Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

10.11.25

Wat is cholesterol?

Cholesterol word deur die liggaam vervaardig uit diereprodukte om jou gesondheid te handhaaf. 75% word deur jou lewer gemaak en 25% kom uit jou kos. Dit verteer vet en vervaardig vitamiene D en hormone.

Cholesterol kan nie in die bloed oplos nie, en daarom word dit na ons selle geneem deur lipoproteïene. Wanneer jy vet eet skakel jou lewer dit om in in 'n tipe lipoproteïene, laedigtheid- lipoproteïene, die sogenaamde "slegte" cholesterol (LDL). Te veel LDL in die bloed laat dit opbou in die slagare. Dit veroorsaak probleme soos aterosklerose. Indien jy geneties geneig is om baie LDL te hê , is jou kanse beter om reeds vroeg in jou lewe verstopte are te kry.

Hoëdigtheid- lipoproteïene (HDL), die sogenaamde "goeie" cholesterol, neem cholesterol uit die are na die lewer, waar dit uitgeskei word.

6.11.25

Kruie vir kwale: Longe

Kanferolie is uitstekend vir kinders wat ly aan borsmoeilikheid as dit warm gemaak en goed in die bors en rug gevryf word. Hou die kind warm.

♦♦♦

Die stoom van gekookte wildeals blare kan ingeasem word om respiratoriese kwale te verlig.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir slym op die bors. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Die jel van die bontaalwyn se blare kan op die bors gesmeer word om kongestie te verlig.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om kongestie te verlig.
Soms word heuning of ander medisinale kruie, soos die blare van die lemoenbossie of gemmer, bygevoeg om die doeltreffendheid te verbeter. (is reeds gebruik, gaan na volgende)

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om longkwale te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir longprobleme. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Tee van die wilde salie word wêreldwyd gebruik vir die behandeling van borskwale.
Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en drink vir borskwale.

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir borskwale.

♦♦♦

Gekookte suurvye kan gebruik word vir die behandeling van longkwale.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit vir borsprobleme.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.11.25

Kanker - 'n eenvoudige verduideliking

Selle in die menslike liggaam word deur seine van die brein af beheer. Dit laat die selle verdeel, tussen 20 en 50 keer, oud word, en sterf. Dit gebeur egter dat sommige selle hulle boodskappe ignoreer en aanhou verdeel. Die liggaam se immuunstelsel kry dit ook nie reg om die sel te vernietig nie. So word 'n massa selle gevorm. Ons noem dit 'n tumor.

Daar is twee soorte tumors; goedaardige tumors, wat op een plek bly en nie verder versprei nie, en kwaadaardige tumors, wat kan versprei en ander weefsel en organe aantas. Een manier waarop hulle kan versprei is met behulp van die bloedvate in die liggaam. Kwaadaardige tumors is kanker. Wanneer kankerselle een plek verlaat en ander weefsel en organe aantas noem ons dit metastase.

Tumors het verskillende oorsake. Ons verwys na die oorsake as karsinogene:

• Dit kan oorgeërf word - dit beteken jou kanse is beter om dit te kry as een van jou ouers dit gehad het.
• Dit kan gebeur as gevolg van bestraling - deur sonstrale, x-strale of radioaktiwiteit.
Rook veroorsaak dit.
Hormoonversteurings kan dit veroorsaak.
• Die inneem van te veel verwerkte voedsel veroorsaak dit.
• Besoedeling kan dit veroorsaak.
• Virusse maak jou ook vatbaar daarvoor.

Daar is verskillende oorhoofse groepe kanker waarna ons kan verwys:

• Karsinome – die in die voering van organe, kliere en die vel
• Sarkome – in die been, kraakbeen en spiere
• Leukemie – in die bloed en limf- en immuunstelsel

Die naam van 'n spesifieke soort kanker verwys gewoonlik na die area wat dit aantas, byvoorbeeld borskanker, longkanker, prostaatkanker of kolonkanker. Daar is in totaal meer as 200 verskeie soorte kanker.

Behandeling hang af vanwaar die kanker is, die tipe tumor, die stadium tot waar dit reeds gevorder het en die algemene toestand van die pasiënt. Die basiese behandeling is:

• Chirurgie – die kanker word uitgesny, indien moontlik.
• Chemoterapie – chemiese behandeling deur medikasie pf inspuitings. Dit maak die kankerselle dood of verhoed dat dit versprei.
• Radioterapie – kan met behulp van mediese toerusting of medikasie gebeur.
• Tradisionele medisyne – sommige mense beweer die kankerbossie help met spysvertering, kalmeer mens en versterk die immuunstelsel. Die Afrika-wildeaartappel versterk ook glo die immuunstelsel.

30.10.25

Kruie vir kwale: Boererate vir rumatiek

Kanferolie moet warm gemaak word en goed ingevryf word vir die verligting van rumatiek.

♦♦♦

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater vir rumatiek. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir rumatiek.

♦♦♦

Die Khoi het Europeërs meer as 200 jaar gelede geleer van die medisinale waarde van die muishondbos. Vandag word dit ook gebruik vir rumatiek.
’n Kwart koppie vars blare word geweek in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Dit moet daagliks geneem word.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

’n Eetlepel boegoebrandewyn twee maal per dag.

♦♦♦

Maak tee van kruidjie-roer-my-nie en gooi by jou badwater.

♦♦♦

Voeg die vrugte van die koekemakranka by brandewyn, laat trek en gebruik as medisyne.

♦♦♦

Vir rumatiek pyne neem 5 – 10 druppels kajapoetolie met boegoetee, drie maal daagliks.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

28.10.25

Kruie vir Kwale: Boererate vir spierpyne

Kanferolie moet warm gemaak word en goed ingevryf word vir die verligting van spierpyne.

♦♦♦

Rooiwortel (Bulbine natalensis) is 'n vetplant wat in dele van Suid-Afrika groei. Die wortel, blaar en stam word as medisyne gebruik. Mense gebruik dit vir spierkrag.

♦♦♦

Gooi 1 liter kookwater oor 3 koppies blare, stele en blomme van wildedagga.
Laat dit trek en afkoel.
Gooi dit by jou badwater vir spierpyne.
Drink dit vir seer spiere.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir seer spiere.

♦♦♦

Plaas skaafsels bas van ’n kiepersol (-boom) op die blare van ’n bloulelie en bind vas op seer spiere.

♦♦♦

Trek kattekruidblare soos tee, gooi dit in warm water en plaas jou bene daarin.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

14.10.25

Aambeie

Mense wat baie sit en swanger vroue kry dikwels aambeie, dit word ook veroorsaak deur hardlywigheid en verrekking. Bykans een uit elke drie mense ly aan aambeie in een of ander stadium van hulle lewe.

Wat is aambeie? Dit word veroorsaak deur geswelde are in of buite die anus en dit is gewoonlik nie ernstig nie, maar kan uiters ongemaklik wees. Simptome is ´n gejeuk en pyn en soms anale bloeding.

Voorkom aambeie deur genoeg rukosse te eet en drink baie vloeistowwe om hardlywigheid te verhoed. Behandeling bestaan uit lakserende voedsel, pynstillende en versagtende salf en setpille vir inwendige aambeie. Daar is pille vir aambeie, maar dit is slegs setpille wat eintlik 'n inwendige salf is. Let ook daarop dat vaseline nie soseer help vir aambeie nie. Dit maak moontlik die vloei van stoelgang makliker, maar behandel nie die aambei nie.

Spreek jou dokter as anale bloeding voorkom of as daar ´n sorgwekkende verandering in jou opelyf is. Klein aambeie kan deur ´n dokter behandel word met inspuitings. ’n Operasie mag nodig wees vir pasiënte met uitgebreide aambeie of interne aambeie.

Ons het verskeie boererate vir aambeie.


Op die grafiese voorstelling kan jy sien hoe lyk aambeie.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

2.10.25

Kruie vir kwale: Oorpyn

Jy kan ’n afkooksel maak van wildeals blare deur dit vir 10 minute te kook. Dit kan gebruik word om jou ore te was.

♦♦♦

Gebruik vars wildeals blare vir oorpyn, met ’n opgerolde blaar in die oor.

♦♦♦

Hou ’n bedekte warmwatersak teen die aangetaste kant van die gesig.

♦♦♦

Gebruik 'n spuit of iets soortgelyks om 2 tot 4 druppels warm olyfolie in die oor van ’n klein kindjie, 2 jaar en ouer, of 5 tot 10 druppels in ’n volwassene se oor.

♦♦♦

Drup een druppel warm amandelolie en een druppel knoffelolie in die oor. Plaas ’n pluisie watte in die oor.

♦♦♦

Vir oorpyn, skil ’n groot ui en sny dit in die helfte. Maak ’n helfte versigtig warm in ’n mikrogolfoond en draai dit toe in ’n lappie. Hou dit met die plat kant teen, of so naby as moontlik, aan jou oor. Pasop vir brand. Die aroma van die ui het antibakteriële eienskappe en die hitte help vir die pyn.

♦♦♦

Drup ’n paar druppels uiesap in die oor.

♦♦♦

Drup ’n paar druppels knoffelsap in die oor.

♦♦♦

Bind ’n teelepel peper toe in ’n lappie. Week die lappie in naeltjieolie en druk dit dan in die oor.

♦♦♦

Braai 'n heel knoffelhuisie in klapperolie. Laat die olie afkoel en gooi dan in oor.

♦♦♦

Druk 'n stukkie tabak in jou oor vir oorpyn.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids