Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

12.2.14

Noodhulp: Sirkuleer die bloed; borskassamedrukking

Dit help nie jy gaan voort met asemhaling vir iemand indien hulle hart nie klop nie. Nadat jy vier keer asemgehaal het vir die persoon moet jy kyk of daar 'n hartklop is. Indien daar geen hartklop is nie moet jy help met borskassamedrukking.

Voor jy met borskassamedrukking begin let op die volgende: As die hart klop, al is dit baie flou, moet jy nie borskassamedrukking toepas nie. Dit is gevaarlik dan aangesien die hart se aksie maklik versteur word.

Deur die borskas saam te druk word die hart se sametrekking nageboots. Deur af te druk op die onderste derde van die borsbeen word die drukking in die borskas verhoog en die bloed word uit die hart gedruk na die slagare toe. Wanneer die druk verlig word vloei die bloed terug na die hart toe.

Borskassamedrukking moet altyd voorafgegaan en vergesel word van kunsmatige asemhaling.

Om effektief te wees moet die samedrukking op 'n stewige oppervlakte gedoen word. Sodra daar 'n pols is, moet die samedrukking gestaak word. Jy kan voortgaan met kunsmatige asemhaling.

5.2.14

Noodhulp: Asemhaling vir iemand anders

Die maklikste manier om vir iemand asem te haal is om lug uit jou longe na die longe van die persoon te blaas. Vir 'n kind sal jy in beide die mond en neus blaas.

Wanneer jy jou mond van die ander persoon s’n verwyder sal hulle uitasem. Dit is 'n outomatiese reaksie van die borskaswand. Onthou om na die borskas te kyk as jy die persoon se longe probeer vul. As die longe met lug vul sal die borskas beweeg. Kyk ook vir enige kleurverandering in die individu.

Dit is belangrik dat asemhaling vir die persoon so gou moontlik begin word. Wanneer iemand vergiftig is of ernstige gesigbeserings opgedoen het, aanhoudend opgooi, of vasgepen is met hul gesig na onder, kan jy nie jou mond direk op hulle plaas nie.

3.2.14

Wat is cholesterol?

Cholesterol word deur die liggaam vervaardig uit diereprodukte om jou gesondheid te handhaaf. 75% word deur jou lewer gemaak en 25% kom uit jou kos. Dit verteer vet en vervaardig vitamiene D en hormone.

Cholesterol kan nie in die bloed oplos nie, en daarom word dit na ons selle geneem deur lipoproteïene. Wanneer jy vet eet skakel jou lewer dit om in in 'n tipe lipoproteïene, laedigtheid- lipoproteïene, die sogenaamde "slegte" cholesterol (LDL). Te veel LDL in die bloed laat dit opbou in die slagare. Dit veroorsaak probleme soos aterosklerose. Indien jy geneties geneig is om baie LDL te hê , is jou kanse beter om reeds vroeg in jou lewe verstopte are te kry.

Hoëdigtheid- lipoproteïene (HDL), die sogenaamde "goeie" cholesterol, neem cholesterol uit die are na die lewer, waar dit uitgeskei word.

29.1.14

Noodhulp, maak die lugweg oop

Iemand wat bewusteloos is se lugweg kan om verskeie redes toe wees. Dit kan tot die persoon se dood lei. Dit is dus baie belangrik dat jy onmiddellik vasstel of die persoon se lugweg oop is.

Om die lugweg oop te maak:

• Plaas een hand onder die persoon se nek en die ander op die voorkop.
• Kantel die kop agteroor.
• Dit sal die nek strek en behoort die lugweg oop te maak.
• Verskuif die hand op die nek nou na die bokant van die nek, onder die ken.
• Druk die ken na bo. (sien foto)
• Die beweging lig die kaak en laat die tong uit die lugweg beweeg.
• Nou kyk jy vir enige vreemde stof in die keel; los tande, braaksel, ens.
• Om dit te verwyder moet jy die persoon se kop na die kant toe draai.
• Hou jou wys- en middelvinger gebuig en druk dit in die persoon se mond.
• Beweeg jou vingers van kant tot kant in die mond.

Wanneer die lugweg oop is, kan die persoon spontaan begin asemhaal. Indien dit gebeur, plaas hulle in die herstelposisie. Indien die persoon nie asemhaal nie, moet jy met resussitasie begin.

23.1.14

Mediese woordeboek en gids: F

Afrikaans - English Medical Dictionary / Afrikaanse mediese woordelys en gids vir die gesondheidswetenskappe - Slaan ’n siekte / aandoening / kwaal / gesondheidskwessie na en klik op die skakel vir meer inligting.

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

°F (°F) <sien Fahrenheit>

F (F) <sien fluoor> (chemiese simbool)

F1 (F1) Eerste geslag van ’n bepaalde paring.

