Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



30.4.18

Vis geassosieer met ’n hoër IK en beter slaap

Kinders wat minstens een keer per week vis eet, slaap beter en het IK-tellings wat gemiddeld 4 punte hoër is as diegene wat minder gereeld of glad nie vis eet nie.

Heelwat studies het alreeds ’n verband getoon tussen omega-3's, die vetsure in baie soorte vis, en verbeterde intelligensie, sowel as omega-3's en beter slaap. Maar die verband is nog nie voorheen bevestig nie.

Navorsing deur die Universiteit van Pennsylvania het nou ’n verband gevind en beklemtoon ook die belangrikheid van slaap. 541 kinders is in die studie betrek.

Die navorsers het voorgestel dat kinders op ’n jong ouderdom blootgestel word aan vis. Kinders is sensitief vir vreemde reuke en as hulle nie vroeg aan vis gewoond raak nie, kan hulle deur die reuk afgesit word.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Scientific Reports.

23.4.18

Kramp

’n Kramp is ’n skielike, onwillekeurige en pynlike sametrekking van een of meer spiere.

Die oorsaak is gewoonlik swak spierkoördinasie (tydens oefening); met afkoeling tydens of na oefening; indien die liggaam te veel sout en vloeistowwe verloor weens sweet, diarree of aanhoudende vomering; of tydens slaap.

Krampe word gewoonlik verlig deur die spiere te rek. Maak eers die betrokke deel van die liggaam reguit en masseer dit dan liggies.

Simptome en tekens
• Pyn in die aangetaste deel
• Styfheid of ’n spasma in die spier
• Die saamgetrekte spiere kan nie ontspan nie

Vir ’n kramp in ’n dyspier
Maak die knie reguit en lig die been met die een hand onder die hak; druk met die ander hand die knie af. Masseer die aangetaste spiere liggies.

Vir ’n kramp in ’n kuitspier
Maak die knie reguit en trek die persoon se voet liggies opwaarts in die rigting van die skeen. Masseer die aangetaste spier saggies.

Vir ’n kramp in ’n voetspier
Maak die tone reguit en help die persoon om op die bal van die voet te staan. Masseer die voet liggies.

16.4.18

Warm tee beskerm teen gloukoom

Een koppie warm tee per dag kan jou risiko verminder om die ernstige oogprobleem, gloukoom, te ontwikkel. Dit was die bevinding in navorsing wat vroeër vanjaar voltooi is.

Dit moet egter tee met kafeïen wees. Kafeïenvrye tee en ystee werk nie.

Gloukoom veroorsaak dat vloeistofdruk in die oog opbou en dit beskadig die optiese senuwee. Dit is een van die mees algemeenste oorsake van blindheid.

Vorige navorsing het reeds daarop gedui dat kafeïen binneaarse druk kan verander, maar voor hierdie navorsing was daar nog geen verband gevind tussen gloukoom en kafeïen nie.

Daar is geen bewyse dat koffie enige impak op gloukoom het nie. Daar word vermoed dat die antioksidante en antiinflammatoriese en neuro-beskermde chemikalieë in tee in kombinasie met kafeïen werk. Hierdie antioksidante en chemikalieë word ook geassosieer met ’n verlaagde risiko vir ander ernstige probleme soos hartsiektes, kanker en diabetes.

11.4.18

Die pasiënt as vennoot

Daar is soveel teenstrydige inligting beskikbaar oor watter dieet om te volg, hoeveel oefening om te doen, hoeveel water om te drink, watter medisyne om te neem, ensovoorts. In Die pasiënt as vennoot skei die bekende dr. Dawie van Velden die kaf van die koring en gee praktiese raad om holistiese welsyn te bereik: wanneer die liggaam, siel en gees optimaal gesond is. In hierdie boek wys dr. Dawie hoe die pasiënt medeverantwoordelik is vir sy of haar eie gesondheid.

Dr. Dawie van Velden praktiseer in Pietersburg en Sabie waarna hy aansluit by die UOVS as Direkteur van die Studentegesondheidsdiens. In 1984 word hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die Departement Huisartskunde vestig tot en met sy aftrede in 2003. Hy ontwikkel ’n belangstelling in sportgeneeskunde en holistiese gesondheidsorg en is betrokke by navorsing oor die gesondheidsvoordele van matige wynverbruik en die Mediterreense dieet.

