Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



14.8.17

Plaasdiere beskerm plaaskinders teen asma en allergieë

Dit is ’n alombekende feit dat die mikrobes wat mens op plase teëkom die plaaskinders beskerm teen asma en allergieë. ’n Mikrobe is ’n eensellige, lewende organisme. As ons na hulle verwys praat ons gewoonlik van kieme of bakterie.

Immunoloë aan die Universiteit van Zürich het nou bewyse gekry dat selfs nie-mikrobiese molekules ’n beskermende effek hê. Hulle het getoon dat ’n spesifieke suur wat in plaasdiere voorkom effektief gebruik kan word teen inflammasie van menslike longweefsel. Hierdie studie bied nou nuwe moontlikhede vir die voorkoming van allergieë.

Al hoe meer mense ly aan allergieë en asma. In die afgelope dekades het hierdie siektes grootliks toegeneem in geïndustrialiseerde lande. Vandag het ongeveer 30 persent van alle kinders allergieë - met die uitsondering van plaaskinders. Onder plaaskinders kom dié siektes heelwat minder voor, in vergelyking met die dorpskinders van dieselfde omgewing. Daar is ’n groter voorkoms en verskeidenheid van mikrobes op plase. Die mikrobes beskerm plaaskinders teen allergieë en asma. ’n Omgewing wat nie hoogs higiënies is nie, soos ’n plaas, het 'n positiewe uitwerking op die ontwikkeling van die kind se immuunstelsel. Die immuunstelsel leer nie aan om te reageer op onskadelike stowwe nie, soos wat gebeur in die geval van allergieë.

Die navorsers het bevind dat deur, byvoorbeeld, vars melk op die plaas te drink en met katte te speel beskerm kinders teen sekere siektes. Kontak met diere op n jong ouderdom en die gebruik van voedsel afkomstig van diere (bv. melk) help om die inflammatoriese reaksies van die immuunstelsel beter te reguleer. Die mechanism wat hier ’n belangrike rol speel is die nie-mikrobiese suur, wat volop voorkom in gewerweldes, hoewel nie in die mens nie.

Meer as 1 000 kinders is in die studie betrek en die resultate het duidelik getoon dat plaaskinders meer teenliggame in hul bloed het en heelwat minder ly aan asma en allergieë.

(Hierdie studie is onlangs gepubliseer in die Journal of Allergy and Clinical Immunology)



(foto: UZH)

7.8.17

Afrika plant bied hoop vir die behandeling van Alzheimer se siekte

’n Plantekstrak uit Afrika kan die basis word van nuwe medikasie vir die behandeling van Alzheimer se siekte.

Navorsers aan die Universiteit van Nottingham het bevind dat die ekstrak, geneem van die blare, stam en wortels van Carpolobia lutea, kan help om die chemiese oordragstowwe in die brein te beskerm. Hulle verwys spesifiek na oordragstowwe wat ’n rol speel in leer en die geheue. Dit word reeds vir eeue lank in tradisionele medikasie (lees boererate) in Nigerië gebruik.

In pasiënte met Alzheimer se siekte en ander soortgelyke siektes, soos Parkinson se siekte, word effektiwiteit van die oordragstof asetielcholien verminder. Die gevolg is dat lyers probleme begin ervaar met hul geheue en om aandag te gee. Die navorsers het bevind dat die plant die afbreek van asetielcholien help verhoed.

Carpolobia lutea staan in Nigerië bekend as “veestok” (’n stok waarmee jy vee aanjaag). Tradisionele geneeshere gebruik dit vir die behandeling van verskeie infeksies. Daar word vermoed dat dit oor die algemeen goeie antiinflammatoriese eienskappe besit. Daar is juis al hoe meer navorsing wat daarop dui dat Alzheimer se siekte waarskynlik ’n tipe inflammasie van die brein is.

2.8.17

Lip-kanker

Lip-kanker was een van die eerste tipes kanker wat meer as 200 jaar gelede met ’n eksterne oorsaak verbind is. Daar is opgemerk dat dit hoofsaaklik in pyprokers ontstaan.

Baie jare later is besef dat die siekte ook op ander maniere geproduseer kan word en dat dit deur die chemikalieë in rook geproduseer word, eerder as deur die nie-spesifieke effek van hitte. Dit is ook veel meer algemeen in buite- as binnenshuise werkers en word deur ultraviolet lig op dieselfde manier as ander kankers van die blootgestelde vel geïnduseer.

