Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

8.10.13

Hormoon ontdek wat dalk help met vrugbaarheid

'n Nuwe hormoon is ontdek wat geproduseer word deur die eierselle van die vrou. Die hormoon, R-spondin2, mag moontlik gebruik word om vrouens se vrugbaarheid te verbeter. Die hormoon stimuleer groei van die eierstokke. Die hormoon sal waarskynlik gebruik word in die ontwikkeling van 'n nuwe hormoonbehandeling vir onvrugbaarheid.

Die hormoon is reeds suksesvol getoets op muise.

(Die studie is gepubliseer in die Junie 2013 uitgawe van The FASEB Journal.)

2.10.13

Mediese woordeboek en gids: R

Afrikaans - English Medical Dictionary / Afrikaanse mediese woordelys en gids vir die gesondheidswetenskappe - Slaan 'n siekte / aandoening / kwaal / gesondheidskwessie na en klik op die skakel vir meer inligting.

(Ons is tans nog besig met die kodering van die gids - dit brei stelselmatig uit.)

R (R) <lees röntgen>

ragitis (rachitis, rickets) Gebrekkige beenverkalking by kinders weens 'n tekort aan vitamien D.

refraksie (refraction) Handeling van terugbuiging.

rektum (rectum) (endelderm) Laaste, nouer gedeelte van die dikderm wat in die anus eindig.

relatiewe digtheid (relative density) <sien ook absolute digtheid> Die verhouding tussen die massa van 'n liggaam met 'n gegewe volume en die massa van dieselfde volume water, dws die verhouding tussen die digtheid van die stof en die digtheid van water.

relatiewe humiditeit (relative humidity) <sien ook absolute humiditeit> (RH) Die persentasie waterdamp in die lug in vergelyking met die hoeveelheid wat aanwesig sou wees indien die lug 100 persent versadig sou wees.

remitterend (remittent) Om die beurt dalend en stygend.

respiratoriese sentrum (respiratory centre) (asemhalingsentrum) Verspreide senuselle geleë in die vloer van die vierde breinventrikel wat betrokke is by die regulering van die diepte en tempo van asemhaling.

respiratoriese sinsitiale virus (respiratory syncytial virus, RSV) (RSV) ’n Virus wat akute respiratoriese infeksie by hoofsaaklik kinders veroorsaak.

retrofaringeale abses (retropharyngeal abscess) Verettering in die bindweefsel agter die farinks.

retromammêre abses (retromammary abscess) ’n Abses tussen die bors en die borskaswand.

retrosekale abses (retrocaecal abscess) ’n Abses agter die sektum.

rodopsien <lees ook jodopsien> (rhodopsin, erythropsin, visual purple) (eritropsien, gesigspurper, oogpurper) ’n Fotosensitiewe, rooskleurige pigment in die stafies van die retina wat nodig is vir skemersig.

rombenkefalon (rhombencephalon, hind brain) (agterbrein, agterharsings, rombensefalon) ’n Gedeelte van die brein bestaande uit die serebellum, pons en medulla oblongata.

röntgen (röntgen, R, roentgen) (R, roentgen) Internasionale eenheid om die dosis röntgenbestraling te meet.

rooiwater <sien bilharziase> roos (eczema) <sien ook ekseem> Akute of chroniese inflammasie van die vel wat gekenmerk word deur die ontwikkeling van letsels op die vel.

rosacea (rosacea) (acne roscea, roosaknee) ’n Chroniese velsiekte van die gesig. Dit word gekenmerk deur rooi pigmentasie en die vorming van puisies. Dit lei tot die vergrowwing van die vel.

rubella (rubella, German measles) (Duitse masels) 'n Akute aansteeklike siekte wat lyk soos masels, maar wat kort van duur is en ligte simptome het; dit word gekenmerk deur koors, 'n pienk uitslag en ontsteking van die agterservikale limfklier.

rug (back) <sien dorsum, 1ste inskrywing>

rumatiek (rheumatism) Algemene begrip vir verskillende toestande gekenmerk deur pyn in die spiere, gewrigte en bindweefselstrukture.

rumatoïede artritis (rheumatoid arthritis) Kom voor wanneer die liggaam se immuunstelsel nie goed werk nie. Dit tas gewrigte, bene (veral in die hande en voete) en organe aan.

rustelose bene (restless legs) Is wanneer dit voel jy kan jou bene nie stilhou nie en daar 'n prikkelende, brandende gevoel en pyn is in die beenspier.

30.9.13

Soja en tamatie help dalk om prostaatkanker te voorkom

'n Nuwe studie toon dat indien jy soja en tamatie saam eet, dit dalk kan help om prostaatkanker te voorkom.

Uit die studie blyk dit ook dat die eet van hierdie groentes prostaatkanker help verhoed, maar as dit saam geëet word, is dit nog meer effektief. Die studie se bevinding strook met die lae voorkoms van prostaatkanker in lande waar soja gereeld geëet word.

