Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

25.11.13

Resveratrol dalk nie so goed vir jou nie

Verskeie Afrikaanse media instansies is lief om die lof te besing van resveratrol . Resveratrol kom natuurlik voor in die skil van rooi druiwe en grondboontjies , en word in rooiwyn gevind. Die populêre siening is dat dit 'n voordelige aanvulling is as gevolg van die bestanddeel se anti -inflammatoriese en anti-oksidant eienskappe.

Die siening word egter net ondersteun deur 'n paar eksperimentele studies , terwyl ander studies dui op 'n gebrek aan enige voordeel vir die mens. 'n Nuwe studie, wat twee veelvuldige sklerose (MS) modelle gebruik en gepubliseer is in die American Journal of Pathology, het bevind resveratrol vererger die neuropatologie en inflammasie wat verband hou met MS en het geen voordelige neuro -effekte.

Volgens die studie kan resveratrol nadelige gevolge hê in sommige siektetoestande, breinvliesontsteking is ook hier geïdentifiseer. Aanvullende gebruik deur veral MS pasiënte word sterk ontmoedig, hangende verdere ondersoek.

18.11.13

Stres en kanker hand aan hand

ATF3, dit is die geen waarna wetenskaplikes verwys as hulle praat van die verband tussen kanker en stres.

Wetenskaplikes van verskeie lande doen saam navorsing wat daarop dui dat stres 'n belangrike rol speel in die verspreiding, of metastase, van kanker en die dood weens kanker.

Navorsers weet reeds dat ATF3 geaktiveer word in reaksie op stresvolle toestande in selle. Onder tipiese omstandighede kan die aktivering van die geen gebruik word om kankerselle te laat “selfmoord” pleeg met die toediening van 'n stressor, soos bestraling. Dieselfde funksie word egter deur kankerselle gebruik om gesonde selle te oortuig om die kanker te laat versprei.

Die navorsing het bevind dat kankerselle egter oor 'n manier beskik om gesonde selle te aktiveer op 'n manier wat die kanker laat versprei na nuwe gesonde weefsel. Haal jy ATF3 heeltemal uit die prentjie is jou kanse moontlik beter om die kanker te beveg.

Dit beteken dat die geen dalk met medikasie of ander behandeling geteiken kan word om sodoende kanker beter te bestry. Dit beteken ook dat jou liggaam se immuunstelsel se reaksie op stres dalk 'n tweesnydende swaard is wat kanker kan aanhelp.

Die navorsing is gepubliseer in 'n onlangse uitgawe van die Journal of Clinical Investigation . Die groep is tans besig met verdere ondersoek van die rol van ATF3.

11.11.13

'n Appel 'n dag

Daar is verskeie redes om 'n appel 'n dag deel van jou dieet te maak:

- Appels is ryk aan vesel. Dié vesel help om maagdermprobleme te verminder en dit help met spysvertering.

- Appels het 'n lae glisemiese indeks (GI) wat help met die stadige vrystelling van suiker in die bloedstroom. So help dit om insulienvlakke te beheer. Appels is dus 'n belangrike vrug indien jy aan suikersiekte ly.

- Die pektien in appels verlaag cholesterol.

- Appels bring 'n ontgiftigingseffek mee wat help om van swaarmetale in die liggaam ontslae te raak.

- Die kalium in appels versterk die hart.

- Appels verminder die risiko verbonde aan asma.

- Appels versterk die immuunstelsel, omdat dit vitamien A, C, bioflavonoïede en spoorelemente bevat. Dit help dus ook om kanker te beveg.

4.11.13

Koper se rol in Alzheimer se siekte

Koper blyk een van die belangrikste omgewingsfaktore te wees wat Alzheimer se siekte aanhelp. Koper stimuleer die opbou van skadelike proteïene in die brein en verhoed ook dat die liggaam effektief daarvan ontslae raak.

Koper is alomteenwoordig in ons voedsel, veral in rooivleis, skulpvis, neute, groente en vrugte. Ons drinkwater kom in koperpype en daar is koper in die voedingaanvullers wat ons gebruik. Dit speel 'n belangrike rol in ons senustelsel, beenvorming en hormoonafskeiding.

Die probleem is dat koper kan opbou in die bloedbreinskans – die stelsel wat beheer wat in en uit ons brein beweeg. Dit veroorsaak 'n opbou van giftige proteïene, wat uiteindelik Alzheimer’s aanhelp.

Dit wil voorkom asof die oplossing 'n gebalanseerde inname van koper is. Wat die ideale vlak van koper in die liggaam is, is nog onduidelik.

Die rol van koper in Alzheimer se siekte is onthul in 'n studie wat gepubliseer is in Proceedings of the National Academy of Sciences.

28.10.13

Gemmer help dalk asma beveg

Die geurige wortel mag dalk oor eienskappe beskik wat help om asma-pasiënte makliker te laat asem haal.

Asma word gekenmerk deur brongokonstriksie, 'n vernouing van die brongiale buise wat lug in en uit die longe belemmer. Die mees algemene vorme van asma medikasie werk deur die verslapping van die lugweg gladdespier se weefsel.

'n Studie aan Columbia Universiteit se Departement Anestesiologie het bevind dat spesifieke komponente van gemmer ook kan help met die ontspanning van dié weefsel.

Gemmer word tradisioneel beskou as 'n teenvoeter vir verskeie kwale.

21.10.13

Kolonoskopie

'n Kolonoskopie is 'n prosedure waar die binnekant van die dikderm (kolon en rektum) ondersoek word deur die gebruik van 'n kamera.

Dit word algemeen gebruik om 'n diagnose van gastroïntestinale simptome te maak. Die simptome sluit in pyn in die onderlyf, rektale of intestinale bloeding of die verandering in stoelgang.

Die kolonoskopie kan dien as beide diagnose en behandeling. Poliepe kan verwyder word en sekere kolorektale probleme kan behandel word. 'n Biopsie (die verwydering van weefsel vir toetsing) kan ook gedoen word.

Die prosedure neem gewoonlik minder as 'n uur en die pasiënt gaan dieselfde dag huis toe.

'n Kolonoskopie word aanbeveel vir alle persone ouer as 50 jaar. Vir diegene met 'n familiegeskiedenis van kolonkanker of poliepe is dit 'n noodsaaklikheid.

Die instrument wat vir 'n kolonoskopie gebruik word, is lank en buigsaam. Dit word in die rektum geplaas en na die begin van die dikderm beweeg.