Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



2.6.14

Gaskoeldrank en suiker het dalk ’n negatiewe uitwerking op die niere

Verskeie onlangse studies dui daarop dat gaskoeldrank en suiker ’n negatiewe uitwerking het op die gesondheid van jou niere.

In een studie is bevind dat twee gaskoeldranke per dag kan lei tot ’n toestand wat gekenmerk word deur die verhoogde uitskeiding van proteïene in die uriene - algemeen kenmerkend van nierprobleme.

In die ander studie het navorsers vasgestel dat die matige gebruik van suiker die niere se vermoë om die liggaam se soutbalans te help handhaaf nadelig beïnvloed. Dit veroorsaak dat die selle in die niere meer sout absorbeer as wat dit moet. Dié bevinding kan dalk help verduidelik hoekom sekere versoeters bydra tot die ontwikkeling van diabetes, nierprobleme en hoë bloeddruk.



Meer inligting:
Soft Drink Intake and Prediction of Proteinuria: A Retrospective Cohort Study. (Ekstrak 2458) Chronic Consumption of Fructose Increases Proximal Tubular Transport by Enhancing the Sensitivity to Angiotensin II. (Ekstrak 3955)

28.5.14

Noodhulp: Meer as een beseerde

Indien daar meer as een beseerde persoon is, moet jy vinnig jou prioriteite vasstel.

Maak die lugweg oop van enige persoon wat ophou asemhaal het en pas kunsmatige asemhaling toe indien nodig.

Plaas enige bewustelose persone in die herstelposisie.

Onthou! Die lawaaierigste beseerdes is selde die met die mees ernstige beserings.

26.5.14

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes

Daar is hoop vir ADHD-lyers!

Helena Bester, Suid-Afrika se voorste kenner van ADHD, vertel met groot meelewing die suksesverhale van sommige van die duisende ADHD-lyers wat reeds haar pad gekruis het. Haar leesbare en omvattende gids bevat die jongste inligting oor ADHD by kinders én volwassenes.

In ’n geselstrant, toegelig met onderhoudende gevallestudies, vertel sy van die jongste behandelingsmetodes, van fisieke terapieë tot ontspanningstegnieke, dieetaanpassings en nuwe medikasie. Een van talle nuwe behandelings wat sy in diepte bespreek, is neuroterugvoer-terapie. Dit word vir alle vorms van ADHD ingespan, en word ook met welslae gebruik vir angs, slaaploosheid, depressie, epilepsie, breinbeserings, outisme en verslawing.

Die skrywer verskaf ook leiding oor hoe om ADHD-leerders in die klaskamer te hanteer en hoe om die onderwysdepartement te hanteer.

Helena Bester is sowel ingelig as gerusstellend. Haar omvattende, gesaghebbende gids gee lesers moed en kennis sodat aandagafleibaarheid tuis en in die klaskamer met vertroue aangepak kan word. Die toon is warm en menslik, maar tog bevat die boek die jongste navorsing en beskryf dit verskeie behandelingsopsies.

Ook verkrygbaar in Engels as New hope for ADHD in Children and Adults.

Koop / Buy Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes >>

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes [teks] / deur Helena Bester -- Tafelberg, 15 Julie 2014 -- 320 p. ; sagteband. -- ISBN 9780624063865

21.5.14

Noodhulp: Hoe om hulp te ontbied

Jy het op iemand afgekom wat dringend mediese hulp benodig. Hoe nou gemaak?

Meeste van ons dra deesdae ons selfone op ons en kan iemand skakel. Sommige selfoonmaatskappye het selfs ’n noodnommer. Maak nie saak wie jy skakel nie, sorg altyd dat jy die volgende inligting oordra:

1. Jou telefoonnommer. Dit is baie belangrik ingeval die verbinding verbreek word of julle nie opgespoor kan word nie.

2. Die presiese plek waar julle is. Noem bekende landmerke in die omgewing.

3. Gee ’n aanduiding van die erns van die voorval, byvoorbeeld: “Motorongeluk, drie motors, persoon sit vas in motor.”

4. Die aantal persone betrokke, hul geslag en benaderde ouderdom. Indien moontlik, gee ook die aard van die beserings.

5. Vra spesiale hulp indien daar ’n swanger persoon betrokke is, of jy vermoed iemand het ’n hartaanval.

Moet nie die foon neersit voor die operateur jou opdrag gee om dit te doen nie.

19.5.14

Diabetes en swangerskap

Kenners meen al lank dat diabetes in swanger vroue nie altyd opgetel word nie. Nuwe riglyne gepubliseer in die Journal of Clinical Endocrinology and Metabolism beveel aan dat swanger vroue ’n toets vir diabetes ondergaan met hul eerste besoek aan die dokter wanneer hulle besef of vermoed hulle is swanger.

Diabetes kan nadelig wees vir beide die ma en haar fetus. Om beide gesond te hou is dit belangrik dat die toets sodra moontlik gedoen word.

Soveel as een uit elke vyf vroue ontwikkel ’n tipe diabetes wat met swangerskap verband hou. Die gevolg hiervan is normaalweg ’n abnormale groot baba.

Die nuwe riglyne beveel ook aan dat vroue wat oorgewig is probeer om gewig te verloor voor hulle swanger raak.



foto: David Roseborough

14.5.14

Noodhulp, behandelingsprioriteite

Wanneer iemand noodhulp nodig het, moet die volgende toetse uitgevoer word om vas te stel wat jy moet doen om te help.

Lugweg en asemhaling
Kyk of die lugweg oop is en die persoon asemhaal. Indien nie moet jy dadelik begin met kunsmatige asemhaling.

Bloeding
Kyk of die persoon bloei en beheer dit.

Bewusteloosheid
Plaas ’n bewustelose persoon in die herstelposisie en stel die bewussynsvlak vas. Indien die moontlikheid van ’n ruggraatbesering bestaan, moet jy nie die persoon beweeg nie – tensy hulle moeilik asemhaal.

Skok
Hou die persoon warm en stil en laat die persoon lê tot mediese hulp opdaag.

Ander
Tesny die omgewing gevaarlik is, moet alle beserings behandel word voor die persoon verskuif word. Indien daar gevaar bestaan moet jy die beseerde deel van die liggaam immobiliseer voor die persoon verskuif word.



(foto Aleksi Aaltonen)

12.5.14

Inenting

Inenting het al talle lewens gered sedert entstowwe algemeen beskikbaar geraak het. Inenting dwing die liggaam om immuniteit te skep. Tydens die proses word ’n verswakte vorm van die infeksie in jou liggaam geplaas. Jou immuunstelsel beveg dit en so word immuniteit geproduseer.

Daar is entstowwe beskikbaar vir ’n verskeidenheid siektes, soos byvoorbeeld waterpokkies, polio, masels, pampoentjies en griep.



(foto James Gathany)