Die siekte is vandag veel minder algemeen as wat dit was, as gevolg van die afname in pyprook en buitelug-werk.

31.7.17

Wetenskaplikes vind genetiese mutasie wat seldsame velsiekte onder Afrikaners veroorsaak

Wetenskaplikes het die genetiese mutasie wat die seldsame velsiekte Oudtshoorn-vel in Afrikaners veroorsaak, ontdek.

Navorsers by die Sydney Brenner Institute for Molecular Bioscience en die Afdeling vir Menslike Genetika by Wits, in samewerking met eweknieë in Europa, die VSA en Kanada was verantwoordelik vir die navorsing.

Oudtshoorn-vel veroorsaak 'n rooiheid van die palms en sole met opeenvolgende siklusse van afskilfering van groot dele dik vel, wat dikwels gedurende die wintermaande vererger. Die siekte het oorspronklik in Oudtshoorn en omgewing voorgekom onder groot gesinne.

Afrikaners het 'n hoë risiko vir verskeie genetiese afwykings, die bekendste is familiale hipercholesterolemie (oorgeerfde hoë cholesterol wat reeds op ’n jong ouderdom tot hartaanvalle lei) en porfirie (sensitiwiteit van die vel tot ultravioletstrale en en ’n nadelige reaksies op spesifieke middels). Hierdie afwykings is algemeen as gevolg van grondliggende mutasies wat deur klein groepe immigrante na Suid-Afrika gebring is.

Oudtshoorn-vel is in 1977 eers beskryf as 'n unieke velafwyking deur ’n Wits dermatoloog, professor George Findlay. Hy het opgemerk dat dit in gesinne gevind word wat ’n oorheersende wyse van erfenis het - dit beteken, as ’n ouer die toestand het, omtrent die helfte van die kinders dit erf in elke geslag.

Benewens die identifisering van die genetiese mutasie vir wetenskaplike doeleindes, stel hierdie navorsing nou dermatoloë in staat om 'n definitiewe diagnose van Oudtshoorn-vel in pasiënte te maak. Dit stel navorsers ook in staat om soortgelyke velafwykings te verstaan en is 'n beginpunt vir die ontwikkeling van moontlike behandelings.

Sedert die laat 1980's het drie MSc en drie PhD-studente aan die Wits-universiteit hierdie afwyking ondersoek. Dit het begin onder die toesig van prof. Trefor Jenkins en vanaf ongeveer 1990 is dit gelei deur prof. Michele Ramsay.

In 1997 het die Wits MSc-student Michelle Starfield en 'n groep in Duitsland getoon dat dit waarskynlik was dat die Suid-Afrikaanse families almal dieselfde mutasie gehad het, maar dat die Duitse families ’n ander mutasie het.

In 2012 het Thandiswa Ngcungcu, 'n Wits MSc-student, verdere ontdekkings gemaak met betrekking tot die mutasie. In die tyd het dr. Torunn Fiskerstrand aan die Universiteit van Bergen, Noorweë, die genetiese oorsaak van die siekte in Noorweërs ontdek. Die verskillende DNA-duplikasies in die Suid-Afrikaanse en Noorse gesinne oorvleuel.

Presies twintig jaar na die bepaling dat die mutasie van Oudtshoorn vel op chromosoom 8 lê, is die mutasie wat Oudtshoorn-vel veroorsaak, geïdentifiseer en gepubliseer.


(foto: prof. Michele Ramsay)

26.7.17

Ruggraatfrakture

’n Gebreekte ruggraat is ’n baie ernstige besering. So ’n ongeval moet met groot sorg hanteer word, aangesien die besering deur skade aan die rugmurg gekompliseer kan word.

Die kwesbaarste dele van die ruggraat is die bene in die nek en die onderste deel van die rug.

Simptome en tekens
• Die persoon sal kla oor erge rugpyn en dit voel dalk of hy/sy “middeldeur gesny is”.
• Die persoon het geen beheer oor sekere ledemate nie.
• Daar is ’n moontlike verlies aangevoel.

Moet nie so ’n persoon beweeg, tensy dit absoluut nodig is nie.