F2 (F2) Tweede geslag van ’n bepaalde paring; m.a.w. die nageslag van die F1-kruising.

FAD (FAD) <lees flavienadeniendinukleotied>

fagosiet (phagocyte, scavenger cell) (eetsel, opruimsel) ’n Sel wat in staat is om soliede partikels op te neem.

fagosities (phagocytic) M.b.t. fagositose.

fagositose (phagocytosis) <lees ook pinositose> Die proses waardeur bakterieë en ander liggaamsvreemde partikels opgeneem en vernietig (verteer) word; aktiewe inname van deeltjies deur ’n sel.

Fahrenheit (Fahrenheit, °F) <sien ook Celsius> (°F) ’n Temperatuurskaal waar vriespunt op 32°F en kookpunt op 212°F gelees word.

fakoïed (phacoid, lentiform) (lensvormig) Met die vorm van ’n lens.

fakoskoop (phacoscope) Instrument waarmee lensveranderinge tydens akkommodasie gemeet word.

faktor (factor) Eenheid in die kiemsel wat oorgeërf word.

faktor (factor) Omstandigheid wat invloed op ’n saak uitoefen.

fakultatief (facultative) Nie verpligtend nie; opsioneel.

fakultatief (facultative) Wat meehelp en nie essensieel is nie.

fakultatiewe Aerobia (facultative Aerobia) Mikroörganismes wat gewoonlik anaërobies is, maar wat wel in die teenwoordigheid van suurstof kan voortlewe.

fakultatiewe anaëroob (facultative anaerobe) <cf verpligte anaëroob > (nieverpligte anaëroob) Mikro-organisme wat in die teenwoordigheid of afwesigheid van suurstof kan lewe.

fakultatiewe parasiet (facultative parasite) Organisme wat vry of parasities kan lewe.

falangeaal (phalangeal) M.b.t. die falanges.

falanges (phalanges) <ekv falanks>

falanks (phalanx) <mv. falanges> Een van die beentjies van die vinger of die toon.

fallodinie (phallodynia) Pyn in die penis.

Fallopiese buis (Fallopian tube) <sien Fallopius-buis>

Fallopiusbuis (Fallopian tube, oviduct, tuba uterina, uterine tube) (eierleier, Fallopiese buis, ovidukt, tuba uterina, uteriene buis) ’n Buis wat die eiersel vanaf die ovarium na die uterus vervoer deur middel van silium- en peristaltiese bewegings.

familie (family) <sien ook takson> ’n Groep bestaande uit ’n aantal verwante genera wat gebruik word in die klassifikasie van organismes - soortgelyke families word in dieselfde orde verdeel en die ordes in ’n klas.

faringeaal (pharyngeal) M.b.t. die farinks.

faringeale tonsils (pharyngeal tonsils) <lees adenoïede>

faringospasma (pharyngospasm) Spasma van die spiere van die farinks.

faringotimpaniese buis (pharyngotympanic tube) <lees Eustachius-buis>

farinks (pharynx) <sien ook laringofarinks; nasofarinks; orofarinks> (keelholte) Die boonste verwyde gedeelte van die spysverteringskanaal, tussen die mondholte en die esofagus.

faringitis (pharyngitis) Ontsteking van die farinks.

farmakologie (pharmacology) Die wetenskap wat handel oor alle aspekte van geneesmiddels.

farmakoloog (pharmacologist) Deskundige in farmakologie.

farmakopee (pharmacopoeia) (farmakopeia) ’n Boek wat besonderhede i.v.m. die vervaardiging van medisyne bevat.

farmakopeia (pharmacopoeia) <lees farmakopee>

farmaseut (pharmacist) <lees apteker>

farmaseuties (pharmaceutical) M.b.t. farmasie.

farmasie (pharmacy) Bereiding van medisyne volgens voorskrif; bereiding en samestelling van geneesmiddels.

fasciculus (fascicle, fasciculus) <lees ook bondel; fassia> (fassikulus, veselbondel) ’n Struktuur wat uit ’n groep vesels bestaan, bv ’n bondel spier- of senuvesels.

fasciculus cuneatus (fasciculus cuneatus) Laterale gedeelte van die posterior witstofkolom van die rugmurg.

faset (facet) ’n Klein, gladde, gelyk oppervlak op ’n been, veral by artikulasieopppervlaktes.

fasiaal (facial) (fasieel) Wat betrekking het op die gesig.

fasiale senuwee (facial nerve) <lees nervus facialis>

fasieel (facial) <lees fasiaal>

fasilitasie (facilitation) (vergemakliking) Om makliker te maak of ’n proses te versnel - word veral m.b.t. ’n senuwee gebruik waar ’n impuls makliker oor die sinaps beweeg a.g.v. ’n verlaagde postsinaptiese potensiaal.

fassia (fascia) <sien ook bondel; fasciculus> (bindweefselvlies) Fibreuse, membraanagtige bedekking of skede wat liggaamsdele ondersteun, bind of bedek.

fassiaal (fascial) (bondelvormig) Wat betrekking het op bondels vesels (fassia).

fassikulêr (fascicular) Wat in bondels gerangskik is.

fassikulus (fasciculus) <lees fasciculus>

fataal (fatal, lethal) (dodelik, letaal, noodlottig) Dit wat die dood veroorsaak.

