Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



23.3.20

Voedselvergiftiging – Staphylococcus-vergiftiging

Voedselvergiftiging word veroorsaak deur voedsel wat deur bakterieë besoedel word en verkeerd bewaar of gekook word. Staphylococcus is ’n bakterie wat in voedsel vermenigvuldig en ’n gifstof (toksien) produseer.

Simptome en tekens
Die simptome en tekens verskyn normaalweg 2 tot 6 uur nadat die besmette voedsel geëet is:
• Die persoon voel naar en kan begin opgooi.
• Die persoon het maagpyn en kan ook hoofpyn hê.
• Diarree kan ontwikkel.
• Simptome en tekens van skok.

Behandeling
1. Hou die persoon rustig.
2. Gee baie vloeistof.
3. Kry mediese hulp as dit lyk of die persoon se toestand versleg.

16.3.20

Diëte met ’n hoë proteïen-inhoud verhoog die risiko van hartversaking by middeljarige mans

Die eet van groot hoeveelhede proteïen deur middeljarige mans gaan gepaard gegaan met ’n verhoogde risiko vir hartversaking volgens nuwe navorsing van die Universiteit van Oos-Finland.

Die navorsers het wel bevind dat die verband nie bestaan tussen die eet van proteïene van vis en eiers en hartversaking nie.

Ondanks die gewildheid van diëte met ’n hoë proteïeninhoud, is daar weinig navorsing oor hoe sulke diëte kan bydra tot hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Circulation: Heart Failure.

9.3.20

Hepatitis A

Hepatitis A is ’n infeksie van die lewer deur die hepatitis A virus. Hierdie virus word gewoonlik oorgedra deur water wat met riool besoedel is. Hepatitis A infeksie is gewoonlik minder ernstig as hepatitis B en C infeksie.

Sommige lyers toon geen simptome nie, terwyl ander geelsug ontwikkel, braak, ’n swak eetlus het, baie moeg is, maagseer of diarree het.

Gewoonlik herstel mense volkome en spontaan binne 4 tot 8 weke sonder enige spesifieke behandeling, maar dit kan maande duur voordat jy weer 100% voel.

Volg ’n gesonde dieet met baie vars groente en vrugte. Moet nie te gou enige alkoholiese drank drink nie.

5.3.20

Verstuiting

Verstuiting is die besering van die tendons, spiere of ligamente rondom gewrigte sonder dat ontwrigting plaasvind.

Wanneer dit gebeur kan die volgende simptome waargeneem word :
Rooiheid
Pyn
Hitte
Swelling

As ’n gewrig ernstig verstuit word moet dit in 'n hospitaal gespalk word. Alle verstuitings by kinders moet deur ’n dokter ondersoek word ingeval van skade wat later groei kan beïnvloed.

Normaalweg behandel jy minder ernstige verstuiting deur ys daarop te sit. Draai die ys in ’n doek toe om te verhoed dat die vel brand. Hou sowat 20 minute op die plek. Draai nou styf vas met ’n rekverband. Dit moet styf genoeg wees om drukking te veroorsaak, maar moet nie bydra tot nog meer pyn nie. Die beseerde moet soveel as moontlik lê en die beseerde gewrig moet effens gelig word. Die besering kan 6 tot 12 weke neem om te herstel. Die pyn kan 5 tot 7 dae duur.

Boereraat:

Smeer die verstuite ledemaat goed met gewone asyn.

♦♦♦

Gooi ’n groot hand vol growwe sout in ’n groot emmer koue water en hou die verstuite enkel of arm daarin vir so ’n halfuur. Verbind dit sonder om af te droog.
Week die ledemaat 3 maal per dag in die soutwater.



Sien ook Kruie vir kwale: Verstuiting

2.3.20

Aanvullings gaan nie hartsiektes keer nie

Huidige navorsing vind nie genoeg bewyse dat vitamien- of mineraalaanvullings voordelig is vir die voorkoming of behandeling van hartsiektes nie, met die uitsondering van foliensuur wat die risiko van beroerte verminder. Dit is volgens ’n artikel wat in die Journal of the American College of Cardiology gepubliseer is.

Vitamiene en minerale word al lank gebruik om voedingstekorte te behandel. Deesdae word aanvullings egter aanbeveel ter bevordering van algemene gesondheid en langlewendheid.

Daar is egter geen klinkklare bewyse dat individuele vitamiene of minerale of kombinasie-aanvullings geneem moet word om hartsiektes te voorkom of te behandel nie. Die Amerikaanse Advieskomitee vir Dieetriglyne beveel drie diëte aan om die risiko van hartsiektes te verminder: 'n gesonde Amerikaanse dieet wat min in versadigde vette, transvet en rooivleis bevat, maar baie vrugte en groente; ’n Mediterreense dieet en ’n vegetariese dieet.

24.2.20

Ebola

Ebola is ’n ernstige siekte wat deur die ebolavirus veroorsaak word. Die siekte het ’n hoë sterftesyfer tot gevolg en daar is geen spesifieke behandeling of medisyne teen die virus beskikbaar nie.

Ebola is skaars en kom tipies in die vorm van plaaslike uitbrekings in lande in Sentraal-Afrika voor. Die naam Ebola kom van die gelyknamige rivier in die Kongo waar die eerste uitbraak in 1976 plaasgevind het.

Die siekte word deur kontak met die bloed of liggaamlike vloeistowwe van ’n besmette dier (tipies ape of vrugtevlermuise) opgedoen.

Ten einde 'n diagnose te maak, moet ander siektes met soortgelyke simptome soos malaria, cholera en ander virale hemorragiese koors eers geëlimineer word. Bloedmonsters kan dan vir virale teenliggaampies, virale RNS, of vir die virus self getoets word om die diagnose te bevestig.

Simptome begin tussen twee dae en drie weke, maar gewoonlik tussen 4 en 10 dae nadat die virus opgedoen is. Dit sluit koors, seerkeel, spierpyn en hoofpyn in. Die koors is gewoonlik hoër as 38,3°C. Simptome soos naarheid, braking, en diarree volg meestal, terwyl die werking van die lewer en niere begin afneem. Op die punt begin sommige mense probleme met bloeding te ondervind.

Herstel kan tussen 7 en 14 dae begin na die eerste simptome. As sterftes voorkom is dit gewoonlik 6 tot 16 dae na die eerste simptome.

Diegene wat oorleef, het gereeld spier- en gewrigspyn, verminderde gehoor, moegheid, swakheid, verminderde aptyt en tel moeilik gewig op. Probleme met visie mag ook ontwikkel. Manlike oorlewendes kan die siekte vir byna twee maande daarna deur semen oordra.

Oorlewendes ontwikkel teenliggaampies teen Ebola wat minstens 10 jaar duur, maar dit is onduidelik of hulle immuun teen addisionele infeksies is.

17.2.20

Giftige plante

Sekere plante in die tuin en veld kan gevaarlik wees wanneer dit geëet word. Dit is veral gevaarlik vir klein kindertjies wat gelok word deur helderkleurige bessies.

Sering- en kasteroliebome, asook stinkblaar is algemene voorbeelde van giftige plante.

Giftige plante bevat verskeie bestanddele wat ’n verskeidenheid simptome tot gevolg kan hê. Jy kan dalk net sleg voel van sommige, maar ander kan jou asemhaling bemoeilik of jou verlam.

Bly asseblief weg van sampioene wat wild groei. Selfs al raak jy net daaraan kan dit gevolge hê.

As jy vermoed iemand het ’n giftige plant geëet kry hulle sodra moontlik by die hospitaal. Neem ’n stuk van die plant saam indien moontlik.