Prostaatkanker is die mees algemene kanker wat by mans gediagnoseer word, maar as dit vroeg opgetel word, oorleef die pasiënt gewoonlik.

Die studie beveel die volgende porsies aan: een of twee porsies soja per dag, en drie tot vier porsies tamatie per week.

Die studie is gepubliseer in Cancer Prevention Research van April, 2013.

23.9.13

Westerse dieet nie goed vir jou nie

'n Nuwe studie dui (weereens) daarop dat die tipiese Westerse dieet nie nie goed is vir ons nie. By die Westerse dieet word ingesluit gebraai voedsel, versoete voedsel, geprosesseerde vleis, rooivleis, verfynde graan en suiwelprodukte met ’n hoë vetinhoud.

Die studie het spesifiek gekyk hoe so 'n dieet uiteindelik bepaal hoe oud jy word en die invloed daarvan in sekere chroniese siektes, soos byvoorbeeld hartprobleme en diabetes. Meer as 5 000 mans en vrouens is vanaf 1985 tot 2009 bestudeer hiervoor.

Afgesien van die gevare van 'n Westerse dieet, moet mens ook daarop let dat oefening deesdae as dié belangrikste deel van enige dieet beskou word.

(Die studie is gepubliseer in The American Journal of Medicine van Mei 2013.)

16.9.13

'n Nuwe behandeling vir alkoholisme

'n Moontlike nuwe behandeling vir alkoholisme is onlangs geïdentifiseer.

Tradisioneel word onthouding beskou as die primêre behandeling vir alkoholisme. Farmakologiese behandeling word normaalweg gebruik wanneer die persoon weer terugval in drankmisbruik, nadat hulle opgehou het.

Vir sommige verslaafdes is algehele onthouding egter baie moeilik. 'n Nuwe middel fokus op die groep.

Toetse is gedoen deur die middel nalmefene te gebruik om 'n afname in alkoholmisbruik te bewerkstellig. Dit wil voorkom asof die middel mense help om minder te drink. 'n Studie het bevind die middel kan beskou word as 'n effektiewe behandeling.

Die middel word geneem soos wat die verslaafde nodig vind. Dit hoef nie elke dag gebruik te word nie.

(Die studie is gepubliseer in volume 73(8) van Biological Psychiatry.)

9.9.13

Baie belangrike verskille tussen mans en vrouens

Onlangse navorsing het bevind dat daar belangrike verskille is tussen mans en vrouens met betrekking tot kardiovaskulêre probleme, kanker, lewersiektes, osteoporose en op die gebied van farmakologie.

Die waarde van hierdie navorsing lê daarin dat ons maar nog min weet oor die verskillende maniere wat mans en vrouens hierdie siektes ervaar. Die rede is dat die afgelope 40 jaar se navorsing aanvanklik net op mans gefokus het.

Die simptome van kardiovaskulêre probleme lyk aansienlik anders by vrouens. Drukking op die bors en pyn in die borskas wat na die linkerarm versprei is algemene simptome by mans vir 'n hartaanval. Die standaard simptome by vrouens is egter naarheid en maagpyn wat baie laag voorkom. Boonop is sulke aanvalle gewoonlik meer ernstig by 'n vrou.

Kolonkanker is die tweede algemeenste kanker by mans en vrouens. Dit kom egter later in die leeftyd van 'n vrou voor. Die kankergewasse kom ook normaalweg op 'n ander plek voor as die van mans en dit reageer beter op spesifieke chemoterapie. Die geslagte reageer oor die algemeen anders op chemoterapie vir kolonkanker, longkanker en velkanker.

Primêre biliêre sirrose is 'n lewersiekte wat veral voorkom by vrouens. Daar is bevind dat vir hierdie tipe sirrose, asook kroniese hepatitis C, die vrou se genetiese samestelling en haar veranderende hormoonvlakke, haar veral vatbaar maak. Dit geld ook vir osteoporose, maar veroorsaak dat ons osteoporose as 'n vroue-siekte sien. Osteoporose kom ook by mans voor. Dit word gereeld misgekyk met die gevolg dat die sterftesyfer vir mans met osteoporose hoër is as vir vroeuens.

Wat die farmakologie betref is die uitwerking van aspiriene en ander substansies getoets op mans en vrouens. Daar is bevind dat die newe-effekte bepaal word deur faktore soos liggaamsgrootte, die tyd wat dit die liggaam neem om dit te absorbeer of uit te skei en hormonale vlakke. Dit is dus nodig dat 'n voorskrif die pasiënt se geslag in ag neem.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Clinical Chemistry and Laboratory Medicine en is gedoen onder aanvoering van Giovannella Baggio.

2.9.13

Heupvervanging help met hartversaking, depressie en diabetes

Behalwe dat dit pyn verlig en lewenskwaliteit verbeter, word heupvervanging nou ook geassosieer met 'n afname in die pasiënt se kanse vir hartversaking, depressie en diabetes. Dit is die bevindinge van 'n studie wat 'n paar maande gelede gepubliseer is.