Die pasiënt as vennoot / Dr. Dawie van Velden -- Protea Boekhuis, 13 Maart 2018; sagteband. -- ISBN 9781485308829

Die pasiënt as vennoot,
Bettie Blom,
11 April 2018.

3



9.4.18

Prostaatkanker

Prostaatkanker is ’n kanker wat in mans se prostaatklier voorkom. Dit is die kanker (uitsluitende longkanker) wat die algemeenste in mans voorkom.

Die klier lê onder die blaas en tussen die rektum, die sluitspier, ’n paar slagare en bondels senuwees. In ’n jong man is dit omtrent so groot soos ’n okkerneut en dit omring ’n deel van die urienkanaal.

Die kwaadaardige selle waaruit die kanker bestaan, groei baie stadig. As die kanker vroeg ontdek word is dit gewoonlik geneesbaar. Dit groei egter stil-stil sonder onmiddellike duidelike simptome. Die kanker kan ook deur die limvaatstelsel of deur bloed na ander dele van die liggaam versprei.

Die mees basiese metode wat 'n geneesheer gebruik om prostaatkanker te vind is deur die prostaatklier via die pasiënt se rektum met sy vinger te ondersoek om na vergroting of verharding van die klier te soek. ’n Bloedtoets kan ook gedoen word om die prostaat spesifieke antigeen (PSA) te meet. Die PSA neem toe wanneer kanker teenwoordig is, maar kan ook deur prostaatontsteking en nie-kwaadaardige groeisels verhoog word. 'n PSA van meer as 2,5 vir mans in hulle veertigerjare, meer as 3,5 vir mans in hulle vyftigerjare en van meer as 4 in hulle sestigerjare dui op die moontlikheid van kanker. Wanneer een van die bogenoemde toetse aandui dat kanker ’n moontlikheid is, doen die dokter gewoonlik 'n biopsie om prostaatweefsels te versamel vir ’n ondubbelsinnige diagnose. Die biopsie word in ’n paar minute deur die wand van die rektum gedoen.

As die biopsie bevestig dat kanker teenwoordig is, kan dit nodig wees om uit te vind presies hoe ver die kanker versprei het. Dit word gewoonlik deur aftasting met rekenaartomografie gedoen om ’n duidelik beeld van die betrokke deel van die pasiënt se liggaam te kry. Wanneer die kanker vroeg ontdek word en byvoorbeeld nog nie gevoel kan word deur ’n liggaamlike ondersoek nie, kan daar aanvaar word dat dit nog nie versprei het nie en kan mens voortgaan met die beplanning van behandeling sonder om 'n aftasting (skandering) te doen.

Simptome en tekens
Duidelike simptome verskyn nie totdat die kanker al gevorderd is nie. Die volgende lys is simptome wat, as hulle voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker begin groei na gebiede buite die prostaat. Van die simptome kan egter ook deur ander prostaat of blaasprobleme veroorsaak word.

- ’n Merkbare afname in urine-hoeveelheid
- Ongewone onderbrekings gedurende urinering
- ’n Behoefte om dikwels te urineer
- Pyn gedurende urinering of saadstorting
- Bloed in urine of in semen

As gereelde ondersoeke en ’n biopsie dui op kanker, maar dit nog in ’n vroeë stadium gediagnoseer is, is daar gewoonlik nie rede tot kommer nie. Die kanker groei baie stadig en is al jare in die pasiënt se liggaam teenwoordig.

Sien ook Prostaat.

2.4.18

Aanpassingsindroom

Aanpassingsindroom (adaptation syndrome) is die som van al die nie-spesifieke sistemiese reaksies wat volg op volgehoue blootstelling aan spanning.

Daar is drie stadia:
1. Alarmreaksie: kortstondige reaksie op akute stimuli waarby die liggaam nie kan aanpas nie. Dit word verdeel in skok- en teenskokbasis – dit duur minder as 24 minute.
2. Aanpassingsreaksie: liggaamreaksies op volgehoue stimuli waarby die liggaam hom aangepas het – dit kan weke of maande duur.
3. Uitputtingsreaksie: liggaamreaksies wat ontwikkel wanneer die aanpassing nie volgehou kan word nie en algemene sistemiese versaking intree – dit is van onbepaalde duur.