Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



25.9.20

Droë vel

Die balans tussen olie en vog is noodsaaklik vir ´n gesonde vel. Die betrokke faktore werk saam om vogverlies teen te werk. Droë vel kom dof en soms skubberig voor en voel styf en ongemaklik. Onder uiterste omstandighede kan dit selfs oopbars. Oorsake sluit in verhitting, tekort aan vog in die lug en oormatige reiniging. Dit kan ook verbind word aan dermatitis, allergieë, velkwale, ´n swak dieet en blootstelling aan die elemente. Bevogtigers help teen vogverlies. Vermy harde seep en bevog altyd jou vel na reiniging. Drink ook heelwat water en vermy blootstelling aan die elemente.

Boereraat:

Smeer koeisalf aan jou hande.

♦♦♦

Maak jou eie handeroom deur die volgende goed te meng:
1 klein blikkie babapoeier
1 botteltjie wit vaseline
2 klein botteltjies gliserien
1 klein botteltjie amandelolie

♦♦♦

Hande: Meng olyfolie en suiker en vryf goed in en spoel dan die suiker af en droog liggies en vryf die hande tot al die olie geabsorbeer is.

♦♦♦

Meng ´n kwart koppie olyfolie en twee teelepels sout. Vryf die mengsel oor jou hele liggaam. Dit werk ook goed vir hande. Spoel af na vyftien minute.

♦♦♦

Kook ´n koppie melk tot ´n "vel" daarop vorm. Meng die "vel" met ´n eiergeel en wend aan (very die oogareas). Los op vir 20 minute en spoel af met lou water.

♦♦♦

Nicoleen Richards: Vir jou gesig: vat gewone mieliemeel, gooi dit in die palm van jou hand en maak 'n pasta met water. Vryf jou hele gesig en nek daarmee. Spoel af en sien die verskil.

21.9.20

Die hart

Die hart is 'n spierorgaan wat verantwoordelik is vir die pomp van bloed deur die bloedvate deur middel van herhaalde, ritmiese sametrekkings. Die hart bestaan uit die kardiale spier, 'n onwillekeurige spierweefsel wat slegs in hierdie oorgaan aangetref word.

Die algemene mens se hart, met 'n slag van 72 slae per minuut, sal ongeveer 2,5 miljard keer klop tydens 'n leeftyd van 66 jaar.

Die menslike embrioniese hart begin om ongeveer 21 dae ná bevrugting te klop, of vyf weke ná die laaste normale maandstonde, wat ook die datum is wat normaalweg gebruik word om die swangerskap te dateer. Aan die begin klop die menslike hart teen 'n spoed naby aan dié van die moeder: ongeveer 72-80 slae per minuut. Die embrionale hartklop ondergaan dan 'n lineêre versnelling en bereik 'n hoogtepunt van 165-185 slae per minuut tydens die begin van die 7de week (9de week na die laaste maandstonde). Hierdie versnelling is ongeveer 3,3 hartslae per minuut per dag, of ongeveer 10 hartslae per minuut elke drie dae: 'n toename van ongeveer 100 hartslae per minuut in die eerste maand.

Nadat hierdie hoogtepunt bereik is, vertraag die hart tydens die 15de week (ná die laaste maandstonde) tot ongeveer 152 slae per minuut (±25 slae per minuut). Ná die 15de week vertraag dié vertraging verder en bereik dit 'n gemiddelde spoed van 145 (+/-25) slae per minuut ná die volle dragtydperk. Daar is geen verskil tussen manlike en vroulike hartslae voor geboorte nie.

In die menslike liggaam is die hart normaalweg effe aan die linkerkant of in die middel van die bors geleë, met die grootste deel van die hart wat na die linkerkant lê, onder die borsbeen. Daar is egter gevalle waar die hart aan die regter kant lê. Die hart voel soms asof dit meer links lê as wat werklik die geval is, aangesien die linkhartvoorkamer sterker is – dit is verantwoordelik vir die bloedtoevoer na die hele liggaam. Die mens se linkerlong is ook kleiner as die regterlong, omdat die hart meer ruimte opneem in die linkerkantse deel van die borskas. Die hart word omhul deur 'n sakkie wat bekendstaan as die hartsak (of perikardium) en word omring deur die longe. Die hartsak is 'n dubbele membraanstruktuur wat 'n sereuse (waterige) vloeistof bevat wat die wrywing tydens hartsametrekkings verminder. Die holte in die borskas waar die hart geleë is word die middelvlies genoem.