Fe (Fe) <lees ferrum>

FeCl³ (FeCl³) <lees ferrichloried> FeCO² (FeCO²) <lees ferrokarbonaat>

Fehling-oplossing (Fehling’s solution) <lees ook Fehling-toets> ’n Oplossing van kopersulfaat, natriumhidroksied en kaliumnatriumtartraat wat gebruik word om vir die teenwoordigheid van glukose en ander reduserende oplossings te toets.

Fehling-toets (Fehling’s test) <lees ook Fehling-oplossing> Gelyke volumes Fehling A en Fehling B word by ’n onbekende oplossing gevoeg om vir die teenwoordigheid van suiker te toets - groenoranje verkleuring ’n verhitting dui op ’n positiewe resultaat.

fekaal (faecal, fecal, stercorous) Wat betrekking het op feses.

fekaalagtig (faeculent, feculent) Lyk soos feses.

fekalieë (faeces) Menslike uitwerpsels.

fekalies (faecal) <fekaal>

femoraal (femoral) M.b.t. die femur.

femorale senuwee (femoral nerve) Groot senuwee wat die vel aan die binneste en middelgedeeltes van die dy, asook die spiere van die heup- en kniegewrigte voorsien.

femur (femur) (dybeen) Die boonste been in die onderste ledemaat.

fenestra (fenestra, window) (venster) Klein opening waardeur mens iets kan sien.

fenestra ovalis (fenestra ovalis, oval window) (ovaalvenster) Klein, membraanbedekte, ovaalvormige opening tussen die timpanum en die vestibulum van die oor waarin die stapes pas.

fenestra rotundus (fenestra rotundus) (rondevenster) Klein, ronde, membraanbedekte opening tussen die koglea en die middeloor, wat klankgolwe oordra.

fenielalanien (phenylalanine) ’n Essensiële aminosuur.

fenielsalisilaat (phenyl salicylate) Wit, kristallyne poeier berei uit salisielsuur, fenol en fosforoksichloride en gebruik as antiseptikum en middel teen rumatiek, sinkings, koors en geelsug.

fenolftaleïen (phenolphthalein) <lees ook indikator> Chemiese stof wat as indikator vir pH-veranderinge gebruik word.

fenotipe (phenotype) <kyk ook genotipe 1ste inskrywing> Waarneembare eienskappe van ’n organisme in teenstelling met sy genetiese eienskappe.

fermentasie (fermentation) (gisting) ’n Soort anaërobiese respirasie waar organiese stowwe (gewoonlik koolhidrate) afgebreek word d.m.v. mikro-organismes of ensieme.

ferri- (ferri-, ferric) <sien ook ferro-> Dui verband aan met die aanwesigheid van ’n "driewaardige yster" (Fe+++) in ’n chemiese verbinding.

ferrichloried (ferric chloride, FeCl³) (FeCl³) Ysterchloried.

ferro- (ferro-, ferrous) <sien ook ferri-> Dui verband aan met die aanwesigheid van ’n "tweewaardige yster" (Fe++) in ’n chemiese verbinding.

ferrokarbonaat (ferrous carbonate, FeCO²) (FeCO²) Ysterkarbonaat.

ferrometer (ferrometer) Instrument om die ysterinhoud van bloed te meet.

ferrum (ferrum, Fe, iron) (Fe, yster) Algemene metaalelement wat noodsaaklik is vir die sintese van hemoglobien in die liggaam.

fertiel <cf steriel> (fertile) (vrugbaar) Werklike vermoë van ’n organisme om nageslag voort te bring.

fertilisasie (fertilisation) <lees bevrugting>

feses (faeces, feces, excrement, stool) (ekskrement, ontlasting, stoelgang) Onverteerde reste wat tydens defekasie uit die dermkanaal gewerp word.

fesesagtig (stercoraceous) Met die voorkoms van feses.

fetaal (foetal) M.b.t. die fetus.

fetale eritroblastose (erythroblastosis foetalis) <lees erythroblastosis foetalis>

fetale hemoglobien (foetal haemoglobin) ’n Vorm van hemoglobien wat in die fetale rooibloedselle aanwesig is en maklik O2 opneem by lae O2-spannings.