19.7.17

Outo-immuun siektes

’n Groot aantal mense het een of ander stadium van hul lewens ’n outo-immuun siekte onder lede.

’n Outo-immuun siekte ontstaan wanneer ’n mens se immuniteitstelsel sukkel om te onderskei tussen die liggaam se eie selle en vreemde middels. Dit het ’n inflammatoriese reaksie tot gevolg gemik op die liggaam se eie selle. Ons sien dit in spesifieke aanvalle, soos byvoorbeeld met diabetes, of algemene immunologiese probleme, soos byvoorbeeld lupus. Artritis is nog ’n voorbeeld van ’n outo-immuun siekte.

’n Gesonde leefstyl en eetgewoontes is uiters belangrik vir ’n gesonde immuniteitstelsel.

17.7.17

Hoe ken jy ’n sosiopaat uit?

Jy het vandag niksvermoedend by minstens een psigopaat verbygeloop.

En by die huis wag ‘n narsis op jou en ‘n sluiper by jou venster. Wie is hierdie ongure, gevaarlike mense?

Uitgebreide navorsing en gevallestudies – van Daisy de Melker tot Oscar Pistorius – maak hierdie mense werklik en herkenbaar. Sodat jy hulle kan vermy ...

M.E. se eie Psigopaat-toets
Op haar blog, www.sociopathworld.com, het M.E. Thomas in Desember 2010 haar eie “Sociopath test” aangebied: “How to spot them before they target you.” (Uit die mond van die sosiopaat ... en let op die “hulle”.)

Sy kry dié vraag gereeld en uit haar persoonlike ondervinding met (ander) sosiopate glo sy daar’s ’n paar maklik waarneembare gedrags- of persoonlikheidseienskappe waaraan jy ’n sosiopaat kan uitken:

1. Sosiopate maak tipies nie soveel praatjies oor hulself soos normale mense nie. Hulle sal die gesprek teruglei na die ander persoon. (M.E. sê sy’s altyd die een wat ’n gesprek beëindig, skielik. “Die enigste ding waarvoor ek werklik omgee wanneer ek met mense praat, is om te kry wat ek wil hê.”)

2. ’n Sosiopaat sal “persoonlike” detail strategies deel met die doel om die ander persoon te mislei of ’n vals sin van intimiteit/vertroue te skep. Sosiopate sal selde die waarheid oor hulself praat.

3. Sosiopate aarsel gereeld voordat hulle antwoord. Sy sê dit sal nie vir jou duidelik wees of hulle verveeld, vies is of jok nie. Of dalk al drie.

4. Hulle het nie sterk reaksies op omstrede politieke of sosiale onderwerpe nie (soos byvoorbeeld Katolieke priesters wat kinders molesteer).

5. ’n Monotone stem. “Sê hulle my.” M.E. praat met ’n doelbewuste aksent om haarself ’n bietjie meer misterieus, aantreklik en niebedreigend te maak.

6. ’n Geneigdheid om dinge te letterlik op te neem, of om andersins nie toepaslik te reageer op klein emosionele tekens nie. Sosiopate, nes skisofrene, verstaan nie sarkasme en ironie of abstrakte taal soos metafore nie – nog ’n manier om hulle uit te ken. Wanneer iemand byvoorbeeld ’n glas breek en jy sê: “Dis nou mooi…” sal die psigopaat/skisofreen reageer met: “Wat’s so mooi aan ’n glas wat breek?” (Of Oscar Pistorius wat opreg om verskoning vra omdat Anneliese Burgess weer begin rook het.) Maar gelukkig, sê M.E., kan sosiopate ook wegkom deur alles letterlik op te neem. Wanneer sy sou sê sy’s lus en maak daardie oulike klein diertjie dood, dink mense sy maak ’n grap.

7. Kil afsydigheid teenoor een of meer gesinslede. (M.E. sê wel sy’s baie lief vir haar familie. “Pseudoliefde” het Hervey Cleckley dit genoem.)

8. Hy’s oënskynlik ’n ander mens wanneer die sosiopaat ingedagte is, wanneer sy aandag by iets anders is.

9. Geen verband tussen wat die sosiopaat sê en doen nie. Byvoorbeeld: Dit lyk of hy goeie dade doen, maar hy gee nie werklik geld vir, byvoorbeeld, haweloses nie.

