Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

9.7.18

Blaaskanker

Soos die naam aandui kom blaaskanker in die blaas voor. Dit is meer algemeen by mans as by vroue.

Faktore wat ’n rol speel
  • Rook: tabakrook is die grootste oorsaak van blaaskanker. Rook word met ongeveer die helfte van gevalle geassosieer
  • Ouderdom: Hoe ouer ’n mens word hoe groter is die kans om kanker te ontwikkel. In ’n dekade kan mens se kans selfs tienvoudig toeneem.
  • Oorerflikheid: As gesinslede, ’n vader of broer, blaaskanker ontwikkel, beteken dit dat mens se kans verdubbel om dit te ontwikkel, in vergelyking met die res van die bevolking.
  • Omgewing: Blaaskanker is oorwegend ’n Westerse siekte. Vermoedelik speel dieet ’n rol in die verskynsel. Dit kom egter ook voor in Egipte en Tanzanië waar dit ontstaan weens ’n parasitiese infeksie.


Simptome en tekens
Die volgende simptome, as hulle voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker begin versprei na areas buite die blaas. Van die simptome kan egter ook deur ander blaasprobleme veroorsaak word.


  • ’n Behoefte om dikwels te urineer
  • Pyn gedurende urinering
  • Bloed in die urine
  • Verlies van eetlus
  • Merkbare massaverlies

4.7.18

Omega-3 van vis die beste teenvoeter vir kanker

Omega-3 wat verkry word van vis is ’n baie beter teenvoeter teen kanker as dié wat verkry word van vlassaad en ander olies. Dit is die bevinding van ’n onlangse studie aan die Universiteit van Guelph in Kanada.

Hulle bevinding was dat mariene-gebaseerde omega-3’s agt keer meer effektief is om tumorontwikkeling en -groei te inhibeer. Aggressiewe borskanker is getoets om die uitwerking van die verskillende omega-3’s te bepaal.

Vis wat heelwat omega-3’s bevat is salm, makriel, haring, forel, sardyne en tuna. Twee tot drie porsies van enige van hierdie vis per week word aanbeveel.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Nutritional Biochemistry.

20.6.18

Jou liggaamsmassa-indeks

Die liggaamsmassa-indeks (LMI) is ’n nuttige manier om liggaamsgewig en -gesondheid te bepaal.

Dit moet egter nie gebruik word as die enigste maatstaf vir jou gesondheid nie. LMI kan byvoorbeeld ’n liggaamsbouer te vet laat lyk of ’n ouer persoon te maer. Dit is ook nie 'n goeie maatstaf vir kinders nie.

Om jou eie LMI te bepaal moet jy die kwadraat van jou lengte in meter (lengte maal lengte) deel deur jou gewig in kilogram. Dit is jou LMI. As jou LMI onder 18,5 is, word jy gereken as ondergewig. Bo 25 beteken jy’s oorgewig en bo 30 beteken jy is vetsugtig.

11.6.18

Klere wat brand

Brandwonde weens oop vure kom algemeen voor by Suid-Afrikaners wat so lief is vir oop vure. Wanneer ’n persoon se klere aan die brandslaan moet jy vinnig optree om te sorg dat die skade beperk word.

Mense is geneig om buitentoe te hardloop as hul klere by ’n binne-braai of kaggel vlam vat. Keer hulle, want beweging of wind buite sal die vlamme aanhelp. Laat die persoon dadelik lê om te verhoed dat die vlamme opwaarts reik. Moenie dat die persoon op die grond rol nie, dit kan veroorsaak dat die vlamme versprei na ander kledingstukke op die liggaam. Blus die vlamme met water. As daar nie water byderhand is nie, maar dik NIE-VLAMBARE materiaal, kan jy die persoon daarin toedraai om die vlamme te smoor.

4.6.18

Suiwer vrugtesap nie sleg vir bloedsuikervlakke

Suiwer vrugtesap het nie ’n beduidende effek op bloedglukose of insulienweerstandigheid nie.

Dit is die bevindings van onlangse navorsing gepubliseer in die Journal of Nutritional Science. Die bevindings is in ooreenstemming met vorige navorsing wat aandui dat 100% vrugtesap nie verband hou met ’n verhoogde risiko van die ontwikkeling van tipe 2-diabetes nie, en ondersteun groeiende bewyse dat 100% vrugtesap geen beduidende effek op glukemiese beheer het nie.

30.5.18

Peniskanker

Peniskanker is ’n kwaadaardige groeisel aan die vel of weefsel van die penis.

Soos baie ander kanker kan peniskanker deur die liggaam versprei. Dit is gewoonlik die primêre bron van kanker, wat beteken die kanker ontstaan in die penis. Dit is selde ’n sekondêre kwaadaardigheid, wanneer die kanker van ’n ander plek na die penis versprei. Die menslike papilloomvirus (MPV) kom voor in tot 40 persent van peniskankergevalle.