fetale membraan (foetal membrane) <lees ook amnion; chorion>> Een van die membrane wat die fetus voed en beskerm.

fetus (foetus) <sien ook embrio> ’n Ongebore organisme in die uterus; ’n menslike embrio na agt weke van intra-uteriene ontwikkeling.

fibreus (fibrous) (veselagtig) Bevat of bestaan uit vesels.

fibreuse bindweefsel (fibrous tissue) <lees veselagtige bindweefsel>

fibreuse gewrig (fibrous joint) <lees sinartrose>

fibrien (fibrin) Die onoplosbare veselagtige proteïen wat uit fibrinogeen gevorm word wanneer bloed stol.

fibrienagtig (fibrinous) <lees fibrineus>

fibril (fibril) ’n Klein veseltjie of filament; dun, draadvormige struktuur.

fibrillasie (fibrillation) <lees ook defibrillasie> ’n Ernstige vorm van kardiale disritmie; spontane, ongekoördineerde sametrekking van sekere spiervesels, gewoonlik by die hartspier.

fibrilleer (fibrillate) Wanneer ’n spier, veral die hartspier, saamtrek.

fibrillêr (fibrillar) M.b.t. ’n klein veseltjie.

fibrineus (fibrinous) (fibrienagtig) Bevat fibrien.

fibrineus (fibrinous) (fibrienagtig) Met die voorkoms van fibrien.

fibrinogeen (fibrinogen, plasminogen) (plasminogeen) ’n Oplosbare plasmaproteïen wat noodsaaklik is vir bloedstolling - word deur trombien, in die teenwoordigheid van kalsiumione, na fibrien omgeskakel.

fibrinogenies (fibrinogenic) Wat oorsprong gee aan fibrien.

fibrinolise (fibrinolysis) Die oplossing van fibrien.

fibrinolisien (fibrinolysin, plasmin) (plasmien) Proteolitiese ensiem wat bloedklonte en ander proteïene oplos.

fibrinopenie (fibrinopenia) Tekort aan fibrinogeen en fibrien in die bloed.

fibro-elasties (fibroelastic) Weefsels wat kollageen en elastiese vesels bevat.

fibroblast (fibroblast) Sel wat oorsprong gee aan vesels en ander intersellulêre stowwe van bindweefsel.

fibroblasties (fibroblastic) M.b.t. fibroblaste.

fibrogenese (fibrogenesis) Vorming van bindweefsel.

fibrokraakbeen (fibrocartilage, fibrous cartilage) Veselagtige kraakbeen, veselkraakbeen) Kraakbeen met ’n groot hoeveelheid vesels wat die grondstof deurkruis.

fibrolisien (fibrolysin) Stof wat bindweefsel oplos.

fibromialgie (fibromyalgia) ‘n Toestand wat gekenmerk word deur moegheid en pyn in spiere en gewrigte.

fibroplasties (fibroplastic) Wat bindweefsel vorm.

fibroom (fibroma) ’n Goedaardige gewas wat uit bindweefsel bestaan.

fibrose (fibrosis) Abnormale vermeerdering van bindweefsel in ’n liggaamsdeel, orgaan of weefsel.

fibrosiet (fibrocyte) Volwasse vorm van ’n fibroblast.

fibrositis (fibrosis) <lees spierrumatiek>

fibroties (fibrotic) M.b.t. fibrose.

fibula (fibula) <lees ook tibia> (kuitbeen) Die buitenste en dunste van die twee bene tussen die knie en die enkelgewrig.

fibulêr (fibular) M.b.t. die fibula.

fietels (Skotse fietels, lekkerjeuk, lekkerkrap, help-my-krap) ’n Chroniese veluitslag waarby groot dele van die vel opgehewe en rooi is met oop sere.

fiksasie (fixation) Die proses van fiksering.

fikseer (fix) Die proses van voorbereiding van weefsel in mikroskopiese werk sodat dit in die oorspronklike vorm bly.

fikseer (fix) Om iets vas te bind.

fikseermiddel (fixative) Middel wat gebruik word om weefsels of voorwerpe onveranderd te behou, of te beskerm teen sekere vorms van behandeling, bv. kleuring.

filament (filament) Dun, draadagtige struktuur.

filamentagtig (filiform) <lees filiform>

filiform (filiform) (draadvormig, filamentagtig) Met die vorm van ’n draad.

filiforme papil (filiform papilla) Papilla filiformis.

film (film) Dun lagie van ’n stof, bv. ’n lagie olie op ’n wateroppervlakte.

filogeneties (phylogenetic) M.b.t. filogenie.

filogenie (phylogeny) <lees ook ontogenie> Evolusie van ’n spesie; evolusionêre geskiedenis van die groep waartoe ’n individu behoort.