Die apeks is die stomp punt aan die onderkant van die hart wat na die linkerkant uitwyk. 'n Stetoskoop kan regoor die apeks geplaas word om die aantal hartslae te tel. In normale volwassenes weeg die hart ongeveer 250-350 g en is dit ongeveer driekwart die grootte van 'n gebalde vuis. Harte wat ernstig siek is kan egter tot 1 000 g weeg, as gevolg van hipertrofie. Die hart bestaan uit vier kamers.

Die binnekant van die hart word verdeel in vier hartkamers. Die twee boonste kamers is die linker- en die regter-atrium en die groter onderste kamers is die linker- en die regter-ventrikel. Bloed van oor die hele liggaam word opgevang in die boonste en die onderste holaar en na die regter-atrium gebring. Die atrium trek saam en pomp hierdie bloed na die regter-ventrikel deur ʼn klein opening in die tussenwand wat die twee kamers van mekaar skei.

Die regter-ventrikel trek nou saam en pomp die bloed uit die hart in die longslagaar, waarlangs die bloed na die longe beweeg. Die bloed in die ventrikel kan nie terugbeweeg na die atrium wanneer die ventrikel saamtrek nie, aangesien die opening tussen hulle deur 'n eenrigting-klep, die drieslippige klep, gesluit word. Ook tussen die regter-ventrikel en die longslagaar is 'n klep wat voorkom dat die bloed van die longe die ventrikel binnevloei.

Hierdie klep word die halfmaanvormige klep genoem, vanweë die drie halfmaanvormige membrane waaruit dit bestaan. Die bloed van die regter-ventrikel beweeg deur die longe en keer na die linker-atrium van die hart terug. Daarna word dit na die linkerventrikel gepomp. Soos aan die regterkant van die hart, is daar 'n opening tussen die twee kamers wat gesluit word met ʼn klep, die mitrale klep, wat voorkom dat die bloed terugvloei.

Die linker-ventrikel trek saam en die bloed word deur nog ʼn halfmaanvormige klep uit die hart in die aorta gepomp, wat na die slagare lei wat die hele liggaam bedien. Die kleppe van die hart verseker dus ʼn eenrigting-vloei van die bloed te alle tye.

Die funksie van die regterkant van die hart is om deoksigeneerde bloed (bloed sonder suurstof) vanaf die liggaam in die regterhartvoorkamer (ook genoem die regteratrium) op te neem en dit deur die regterhartkamer na die longe te pomp. Daar word koolstofdioksied uit die bloed uitgesit en suurstof in die bloed in opgeneem.

Dit is 'n passiewe proses wat bekend staan as diffusie. Die linkerkant van die hart ontvang die geoksigeneerde bloed (die bloed met suurstof) van die longe na die linkerhartvoorkamer (ook genoem die linkeratrium). Van die linkerhartvoorkamer beweeg die bloed na die linkerhartkamer en word dit van daar na die hele liggaam versprei.

Aan beide kante van die hart is die onderste kamers dikker en sterker as die boonste of voorkamers. Die spierwand wat die linkerhartkamer omhul is dikker as dié van die regterhartkamer, as gevolg van die sterker krag wat dit benodig om die bloed deur die liggaam te pomp.

Vanaf die regterhartvoorkamer vloei die bloed deur die trikuspidale klep na die regterhartkamer. Hier word dit deur die pulmonale klep gepomp en vloei dit deur die longslagaar na die longe. Vanaf die longe vloei die bloed terug deur die longare na die linkerhartvoorkamer. Dan vloei dit deur die bikuspidale klep na die linkerhartkamer en deur die aortiese klep na die hoofslagaar (ook genoem die aorta).

