Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



22.6.15

Stap na afloop van prostaatkanker

Navorsing gepubliseer in die Journal of Cancer Survivorship: Research and Practice beveel aan dat diegene wat prostaatkanker oorleef moet begin stap.

Sowat drie-uur se stap per week verminder die newe-effekte van die behandeling vir prostaatkanker.

Normaalweg sluit die newe-effekte die volgende in: maagprobleme, blaasprobleme, seksuele disfunksie, moegheid, depressie, gewigstoename en probleme om ’n ereksie te handhaaf.

17.6.15

Noodhulp: die behandeling van ernstige uitwendige bloeding

1. Kyk of daar vreemde voorwerpe in die wond is. Oefen druk uit om die bloeding te beheer. Indien die wond baie groot is, druk die rande na mekaar.

2. Laat die persoon lê en indien die wond aan ’n ledemaat is wat nie gebreek is nie, lig en ondersteun daardie ledemaat.

3. Indien die wond aan ’n ledemaat is en regstreekse druk help nie om die bloeding te keer nie, plaas druk op die hoofslagaar wat bloed na daardie ledemaat vervoer.

4. Plaas ’n steriele ongemedikeerde wondbedekking op die wond en maak seker dat dit oor die wond se rande strek. Druk dit stewig vas en bind vas met ’n verband. Knoop die verband styf genoeg om die bloeding te beheer, maar moet nie die sirkulasie afsny nie.

5. Indien daar nog bloeding is, plaas nog wondbedekkings bo-op die oorspronklike wondbedekking.

6. Kry die persoon by ’n hospitaal.

10.6.15

Ernstige uitwendige bloeding

Wonde met ernstige uitwendige bloeding is soms so traumaties dat mens vergeet van wat jy moet doen.

Onthou die belangrikste is altyd asemhaling. Begin onmiddellik met kunsmatige asemhaling indien nodig. Kyk ook dat die lugweë oop is en oop bly. Gee dan aandag aan die wond.

Ernstige bloeding moet sodra moontlik behandel word. Soms kan jy net die bloeding verminder en nie stop nie, maar dit is soms genoeg om ’n lewe te red.

Behalwe ernstige bloedverlies sal die persoon ook die simptome en tekens van skok toon, kla dat hy dors is, duiselig voel, die persoon se vel kan koud en klam voel, die pols word vinniger maar swakker, die persoon is rusteloos en praat dalk aanhoudend en die asemhaling raak vlakker.

Kry die persoon so gou moontlik by ’n hospitaal.

9.6.15

Testikulêre kanker en liggaamsbou-aanvullings

Mans wat aanvullings gebruik vir liggaamsbou moet versigtig wees. Die British Journal of Cancer het onlangs ’n studie publiseer wat daarop wys dat liggaamsbouers wat aanvullings gebruik ’n groter kans het om testikulêre kanker te ontwikkel. Navorsers van Yale en Harvard was betrokke by die studie.

8.6.15

Vitamien D hou dalk prostaatkanker onder beheer

Mans met minder aggressiewe prostaatkanker kan dalk die verspreiding van enige gewasse vertraag of selfs laat verklein deur gereeld vitamien D te neem.

’n Span navorsers aan die Medical University of South Carolina het dit getoets en bevind dat meer as die helfte van hul pasiënte positief reageer op vitamien D. Dit help ook om inflammasie, wat geassosieer word met kanker, te verminder.

27.5.15

Kneuswond

’n Kneuswond word veroorsaak deur ’n val of ’n hou met ’n stomp voorwerp wat die vel laat bars en die omliggende weefsel kneus.

’n Kneuswond hou die risiko in van skade aan enige onderliggende strukture. Tydens ’n kneuswond lek bloed uit die beskadigde bloedvate in die weefsel in, hoewel die vel heel bly.

26.5.15

Kanker ’n groter gevaar vir vroue met vetsug

Daar is ’n groter risiko vir vroue met vetsug om kanker te ontwikkel – die kanse is tot 40% meer.

Hierdie syfer is verskaf deur Cancer Research UK. Daar is veral sewe tipes kanker waarop hierdie vroue bedag moet wees: kolon, bors, galblaas, baarmoeder, nier, slukderm en pankreas.

Die risiko van kanker is gekoppel aan ’n verskeidenheid van faktore; gene, ons omgewing en ons leefstyl. ’n Faktor soos vetsug is een wat ons kan beheer deur ’n verandering in leefstyl.