filter (filter) C Toestel (struktuur) wat gebruik word om sekere partikels deur te laat terwyl ander teruggehou word wanneer die mengsel deur ’n poreuse membraan gestuur word.

filter (filter) ’n Toestel wat gebruik word om strale deur te laat terwyl ander teruggehou word.

filtraat (filtrate) Die naam wat gegee word aan die vloeistof wat deur ’n filter beweeg het.

filtrasie (filtration) Die deurgang van water en opgeloste stowwe deur ’n filter of selektiewe membraan danksy ’n hidrostatiese drukgradiënt.

filtreer (filter) Die proses waardeur ’n oplossing of mengsel deur ’n filter gestuur word.

filtreerbaar (filterable) Kan gefiltreer word.

filum (filum) Draadvormige struktuur.

filum (phylum) <lees ook takson> (stam) Taksonomiese indeling van organismes in groepe wat by mekaar hoort.

filum terminale (filum terminale) Die laaste dun, veselagtige deel van die rugmurg wat strek tot by die onderpunt van die sakrum.

fimbriae (fimbriae) (fraiings) Vingeragtige uitstulpings van die infundibulum op die punt van die Fallopius-buis.

fisiater (natuurarts) ’n Dokter wat bekwaam is in natuurgenesing.

fisiatrie Geneeskundige behandeling sonder medisyne.

fisiek (physique) (liggaamsbou) Die natuurlike gesteldheid van die liggaam.

fisiek (physical) (fisies, liggaamlik) Wat die natuurlike liggaam betref; m.b.t. die struktuur, organisasie of ontwikkeling van die liggaam.

fisies (physical) <lees fisiek>

fisies (physical) M.b.t. fisika.

fisies (physical) (natuurkundig) Wat op die natuur of natuurwette betrekking het.

fisika (physics) Vertakking van die wetenskap wat handel oor natuurwetenskap, t.w. meganika, hitte, elektrisiteit, lig, geluid en die dinamika wat dit beheer.

fisikus (physicist) Deskundige op die gebied van fisika.

fisiologie (physiology) <lees ook anatomie> Studie van die werking van selle, weefsels en organe van lewende organismes.

fisiologies (physiological) M.b.t. fisiologie.

fisiologies (physiological) Natuurlike prosesse.

fisiologiese dooieruimte (physiological dead space) Sluit in die anatomiese dooieruimte, plus die ruimte in die alveoli wat nie tydens ventilasie vir gasuitruiling benut word nie.

fisiologiese perk (physiological limit) Die mate waartoe spiere of weefsel vervorm of verander kan word sonder om die vermoë te verloor om na die oorspronklike posisie terug te keer en hul normale funksies te verrig.

fisiologiese soutoplossing (physiological saline) <lees ook Ringer-oplossing> ’n Isotoniese oplossing, gemaak van 0,9% natriumchloried.

fisioloog (physiologist) Deskundige op die gebied van fisiologie.

fisioterapie (physiotherapist) ’n Persoon wat fisioterapie beoefen.

fisioterapie (physiotherapy) Gebruik van fisiese metodes, bv. hitte, elektrisiteit, en beweging in die behandeling van siektes.

fisokefalie (physocephaly) (fisosefalie) Emfiseem van die kop.

fisosefalie (physocephaly) <lees fisokefalie>

fissuur (fissure, fissura) <lees ook inscisura; sulkus> Spleet of groef op die oppervlak van ’n orgaan; dieper as ’n sulkus.

fistel (fistula) (pypsweer) Die abnormale kanaal tussen twee oppervlaktes wat deur verswering of siekte meegebring word.

fitogeen (phytogenous) Stowwe wat deur plante geproduseer word.

fitoïed (phytoid) Plantaardig.

fitotoksien (phytotoxin) Verwys na enige gifstof van plantaardige oorsprong.

flagella (flagella) <ekv flagellum>

flagellum (flagellum) <mv. flagella/lees ook silium> (sweephaar) Lang, haaragtige uitsteeksel van ’n sel wat beweging veroorsaak - is baie langer as ’n silium, maar het dieselfde interne struktuur.

flank (flank) (sykant) Deel van die liggaam tussen die ribbes en die heupbeen.

flatus (flatulence) <sien flatulensie>

flatulensie (flatulence) (winderigheid) Buitensporige hoeveelhede gas in die verteringskanaal.

flavienadeniendinukleotied (flavin-adenine dinucleotide, FAD) (FAD) ’n Waterstofdraende koënsiem wat belangrik in redoksreaksies is, omdat dit geoksideer en gereduseer kan word.

flebitus Aarontsteking.

flebogram (phlebogram) Grafiese weergawe van die veneuse pols.

fleboragie (phleborrhagia) Sterk bloeding uit ’n vene.

