Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



9.4.18

Prostaatkanker

Prostaatkanker is ’n kanker wat in mans se prostaatklier voorkom. Dit is die kanker (uitsluitende longkanker) wat die algemeenste in mans voorkom.

Die klier lê onder die blaas en tussen die rektum, die sluitspier, ’n paar slagare en bondels senuwees. In ’n jong man is dit omtrent so groot soos ’n okkerneut en dit omring ’n deel van die urienkanaal.

Die kwaadaardige selle waaruit die kanker bestaan, groei baie stadig. As die kanker vroeg ontdek word is dit gewoonlik geneesbaar. Dit groei egter stil-stil sonder onmiddellike duidelike simptome. Die kanker kan ook deur die limvaatstelsel of deur bloed na ander dele van die liggaam versprei.

Die mees basiese metode wat 'n geneesheer gebruik om prostaatkanker te vind is deur die prostaatklier via die pasiënt se rektum met sy vinger te ondersoek om na vergroting of verharding van die klier te soek. ’n Bloedtoets kan ook gedoen word om die prostaat spesifieke antigeen (PSA) te meet. Die PSA neem toe wanneer kanker teenwoordig is, maar kan ook deur prostaatontsteking en nie-kwaadaardige groeisels verhoog word. 'n PSA van meer as 2,5 vir mans in hulle veertigerjare, meer as 3,5 vir mans in hulle vyftigerjare en van meer as 4 in hulle sestigerjare dui op die moontlikheid van kanker. Wanneer een van die bogenoemde toetse aandui dat kanker ’n moontlikheid is, doen die dokter gewoonlik 'n biopsie om prostaatweefsels te versamel vir ’n ondubbelsinnige diagnose. Die biopsie word in ’n paar minute deur die wand van die rektum gedoen.

As die biopsie bevestig dat kanker teenwoordig is, kan dit nodig wees om uit te vind presies hoe ver die kanker versprei het. Dit word gewoonlik deur aftasting met rekenaartomografie gedoen om ’n duidelik beeld van die betrokke deel van die pasiënt se liggaam te kry. Wanneer die kanker vroeg ontdek word en byvoorbeeld nog nie gevoel kan word deur ’n liggaamlike ondersoek nie, kan daar aanvaar word dat dit nog nie versprei het nie en kan mens voortgaan met die beplanning van behandeling sonder om 'n aftasting (skandering) te doen.

Simptome en tekens
Duidelike simptome verskyn nie totdat die kanker al gevorderd is nie. Die volgende lys is simptome wat, as hulle voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker begin groei na gebiede buite die prostaat. Van die simptome kan egter ook deur ander prostaat of blaasprobleme veroorsaak word.

- ’n Merkbare afname in urine-hoeveelheid
- Ongewone onderbrekings gedurende urinering
- ’n Behoefte om dikwels te urineer
- Pyn gedurende urinering of saadstorting
- Bloed in urine of in semen

As gereelde ondersoeke en ’n biopsie dui op kanker, maar dit nog in ’n vroeë stadium gediagnoseer is, is daar gewoonlik nie rede tot kommer nie. Die kanker groei baie stadig en is al jare in die pasiënt se liggaam teenwoordig.

Sien ook Prostaat.

2.4.18

Aanpassingsindroom

Aanpassingsindroom (adaptation syndrome) is die som van al die nie-spesifieke sistemiese reaksies wat volg op volgehoue blootstelling aan spanning.

Daar is drie stadia:
1. Alarmreaksie: kortstondige reaksie op akute stimuli waarby die liggaam nie kan aanpas nie. Dit word verdeel in skok- en teenskokbasis – dit duur minder as 24 minute.
2. Aanpassingsreaksie: liggaamreaksies op volgehoue stimuli waarby die liggaam hom aangepas het – dit kan weke of maande duur.
3. Uitputtingsreaksie: liggaamreaksies wat ontwikkel wanneer die aanpassing nie volgehou kan word nie en algemene sistemiese versaking intree – dit is van onbepaalde duur.

28.3.18

Inflammasie

Inflammasie is die reaksie van lewende weefsel op besmetting of beserings. Dit word gewoonlik gekenmerk daardeur dat die area warm voel, pyn, rooi lyk en of opswel. Dit vorm soms etter as dit ontsteek.

Wat medikasie sonder voorskrif betref kan jy iets koop wat ibuprofen bevat.

Boereraat:

'n Goeie natuurlike hulpmiddel is pynappelsap. Dit bevat die proteolitiese ensiem bromelien. Dit kom in heelwat tropiese vrugte voor en is 'n goeie teenvoeter vir inflammasie.

26.3.18

Verskuifde tussenwerwelskyf

Mense verwys oor die algemeen hierna as ’n “verskuifde werwel”. Dit kom voor wanneer ’n deel van die kraakbeen wat die bene in die ruggraat skei na agter in die senuwortel of rugmurg druk.

Dit kan baie seer wees. Die pyn kan skielik of geleidelik begin.

Simptome en tekens
• Hewige pyn in die rug wat na die bene versprei en deur beweging vererger word.
• Soms kan die persoon nie beweeg as gevolg van die pyn nie.

Behandeling
Laat die persoon op ’n stewige oppervlakte lê en ontbied mediese hulp.

21.3.18

Dagga voordelig vir 'n gesonde sekslewe

Navorsers aan die Universiteit van Stanford het bevestig dat die gereelde gebruik van dagga jou sekslewe verbeter.

Volgens die studie het paartjies wat dagga gebruik 20% meer seks as ander mense. Dit geld vir mense van alle ouderdomme. Daar is ook aanduidings dat dit die kwaliteit van seks verbeter.

Die studie se bevindings is gepubliseer in die Journal of Sexual Medicine.



(via Seks101 blog)

19.3.18

Maak oop jou deure en vensters vir beter slaap

’n Onlangse studie het bevind dat indien jy jou slaapkamer se vensters en deure oopmaak voor jy gaan slaap, jou slaapkwaliteit aansienlik verbeter.

Deure alles oop te maak word die koolstofdioksiedvlakke in die vertrek verlaag. Die verlaagde vlakke bring baie beter slaap mee.

Die studie is gepubliseer in Indoor Air: International Journal of Indoor Environment and Health.


(foto: Tim Collins)