Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



19.7.18

Melkkoors

Was jou bors met louwarm water.
Meng dan 1 eiergeel, 2 dessertlepels kanferolie, 1 teelepel terpentyn en 1 teelepels spiritus. Dit moet deeglik gemeng word.
Smeer die mengsel op die bors, altyd in ’n afwaartse rigting.

♦♦♦

Smeer heuning op ’n stukkie wit flennielap en sit dan die lappie op die bors, met die heuning teen die bors. Maak dit dan toe met nog ’n lappie om jou onderklere te beskerm en maak dan warm toe.

♦♦♦

As die borste geswel en pynlik is, pak koue koolblare oor die borste en sit binne jou bra. Dra ’n stewige sportbra.

♦♦♦

Smeer die bors warm met klapperolie en maak warm toe. Doen gereeld tot dit beter is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

16.7.18

Bakterieë in melk en beesvleis verbind met rumatoïede artritis

Bakterieë wat voorkom in melk en beesvleis mag dalk veroorsaak dat jy rumatoïede artritis ontwikkel.

Navorsers aan die Universiteit van Sentraal-Florida het ’n verband ontdek tussen die bakterie Mycobacterium avium sub. Paratuberculosis en rumatoïede artritis. Die bakterie word gereeld in beeste gevind en versprei na die mens deur melk, beesvleis of deur groente wat bemes is deur koeimis.

Dieselfde navorsingspan het vantevore ’n verband gevind tussen hierdie selfde bakterie en Crohn se siekte. Crohn se siekte en rumatoïede artritis deel dieselfde genetiese predisposisie en dieselfde medikasie word soms in die behandeling van beide gebruik.

Hulle het bevind dat as mense met ’n sekere genetiese mutasie blootgestel word aan hierdie bakterie, hulle ’n baie beter kans het om rumatoïede artritis te ontwikkel. Die span se navorsing duur voort.

Die bevindings van die navorsing is gepubliseer in die joernaal Frontiers in Cellular and Infection Microbiology.

9.7.18

Blaaskanker

Soos die naam aandui kom blaaskanker in die blaas voor. Dit is meer algemeen by mans as by vroue.

Faktore wat ’n rol speel
  • Rook: tabakrook is die grootste oorsaak van blaaskanker. Rook word met ongeveer die helfte van gevalle geassosieer
  • Ouderdom: Hoe ouer ’n mens word hoe groter is die kans om kanker te ontwikkel. In ’n dekade kan mens se kans selfs tienvoudig toeneem.
  • Oorerflikheid: As gesinslede, ’n vader of broer, blaaskanker ontwikkel, beteken dit dat mens se kans verdubbel om dit te ontwikkel, in vergelyking met die res van die bevolking.
  • Omgewing: Blaaskanker is oorwegend ’n Westerse siekte. Vermoedelik speel dieet ’n rol in die verskynsel. Dit kom egter ook voor in Egipte en Tanzanië waar dit ontstaan weens ’n parasitiese infeksie.


Simptome en tekens
Die volgende simptome, as hulle voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker begin versprei na areas buite die blaas. Van die simptome kan egter ook deur ander blaasprobleme veroorsaak word.


  • ’n Behoefte om dikwels te urineer
  • Pyn gedurende urinering
  • Bloed in die urine
  • Verlies van eetlus
  • Merkbare massaverlies

4.7.18

Omega-3 van vis die beste teenvoeter vir kanker

Omega-3 wat verkry word van vis is ’n baie beter teenvoeter teen kanker as dié wat verkry word van vlassaad en ander olies. Dit is die bevinding van ’n onlangse studie aan die Universiteit van Guelph in Kanada.

Hulle bevinding was dat mariene-gebaseerde omega-3’s agt keer meer effektief is om tumorontwikkeling en -groei te inhibeer. Aggressiewe borskanker is getoets om die uitwerking van die verskillende omega-3’s te bepaal.

Vis wat heelwat omega-3’s bevat is salm, makriel, haring, forel, sardyne en tuna. Twee tot drie porsies van enige van hierdie vis per week word aanbeveel.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Nutritional Biochemistry.

20.6.18

Jou liggaamsmassa-indeks

Die liggaamsmassa-indeks (LMI) is ’n nuttige manier om liggaamsgewig en -gesondheid te bepaal.

Dit moet egter nie gebruik word as die enigste maatstaf vir jou gesondheid nie. LMI kan byvoorbeeld ’n liggaamsbouer te vet laat lyk of ’n ouer persoon te maer. Dit is ook nie 'n goeie maatstaf vir kinders nie.

Om jou eie LMI te bepaal moet jy die kwadraat van jou lengte in meter (lengte maal lengte) deel deur jou gewig in kilogram. Dit is jou LMI. As jou LMI onder 18,5 is, word jy gereken as ondergewig. Bo 25 beteken jy’s oorgewig en bo 30 beteken jy is vetsugtig.

11.6.18

Klere wat brand

Brandwonde weens oop vure kom algemeen voor by Suid-Afrikaners wat so lief is vir oop vure. Wanneer ’n persoon se klere aan die brandslaan moet jy vinnig optree om te sorg dat die skade beperk word.

Mense is geneig om buitentoe te hardloop as hul klere by ’n binne-braai of kaggel vlam vat. Keer hulle, want beweging of wind buite sal die vlamme aanhelp. Laat die persoon dadelik lê om te verhoed dat die vlamme opwaarts reik. Moenie dat die persoon op die grond rol nie, dit kan veroorsaak dat die vlamme versprei na ander kledingstukke op die liggaam. Blus die vlamme met water. As daar nie water byderhand is nie, maar dik NIE-VLAMBARE materiaal, kan jy die persoon daarin toedraai om die vlamme te smoor.

4.6.18

Suiwer vrugtesap nie sleg vir bloedsuikervlakke

Suiwer vrugtesap het nie ’n beduidende effek op bloedglukose of insulienweerstandigheid nie.

Dit is die bevindings van onlangse navorsing gepubliseer in die Journal of Nutritional Science. Die bevindings is in ooreenstemming met vorige navorsing wat aandui dat 100% vrugtesap nie verband hou met ’n verhoogde risiko van die ontwikkeling van tipe 2-diabetes nie, en ondersteun groeiende bewyse dat 100% vrugtesap geen beduidende effek op glukemiese beheer het nie.