flebotomie (phlebotomy) (aarlaat, aarlating, aderlaat, bloedlating, venaesectio) Die oopmaak van ’n aar om die bloed uit te laat.

flebotrombose Verstopping van die bloedvate.

flegma Slym veroorsaak deur ontsteking in die bloed.

flekseer (flex) Om te buig.

fleksie (flexion) <sien ook buigbaar/cf ekstensie> (buiging) ’n Buiging by ’n gewrig wat veroorsaak dat die hoek tussen die twee bene kleiner word.

fleksor (flexor) <cf ekstensor> (flexor, buigspier) ’n Spier wat ’n liggaamsdeel of ledemaat buig, bv. die biseps.

flokkulasie (flocculation) (koagulasie) ’n Reaksie waar die (normaalweg) onsigbare stowwe in ’n oplossing ’n sigbare donsige neerslag (klein vlokkies) vorm.

flokkulering (flocculation) ’n Reaksie waar die (normaalweg) onsigbare stowwe in ’n oplossing ’n sigbare donsige neerslag (klein vlokkies) vorm.

flokkuleer (flocculate) Ondergaan; uitvlok; konguleer.

fluktuasie (fluctuation) (skommeling) Die golwende heen en weer beweging van vog in ’n liggaamsholte.

fluktuasie (fluctuation) (skommeling, wisseling) Die wisseling van ’n eienskap met tyd, bv. temperatuurskommeling.

fluoor (fluorine, F) (F) ’n Gasagtige chemiese element van die halogeengroep.

fluoresseer (fluoresce) Lig afgee; om fluoressensie te toon.

fluoressensie (fluorescence) Eienskap van sekere stowwe om onder bestraling self lig van ’n ander kleur af te gee.

fluoresserend (fluorescent) Met die eienskap om onder bestraling self lig van ’n ander kleur af te gee.

fluoresserende skerm (fluorescent screen) Glasplaat wat aan die een kant bedek is met fluoresserende stof en wat ligstrale uitstuur as dit aan röntgenstrale blootgestel word.

fluorideer (fluoridating) Fluoried byvoeg of met fluoried behandel.

fluoried (fluoride) ’n Eenvoudige verbinding van fluoor met ’n ander element. Dit help tandbederf voorkom.

fobie (phoby) ’n Sieklike vrees vir iets.

fobofobie ’n Sieklike vrees vir die ontstaan van angs.

fokaal (focal) M.b.t. fokus.

fokale lengte (focal length, focal distance) (brandpuntafstand) Die afstand (op die hoofas van die lens) tussen die optiese middelpunt en die hoofbrandpunt.

fokale vlak (focal plane) Vlak wat deur die fokuspunt en parallel met die hoofas van die lens gaan.

fokus (focus) <lees brandpunt 1ste inskrywing>

fokus (focus) Die plek waar ’n siekte hoofsaaklik geleë is.

fokus (focus) (brandpunt, fokuspunt) Die middel- of sentrale punt.

fokuspunt (focus) <lees brandpunt 1ste inskrywing>

fokuspunt (focus) <lees fokus 3de inskrywing>

foliensuur (folic acid) Die suur van die vitamien B-kompleks. Dit word verkry uit dierelewer of uit blare. Dit kan ook sinteties berei word.

follikel (follicle) ’n Klein sakkie; ’n klein afskeidingsholte wat selle of sekresie bevat.

follikel (follicle) ’n Eenvoudige buisklier.

follikelstimulerende hormoon (follicle-stimulating hormone, FSH) (FSH, follikulotropien, follitropien) ’n Hormoon wat deur die adenohipofise gesekreteer word en die ontwikkeling van die ovariumfollikel en spermatogenese beheer.

follikulêr (follicular) M.b.t. ’n follikel.

follikulitis (folliculitis) Ontsteking van die haarsakkie, gewoonlik as gevolg van ’n bakteriële of fungus infeksie.

follikulotropien (follicle-stimulating hormone) <lees follikelstimulerende hormoon>

follitropien (follicle-stimulating hormone) <lees follikelstimulerende hormoon>

fonetiek (phonetics) (klankleer) Wetenskap van die vorming en uitspraak van spraakklanke.

foneties (phonetic) M.b.t. spraakklanke; wat op fonetiek betrekking het.

foniatrie (phoniatrics) Die geneeskundige behandeling van spraakgebreke en stemaandoenings.

fonies (phonic) <lees ook akoesties> M.b.t. spraakklanke; wat op die aard van klank betrekking het.

fonoreseptor (phonoreceptor, phonoceptor) (fonoseptor, klankreseptor) Verwys na ’n sel of reseptor wat deur klankgolwe gestimuleer word.

fonoseptor (phonoceptor) <lees fonoreseptor>

fontanel (fontanel) Ruimte tussen die skedelbene van babas wat met ’n sagte bindweefsellaag bedek is.