10. Toon nooit tekens van verleentheid nie. Kry maklik en selfversekerd groot gehore in die palm van sy hand. Dis bloot ’n gebrek aan senuwees.

11. Voldoen nie aan die stereotipes van gender, ras, etnisiteit, ouderdom, seksuele oriëntasie of loopbaan nie. Hy kan dus nie so maklik “geplaas” word nie.

12. Kan heen en weer wissel tussen ’n baie lae profiel handhaaf (die waarnemer) tot kaatjie van die baan (die akteur). M.E. meen omdat hierdie eienskappe nie direk deel vorm van klassieke sosiopatiese of antisosiale gedrag nie het die sosiopaat minder rede om dit weg te steek. Wat hom of haar dan makliker herkenbaar maak. Sy glo wat die sosiopaat eintlik van alle ander mense onderskei, is “ons kompulsies, ons motiverings en die narratiewe wat ons vir onsself oor ons innerlike lewens vertel”.

13. Sosiopate vertel teenstrydige stories. Haar boek is op sigself ’n storie met heelwat teenstrydighede. Byvoorbeeld: Sy was nie die slagoffer van kindermishandeling nie, sê sy, maar vertel dan hoe haar “gewelddadige” pa sy kinders een vir een met ’n gordel afgeransel het, en haar ma was dikwels afwesig en soms “histeries”. Haar ouers was narsiste. Desondanks het sy ’n hegte gesin (hoewel “disfunksioneel”). Sy sluit ook haar boek af met die begeerte om uit te kom agter haar masker. Maar dis nog te onveilig. Sy waarsku dan ander sosiopate: “Daar is boeke en webblaaie wat daaraan gewy word om sosiopate uit te ken en te vermy. Moenie met hierdie mense praat nie, moenie naby hulle kom nie, moenie in hul strik beland nie.”

Nadat sy pas gesê het hoe om ’n sosiopaat uit te ken … Psigopate kom nie hul eie teenstrydighede agter nie. Klaarblyklik hanteer hulle hul teenstrydige stories nes hul leuens – trek net skouers op. Uiteindelik is die psigopaat (of narsis) se hele lewe onder verdenking. M.E. se dertien punte is uitgebrei deur lesers van haar blog:

14. Kom dikwels sag, liefdevol of passievol voor, maar kan ewe skielik omswaai na selfgesentreerd, koud en onapologeties, en omgekeerd.

15. Kan oënskynlik almal se probleme verstaan, is logies en gee raad.

16. Hy’s goed daarmee om raad te gee oor sosiale manipulasies, kamma om vriende, geliefdes en familie te “help”.

17. Die “suur” of wrang glimlag van doelbewuste leuenaars. Oor die algemeen is dit ’n suur gesigsuitdrukking om enige ander uitdrukking op daardie oomblik weg te steek.

18. ’n Rigiede, doodse, “gevriesde” gesigsuitdrukking. Psigopate self word nie van stryk gebring deur direkte oogkontak nie. Die meeste mense voel ontsenu as hulle aangestaar word. (“Wat kyk jy?” sou ’n tipiese reaksie wees.) Wanneer mense gesels, maak hulle oogkontak, kyk weg, maak weer oogkontak. Dit help om hul gedagtes agtermekaar te kry. Die luisteraar kyk gewoonlik meer in die spreker se oë as andersom. En wanneer die spreker dan té langdurige oogkontak maak, laat dit die een wat in die oë gekyk word ongemaklik, selfs kwesbaar voel.

“Deur nie ordentlikheidshalwe weg te kyk nie word dit dikwels beskou as selfversekerd, aggressief, verleidend of roofdieragtig,” skryf M.E. “Die aangename doodgewoonheid van my hare wat liggies aan my wimpers raak, is daar om die intensiteit van my oë te neutraliseer. Hulle is deurdringend en gevoelloos.”

Maar wees bedag daarop: Die psigopaat kan ook kyk om te verlei. Met ’n amper hipnotiese kyk “so diep in jou oë”, en hy maak seker dit laat jou nie ongemaklik voel nie, eerder belangrik, asof hy werklik in jou as mens belangstel.

Kil. Berekend. Dalk met ’n glimlaggie.

Die enigste manier om die psigopaat se blik te troef is om nie weg te kyk nie. Maar dis nie so maklik nie.

Daardie kyk maak jou bang.