Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



17.2.20

Giftige plante

Sekere plante in die tuin en veld kan gevaarlik wees wanneer dit geëet word. Dit is veral gevaarlik vir klein kindertjies wat gelok word deur helderkleurige bessies.

Sering- en kasteroliebome, asook stinkblaar is algemene voorbeelde van giftige plante.

Giftige plante bevat verskeie bestanddele wat ’n verskeidenheid simptome tot gevolg kan hê. Jy kan dalk net sleg voel van sommige, maar ander kan jou asemhaling bemoeilik of jou verlam.

Bly asseblief weg van sampioene wat wild groei. Selfs al raak jy net daaraan kan dit gevolge hê.

As jy vermoed iemand het ’n giftige plant geëet kry hulle sodra moontlik by die hospitaal. Neem ’n stuk van die plant saam indien moontlik.

11.2.20

Rook beskadig spierweefsel

Rook is nie net sleg vir jou longe nie. Nuwe navorsing toon dat komponente in sigaretrook die spiere ook beskadig. Die navorsing, gepubliseer in The Journal of Physiology, dui aan dat rook die aantal klein bloedvate verminder wat suurstof en voedingstowwe na die spiere in die bene bring.

Ons weet dat rook 'n persoon se vermoë om te oefen beperk omdat dit hul spiere swakker maak. Daar word algemeen geglo dat hierdie spierswakheid ontstaan omdat die longe ontsteek word en uiteindelik permanent beskadig word deur rook, wat die aktiwiteit en oefening beperk.

Die bevindinge van die nuwe studie dui egter daarop dat sigaretrook die spiere direk beskadig deur die aantal bloedvate in die beenspiere te verminder, en sodoende die hoeveelheid suurstof en voedingstowwe wat hulle kan ontvang, verminder. Dit kan die metabolisme en aktiwiteitsvlakke beïnvloed, wat beide risikofaktore is vir baie chroniese siektes, waaronder chroniese obstruktiewe longsiekte en diabetes.

Die navorsing is uitgevoer deur die Universiteit van Kalifornië, San Diego, in samewerking met die Universidade Federal do Rio de Janeiro en die Universiteit van Kochi. Die studie het nie geïdentifiseer watter van die ongeveer 4 000 chemikalieë in sigaretrook verantwoordelik is vir hierdie spierskade nie. Die identifisering van die verantwoordelike chemikalieë is 'n belangrike onderwerp vir verdere navorsing.

5.2.20

Marburgvirus

Die Marburgvirus veroorsaak ’n dodelike siekte wat baie gemeen het met die wat deur die Ebolavirus veroorsaak word. Die virus is veral bekend vir bloeding uit alle liggaamsopeninge.

Dit behoort tot dieselfde familie (Filoviridae) virusse as die Ebolavirus. Dit is vir die eerste keer in Suid-Afrika gesien in 1975 toe ’n jong Australiese toeris daaraan beswyk het. Sy reisgenoot en ’n verpleegster wat hom behandel het, het dit ook opgedoen, maar hulle het oorleef.

Mense wat die siekte opdoen het gewoonlik een of ander verbintenis met ’n grot of ’n myn en daar word vermoed dat die natuurlike gasheer in hierdie tipe omgewing hou. Een soort vlermuis is reeds geïdentifiseer as ’n draer van die virus.

Die diagnose van die siekte is aanvanklik moeilik omdat dit baie gemeen het met griep en malaria. Aanvanklik het die lyer hoofpyn, koors en spierpyn. Na ’n week is daar ’n veluitslag gevolg deur braking, borspyn, maagpyn en diarree. Indien dit meer ernstig word gaan die pasiënt in ’n delirium, geelsug, ’n swak lewerfunksie en omvangryke bloeding kan voorkom.

Volkome herstel neem baie lank.

28.1.20

Coronavirus

In dié stadium staan die virus amptelik bekend as 2019-nCoV. Dit is nog nooit vantevore in mense gevind is nie. Die “corona” verwys na die kroon-vorm van die virus soos gesien onder ’n mikroskoop.

Volgens meeste berigte het die virus teen die einde van verlede jaar by ’n mark in die stad Wuhan in China ontstaan. Die stad het ongeveer 11 miljoen inwoners. Die mark is intussen gesluit en ontsmet.

Dit word in die lug oorgedra en tas hoofsaaklik die boonste lugweë en spysverteringskanaal van mense en voëls aan.

Die simptome is soortgelyk aan dié van die SARS (ernstige akute asemhalingsindroom) en -MERS-virusse (Midde-Ooste-asemhalingsindroom). Dit sluit in ’n loopneus, hoes, koors, rillings, hoofpyn, ’n seer keel en probleme met asemhaling. Die simptome stem baie ooreen met die simptome van ’n gewone verkoue.

Die SARS-virus het in die vroeë 2000’s die lewens van byna 800 mense geëis. Die SARS-epidemie het ook sy oorsprong by ’n mark gehad.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is dit nog nie nodig om die verspreiding van die virus as ’n internasionale noodgeval te beskou nie.

22.1.20

Huishoudelike gifstowwe

Heelwat stowwe wat in en om die huis gevind word, is giftig. Byvoorbeeld vloeibare seep, sekere skoonheidsprodukte, vuuraanstekers, terpentyn, bleikmiddels, gom, rottegif en insekdoders. Kinders is nie altyd bewus van die gevare van hierdie produkte nie.

Die simptome en tekens sal wissel afhangende van die aard van die stof. In meeste gevalle sal vomering en maagpyn voorkom.

Die simptome en behandeling van vergiftiging

Sorg altyd dat gifstowwe duidelik gemerk en buite bereik van kinders gehou word.

6.1.20

‘n Vegetariese dieet is goed vir jou

'n Vegetariese dieet ryk aan vrugte, groente en graan is nie net goed vir jou nie, dit is ook meer bekostigbaar as ander gesonde dieetplanne.

Dieetriglyne toon dat ongeveer driekwart van die mense nie genoeg vrugte, groente en suiwel eet nie, en dat die meeste die aanbevelings vir bygevoegde suikers, versadigde vette en sout oorskry.

Heelwat volwassenes het een of meer voorkombare, dieetverwante chroniese siekte soos oorgewig / vetsug, kardiovaskulêre siektes, en tipe 2-diabetes.

Navorsers verbonde aan die Nestlé-navorsingsentrum in Lausanne, Switserland het spyskaarte vir drie gesonde eetpatrone vergelyk: 'n vegetariese dieet, die Mediterreense dieet en die VSA se riglyne vir ‘n gesonde dieet.

Die resultate het getoon dat die gemiddelde voedingsgehalte van al drie dieetpatrone soortgelyk was - vegetariërs 85,3; Amerikaanse riglyne: 84.3; Middellandse See: 82.4. Die vegetariese dieet was egter aansienlik meer bekostigbaar as die res en hoewel aansienlik minder vleis en pluimvee in die vegetariese spyskaart gebruik is, merk die navorsers daarop dat "dit nie die voedingsgehalte beïnvloed het nie."

30.12.19

Lassa-koors

Lassa-koors word veroorsaak deur kontak met items of kos wat met rot-ontlasting besmet is. Die siekte is endemies in rotte in dele van Wes-Afrika.

So hoekom moet ons daarvan kennis dra? Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is dit een van ’n hand vol siektes wat skielik en op groot skaal ernstige uitbrekings wêreldwyd kan veroorsaak. Dié organisasie gaan navorsing versnel om entstowwe en medikasie daarvoor te ontwikkel.