Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



25.11.19

Hierdie dieet goed vir jou brein

Mense met ’n dieet ryk aan groente, vrugte, neute en vis het waarskynlik groter breine. Dit is volgens ’n studie gepubliseer in die joernaal Neurology®.

Mense met ’n groter brein het gewoonlik beter kognitiewe vermoëns.

Die studie het bevind die beste dieet bestaan uit groente, vrugte, neute, volgraan, suiwel en vis, maar ook ’n beperkte hoeveelheid suikerhoudende drankies.

Behalwe dieet is daar ook bevind dat die volgende faktore ’n invloed het op breinvolume: hoë bloeddruk, rook en fisieke aktiwiteit.

Die studie is uitgevoer op ’n paar duisend Nederlanders. Meer navorsing is waarskynlik nodig om die bevindings te bevestig.

Die navorsers is verbonde aan Erasmus Universiteit Rotterdam.

18.11.19

Bosluiskoors

Bosluiskoors is 'n siekte wat deur bosluise oorgedra word. Die natuurlike gashere van die siekte is klein soogdiere soos hase en jakkalse.

Die siekte kom oral voor waar bosluise voorkom.

Simptome en tekens
Sewe dae nadat die persoon deur ’n bosluis gebyt is begin die simptome van hoofpyn en soms ook ’n rooi uitslag. Daar is gewoonlik ’n tipiese bytwond sigbaar, ’n opgehewe, pynlike rooi area op die vel met ’n swart kol in die middel. Bosluiskoors is selde dodelik.

Persone wat gereeld aan die siekte blootgestel word ontwikkel dikwels ’n immuniteit daarteen.

4.11.19

Oefening verlaag jou kanse op hartversaking

Deur meer as 11 000 Amerikaanse volwassenes se vlakke van fisieke aktiwiteit mettertyd te ontleed het navorsers van die Johns Hopkins Medicine tot die gevolgtrekking gekom dat gereelde oefening oor die periode van ses jaar ’n beduidende verminderde risiko van hartversaking teweegbring.

In dieselfde ontleding is bevind dat ses jaar sonder oefening ’n verhoogde risiko vir hartsiektes teweegbring.

Anders as ’n hartaanval, waarin hartspier sterf, word hartversaking gekenmerk deur 'n langdurige, chroniese onvermoë van die hart om genoeg bloed te pomp, of hard genoeg te pomp om die nodige suurstof in die liggaam te bring. Die risikofaktore van die versteuring is die grootste oorsaak van hospitalisasie by persone ouer as 65 jaar, dit sluit in hoë bloeddruk, hoë cholesterol, diabetes, rook en ’n familiegeskiedenis van hartversaking.

28.10.19

Ontdek: Die menslike liggaam

Hierdie boek gee nuuskierige agies die kans om die wonders van die menslike liggaam te ontdek.

Dit bied ’n omvattende blik op liggaamsprosesse –– van die kleinste selletjies tot die stelsels wat mense aan die lewe hou! Kinders kan onder andere ontdek hoeveel bloed deur die hart gepomp word, hoeveel spiere gebruik word om te glimlag en hoe die neus en ore binne-in lyk.

Die inhoud sluit in die menslike liggaam, mites, toorkrag en die geneeskunde, studie en disseksie, mikroskopiese liggaam, kyk sonder om te sny, liggaam se raamwerk, binne-in been, gewrigte, spierkrag, spiere, senuweestelsel, brein, binne-in die brein, vel en voel, oë en sien, ore en hoor, ruik en proe, hormone, die hart, in omloop, bloed, asemhaling, binne-in die longe, eet, vertering, afvalverwydering, manlik en vroulik, nuwe lewe, groei en ontwikkeling, die toekoms, tydlyn, vind meer uit. Die foto's en detail in die boek sal enige kind se belangstelling prikkel!


21.10.19

Hondsdolheid (Rabies)

Hondsdolheid is ’n dodelike virussiekte wat in diere soos honde, jakkalse, meerkatte, hiënas, vlermuise asook die mens voorkom. Die virus word in speeksel uitgeskei en tas die senustelsel aan. Die virus word deur die byt of krap van ’n besmette dier na die mens oorgedra. Die speeksel kan ook die siekte oordra wanneer dit in aanraking kom met die oë, mond of neus. In 99% van gevalle word dit deur ’n hondebyt veroorsaak in Suid-Afrika. In die Amerikas is vlêrmuisbyte die mees algemene oorsaak van hondsdolheid by mense en minder as 5% is afkomstig van honde.

Die tydperk wat verloop vandat die infeksie plaasvind in mense totdat die eerste simptome verskyn duur tipies 1 tot 3 maande. Die aanvanklike tekens en simptome is dikwels aspesifiek soos bv. koors en hoofpyn. Soos dit vererger veroorsaak dit inflammasie van die brein. Tekens en simptome kan insluit gedeeltelike verlamming, angstigheid, slaaploosheid, verwarring, abnormale gedrag, hallusinasies en soms selfs ’n koma. Wanneer die pasiënt simptome begin vertoon, is die behandeling gewoonlik nie meer effektief nie en die kanse op die dood is 99%. Mense sterf gewoonlik 2 tot 10 dae nadat die eerste simptome verskyn het.

Behandeling na blootstelling kan die siekte verhoed, indien die behandeling binne 10 dae na infeksie toegedien word. Wanneer ’n vlermuis in die slaapkamer gevind word, word dit beskou as ’n rede om behandeling toe te pas omdat ’n mens nie weet of die dier jou dalk in die nag gebyt het nie. Was die wond so gou as moontlik met seep en water vir sowat vyf minute. Povidoonjodium of alkohol word aanbeveel om die virus verder te verswak.

Inentingsprogramme en dierebeheer het die risiko van hondsdolheid, afkomstig van honde, verlaag.

14.10.19

Hitte-uitputting

Hitte-uitputting word veroorsaak deur die verlies van sout en water uit die liggaam.

Simptome en tekens
• Persoon is moeg en rusteloos.
• Kan hoofpyn hê en duiselig en naar voel.
• Krampe in die bene en buik as gevolg van ’n sout tekort.
• ’n Bleek gesig en die vel voel koud en klam.
• Asemhaling is vinnig en vlak.
• Pols is vinnig en vlak.
• Temperatuur sal normaal wees, of dit sal daal.
• Enige skielike beweging kan die persoon laat flou word.

Behandeling
1. Laat die persoon op ’n koel plek lê.
2. Gee klein slukkies koue water.
3. Indien die persoon erg sweet, krampe of diarree het en/of vomeer, voeg ’n teelepel sout by elke 0,5 liter water.
4. Indien die persoon bewusteloos is, plaas in die herstelposisie.
5. Kry mediese hulp.

7.10.19

Bewyse dat gemmer effektief is vir die behandeling van braking by kinders

Meeste kinders sal in hul eerste drie lewensjare aan gastro ly. Braking kom voor by driekwart van dié kinders – wat ’n gevaar vir dehidrasie inhou. Terwyl die kinders gewoonlik suksesvol behandel word, beland ’n groot persentasie in die hospitaal.

Onlangse navorsing het bevind dat gemmer effektief gebruik kan word vir die behandeling van braking by kinders met akute gastro. Daar is bevind gemmer kan die duur en die erns van braking verminder.

Die navorsing was ’n gesamentlike poging van die European Laboratory for the Investigation of Food Induced Diseases en die Universiteit van Napels in Italië.