Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



15.4.24

Kruie vir Kwale: Boererate vir asma

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit vir asma.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel geelblomsalie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
Drink vir asma.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en drink vir asma.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute.
Dreineer en drink die tee vir asma.

♦♦♦

Gooi kookwater oor ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en asem die stoom in vir asma.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir asma.

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute. Gooi deur ’n sif en drink vir asma.

♦♦♦

Die gereelde gebruik van rooibostee kan asemhaling verbeter

♦♦♦

Gebruik 5g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Drink die tee vir asma.

♦♦♦

Gooi kookwater oor ’n teelepel bloekomblare (Eucalyptus globulus) gemeng met ’n teelepel bokboegoe (Coleonema pulchellum). Laat dit trek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink vir asma.

♦♦♦

’n Tee gemaak van kattekruid help vir asma.

♦♦♦

Sit kanfer in 'n pan, gooi soetolie daarop, maak dit goed warm en sit dit op die bors.

♦♦♦

Jy kan ook bokvet op ongebleikte linne smeer, skoorsteenroet daaroor strooi en dan op die bors sit.

♦♦♦

Kook ´n stuk saliebos in water totdat die vloeistof lyk soos sterk tee.
Neem een koppie daarvan en kook dit tot 'n stroop saam met 500 ml suiker.
Voeg 1 botteltjie borsdruppels en 125 ml suurlemoensap by en skud goed.
Drink 15 ml hiervan 3 maal per dag.

♦♦♦

Gebruik 3 g bloublomsalie, 3 g kankerbossie en 3 g wildedagga om ’n tee mee te maak.
Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir asma en ander longprobleme.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

10.4.24

Skurfsiekte

Skurfsiekte word veroorsaak deur parasiete wat deur velkontak van een mens na ´n ander oorgedra word.

´n Skurftemytwyfie sal byvoorbeeld ´n gang boor in die horinglaag van die vel en haar eiers daarin lê. Dit veroorsaak ´n gejeuk wat al hoe erger word. Na drie of vier weke broei nuwe myte uit.

Skurfsiekte verskyn as wit strepies en klein blasies en puisies kan op die vel ontwikkel. Dit kom meestal voor op die vel tussen die vingers, op die plooie van die elmboog, knie en voete. Die myte kan tot vier dae op die vel, klere en ander besmette items leef.

Was die klere, bedlinne en handdoeke in warm water en droog dit in ´n tuimeldroër op die warmste siklus.

Gebruik aanbevole medikasie. Moet nie die vel krap nie, dit kan ´n bakteriese infeksie veroorsaak.

Soek mediese hulp sodra jy vermoed iemand in jou gesin het skurfsiekte.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



(foto: Kristina Nor)

9.4.24

Oogprobleme - waterig, uitpeul, donker kringe, rooi, geswolle, allergie, hepatitis, galblaaskwale, galstene, bloeddruk, diabetes, versiendheid, bysiendheid ens.

Oogprobleme kom dikwels voor as gevolg van ´n probleem elders in die liggaam.

Waterige oë is ´n simptoom van verkoue, uitpeuloë mag dui op skildklierprobleme en donker kringe of rooi, geswolle en/of waterige oë is dikwels die gevolg van allergieë. Die vergeling van die oë kan dui op hepatitis, galblaaskwale of galstene, terwyl periodiese dowwe visie op hoë bloeddruk of diabetes kan dui.

Algemene oogprobleme sluit in sigprobleme soos versiendheid en bysiendheid, oogstremming, katarakte, bindvliesontsteking, gloukoom wat uiteindelik tot blindheid kan lei, en karkatjies.

Lê agteroor met oë toe en plaas ´n koue kompres oor oë. Fokus gereeld op voorwerpe op verskillende afstande.

Enige rooiheid, dowwe visie of ander oogprobleme vereis dringend mediese aandag.

Boereraat:

Boraks (boorpoeier / boorsuurpoeier) as oogspoelmiddel. Voor jy boraks as oogspoelmiddel gebruik moet jy die volgende in ag neem:
- Jy kan dit nie gebruik indien daar ’n besering in of om die oog is nie.
- Moenie gebruik vir ’n ooginfeksie voor jy met jou dokter gepraat het nie.
- Jy moet seker wees jy is nie allergies vir boraks nie.
- Indien jy erge newe-effekte ervaar moet jy dadelik mediese hulp kry.

♦♦♦

Was seer oë met suikerwater.

♦♦♦

Gooi ’n knippie koeksoda by koue gekookte water, meng goed en vryf oor jou oë om swelling en jeuk te behandel.

♦♦♦

'n Goeie raad vir wanneer jou oë seer of rooi of geirriteerd is, is om heuning in gelyke dele met warm water te meng. Laat dit afkoel en was dan die oë daarin was of om direk in die oë te sit.

♦♦♦

Om donker kringe om jou oë te laat verdwyn sny ´n rou vy in twee en plaas ´n deel op elke oog.

♦♦♦

Plaas koue teesakkies op jou oë indien dit geswel is of indien jy donker kringe om jou oë het.

♦♦♦

Wortels, spinasie, broccoli, papaja, mango, perskes en appelkose is goeie bronne van Vitamin A - Beta carotene. Dit is goed vir normale groei, goeie sig(oë), gesonde vel en sterk tande.

♦♦♦

Sny dik snye uit die punt van ´n komkommer en plaas dit op jou moeë oë.

♦♦♦

As ´n oog uit die kop spring, was die oog mooi met lou water. Druk die oog dan versigtig weer terug en sit koue kompresse op.

♦♦♦

Lê met jou kop agteroor en plaas komkommerskyfies op jou oë. Lê en ontspan vir ten minste 15 minute.

♦♦♦

Volg dieselfde metode as bo, maar gebruik twee nat teesakkies.

♦♦♦

Eet minder sout. Dit kan by sommige individue bydra tot opgeswelde oë

♦♦♦

Sit ´n ekstra kussing onder jou kop om van daai poffertjies ontslae te raak.

♦♦♦

Om van daai opgeswelde oë in die oggend ontslae te raak moet jy die aartappels nader trek. Verkoel ´n aartappel in die yskas. Sny twee skywe af, sproei jou oë met water, lê plat en plaas die skywe op jou ooglede. Lê so vir 10 minute en vee dan jou oë af met ´n koue lappie. Komkommers kan ook gebruik word, maar sonder die water.

♦♦♦

Neem 2 eetlepels rou gerasperde aartappel en plaas op geswolle oë vir 15 minute

♦♦♦

Mense met bruin oë se kanse is 80% meer as die van ander om katerakte te kry. Sorg dat jy 'n sonbril dra en eet kosse soos spinasie, soetrissies en tamaties.

8.4.24

Verswik

Indien die ligamente wat been en spier verbind skeur noem ons dit verswikking. Die gewrig sal onstabiel wees. 'n Skerp pyn gevolg deur onmiddellike swelling is 'n aanduiding dat daar ´n skeuring plaasgevind het.

Mediese behandeling is beslis nodig. As noodbehandeling is rus, ys, kompressie en die oplig van die geskeurde ligament belangrik. Hou die geskeurde gedeelte onder lopende water.

4.4.24

Lae bloeddruk / Hipotensie

Hipotensie is lae bloeddruk. Indien jou bloeddruk te laag daal kan jy flou word. Dit word nie deur almal beskou as 'n siektetoestand, eerder 'n tydelike probleem.

Simptome sluit in sweterigheid, duiseligheid, swakheid en bewussynsverlies.

Sien Noodhulp vir die behandeling van bewussynsverlies.

Om lae bloeddruk teen te werk moet jy sterk en rou wortelsap drink. Eet oesters, soutvis, avokado, piesang en amandels.

Kruie wat jy kan gebruik sluit in roosmaryn, duisendblad, laventel, voëlent en vinkel.

2.4.24

Kruie vir kwale: Griep

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir griep.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir griep

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir griep

♦♦♦

Drink die sap van een suurlemoen saam met warm water, 'n teelepel heuning en twee aspirientablette vir griep.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

28.3.24

Tendonitis

Tendonitis is 'n vorm van inflammasie. Die tendon (Achilles-tendon) aan die agterkant van die enkel word gereeld beseer.

Dit is veral persone wat gereeld opdraand of afdraand hardloop wat die besering opdoen. Die kan ook veroorsaak word deur nuwe hardloopskoene. Dit is raadsaam om altyd eers nuwe hardloopskoene vir 'n paar stadige oefenlopies te neem voor jy ernstig daarmee begin hardloop.

Soms is daar swelling weens die inflammasie, maar nie altyd nie. Jy kan ook soms die tendon hoor kraak.

Die tendons by die polse word ook gereeld beseer.

Behandel tendonitis met ys wat 'n paar keer per dag vir 20 minute op die plek geplaas word. Verdere behandeling is eenvoudig om die tendon te rus.

Wanneer daar nie meer pyn is nie kan jy met ligte oefening begin.