foramen (foramen, hole) <mv. foramina> (gat) ’n Natuurlike opening in weefsel of been.

foramen magnum (foramen magnum) Groot opening in die oksipitale been waardeur die brein en die rugmurg met mekaar verbind is.

foramen van Munro (foramen of Munro) Die opening tussen die derde en laterale breinventrikels.

foramina (foramina) <ekv foramen>

formaldehied (formaldehyde) Gas wat vir ontsmettingsdoeleindes gebruik word.

formalien (formalin) 40%-oplossing van formaldehiedgas in water; vloeistof wat algemeen as ’n fikseermiddel in anatomie en histologie gebruik word.

formule (formula) ’n Verkorte vorm van ’n beginsel.

formule (formula) <lees ook struktuurformule> Simboliese voorstelling van die chemiese samestelling van ’n stof; ’n groep letters en nommers wat gebruik word om die getal en soorte atome waaruit ’n molekule van ’n stof saamgestel is, aan te dui.

forniks (fornix) <pl fornices> ’n Boogvormige struktuur of opening.

fosfaat (phosphate) Sout van fosforsuur.

fosfatase (phosphatase) Ensiem met die vermoë om fosforsuur af te breek tot anorganiese fosfate.

fosfogliseraldehied (phosphoglyceraldehyde, PGAL) (PGAL) Splitsingsproduk van fruktosedifosfaat wat bv. in glikolise gebruik word.

fosfokinase (phosphokinase) Ensiem wat die byvoeging van ’n fosfaatgroep tot ’n verbinding kataliseer.

fosfokreatien (phosphocreatine) (kreatienfosfaat) ’n Energieryke verbinding in spierweefsel wat saamgestel is uit kreatien en fosforsuur.

fosfokreatinase (phosphocreatinase) Ensiem wat, in die teenwoordigheid van ATP, fosfokreatien opbreek in kreatien en fosfaat.

fosfolipied (phospholipid) Lipiedmolekules wat ’n fosfaatgroep bevat, bv. lesitien.

fosfolipied (phospholipid) ’n Vetagtige stof wat ’n belangrike komponent van selmembrane is.

fosfoproteïen (phosphoprotein) ’n Saamgestelde proteïen, bv. kaseïen in melk, wat ’n fosforsuurester bevat.

fosfor (phosphorus, P) (P) Ontvlambare, giftige chemiese stof - niemetaal.

fosforessensie (phosphorescence) Liggewende eienskap van fosfor en ander stowwe.

fosforessensie (phosphorescence) Eienskap van dinge wat in die donker ’n blougroen gloed gee.

fosforesserend (phosphorescent, glowing, luminous) (gloeiend, liggewend) Met die eienskap van fosforessensie.

fosforilasie (phosphorylation) (fosforilering) Proses waardeur ’n fosfaatgroep deur ensiemwerking tot ’n molekule bygevoeg word, soos wanneer ADP in ATP verander.

fosforilering (phosphorylation) <lees fosforilasie>

fosforsuur (phosphoric acid) Kleurlose, reuklose, stroopagtige vloeistof wat met water of alkohol gemeng kan word.

fossa (fossa) <lees ook holte> ’n Holtetjie in ’n been of ander liggaamsdeel - induiking.

fotofobie (photophobia) Onverdraagsaamheid teenoor lig.

fotofobies (photophobic) Wat aan fotofobie ly.

fotometer (photometer) (ligmeter) Instrument waarmee ligintensiteit gemeet word.

foton (photon) ’n Hoeveelheid ligenergie (kwantum lig) analoog aan ’n elektron.

fotoreseptor (photoreceptor, photoceptor) (fotoseptor) Reseptor wat op ligstimuli reageer.

fotosensitief (photosensitive) Gevoelig vir lig.

fotoseptor (photoceptor) <lees fotoreseptor>

fotosintese (photosynthesis) Chemiese sintese van koolhidrate vanaf koolstofdioksied en water deurdat sonlig op die chlorofil van groen plante inwerk.

fovea (fovea) (induikinkie, kuiltjie) ’n Klein fossa of holtetjie.

fovea centralis (fovea centralis) ’n Induiking in die middel van die geelvlek waar daar ’n hoë konsentrasie keëltjies is en gesigskerpte die beste is; sentrale retinale fovea.

foveaal (foveal) M.b.t. ’n fovea.

fragmentasie (fragmentation) Verdeling of afbreking in stukkies (fragmente).

fraiingagtig (fimbriate) Met fraiings (fimbriae).

fraiings (fimbriae) <lees fimbriae>

fraktuur (fracture) (breuk) ’n Breuk in ’n been, kraakbeen of soliede orgaan soos die milt.

frekwensie (frequency) Die aantal ossillasies per sekonde.

