Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



30.9.19

Waterpokkies

Waterpokkies is 'n aansteeklike velsiekte. Die lyer kry 'n uitslag van klein donkerrooi knoppies op die lyf. Dit begin gewoonlik op die bors, rug, en die gesig en versprei dan na die res van die liggaam.

Ander simptome kan koors, moegheid en hoofpyn insluit. Simptome duur gewoonlik vyf tot sewe dae. Die vroeë simptome by adolessente en volwassenes is naarheid, gebrek aan eetlus, spierpyne en hoofpyn. Dit word gevolg deur die kenmerkende uitslag of sere in die mond en koors. By kinders is die eerste teken 'n uitslag of kolle in die mond. Die uitslag begin gewoonlik as klein rooi kolle op die gesig, kopvel, torso, boonste arms en bene.

Boereraat:

'n Waterpokkie-uitslag kan met 'n oplossing van een druppel pepermentolie en een druppel kamille-olie in 'n liter water behandel word. Maak die uitslag met die mengsel nat met 'n skoon waslap.

♦♦♦

Smeer mielieblom aan vir die jeuk.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

23.9.19

Angs

Angs is ’n baie onaangename vae gevoel van afwagting, gepaard met liggaamlike sensasies, onrustigheid en rusteloosheid.

Die belangrikste kenmerk waarna sielkundiges sal kyk is onrealistiese of oormatige kommer rakende twee of meer lewensomstandighede, bv. kommer oor finansies sonder ’n grondige rede. Hiermee saamgaan gaan amper 20 simptome. Sielkundige klassifikasie vereis dat ’n sekere aantal van hierdie simptome teenwoordig sal wees.

Die simptome sluit in: bewing, rukking of ’n bewerige gevoel; spiere wat pyn; rusteloosheid; vinnige uitputting; hartkloppings; kortasem of ’n benoude gevoel; sweterigheid of koue klam hande; droëmond; duiseligheid of lighoofdigheid; naarheid; diarree of ander maagprobleme; warm of koue gloede; gereelde urinering; probleme om te sluk; jy is baie gevoelig; ’n oordrewe skrikrespons; konsentrasieprobleme of blanko denke; slaapprobleme; en geïrriteerdheid.

Ongeag hoe goed dit met hierdie persone gaan, hulle is altyd angstig en bekommerd.

16.9.19

Die uitwerking van oorverhitting

Gedurende oefening word hitte in die spiere verwek en deur die bloed na alle dele van die liggaam versprei. Dit veroorsaak dat die algemene liggaamstemperatuur styg. Die liggaam reageer op die volgende manier om van die hitte ontslae te raak:

• Die haarvate vergroot en meer bloed word na die oppervlak van die vel vervoer. Dit laat die hitte ontsnap. Dit is wat jou warm en rooi laat lyk.
• Die sweetkliere produseer meer sweet. Die sweet verdamp en koel die liggaam af in die proses.
• Asemhaling neem toe en die hitte ontsnap deur die longe.

Indien jy nie genoeg afkoel nie kan twee toestande ontstaan; hitte-uitputting of hittesteek.

9.9.19

Depressie

Depressie is een van die mees algemene sielkundige aandoenings. Dit kan deur omstandighede of ´n biochemiese wanbalans veroorsaak word.

Simptome sluit in geen eetlus, ´n groter eetlus, moegheid, slaap te min of te veel, angs, lae seksdrang, hulpeloosheid en lae konsentrasie.

Kry professionele hulp as jou simptome ernstig is en meer as twee weke aanhou.

2.9.19

Stap om swanger te raak

Onlangse navorsing aan die Universiteit van Massachusetts Amherst het spesifiek gefokus om veranderlike faktore, soos fisieke aktiwiteit, wat ’n vrou se vermoë het om swanger te raak beïnvloed, beter te verstaan. Die bevinding van die studie dui daarop dat stap as oefening vroue kan help om swanger te raak.

26.8.19

Herpes simpleks

Herpes simpleks is ’n virale siekte wat veroorsaak word deur die herpes simplex-virus (HSV). Infeksies word geklassifiseer na gelang van die deel van die liggaam wat besmet is.

Orale herpes tas die gesig of mond aan. Dit kan lei tot groepies klein blasies wat dikwels koorsblare genoem word, of dit kan net ’n seer keel veroorsaak.

