Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



21.10.19

Hondsdolheid (Rabies)

Hondsdolheid is ’n dodelike virussiekte wat in diere soos honde, jakkalse, meerkatte, hiënas, vlermuise asook die mens voorkom. Die virus word in speeksel uitgeskei en tas die senustelsel aan. Die virus word deur die byt of krap van ’n besmette dier na die mens oorgedra. Die speeksel kan ook die siekte oordra wanneer dit in aanraking kom met die oë, mond of neus. In 99% van gevalle word dit deur ’n hondebyt veroorsaak in Suid-Afrika. In die Amerikas is vlêrmuisbyte die mees algemene oorsaak van hondsdolheid by mense en minder as 5% is afkomstig van honde.

Die tydperk wat verloop vandat die infeksie plaasvind in mense totdat die eerste simptome verskyn duur tipies 1 tot 3 maande. Die aanvanklike tekens en simptome is dikwels aspesifiek soos bv. koors en hoofpyn. Soos dit vererger veroorsaak dit inflammasie van die brein. Tekens en simptome kan insluit gedeeltelike verlamming, angstigheid, slaaploosheid, verwarring, abnormale gedrag, hallusinasies en soms selfs ’n koma. Wanneer die pasiënt simptome begin vertoon, is die behandeling gewoonlik nie meer effektief nie en die kanse op die dood is 99%. Mense sterf gewoonlik 2 tot 10 dae nadat die eerste simptome verskyn het.

Behandeling na blootstelling kan die siekte verhoed, indien die behandeling binne 10 dae na infeksie toegedien word. Wanneer ’n vlermuis in die slaapkamer gevind word, word dit beskou as ’n rede om behandeling toe te pas omdat ’n mens nie weet of die dier jou dalk in die nag gebyt het nie. Was die wond so gou as moontlik met seep en water vir sowat vyf minute. Povidoonjodium of alkohol word aanbeveel om die virus verder te verswak.

Inentingsprogramme en dierebeheer het die risiko van hondsdolheid, afkomstig van honde, verlaag.

No comments :

Post a Comment