Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

26.11.25

Diabetes en swangerskap

Kenners meen al lank dat diabetes in swanger vroue nie altyd opgetel word nie. Nuwe riglyne gepubliseer in die Journal of Clinical Endocrinology and Metabolism beveel aan dat swanger vroue ’n toets vir diabetes ondergaan met hul eerste besoek aan die dokter wanneer hulle besef of vermoed hulle is swanger.

Diabetes kan nadelig wees vir beide die ma en haar fetus. Om beide gesond te hou is dit belangrik dat die toets so gou moontlik gedoen word.

Soveel as een uit elke vyf vroue ontwikkel ’n tipe diabetes wat met swangerskap verband hou. Die gevolg hiervan is normaalweg ’n abnormale groot baba.

Die nuwe riglyne beveel ook aan dat vroue wat oorgewig is probeer om gewig te verloor voor hulle swanger raak.



foto: David Roseborough

20.11.25

Menslike Papiloom-virus (MPV)

MPV is ’n virusinfeksie wat servikskanker kan veroorsaak. Meisies kan egter ingeënt word teen die virus voor hulle seksueel aktief raak.

Feite oor servikskanker in Suid-Afrika:
  • Servikskanker is die tweede algemeenste kanker wat by vroue in Suid-Afrika voorkom.
  • MPV is 100% verantwoordelik vir servikskanker – die kwaadaardigste tipes MPV is 16 en 18, en dit is verantwoordelik vir 70% van alle serkvikskankergevalle.
  • Die entstof Ceravix® word teen MPV gebruik. Dit moet twee keer toegedien word met ’n interval van ses maande tussen dosisse.
  • Die entstof is die doeltreffendste wanneer dit op negejarige ouderdom toegedien word.
  • Daar is byna geen of net baie ligte newe-effekte.
  • Die entstof se veiligheid is telkemale bevestig. Vier sterftes is in die navorsingsfase aangemeld. Drie van hierdie sterftes was in die groep wat die placebo-entstof (namaaksel) ontvang het, en die sterftes kon dus nie aan die entstof toegeskryf word nie. Die vierde sterfte het niks te doen gehad met entstofgebruik nie.
  • Die virus word versprei deur vel-op-vel-kontak gedurende seks. Enige vrou wat seksueel verkeer, selfs al het sy net een seksmaat in haar hele lewe, kan MPV opdoen. Dus moet mans en pa’s hul vroue aanmoedig om hul servikale sifting (Papsmeer wat MPV en kanker kan ontdek) te laat doen en hulle moet verseker dat hul dogters teen MPV ingeënt word.
  • Daar is tans geen middels wat MPV kan behandel nie, slegs middels wat dit kan help voorkom.
  • Daar is 52 tipes MPV waarvan sowat 15 gewasvormend is (dit veroorsaak kanker). Twee van hierdie 15 tipes – MPV-tipes 16 en 18 – word in 70% van alle servikskanker gevind.
  • MPV veroorsaak dat kankeragtige selle op die boonste lae (wat die silinderepiteel genoem word) van die serviks ontwikkel. As dit ongemerk gelaat word, sal die selle in kanker ontaard wat na die baarmoeder sal versprei en na enige ander area van die liggaam kan versprei.
  • Wanneer ’n gesonde vrou met MPV besmet word, kan kanker tussen 10 tot 20 neem om te ontwikkel. Dit is hoekom ons vroue aanmoedig om elke vyf jaar vandat hulle 30 jaar oud is ’n servikale sifting (Papsmeer) te hê.
  • ’n Servikale sifting is ontwerp om pre- en kankeragtige selle te diagnoseer sodat behandeling met die pasiënt bespreek kan word.
Onthou, die entstof beskerm net teen die twee algemeenste tipes MPV, tipe 16 en 18, wat verantwoordelik is vir 70% van servikskanker. Daar is ander minder algemene tipes MPV wat servikskanker kan veroorsaak. En onthou dat die entstof nie teen ander seksueel oordraagbare siektes soos MIV, gonorree, sifilis, chlamydia en ander skadelike infeksies verwant aan seksuele aktiwiteit beskerm nie. Dit is dus belangrik om kondome te gebruik en veilige seks te beoefen.

10.11.25

Wat is cholesterol?

Cholesterol word deur die liggaam vervaardig uit diereprodukte om jou gesondheid te handhaaf. 75% word deur jou lewer gemaak en 25% kom uit jou kos. Dit verteer vet en vervaardig vitamiene D en hormone.

Cholesterol kan nie in die bloed oplos nie, en daarom word dit na ons selle geneem deur lipoproteïene. Wanneer jy vet eet skakel jou lewer dit om in in 'n tipe lipoproteïene, laedigtheid- lipoproteïene, die sogenaamde "slegte" cholesterol (LDL). Te veel LDL in die bloed laat dit opbou in die slagare. Dit veroorsaak probleme soos aterosklerose. Indien jy geneties geneig is om baie LDL te hê , is jou kanse beter om reeds vroeg in jou lewe verstopte are te kry.

Hoëdigtheid- lipoproteïene (HDL), die sogenaamde "goeie" cholesterol, neem cholesterol uit die are na die lewer, waar dit uitgeskei word.

6.11.25

Kruie vir kwale: Longe

Kanferolie is uitstekend vir kinders wat ly aan borsmoeilikheid as dit warm gemaak en goed in die bors en rug gevryf word. Hou die kind warm.