Die hoofslagaar vertak en die bloed word dan verdeel tussen die groter slagare wat die bo- en onderliggaam van bloed voorsien. Die bloed vloei deur die slagare na die kleiner slagaartjies en dan uiteindelik na die uiters klein haarvate (ook genoem kappilêre) wat elke sel voed. Die bloed is teen hierdie tyd al redelik gedeoksigeneer en vloei dan na die venules ('n tipe van klein aar) wat later vergroei tot are. Deur die are vloei die bloed na die onderste en boonste holare en uiteindelik terug na die regterhartvoorkamer waar die proses begin het.

Anders as enige ander spierweefsel besit die hartspierweefsel die eienskap om outomaties saam te trek en te verslap, sonder prikkels van buite. Die hartspier besit met ander woorde in hoë mate die eienskap van outomatisme.

Al besit die hartspier die eienskap van outomatisme, kan dit op prikkels van buite reageer. Anders as byvoorbeeld die spiere in die arm wat net effens of maksimaal kan saamtrek na gelang van die sterkte van die prikkel, handhaaf die hartspier egter 'n alles-of-nikswet. Dit beteken dat sodra 'n prikkel 'n bepaalde drumpelwaarde het, die hartspier hom gedra soos 'n eenheid en die hele hart saamtrek.

Gedurende die periode van sametrekking sal die hartspier op geen prikkel van buite reageer nie. Die sametrekking moet eers in sy geheel verloop alvorens die hart op 'n volgende prikkel sal reageer.

Die hele hartspier besit die vermoë om prikkels teen 'n bepaalde spoed te kan gelei. Die verskillende spiervesels in die hardwand is onderling met mekaar in verbinding deur middel van spierbrûe wat 'n prikkel dus in staat stel om deur die hele hartspier te versprei. Hierdie struktuur staan bekend as 'n sintisium. Op sommige plekke kom spesiale geleidingsweefsel egter in die hartwand voor. Hierdie spesiale spiervesels is baie meer sensitief en gelei ook 'n prikkel teen 'n hoër spoed.

Die sino-atriale knoop (SA knoop) is 'n groep spesiaal gewysigde spierselle wat in die wand van die regteratrium naby die opening van die boonste vena cava geleë is. Dit is in 'n noue verbinding met efferente senuwees wat die hart bedien. Die SA knoop is die pasaangeër van die hart. Die sametrekkingsgolf van elke hartklop het sy oorsprong in die SA knoop. Sowel senuwee- as chemiese prikkels het 'n invloed op hierdie spesiale spierselle en die hartritme word hier bepaal na gelang van die behoeftes van die liggaam. Die atrioventrikulêre knoop (AV knoop) is ook in die wand van die regteratrium geleë, aan die onderent van die skeidingswand tussen die twee atriums. Daar bestaan geen direkte verbinding tussen die sino-atrale knoop en die atrioventrikulêre knoop nie. Die prikkel van die SA knoop versprei langs die hartspiervesels tot by die AV knoop.

Die spierweefsel in die wande van die atriums en die ventrikels is nie met mekaar in verbinding nie, maar word deur 'n bindweefsellaag geskei. 'n Prikkel kan dus nie sonder meer van die atriums na die ventrikels versprei nie. Die enigste pad waarlangs prikkels van die atriums na die ventrikels kan gaan, is langs 'n bondel spesiale spierweefsel, bekend as die bondel van His, ter ere van 'n Duitse fisioloog, Wilhelm His. Hierdie bondel begin by die atrioventrikulêre knoop en verloop in die skeidingswand (septum) tussen die twee ventrikels.

Dit verdeel in twee takke en verloop net onder die endokardium. By die punt van die hart gaan die een tak na die wand van die regterventrikel en die ander een verloop in die wand van die linkerventrikel. Hierdie twee takke eindig in 'n netwerk van fyn vesels, bekend as die vesels van Purkinje. Laasgenoemde versprei dwarsdeur die wande van die ventrikels en gelei prikkels baie vinniger as gewonde hartspiervesels. Senuwees van die simpatiese deel van die outonome senuweestelsel is met die bondel van His in verbinding.

Die hartsiklus, ook genoem die kardiale siklus, dui op die reeks veranderinge wat daar gedurende een hartklop in die hart plaasvind. Die hart van 'n gesonde volwasse persoon klop gemiddeld 72 maal per minuut. Elke hartklop duur dus ongeveer 0,8 s. Al die veranderinge moet dus in die bestek van hierdie kort tydperk plaasvind. Die sametrekking van enige deel van die hart word sistool genoem, terwyl die verslapping bekend staan as diastool.

Die algemene diastool is wanneer sowel die atriums as die ventrikels in 'n toestand van rus verkeer. Gedurende hierdie periode wat ongeveer 0,4 s duur, vloei bloed vanuit die twee vanae cavae em dier vier longare tot in die twee atriums en daarvandaan tot in die ooreenstemmende ventrikels. Die atriale sistool volg op die algemene diastool. Die sametrekking begin by die sino-atriale knoop en versprei waaiervormig oor die twee atriums sodat hulle feitlik gelyktydig saamtrek.

Die openinge van die vanae cavae en die longare word toegedruk as gevolg van die sametrekking van die atriums, en die bloed wat nog in die atriums is, word in die ventrikels gedruk. Die wande van die ventrikels rek effens om die ekstra bloed te kan akkommodeer. Die atriale sistool duur 0,08 s. Onmiddellik ná die atriale sistool volg die ventrikulêre sistool, wat ongeveer 0,3 s duur. Die bondel van His speel hier 'n belangrike rol: as die prikkel toegelaat sou word om deur die wande van die atriums na die ventrikels te versprei, sou die bloed in die punt van die hart saamgedruk word.

Nou versprei die prikkel langs die bondel van His en trek die ventrikels van hul punte af saam. Die trikuspidale en bikuspidale kleppe word gesluit en die bloed word uit die regterventrikel in die longslagaar en uit die linkerventrikel in die aorta gepomp. Ná die ventrikulêre sistool volg die ventrikulêre diastool, wat 0,025 s duur. Die twee ventrikels verslap gelyktydig, die druk in hulle daal vinnig en die bloed uit die longslagaar en aorta sou na die ventrikels terugvloei as dit nie was dat die halfmaanvormige kleppe in hierdie twee groot slagare toeslaan en dit verhoed nie. Die hele hart verkeer nou weer in diastool en is gereed vir die volgende siklus.

Elke ventrikel pomp ongeveer 70 cm³ bloed per slag uit. Vir sy grootte is die hart 'n merkwaardige orgaan. Die twee ventrikels pomp saam 5,9 dm³ bloed per minuut uit. Dit bedra 'n astronomiese volume bloed in 'n leeftyd. Tog rus elke atrium en elke ventrikel gedurende een siklus van 0,8 s meer as wat dit saamtrek.

'n Persoon se pols, of hartslag, kan aan 'n aantal slagare in die liggaam gevoel word. Die bekendste is die polsslagaar, maar ander sluit in die halsslagaar, armslagaar, liesslagaar en enkelslagaar.

14.9.20

Gonorree

Gonorree word versprei deur middel van seksuele kontak met 'n besmette persoon. Dit sluit orale, anale en vaginale seks in. Dit kan ook oorgedra word van ’n ma na ’n kind tydens geboorte. Diagnose word gemaak deur die toets van urien, die uretra in mans en die serviks in vroue.

Gonorree kan voorkom word met die gebruik van kondome. Behandeling vind gewoonlik plaas met ceftriaxone deur inspuiting en azithromycin wat mondeliks geneem word. Weerstand het ontwikkel teen voorheen gebruikte antibiotika en hoër dosisse van ceftriaxone is soms nodig. Hertoetsing word aanbeveel drie maande na afloop van die behandeling.

Gonorree affekteer ongeveer 0.8% van vroue en 0.6% van mans. Die helfte van vroue wat met gonorree besmet is, toon nie simptome nie, terwyl ander vaginale afskeiding het, lae abdominale pyn of pyn tydens seksuele omgang ervaar wat verband hou met inflammasie van die uteriene serviks. Meeste besmette mans met simptome van inflammasie van die penis uretra wat gepaard gaan met ’n brandende sensasie tydens urinering en afskeiding uit die penis. In die mans is hierdie afskeiding, met of sonder die branderigheid, in die helfte van alle gevalle die mees algemene simptoom van die infeksie. Mans en vroue kan gonorree van die keel opdoen deur die beoefening van orale seks op 'n besmette maat; gewoonlik ’n manlike maat. Hierdie tipe infeksie veroorsaak in 90% van die gevalle nie simptome nie, en veroorsaak ’n seer keel in die oorblywende 10%. In gevorderde gevalle veroorsaak gonorree ’n algemene gevoel van moegheid - soortgelyk aan ander infeksies.

Onbehandelde gonorree kan soms versprei om die gewrigte of hartkleppe te affekteer.

7.9.20

Aspirienoordosis

Vergiftiging deur aspiriene vind gewoonlik plaas as gevolg van ’n toevallige oordosis of die misbruik van die medikasie.

Simptome en tekens
• Die persoon kla oor maagpyn en kan vomeer. Daar kan bloed in die vomering wees.
• Die persoon is bedruk en lomerig.
• Daar is ’n gesuis in die ore.
• Asemhaling is moeilik.
• Die persoon sal erg sweet.


Behandeling
Volg die algemene behandeling vir vergiftiging. Sorg dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

31.8.20

Nuwe bloedtoets kan skaars kanker proteïene opspoor

Navorsers aan die Johns Hopkins Universiteit het ’n nuwe bloedtoets ontwikkel wat proteïene, wat van belang is vir die opsporing van kanker, met minimale foute identifiseer.

Die proteïene wat normaalweg binne selkerne gevind word, is tot nou toe nog nooit in die bloed gevind nie. Die nuwe bloedtoets is aan die Johns Hopkins Universiteit ontwikkel is deur Shih-Chin Wang en Chih-Ping Mao - nagraadse studente in die laboratorium van Jie Xiao in die Departement Biofisika en Chien-Fu Hung se laboratorium in die Departement Patologie. Hulle het ’n nuwe benadering gebruik om die siekteveroorsakende molekules in bloed te visualiseer.

Die toets is nog nie kommersieel beskikbaar nie.

27.8.20

Kruie vir kwale - Elmboog

Strooi ’n teelepel suiker oor ’n halwe suurlemoen. Vryf die elmboog daarmee.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



(foto: Genusfotografen (Tommas Gunnarsson))

24.8.20

Die brein

Die brein is ’n jellieagtige orgaan wat deur die skedel en harsingrugmurgvog beskerm word. Dit is die liggaam se beheersentrum en hanteer alle liggaamsfunksies. Hierdie funksies is in spesifieke dele van die brein gesetel. Indien ’n area van die brein beskadig word, word die funksies geassosieer met die area ook beïnvloed.

’n Volwasse brein weeg ongeveer 1,4 kg. Dit bestaan uit drie belangrike del: die serebrum (grootharsings), die serebellum (kleinharsings) en die breinstam. Die serebrum maak 90% van die brein uit en bestaan uit twee helftes. Die linkerkant beheer spraak en denke en die regterkant kreatiewe gedrag. Die serebrum beheer alle bewuste funksies, soos die geheue, leervermoë, spraak en bewuste beweging Die breinstam (verlengde rugmurg) beheer alle onwillekeurige funksies soos asemhaling, hartslag en spysvertering. Spierkoördinasie word deur die serebellum.

Om die liggaam te beheer stuur en ontvang die brein boodskappe as prikkels elektriese energie. Energie beweeg via die neurone (senuselle). Die neurone loop af by die rugmurg na die res van die liggaam. Elke neuron eindig in ’n fyn vertakking wat dendriete genoem word. Die brein self bevat sowat 15 miljard selle. Elke minuut beweeg daar sowat 0,85 liter bloed deur die brein per minuut.