Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



12.11.18

Chemiese brandwond van die oog

Chemikalieë kan maklik by die oog inkom en die oppervlak beskadig. Dit kan tot ernstige letsels en selfs blindheid lei.

Simptome en tekens
• Intense pyn in die oog.
• Die beskadigde oog kan nie lig verdra nie.
• Die oog kan styf toe wees.
• Die oog kan rooi en geswel wees of baie waterig.

Behandeling
1. Hou die aangetaste kant van die persoon se gesig onder stadig lopende koue water. Die water moet weg van die gesig dreineer.
2. Verbind die oog met ’n steriele oogkunssinkie.
3. Kry die persoon so gou moontlik by die hospitaal.

7.11.18

Meer proteïene nie noodwendig goed vir ouer mans nie

Ongeag of jy jonk of oud is, manlik of vroulik, die Amerikaanse Instituut vir Geneeskunde se daaglikse aanbeveling vir proteïene is 0,8 g per kg per dag.

Heelwat kenners en organisasies beveel meer proteïene aan per dag vir ouer mans om spiermassa te onderhou. Dit is teenstrydig met al hoe navorsing wat bevind dat meer proteïene vir ouer volwassenes geen betekenisvolle voordeel inhou nie. Nuwe navorsing aan die gerespekteerde Brigham and Women's Hospital het ook nou bevind dat dit die geval is.

Die bevinding was dat die 0,8 g proteïene per kg per dag heeltemal voldoende is.

Die studie is gepubliseer in die joernaal JAMA Internal Medicine.

29.10.18

Skildklierprobleme

Die tiroïede klier / skildklier is betrokke by byna al die metaboliese prosesse in die liggaam. Dit stimuleer ook die afskeiding van voortplantingshormone. As ‘n persoon se skildklier nie behoorlik werk nie, kan die volgende probleme ontstaan:

Senuweeagtigheid of vermoeidheid
Spierswakheid
Gewigstoename of –verlies
Belemmerde geheue funksie
Verandering in menstruele vloei
Onvrugbaarheid of miskrame

Twee hormone word deur die skildklier vervaardig. Die hormone is belangrik by die regulering van liggaamshitte en die stimulering van metaboliese prosesse. Hierdie hormone bevat ’n hoë konsentrasie jodium. Trouens, byna 80 persent van die jodium in die liggaam word in die skildklier gevind. ’n Tekort aan hierdie element in die dieet kan lei tot ’n vergrote skildklier. In jong kinders kan ’n jodiumtekort hormoonvervaardiging onderdruk en gevolglik fisiese, verstandelike en seksuele ontwikkeling vertraag—’n toestand wat kretinisme genoem word.

Hierdie hormone:
Handhaaf bloeddruk.
Reguleer metabolisme.
Is noodsaaklik vir die ontwikkeling van been en die senuweestelsel – bevorder groei van selle.
Help met die uitskeiding van afvalprodukte deur die limf.
Speel belangrike rol in die funksionering van die voortplantingstelsel.
Speel belangrike rol in die funksie van hormone. Hormone speel ‘n rol in omtrent elke sisteem en proses in die liggaam, en verskeie simptome kan ervaar word indien die skildklier nie behoorlik funksioneer nie.

22.10.18

Chemiese brandwonde

Sekere chemikalieë kan skade veroorsaak aan ons vel- en ander weefsels. Die oë is veral kwesbaar. Ander chemikalieë kan deur die vel geabsorbeer word en ernstige skade in die liggaam veroorsaak, soms noodlottig.

Vinnige optrede is belangrik, maar so ook die veiligheid van die persoon wat ’n ongeval wil help. Hou jou eie veiligheid altyd in gedagte.

Simptome en tekens
• Die persoon kla dat die vel brand.
• Die vel kan gevlek of rooi wees. Blase kan ook voorkom en die vel kan afdop.

Behandeling
1. Spoel die aangetaste deel ten minste vir 10 minute onder stadig lopende koue water.
2. Verwyder enige besoedelde klere terwyl julle die wond afspoel.
3. Behandel verder soos vir ’n ernstige brandwond.
4. Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

9.10.18

’n Leeftyd van gereeld oefening vertraag veroudering

Indien jy gereeld aktief is bly jou liggaam jonger en gesonder.

Dit is die bevinding van navorsers aan die University of Birmingham en King's College Londen. Hulle het bevind dat gereelde oefening liggaamsvet en cholesterolvlakke onder beheer hou en dat mans se testosteroonvlakke meer stabiel is. Die immuniteitstelsel verouder ook glad nie soos die van mense wat nie oefen nie.

2.10.18

Breinkanker

Primêre breinkanker is kanker wat in die brein begin. Metastatiese kanker in die brein is kanker wat van elders afkomstig is en versprei het na die brein. Eersgenoemde is uiters skaars.

Simptome van kanker in die brein sluit in hoofpyn (meesal in die oggend), sensoriese versteurings (veranderings in vermoë om te praat, hoor of sien) en gestremdheid van geheue of koördinering.

Breinkanker word gewoonlik behandel met chirurgie of bestraling. Chemoterapie is minder effektief vir hierdie tipe kanker.


Area’s waar breinkanker gewoonlik voorkom.

27.9.18

Kruie vir kwale: Sproei

Meng die geel van 1 eier, 1 teelepel borrie, 1 teelepel witsuiker, 1 teelepel soetolie en 1 teelepel heuning saam.
Gee dikwels op 'n dag 1 teelepel vol.

♦♦♦

Navorsing het al bewys dat laventel help teen sproei (candida) in die vroulike geslagsdele. Tap vir jou genoeg louwarm water in die bad om in te sit. Voeg 5 druppels laventelolie by en sit in die water vir 15 minute.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids