Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



20.8.20

Kruie vir kwale - Wintershande en -voete / Pernio

Wintershande en -voete (pernio) is die brandende, jeukende geswel van hande en / of voete as gevolg van blootstelling aan koue. Die koue veroorsaak dat die bloedtoevoer ingekort word.
Oefening help om die bloedsomloop te verbeter. Onthou ook jou warm sokkies en handskoene. 

♦♦♦

Meng olyfolie en suiker en vryf dit goed aan die area.

Spoel die suiker af en droog liggies af. Vryf die area tot al die olie geabsorbeer is.

♦♦♦

Drink daagliks ’n knypie rooipeper. Meng dit met ’n vloeistof wat jy maklik kan drink.

♦♦♦

Gooi ’n halwe koppie melk, die sap van 1 suurlemoen, 1 eetlepel spiritus en 1 teelepel gliserien in ’n botteltjie en skud goed om te meng. Smeer aan jou hande/voete.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

17.8.20

Witseerkeel / Difterie

Witseerkeel is ’n siekte veroorsaak deur ’n toksogeniese bacillus en gekenmerk deur die vorming van vliesagtige neerslae op die ontsteekte slymvliese - dit kom gewoonlik in die keelholte, die strottehoof en die lugpyp voor.

Daar is ’n entstof vir witseerkeel (difterie).


10.8.20

Vergiftiging deur medikasie - hallusinogene

Vergiftiging deur medikasie vind gewoonlik plaas as gevolg van ’n toevallige oordosis of die misbruik van medikasie. LSD is ’n voorbeeld van ’n verdowingsmiddel wat gereeld misbruik word. 

Simptome en tekens
• Die persoon sal angstig wees en sweet.
• Die persoon kan vreemd optree.

Behandeling
Volg die algemene behandeling vir vergiftiging. Sorg dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

3.8.20

Pynlike seks by vroue verbeter met medikasie vir fibromialgie

Volgens navorsing gepubliseer in die Journal of Obstetrics and Gynecology het bevind dat vroue met chroniese pyn of ongemak rondom die vulva seks beter ervaar met die gebruik van Gabapentin. Dié medikasie is oorspronklik ontwikkel vir die behandeling van pyn veroorsaak deur fibromialgie.

27.7.20

Bloedoortapping en bloedgroepe

Wanneer bloed deur ’n wond of tydens chirurgie verloor is word dit met ’n bloedoortapping aangevul. Die bloed word oorgetap deur ’n naald in ’n aar die ontvanger te steek.

Bloed word deur skenkers ontvang en in ’n steriele bloedbank gehou tot dit benodig word. Persone ouer as 16 jaar mag bloed skenk. Voor dit geberg word, word die bloed geklassifiseer as een van die volgende bloedgroepe: A, B, AB of O. Indien jy die verkeerde tipe bloed ontvang kan jy sterf.

Mense met die bloedtipe O kan bloed aan enige bloedgroep skenk. Mense met die bloedtipe AB kan bloed van enige bloedgroep ontvang.

So mag jou bloedgroep skenk:

O mag aan O skenk.
A of O mag aan A skenk.
B of O mag aan B skenk.
A, B, AB of O mag aan AB skenk.

23.7.20

Kruie vir kwale – Vratte

Doop ’n dun suurlemoenskyfie in asyn en plak dit met ’n pleister op die vrat. Vervang dit elke 5 dae.

♦♦♦

Smeer kort-kort ’n bietjie jamaikapeper aan.

♦♦♦

Smeer kort-kort ’n bietjie teeboom-olie aan.

♦♦♦

Smeer kort-kort ’n bietjie kruisement-olie aan.

♦♦♦

Smeer die melksap van die melkbos of vyeboom aan die vratjie. Dit jeuk nogal, maar hou daarmee aan totdat die vratjie afval.

♦♦♦

Meng bietjie sout en asyn en smeer aan die vratjie voor jy gaan slaap.

♦♦♦

Krap die vratjies effens en strooi fyn tafelsout daarin.

♦♦♦

Ek was baie skepties oor hierdie raad aanvanklik tot ek uit desperaatheid dit self probeer het! (Ek het dit op soolvratte probeer wat baie pynlik is, maar dit behoort vir enige vrat te werk). My 3-jarige seuntjie se twee vratte op en onder sy toontjies is herhaaldelik op 'n baie pynlike manier "gevries" met vloeibare stikstof en "geverf" met 'n suur wat die moes vernietig, sonder enige sukses.
Maak 'n vars knoffelhuisie fyn (druk dit fyn, moenie dit sny nie) plak die knoffel op die vrat vir drie dae. Na drie dae kan die vrat en die pleister verwyder word.
skrywer: Annamarie van Deventer

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

20.7.20

Menslike Immuniteitsgebreksvirus

Die menslike immuniteitsgebreksvirus (MIV, HIV of Human Immunodeficiency Virus in Engels) is die virus wat Vigs (Verworwe immuniteitsgebreksindroom - AIDS in Engels) veroorsaak.

MIV is ’n lid van ’n groep virusse wat bekend staan as retrovirusse, so genoem omdat die virusse van ’n spesifieke ensiem, tru-transkriptase, gebruik maak om te vermenigvuldig in menslike selle. ’n Retrovirus besit nie DNS nie maar stoor die genetiese materiaal in die vorm van RNS. Wanneer ’n retrovirus ’n gasheersel indring, word die tru-transkriptase ensiem gebruik om die DNS van die gasheersel te “kaap” en so kopieë van die oorspronklike virus te maak.

MIV veroorsaak vigs deur spesiale witbloedselle, die CD4+ T-selle, aan te val en te vernietig. Die CD4-selle is limfosiete, ’n groep witbloedselle wat normaalweg die menslike immuunstelsel koördineer in geval van infeksie of ontsteking. Die virus vermenigvuldig binne-in die CD4-selle en soos nuwe virusse vrygestel word, word die selle vernietig.

Omdat die virus die immuunstelsel self aanval, kan die liggaam nie sy gewone meganisme gebruik om homself te beskerm nie. Die drastiese vermindering in die normale aantal CD4-selle lei daartoe dat ander virusse, bakterieë, parasiete en swamme, wat gewoonweg sonder probleme deur die menslike immuunstelsel beveg sou word, in staat is om ernstige siektetoestande te veroorsaak. Die siektebeeld van vigs ontstaan dus wanneer die CD4-telling na 'n kritieke vlak daal.

In ’n besmette individu is die virus teenwoordig in bloed, semen, vaginale vog en borsmelk. Teoreties gesproke kan die virus ook teenwoordig wees in speeksel, urine en ontlasting.

Verspreiding: Onbeskermde seksuele kontak (vaginaal, mondelings of anaal). Die gebruik van kondome laat die risiko aansienlik daal mits die kondoom korrek gebruik word.
Hergebruik van onsteriele naalde onder dwelmverslaafdes.
Verspreiding van moeder na fetus (waar die moeder MIV-positief is).
Naaldprikongelukke onder mediese personeel.