frekwensie (frequency) Die aantal kere dat ’n verskynsel voorkom.

frenalgie (phrenalgia) Pyn in die diafragma.

frenies (phrenic) M.b.t. die diafragma.

frenies (phrenic) M.b.t. die gees.

freniese senuwee (phrenic nerve) Senuwee wat die spiere van die diafragma voorsien.

frenulum (frenulum) Klein vou in ’n membraan wat die beweging van die orgaan of liggaamsdeel beperk.

friksie (friction) <lees wrywing>

frontaal (frontal) (voorkant) M.b.t. die anterior deel van die liggaam of betrokke orgaan.

frontaalwaarts (frontad) Vorentoe; na die frontale kant.

frontale been (frontal bone) <lees ook oksipitale been; pariëtale been; temporale been> (voorhoofsbeen) Voorste en boonste gedeelte van die skedel wat die dak van die oogkaste vorm.

frontale kwab (frontal lobe) <lees frontale lob>

frontale lob (frontal lobe) <lees ook oksipitale lob; pariëtale lob; temporale lob> Gedeelte van die brein voor die sentrale spleet - Rolando-groef.

frontale vlak (frontal plane) <lees ook koronale vlak> ’n Vlak wat die liggaam in ’n anterior en posterior deel verdeel.

fruktose (fructose) <lees ook ketose se 2de inskrywing> (vrugtesuiker) ’n Eenvoudige suiker met die formule C6H12O6 wat in ’n ketoring gerangskik is.

FSH (FSH) <lees follikelstimulerende hormoon>

ftisis (phthysis) Vroeëre benaming vir tering, veral longtering, in besonder myntering.

fundamenteel (fundamental) <lees basaal 1ste inskrywing>

fundamenteel (fundamental) Essensieel, of van die grootste belang.

fundamenteel (fundamental, elementary) (elementêr) M.b.t. die grondbeginsels.

fundus (fundus) Basis van ’n orgaan; deel verste van die uitmonding; die groter, gewoonlik blinde kant van ’n orgaan of klier.

fungeer (function) In funksie of werksaam wees.

fungi (fungi) <ekv. fungus>

fungus (fungi) <mv. fungi/sien ook skimmel> (swam) Parasitiese plant sonder chlorofil.

funksie (function) (werking) Die handeling wat deur lewende materie (sel, weefsel, orgaan, stelsel of organisme) uitgevoer word.

funksioneel (functional) M.b.t die spesiale werking van ’n orgaan of organisme.

funksionele groep (functional group) Die deel van ’n molekule wat aan ’n chemiese reaksie deelneem.

funksionele groep (functional group) Die deel van ’n molekule wat aan hom sy spesifieke eienskap besorg.

funksionele residuele kapasiteit (functional residual capacity) Die volume lug wat in ’n gewone rustige ekspirasie nog in die longe aanwesig is.

fusie samesmelting (fusion) Proses van vereniging.

fusiform spoelvormig (fusiform) Met ’n vorm wat na albei ente afspits.

fyt (jam) ’n Pynlike verswering in die voorste lit van ’n vinger.

22.1.14

Noodhulp: Asemhalingstoets

Om vas te stel of iemand nog asem haal, plaas jou oor bo die persoon se mond en kyk na sy bors en buik. As die persoon asem haal sal jy die asem voel op die oor en die bors en buik sal beweeg.

'n Persoon wat nie asem haal nie is meeste van die tyd bewusteloos.


(tekening John Pierce)

20.1.14

Trauma

Trauma het in ons tyd meer as net ’n mediese begrip geword. In die harde Suid-Afrikaanse werklikheid voel ons dit al meer aan die lyf.

Dr. Tessa van Wijk bewys haar as kenner van die “moderne” geestelike siekte: PTSD (post-traumatiese stressindroom). Met die kundigheid van ’n terapeut wat daagliks met slagoffers werk, begelei sy die leser en deel haar deurleefde insigte met die begrip van iemand wat self traumas beleef het. So bemagtig sy slagoffers van ’n wye spektrum traumatiese ervarings: van mishandeling, Grensoorlog, plaasaanvalle, motorkapings enverkragting, tot die middeljare-krisis.

Dié boek bied haalbare stappe wat toeganklik en byna speels uiteengesit word. Hier geld die basiese terapeutiese beginsels, soos die veg/vlug/vries-ervaring binne die krisis, asook ’n uitkenningsparade van die lewensrowers: innerlike prosesse wat tot die geestelike verwonding ly.

In die proses moet diep weggesteekte emosies en innerlike gif uitgelig en hanteer word, sodat die leser kan aanbeweeg.


Trauma / deur Dr. Tessa van Wijk -- Naledi.-- ISBN 9781920654221 : R 176.00