Genitale herpes, dikwels eenvoudig bekend as herpes, bring geringe simptome mee of vorm blase wat oopbreek en klein swere vorm. Dit genees gewoonlik binne twee tot vier weke. Voordat die blasies verskyn kan daar 'n tintelende gevoel of steekpyne ervaar word. Herpes wissel tussen periodes van aktiewe siekte gevolg deur simptoomvrye periodes. Die eerste episode is dikwels meer ernstig en kan gepaardgaan met koors, spierpyne, geswelde limfkliere en hoofpyn. Met verloop van tyd neem die frekwensie en hewigheid van aktiewe tye wat jy siek is.

Ander siektes wat veroorsaak word deur die herpes simplex-virus sluit onder andere in: herpetiese fyte wat die vingers aantas, herpes van die oog, herpes infeksie van die brein, en neonatale herpes wat pasgebore babas affekteer.

Nadat besmetting plaasgevind het, word die virusse met die sensoriese senuwees langs vervoer tot by die senuweeselle waar hulle lewenslank woon. Oorsake vir herhalende infeksie mag wees as gevolg van verlaagde immuunfunksies, stres en blootstelling aan sonlig. Mondelinge en genitale herpes word gewoonlik gediagnoseer op grond van die simptome wat voorkom. Die diagnose kan bevestig word deur virale kultuur of die opsporing van herpes DNA in die vloeistof wat afkomstig is uit die blase.

Herpes simplex word verdeel in twee tipes: HSV-1 veroorsaak hoofsaaklik mond, keel, gesig, oog en sentrale senuweestelsel infeksies, terwyl HSV-2 hoofsaaklik anogenitale infeksies veroorsaak. Beide kan egter lei tot infeksies in alle areas.

Tekens en simptome
HSV-infeksie veroorsaak verskeie afsonderlike mediese ongesteldhede. Algemene infeksie van die vel of slymvlies kan die gesig en mond affekteer, asook genitalieë (genitale herpes) of hande (herpetiese fyte). Meer ernstige versteurings kom voor wanneer die virus die oog besmet en beskadig (herpes keratitis), of die sentrale senuweestelsel binnedring en die brein beskadig (herpes enkefalitis). Mense met ’n onvolwasse of onderdrukte immuunstelsel, soos pasgeborenes, orgaan-ontvangers of mense met VIGS, is geneig tot ernstige komplikasies as gevolg van HSV infeksies. HSV infeksie word ook verbind met die kognitiewe agterstande van bipolêre versteuring, en Alzheimer se siekte, alhoewel dit dikwels berus op die genetika van die besmette persoon.

HSV kan nooit uit die liggaam verwyder word deur die immuunstelsel nie. Na afloop van 'n primêre infeksie, gaan die virus die senuwees binne op die plek van die primêre infeksie, migreer dan na die selliggaam van die neuron, en word sluimerend in die senuweeknoop (ganglion). As gevolg van die primêre infeksie, produseer die liggaam teenliggaampies vir die spesifieke tipe HSV, en dit werk voorkomend in teen ’n daaropvolgende infeksie van daardie tipe virus op ’n nuwe area. By mense wat met HSV-1-besmet is na afloop van ’n orale besmetting, word hulle deur serokonversie beskerm teen verdere infeksies soos fyte, genitale herpes en herpes van die oog. Dit blyk dat vroeëre HSV-1 serokonversie die simptome van ’n latere HSV-2 infeksie kan verminder, hoewel HSV-2 nog steeds opgedoen kan word.

Baie mense wat besmet is met HSV-2 vertoon geen fisiese simptome nie—individue met geen simptome word beskryf as asimptomaties of dat hul subkliniese herpes het.

Behandeling
Sekere dieetaanvullings en alternatiewe geneesmiddels maak daarop aanspraak om voordelig te wees in die behandeling van herpes. Daar is egter onvoldoende bewyse om die gebruik van hierdie middels te steun; insluitend Echinacea, eleuthero, L-lisien, Sink, monolupien, bye-produkte en aloe vera (aalwyn). ’n Aantal kleiner studies dui op moontlike voordele van hierdie produkte, maar die voorlopige studies is nog nie bevestig deur ewekansige gekontroleerde studies nie.