♦♦♦

Die stoom van gekookte wildeals blare kan ingeasem word om respiratoriese kwale te verlig.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir slym op die bors. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Die jel van die bontaalwyn se blare kan op die bors gesmeer word om kongestie te verlig.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om kongestie te verlig.
Soms word heuning of ander medisinale kruie, soos die blare van die lemoenbossie of gemmer, bygevoeg om die doeltreffendheid te verbeter. (is reeds gebruik, gaan na volgende)

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om longkwale te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir longprobleme. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Tee van die wilde salie word wêreldwyd gebruik vir die behandeling van borskwale.
Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en drink vir borskwale.

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir borskwale.

♦♦♦

Gekookte suurvye kan gebruik word vir die behandeling van longkwale.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit vir borsprobleme.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.11.25

Kanker - 'n eenvoudige verduideliking

Selle in die menslike liggaam word deur seine van die brein af beheer. Dit laat die selle verdeel, tussen 20 en 50 keer, oud word, en sterf. Dit gebeur egter dat sommige selle hulle boodskappe ignoreer en aanhou verdeel. Die liggaam se immuunstelsel kry dit ook nie reg om die sel te vernietig nie. So word 'n massa selle gevorm. Ons noem dit 'n tumor.

Daar is twee soorte tumors; goedaardige tumors, wat op een plek bly en nie verder versprei nie, en kwaadaardige tumors, wat kan versprei en ander weefsel en organe aantas. Een manier waarop hulle kan versprei is met behulp van die bloedvate in die liggaam. Kwaadaardige tumors is kanker. Wanneer kankerselle een plek verlaat en ander weefsel en organe aantas noem ons dit metastase.

Tumors het verskillende oorsake. Ons verwys na die oorsake as karsinogene:

• Dit kan oorgeërf word - dit beteken jou kanse is beter om dit te kry as een van jou ouers dit gehad het.
• Dit kan gebeur as gevolg van bestraling - deur sonstrale, x-strale of radioaktiwiteit.
Rook veroorsaak dit.
Hormoonversteurings kan dit veroorsaak.
• Die inneem van te veel verwerkte voedsel veroorsaak dit.
• Besoedeling kan dit veroorsaak.
• Virusse maak jou ook vatbaar daarvoor.

Daar is verskillende oorhoofse groepe kanker waarna ons kan verwys:

• Karsinome – die in die voering van organe, kliere en die vel
• Sarkome – in die been, kraakbeen en spiere
• Leukemie – in die bloed en limf- en immuunstelsel

Die naam van 'n spesifieke soort kanker verwys gewoonlik na die area wat dit aantas, byvoorbeeld borskanker, longkanker, prostaatkanker of kolonkanker. Daar is in totaal meer as 200 verskeie soorte kanker.

Behandeling hang af vanwaar die kanker is, die tipe tumor, die stadium tot waar dit reeds gevorder het en die algemene toestand van die pasiënt. Die basiese behandeling is:

• Chirurgie – die kanker word uitgesny, indien moontlik.
• Chemoterapie – chemiese behandeling deur medikasie pf inspuitings. Dit maak die kankerselle dood of verhoed dat dit versprei.
• Radioterapie – kan met behulp van mediese toerusting of medikasie gebeur.
• Tradisionele medisyne – sommige mense beweer die kankerbossie help met spysvertering, kalmeer mens en versterk die immuunstelsel. Die Afrika-wildeaartappel versterk ook glo die immuunstelsel.

30.10.25

Kruie vir kwale: Boererate vir rumatiek

Kanferolie moet warm gemaak word en goed ingevryf word vir die verligting van rumatiek.

♦♦♦

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater vir rumatiek. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir rumatiek.

♦♦♦

Die Khoi het Europeërs meer as 200 jaar gelede geleer van die medisinale waarde van die muishondbos. Vandag word dit ook gebruik vir rumatiek.
’n Kwart koppie vars blare word geweek in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Dit moet daagliks geneem word.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

’n Eetlepel boegoebrandewyn twee maal per dag.

♦♦♦

Maak tee van kruidjie-roer-my-nie en gooi by jou badwater.

♦♦♦

Voeg die vrugte van die koekemakranka by brandewyn, laat trek en gebruik as medisyne.

♦♦♦

Vir rumatiek pyne neem 5 – 10 druppels kajapoetolie met boegoetee, drie maal daagliks.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

14.10.25

Aambeie

Mense wat baie sit en swanger vroue kry dikwels aambeie, dit word ook veroorsaak deur hardlywigheid en verrekking. Bykans een uit elke drie mense ly aan aambeie in een of ander stadium van hulle lewe.

Wat is aambeie? Dit word veroorsaak deur geswelde are in of buite die anus en dit is gewoonlik nie ernstig nie, maar kan uiters ongemaklik wees. Simptome is ´n gejeuk en pyn en soms anale bloeding.

Voorkom aambeie deur genoeg rukosse te eet en drink baie vloeistowwe om hardlywigheid te verhoed. Behandeling bestaan uit lakserende voedsel, pynstillende en versagtende salf en setpille vir inwendige aambeie. Daar is pille vir aambeie, maar dit is slegs setpille wat eintlik 'n inwendige salf is. Let ook daarop dat vaseline nie soseer help vir aambeie nie. Dit maak moontlik die vloei van stoelgang makliker, maar behandel nie die aambei nie.

Spreek jou dokter as anale bloeding voorkom of as daar ´n sorgwekkende verandering in jou opelyf is. Klein aambeie kan deur ´n dokter behandel word met inspuitings. ’n Operasie mag nodig wees vir pasiënte met uitgebreide aambeie of interne aambeie.

Ons het verskeie boererate vir aambeie.


Op die grafiese voorstelling kan jy sien hoe lyk aambeie.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids