Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Ovaria. Show all posts
Showing posts with label Ovaria. Show all posts

6.1.21

Menslike voortplanting

• Alle lewende organismes moet voortplant om hulle voortbestaan te verseker.
• Alle gewerweldes plant geslagtelik voort, d.w.s. hulle produseer geslagselle.
• Mense plant ook geslagtelik voort.
• Kom ons kyk na die lewensiklus van die mens.

Manlike voortplantingstelsel
Dele van die manlike voortplantingstelsel
Die volgende organe vorm deel van die manlike voortplantingstelsel:
• Die penis
• Verskillende buise – bv. die vas deferens
• Geslagskliere – bv. die prostaatklier

Penis • Die penis is die eksterne geslagsorgaan wat by mans voorkom.
• Wanneer ‘n man seksueel gestimuleer is, veroorsaak die verhoogde bloedvloei na die penis ‘n ereksie.
• Semen, wat die manlike gamete (sperm) bevat, kan dan in die vrou se voortplantingskanaal geplaas word, waar inwendige bevrugting plaasvind.

Skrotum
• Die skrotum is ‘n velsak waarin die testes geleë is.

Funksies van skrotum:
• Tree op as ‘n temperatuurreguleerder (hou die testes 2° tot 3° C laer as liggaamstemperatuur. Hierdie laer temperatuur is nodig vir die vorming van vrugbare sperms.
• Dit dra en beskerm die testes.

Testes
• In die testes is seminale buisies waar sperms vervaardig word.
• Sertoliselle in die seminale buisies voorsien voedingstowwe aan die ontwikkelende spermselle.
• Tussen die seminale buisies is daar interstisiële selle, genaamd Leydig-selle, wat testosteroon vervaardig.

Epididimus
• Aan die buitekant van die testes is ‘n kronkelbuis genaamd die epididimus.
• Die epididimus berg onvolwasse spermselle tydelik totdat dit ryp word.

Vas Deferens
• ‘n Gespierde buis en voortsetting van die epididimis.
• Seksuele stimulasie veroorsaak dat die wande van die epididimus saamtrek en dat sperm tot in die gespierde vas deferens beweeg.
• Tydens ejakulasie druk die vas deferens sperms in peristaltiese bewegings van die epididimus tot in die uretra.
• Hierdie buis kan afgebind of geknip word – wat ’’n vasektomie genoem word.
• Dit voorkom dat spermselle na buite vervoer kan word.

Uretra
• ‘n Buis wat van die blaas en die voortplantingstelsel af lei tot by die opening aan die punt van die penis.
• Dit vorm ‘n gemeenskaplike buis vir die vervoer van semen en urine tot buite die penis.

Seminale vesikels
• Vervaardig ‘n alkaliese vloeistof, wat deel is van die semen.
• Hierdie alkaliese vloeistof bevat suiker en voedingstowwe om die sperm te voed.

Prostaatklier
• ‘n Enkele klier wat die boonste deel van die uretra omring.
• Dit is net onder die blaas
• Dit vervaardig ‘n melkerige vloeistof wat spermselle aktiveer.

Cowper se klier
• Produseer dik, helder mukus wat deel van die semen vorm.
• Wanneer ‘n man gestimuleer is, is dit die eerste afskeiding wat met die uretra afbeweeg. Dit neutraliseer die suur urine en word ‘n smeermiddel tydens geslagsomgang.

Vroulike voortplantingstelsel
Ovaria
• Ovaria is twee amandelvormige strukture wat in die bekkenholte geleë is.
Funksies:
• Produseer eierselle
• Produseer estrogeen en progesteroon

Fallopius-buise
• Twee gespierde Fallopiusbuise (eierleiers) wat met silia uitgevoer is verbind die ovaria aan die uterus en eindig in die infundibulum met vingeragtige fimbrias.
• Buis kan afgebind of geknip word om te verhoed dat spermselle die eiersel bereik en eiersel bevrug.
Funksies:
• Vorm ‘n pad tussen die ovarium en die uterus vir die ova en sperms.
• Is die plek van bevrugting.
• Indien die eiersel bevrug word, vind die eerste stadiums van die sigoot se selverdelings hier plaas.
• Silia in die Fallopius-buis beweeg die ontwikkelende sigoot na die uterus.

Uterus
• Is ‘n hol, peervormige spierorgaan waar die fetus beskerm word en ontwikkel.
• Is tussen die blaas en die rektum geleë.
Funksies:
• Die orgaan waar die embrio ingeplant word en waar dit groei en ontwikkel.
• Sametrekkings van die spierlaag stel baba in staat om tydens geboorte uitgedruk word.

Dele van uterus:
• Serviks: vernoude deel van die uterus wat tot in die vagina strek.
• Endometrium: binneste voering wat ryk is aan bloedvate.
• Miometrium: die spierlaag wat tydens geboorte saamtrek om baba uit die ma se liggaam te stoot.

Vagina
• Dit is ‘n gespierde buis wat die uterus met die buitekant van die liggaam verbind.
Funksies:
• Is die plek waar sperms tydens kopulasie geplaas word.
• Vorm tydens geboorte ’n geboortekanaal.

Uitwendige genitalieë
• Die vagina open deur die vulva na buite. Die vulva is die gesamentlike naam vir die uitwendige geslagsdele van die vrou.

Die vulva bestaan uit:
• Twee buitenste vouvelle, bekend as die labia majora. Hulle uitwendige oppervlak word met hare bedek.
• Twee binneste fyner voue word die labia minora genoem.
• Dit omring die vaginale en uretra-opening.
• Aan die voorkant smelt die labia minora saam om die klitoris te vorm - ‘n klein erektiele struktuur vir seksuele sensasie by vroue.

8.10.13

Hormoon ontdek wat dalk help met vrugbaarheid

'n Nuwe hormoon is ontdek wat geproduseer word deur die eierselle van die vrou. Die hormoon, R-spondin2, mag moontlik gebruik word om vrouens se vrugbaarheid te verbeter. Die hormoon stimuleer groei van die eierstokke. Die hormoon sal waarskynlik gebruik word in die ontwikkeling van 'n nuwe hormoonbehandeling vir onvrugbaarheid.

Die hormoon is reeds suksesvol getoets op muise.

(Die studie is gepubliseer in die Junie 2013 uitgawe van The FASEB Journal.)

19.12.11

Vrae oor polisistiese ovaria

Tania skryf:
"Ek is ongeveer drie jaar gelede met Polisistiese Ovaria Sindroom (PCOS) gediagnoseer waarna my ginekoloog my op Yasmin gesit het. Ek is onlangs getroud en ek en my man wil met 'n gesin begin. Ek het einde November 2005 van die pil afgegaan. Ek het 5 -8 Januarie my menstruasie gehad.
Ek het Clearplan gebruik om te sien wanneer ek ovuleer en die toets was positief op Sondag 22 Oktober 2005, maar ek en my man het reeds omgang gehad voor dit en nie weer daarna nie.
Ek voel nou baie snaaks, dronk in my kop, naar, seer borste met ook 'n effense vloeistof wat uitgeskei word veral as ek dit druk. Dit voel ook of my baarmoeder onder wil uitval asof daar 'n hewige drukking is. Daar is ook 'n spierwit dik afskeiding. Kan u asseblief vir my raad gee. Kan ek moontlik swanger wees? Kan dit dalk iets anders wees? Wanneer kan ek met sekerheid 'n tuis swangerskap toets doen of sal dit nou al in 'n bloedtoets wys?"

Antwoord:
Dit klink beslis soos swangerskap. Sorg dat jy gou by 'n ginekoloog uitkom.

A**** skryf:
"Ek het die pil gelos. Ek is 27 jaar oud. Siklus was redelik gereeld tot dusver (28 - 33 dae). Menstruasie is egter al 28 dae laat. Het bloedtoetse laat doen en is nie swanger nie. My suster (22) is met PCOS (Poly-Systic Ovarian Syndrome) gediagnoseer. Is daar 'n moontlikheid dat ek dit ook het? Wat is my kanse om swanger te raak? Watter behandeling stel u voor? Gee asseblief raad. Ons wil baie graag 'n baba hê!"

Antwoord:
Eerstens moet jy 'n korrekte diagnose kry voor jy kan dink aan 'n behandeling. Polisistiese Ovaria veroorsaak dat die deklaag van die ovarium verdik en dit belemmer of stop die vermoë om te ovuleer. Sowat 20% van vroue het Polisistiese Ovaria. Behalwe vir die versteuring in ovulering toon vrouens ook ander simptome soos onvrugbaarheid, miskrame, haargroei op plekke waar vrouens nie gewoonlik hare kry nie, aknee, gewigstoename en depressie. Behandeling probeer normaalweg om die hormoonvlakke aan te pas. LET WEL dat die tipe behandeling afhang van watter simptome jou pla EN of jy later wil kinders hê. Dit is belangrik dat jy en jou dokter enige behandeling na jou behoeftes skik.

29.7.09

Ovaria / Eierstokke

Die eierstokke is die orgaan in die vroulike liggaam waarin eierselletjies ontwikkel.