Peniskanker kom selde voor by mans jonger as 50 jaar. Sowat vier uit elke vyf mans wat daarmee gediagnoseer word, is ouer as 55.

Simptome en tekens
• Die penis het ’n rooi kleur.
• Die penis het ’n uitslag.
• Die penis het ’n afskeiding met ’n slegte reuk.
• Die penis pyn.
• Daar is ’n groeisel of seerplek aan die penis wat nie binne vier weke gesond word nie (dit kan soos ’n vrat, sweer of blaas lyk; dit kan seer wees of nie).
• ’n Deel van die penis bloei.
• Die penis se kleur verander.
• Die voorhuid vernou.

Risikofaktore
Infeksies
MIV-positiewe mans se kans om peniskanker te kry is agt keer so groot as ander mans s’n.
Die menslike papilloomvirus is ’n groot faktor in die ontwikkeling van dié kanker. Genitale vratte verhoog die kans van peniskanker met tot 3,7 keer as dit langer as twee jaar voorgekom het. Sowat die helfte van mans met peniskanker het ook genitale vratte, wat deur MPV veroorsaak word.

Higiëne en beserings
Swak higiëne kan die kans op peniskanker vergroot. Smegma, ’n kombinasie van afgeskeide stukkies vel en olie wat onder die voorhuid kan saampak, word verbind met ’n groter voorkoms van peniskanker.

Infeksie van die van die penis en ’n besering van die penis word verbind met ’n kans op peniskanker van sowat 3,1 keer dié van ander mans. Infeksie word gewoonlik veroorsaak deur swak higiëne, ’n allergiese reaksie op sekere seepsoorte of ’n onderliggende gesondheidstoestand soos reaktiewe artritis of diabetes. Klein skeurtjies en skaafwonde aan die penis word verbind met ’n verhoogde kans van 3,9 keer.

Siekte
Ligeensklerose, ’n siekte waar die vel wit verkleur, is ’n risikofaktor. Die presiese oorsaak van die siekte is onbekend en daar is dus geen bekende manier om dit te voorkom nie.

Mans met psoriase wat met UV-lig en ’n middel bekend as psoralen behandel is, het ’n groter kans op peniskanker.

Rook
Rook of die kou van twak verhoog die kans op peniskanker met tot ses keer, na gelang van hoeveel en hoe lank die persoon gerook het.

Voorkoming
Inenting teen MPV kan die risiko op MPV en dus peniskanker verlaag. Die gebruik van kondome kan waarskynlik ook help om iemand teen MPV-verwante peniskanker te beskerm. Verder kan goeie genitale higiëne – die daaglikse was van die penis, skrotum en voorhuid met seep – die kans op balanitis en dus peniskanker verklein. Om op te hou rook kan ook die risiko verklein.

Voorhuidvernouing kan voorkom word deur die toepassing van behoorlike higiëne en die terugtrek van die voorhuid oor die penis se kop op ’n gereelde grondslag. Parafimose kan voorkom word deur die voorhuid nie vir lang tydperke teruggetrek te hou nie.

Behandeling
Verskeie soorte behandeling is beskikbaar na gelang van die stadium van die kanker. Dit sluit in chirurgie, bestraling, chemo- en biologiese terapie. Die gewas en van die omringende weefsel kan ook verwyder word, die kankerselle kan met laserlig weggebrand word, die voorhuid kan besny of die penis of ’n deel daarvan weggesny word.

Meer gevorderde kankers kan ’n kombinasie van chirurgie, bestraling en chemoterapie vereis.

28.5.18

Hierdie dieet help verhoed dat ouer volwassenes verswak

’n Ontleding van alle gepubliseerde studies oor die onderwerp dui aan dat die Mediterreense dieet moontlik kan help verhoed dat ouer individue verswak. ’n Mediterreense dieet bestaan hoofsaaklik uit plantgebaseerde kosse – soos vrugte, groente, graan, peulgewasse en neute.

Dit is al hoe meer algemeen dat mense erg verswak met ouderdom. Hierdie persone het gewoonlik min energie, verloor gewig en min krag in hulle spiere. Hulle is ook meer geneig om gesondheidsprobleme te ontwikkel, frakture op te doen, gehospitaliseer te word, in ’n verpleeginrigting geplaas te word, gestremdheid of demensie te ontwikkel, of voortydig te sterf. Oor die algemeen word hierdie verswakking geassosieer met ’n laer lewenskwaliteit.

Voeding speel ’n uiters belangrike rol om hierdie kwesbaarheid te help voorkom. Britse navorsers het bevind dat diegene wat ’n Mediterreense dieet volg oor vier jaar of langer se kanse ’n verstommende 50% minder is om ernstig te verswak met veroudering. Die navorsers het opgemerk dat die Mediterreense dieet ouer individue kan help om spierkrag, gewig en energievlakke te handhaaf.

Die bevindings is vroeër vanjaar gepubliseer in die Journal of the American Geriatrics Society gepubliseer.