemiese behandeling deur medikasie pf inspuitings. Dit maak die kankerselle dood of verhoed dat dit versprei.
• Radioterapie – kan met behulp van mediese toerusting of medikasie gebeur.
• Tradisionele medisyne – sommige mense beweer die kankerbossie help met spysvertering, kalmeer mens en versterk die immuunstelsel. Die Afrika-wildeaartappel versterk ook glo die immuunstelsel.

30.10.25

Kruie vir kwale: Boererate vir rumatiek

Kanferolie moet warm gemaak word en goed ingevryf word vir die verligting van rumatiek.

♦♦♦

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater vir rumatiek. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir rumatiek.

♦♦♦

Die Khoi het Europeërs meer as 200 jaar gelede geleer van die medisinale waarde van die muishondbos. Vandag word dit ook gebruik vir rumatiek.
’n Kwart koppie vars blare word geweek in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Dit moet daagliks geneem word.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

’n Eetlepel boegoebrandewyn twee maal per dag.

♦♦♦

Maak tee van kruidjie-roer-my-nie en gooi by jou badwater.

♦♦♦

Voeg die vrugte van die koekemakranka by brandewyn, laat trek en gebruik as medisyne.

♦♦♦

Vir rumatiek pyne neem 5 – 10 druppels kajapoetolie met boegoetee, drie maal daagliks.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

28.10.25

Kruie vir Kwale: Boererate vir spierpyne

Kanferolie moet warm gemaak word en goed ingevryf word vir die verligting van spierpyne.

♦♦♦

Rooiwortel (Bulbine natalensis) is 'n vetplant wat in dele van Suid-Afrika groei. Die wortel, blaar en stam word as medisyne gebruik. Mense gebruik dit vir spierkrag.

♦♦♦

Gooi 1 liter kookwater oor 3 koppies blare, stele en blomme van wildedagga.
Laat dit trek en afkoel.
Gooi dit by jou badwater vir spierpyne.
Drink dit vir seer spiere.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir seer spiere.

♦♦♦

Plaas skaafsels bas van ’n kiepersol (-boom) op die blare van ’n bloulelie en bind vas op seer spiere.

♦♦♦

Trek kattekruidblare soos tee, gooi dit in warm water en plaas jou bene daarin.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

22.10.25

Kruie vir Kwale: Artritis

Vir uitwendige gebruik: meng soetolie en kajapoetolie. Dit verlig gewrigs- en lende pyne.

♦♦♦

Die knolle van die duiwelsklou kan fyngemaak en gekook word. Die aftreksel word dan twee maal per dag gedrink.

♦♦♦

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater vir artritis. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar blare van die medisynebossie en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir hoes, verkoue en artritis.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

Meng 1 houer Camphor-room met 10 Grandpa-poeiers en smeer gereeld waar dit pyn.

♦♦♦

Neem 'n 2 liter bottel water en meng met 6 eetlepels engelse sout en die sap van 10 suurlemoene – drink 3 per dag.

♦♦♦

Meng 'n 2 liter bottel water met 2 eetlepels heuning en 2 eetlepels kaneel, 1 eetlepel borrie en 1 eetlepel gemmer en drink 3 maal per dag (hou in yskas).

♦♦♦

Duiwelsklou-tee help vir artritis.

♦♦♦

Probeer 'n kombinasie van selderysaad en aloe vera (aalwyn)tablette.

♦♦♦

Smeer die pynlike areas in met arnikaolie.

♦♦♦

Gooi jenewer en laventelolie in warm water - twee druppels elk. Neem 'n waslap en trek oor die oppervlak sodat die olielagie op die waslap kom. Plaas oor hande met 'n handdoek oor en 'n warmwaterbottel bo- op vir 30 minute.

♦♦♦

Kamille en laventel kan verligting bied van artritis. Week jou hande in louwarm water met 2 druppels kamille-olie en 2 druppels laventelolie by.

♦♦♦

Meng 'n paar druppels jenewer- en sipresolie en vryf geswelde areas daarmee in vir verligting.

♦♦♦

Maak 'n smeermiddel van twee druppels elk jenewer, swartpeper en kamille olie, vyf druppels laventel en tien teelepels olyfolie.

♦♦♦

Die Tswana-mense hang die bolle van die blouberglelie op om uit te droog. Hulle moet 5 maande lank hang. Die bolle word dan verpoeier en gesmeer aan die rug en polse om dit te help herstel.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids