Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



22.1.20

Huishoudelike gifstowwe

Heelwat stowwe wat in en om die huis gevind word, is giftig. Byvoorbeeld vloeibare seep, sekere skoonheidsprodukte, vuuraanstekers, terpentyn, bleikmiddels, gom, rottegif en insekdoders. Kinders is nie altyd bewus van die gevare van hierdie produkte nie.

Die simptome en tekens sal wissel afhangende van die aard van die stof. In meeste gevalle sal vomering en maagpyn voorkom.

Die simptome en behandeling van vergiftiging

Sorg altyd dat gifstowwe duidelik gemerk en buite bereik van kinders gehou word.

6.1.20

‘n Vegetariese dieet is goed vir jou

'n Vegetariese dieet ryk aan vrugte, groente en graan is nie net goed vir jou nie, dit is ook meer bekostigbaar as ander gesonde dieetplanne.

Dieetriglyne toon dat ongeveer driekwart van die mense nie genoeg vrugte, groente en suiwel eet nie, en dat die meeste die aanbevelings vir bygevoegde suikers, versadigde vette en sout oorskry.

Heelwat volwassenes het een of meer voorkombare, dieetverwante chroniese siekte soos oorgewig / vetsug, kardiovaskulêre siektes, en tipe 2-diabetes.

Navorsers verbonde aan die Nestlé-navorsingsentrum in Lausanne, Switserland het spyskaarte vir drie gesonde eetpatrone vergelyk: 'n vegetariese dieet, die Mediterreense dieet en die VSA se riglyne vir ‘n gesonde dieet.

Die resultate het getoon dat die gemiddelde voedingsgehalte van al drie dieetpatrone soortgelyk was - vegetariërs 85,3; Amerikaanse riglyne: 84.3; Middellandse See: 82.4. Die vegetariese dieet was egter aansienlik meer bekostigbaar as die res en hoewel aansienlik minder vleis en pluimvee in die vegetariese spyskaart gebruik is, merk die navorsers daarop dat "dit nie die voedingsgehalte beïnvloed het nie."

30.12.19

Lassa-koors

Lassa-koors word veroorsaak deur kontak met items of kos wat met rot-ontlasting besmet is. Die siekte is endemies in rotte in dele van Wes-Afrika.

So hoekom moet ons daarvan kennis dra? Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is dit een van ’n hand vol siektes wat skielik en op groot skaal ernstige uitbrekings wêreldwyd kan veroorsaak. Dié organisasie gaan navorsing versnel om entstowwe en medikasie daarvoor te ontwikkel.

16.12.19

‘n Eier per dag laat die hartsiektes wag

Mense wat een eier per dag eet se risiko om kardiovaskulêre siektes op te doen is aansienlik laer in vergelyking met diegene wie geen eiers eet nie.

Kardiovaskulêre siektes is die grootste oorsaak van sterftes en gestremdhede wêreldwyd, meestal as gevolg van iskemiese hartsiektes en beroerte.

Eiers is 'n prominente bron van cholesterol in die dieet, maar dit bevat ook proteïen van hoë gehalte, baie vitamiene en komponente soos fosfolipiede en karotenoïede.

Vorige studies wat gekyk het na die assosiasies tussen die eet van eiers en die invloed op die gesondheid, was teenstrydig, en die meeste van hulle het onbeduidende assosiasies tussen eierverbruik en koronêre hartsiektes of beroerte gevind.

Daarom het 'n span navorsers van China en die Verenigde Koninkryk beoog om die assosiasies tussen eierverbruik en hartprobleme te ondersoek.

Hulle het data uit die China Kadoorie Biobank-studie gebruik, 'n voortslepende studie van ongeveer 'n halfmiljoen volwassenes tussen 30 en 79 jaar.

Vir die nuwe studie het die navorsers gefokus op 416 213 deelnemers wat vry was van voorafgaande kanker, kardiovaskulêre siektes en diabetes.

Analise van die resultate het getoon dat in vergelyking met mense wat nie eiers eet nie, daaglikse eierverbruik geassosieer word met 'n laer risiko vir kardiovaskulêre probleme in die algemeen.

Die bevindings van die studie is gepubliseer in die vaktydskrif Heart.

12.12.19

Kruie vir kwale: Sonbrand

Smeer komkommersap aan of smeer sommer versigtig met ’n komkommer.

♦♦♦

Maak ’n groot kastrol sterk rooibostee. Gooi die tee in jou badwater en bad daarin.

♦♦♦

Smeer aalwynsap aan vir die verligting van sonbrand.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

9.12.19

Geelkoors

Geelkoors is ’n ongeneeslike virusinfeksie wat aanleiding gee tot hoë koors, geelsug en, in ernstige gevalle, bloeding uit die slymvliese en die sogenaamde “swart braking”. Die muskiet Aëdes aegypti is die belangrikste draers van die virus wat mense infekteer.

As gevolg van die tempo toe waarteen die siekte uit die reënwoude na stedelike gebiede versprei vrees wêreldgesondheidsowerhede dat epidemies (weer) in die afsienbare toekoms kan uitbreek - veral omdat die meeste lande nie doeltreffende waarnemingstelsels het waarvolgens die siekte vroeg opgespoor en onder beheer gebring kan word nie. Daar is geen behandeling of geneesmiddel vir geelkoors nie, slegs voorkoming deur inenting. In sommige gevalle herstel pasiënte spontaan van die siekte, hoewel hy of sy nog ’n ruk lank aan geelsug kan ly. ’n Pasiënt wat van geelkoors herstel, is daarna immuun teen die siekte en sal nie weer ’n aanval kry nie.

In 1939 het die Suid-Afrikaanse geneesheer en navorser Max Theiler in samewerking met Hugh Smith ’n entstof ontwikkel wat immuniteit teen die siekte verleen. Theiler het die Nobelprys vir sy werk ontvang. Die entstof is een van die veiligste en doeltreffendste entstowwe wat tot dusvêr ontwikkel is. Dit verleen volle beskerming teen geelkoors in meer as 90 persent van mense wat ingeënt word. Die grootskaalse gebruik van die entstof het bygedra tot die doeltreffende beheer van die siekte in groot dele van die wêreld en dit het die vrees vir geelkoors grootliks besweer.

Suid-Afrika is vry van geelkoors, maar koorsmuskiete word in die land aangetref, veral in die subtropiese kusgordel van KwaZulu-Natal. Die Departement Gesondheid het streng voorkomende maatreëls ingestel om te verhoed dat die siekte die land binnekom. Alle besoekers uit gebiede waar geelkoors endemies is, moet kan bewys dat hulle ingeënt is teen die siekte, en alle vliegtuie en skepe uit sulke gebiede moet volgens wet met insekdoders bespuit word om te verseker dat geen koorsmuskiete die land binnekom nie. Gesondheidsowerhede in geelkoors-endemiese lande word ook volgens ’n internasionale ooreenkoms verplig om hul lughawens te vrywaar teen geelkoorsmuskiete.

Simptome en tekens
Die eerste simptome van geelkoors verskyn binne 3 tot 6 dae nadat ’n pasiënt met die virus besmet is. Dit begin met hoë koors, hoofpyn en rugpyn en gedurende die eerste fase ontwikkel pasiënte ook naarheid en braking. Hierdie simptome verdwyn mettertyd en die pasiënt se koors daal, net om vier, vyf dae later weer te begin styg. Die tweede fase van die siekte word gekenmerk deur geelsug, bloeiende slymvliese en braking van bloed. Dit gaan ook gepaard met ’n aftakeling van die hart, lewer en niere.

Die naam geelkoors verwys na die geel voorkoms van geelkoorspasiënte se vel as gevolg van die opbou van galpigment in die vel wanneer die virus die lewerselle vernietig. Pasiënte met ernstige geelkoors sterf gewoonlik binne ’n week tot 10 dae na die eerste simptome verskyn het.

2.12.19

Vergiftiging

’n Gif is ’n stof wat tydelike of permanente skade kan aanrig indien dit in die liggaam kom. Daar is jaarliks ongelukke met gifstowwe wat in alledaagse gebruik is.

Jy moet sodra moontlik mediese hulp kry. Moet nooit probeer om die persoon te laat opgooi nie. Nie net is dit ondoeltreffend nie, dit kan ook die situasie vererger.