Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

25.2.25

Gebruik 'n varkblom vir seerplekke

Die blare van die varkblom kan gebruik word om die ongerief van brandwonde en insekbyte te verlig en om sere en pitswere te behandel. Was die blare in warm water om dit te ontsmet en warm te maak en verbind die seerplek daarmee oornag. Herhaal soos nodig.

24.2.25

Enkefalitis / Ensefalitis / Breinontsteking / Harsingontsteking

Mariska Limper skryf :

"'n Vriending wat ek het, het iets soortgelyks aan breinvliesontsteking, daar is 'n ander naam, klink soos enkifilitus of iets. Wil net weet wat moet sy doen. Elke winter, hier by Augustus maand word sy baie siek vir so drie weke en dan is sy weer ok."

Antwoord :

Enkefalitis is breinontsteking wat normaalweg veroorsaak word deur 'n virusinfeksie, maar dit kan ook deur bakteriële breinvliesontsteking veroorsaak word. Dit kan ook die gevolg van iets soos malaria wees.

Die meer algemene simptome sluit in hoofpyn, koors en sensitiwiteit vir lig. Volwasse pasiënte is normaalweg ook baie swak en soms styf.

Die dokter sal gewoonlik die simptome behandel, maar in ernstige gevalle mag hospitalisasie nodig wees.

Dit is baie belangrik dat jou vriendin 'n dokter gaan spreek. 'n Lumbale punksie is seker die mees algemene manier waarmee hulle 'n diagnose sal doen.

Dit is ook belangrik dat sy 'n gesonde leefstyl volg. Dit sal ernstige komplikasies help verhoed.

19.2.25

Klipsalie wil gerook word

Die Sotho-mense rook die gedroogde blare van klipsalie as ’n behandeling vir verkoues.

Hulle rook ook die gedroogde blare van boesmansgif, maar ons beveel dit nie aan vir leke nie aangesien alle dele van die plant giftig is. Die struik se bas en wortels is voorheen as pylgif gebruik.

13.2.25

Kruie vir kwale: Wurms

Die bol van wildeknoffel word reeds lank in tradisionele medisyne gebruik om wurms te behandel. Daar is ook vandag wetenskaplike bewyse dat die plant parasiete kan vernietig (Krstin et al., 2018).
Een plant se bol word in stukke gesny en in kookwater geweek vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.
(Krstin S, Sobeh M, Braun MS, Wink M. Tulbaghia violacea and Allium ursinum Extracts Exhibit Anti-Parasitic and Antimicrobial Activities. Molecules. 2018)

♦♦♦

Sny ’n stuk kaneelbol-wortel van 1 cm skoon en laat dit trek in ’n koppie kookwater saam met ’n paar takkies bergtee. Laat dit trek vir 5 minute, gooi deur ’n sif en drink dit vir wurms.

♦♦♦

Bergtee kan suksesvol gebruik word om van wurms ontslae te raak. Gooi kookwater oor ’n kwart koppie vars blare. Laat dit trek vir 10 minute. Drink terwyl dit nog warm is. Drink dit elke oggend vir twee weke. Dit kan ook gebruik word om wurms by troeteldiere te behandel. Meng die tee met hulle kos en water. Dit werk gewoonlik vinniger vir diere.

♦♦♦

Drink 1 eetlepel geosoneerde olyfolie vir 5 dae net voor slaaptyd en Jalapeno rissie pitte (40) voor ontbyt. Kombineer dit met die swael-resep. Nie die warm Jalapeno rissie nie, die een wat proe soos soetrissie en nie brand nie. Dit werk vir 99% van menslike parasiete. Diere kan net die swael gebruik, 'n mespunt by hul kos. (Derek Botha)

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

12.2.25

Epilepsie

Nelia Smit skryf: "Wil graag weet wat kan jou doen omtrent epileptiese aanvalle."

Epilepsie is 'n breinaandoening. Epileptiese aanvalle kom voor wanneer die normale werking van die brein onderbreek word. Die senuweestelsel word ontwrig en die lyer het op daardie stadium geen beheer oor sy / haar liggaam nie.

Daar is verskillende soorte epilepsie.

Koorsstuipe by kinders ouer as vyf jaar kan reeds 'n aanduiding wees van epilepsie. Die meeste persone wat hieraan ly kry reeds aanvalle voor hul 20 jaar oud is. Indien die aanvalle gereeld van jongs af voorkom is daar 'n goeie kans dat die aanvalle minder sal word soos die persoon ouer word. Soms verdwyn dit heeltemal.

Sommige mens is geneig om die neiging tot epilepsie te oorerf. Verskeie prikkels, wat op ander mense geen effek het nie, kan 'n aanval veroorsaak. Versteurde slaappatrone, alkohol, stres, 'n gevoeligheid vir lig en koors kan aanvalle meebring in hierdie mense.

Epilepsie kan ook die gevolg wees van infeksie, beserings, beroerte, lae bloedsuiker of alkohol.

Epilepsie kan nog nie genees word nie, maar dit kan so te sê volledig beheer word met medikasie.

Daar is sommige geneeshere wat wys op die belangrikheid van 'n ketogeniese dieet. Praat met jou dokter hieroor aangesien dit onder mediese toesig gevolg MOET word.

Epilepsielyers moet ook leer om te ontspan en leer hoe om stres in 'n lewens te beperk.

As 'n persoon 'n aanval kry moet jy NIE een van die volgende doen nie:
•Moet nie die aanvalle probeer keer deur die persoon vas te druk of iets anders te doen nie.
•Moet nie iets tussen die persoon se tande probeer plaas nie.
•Moet nie probeer om vir die persoon vloeistowwe te gee nie.
•Moet nie die persoon beweeg nie.

Wat jy wel kan doen is:
•Maak stywe klere om die nek los.
•Verwyder enige voorwerpe in die persoon se omgewing wat beserings kan veroorsaak.
•Bly by die persoon tot hulle herstel het.
•Skakel 'n dokter of ambulans indien die aanval langer as 'n paar minute duur of die persoon nie sy / haar bewussyn herwin nie.

11.2.25

Doringbome help met verkoue

Meeste van ons ken ’n doringboom. Wat min van on sweet is dat hierdie familie bome goeie medikasie is vir verkoue.

Die spesifieke deel van die plante wat jy gebruik verskil van soort tot soort.

Die soetdoring (Acacia karroo) en lekkerruikpeul (Acacia nilotica) se blare en bas word gebruik, terwyl die wortels van die swarthaak (Acacia mellifera) gebruik word.

Die inheemse mense van Suider-Afrika benut die bome reeds eeue lank as kruiemedisyne.

10.2.25

Duiwelsklou

Duiwelsklou (Harpagophytum procumbens) is inheems aan Suider-Afrika en word in die Kalahari-streek van die Noord-Kaap aangetref in Suid-Afrika. Die naam is te danke aan die haakvormige voorkoms van die vrugte. Dit word veral in Namibië en Botswana vir die uitvoermark verbou.

Die plant het groot, knolagtige penwortels waaruit sekondêre knolle groei. Hierdie knolle bevat harpagosied wat verskeie medisinale gebruike het. Dit word onder meer gebruik om pyn en koors te verlig, en om spysvertering te stimuleer. Ander gebruike sluit in: vir hipertensie, artritis, as aptytwekker, salf vir sere en pitswere, asook verligting van pyn tydens swangerskap.

In Suid-Afrika word 'n permit benodig om die plant op groot skaal te oes. Die mag egter nie van November tot Februarie geoes word nie, omdat die plant dan blom en sade vorm.