Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



12.3.14

Noodhulp: Resussitasie vir kinders en babas

Die tegnieke wat gebruik word om asem te haal vir kinders is dieselfde as vir volwassenes, maar dit moet effens vinniger en met minder druk gedoen word.

Tydens mond-tot-mond-asemhaling moet die lippe oor die kind se mond en neus geplaas word. Blaas dan liggies in die longe teen ’n tempo van 20 asemhalings per minuut. Toets vir ’n hartklop elke vier minute. Dit geld vir beide kinders en babas.

Borskassamedrukking moet slegs met een hand gedoen word. Druk teen ’n tempo van 100 samedrukkings per minuut. Druk tot ’n diepte van 2,5 cm tot 3,5 cm.

Borskassamedrukking vir babas moet met twee vingers gedoen word, ook teen ’n tempo van 100 samedrukkings per minuut. Druk tot ’n diepte van 1,5 cm tot 2,5 cm.

10.3.14

Aterosklerose

Cholesterol kan plaak opbou in jou slagare wat na die brein en hart loop. Dit verhard die are en maak dit nou. Die toestand staan bekend as aterosklerose.

Indien die slagare verstop raak kry jy 'n hartaanval of beroerte. Indien 'n bloedvat na die brein blokkeer word kan dit breinskade veroorsaak.

'n Koronêre stent is 'n kateter met 'n ballonnetjie en gaasbuis wat in 'n verstopte aar ingedruk word. Die ballon word dan opgeblaas om die stent te laat rek. Dit druk plaak teen die aar se wand vas en verhoed dat dit vernou.

5.3.14

Noodhulp: Hoe om borskassamedrukking te doen

Borskassamedrukking word gedoen indien die persoon se hart nie klop nie. Dit word saam met mond-tot-mond-asemhaling gedoen.

  1. Die persoon moet op 'n stewige oppervlak lê. Kniel langs die persoon in lyn met sy hart.
  2. Vind die onderste helfte van die borsbeen deur die borsbeenkeep aan die bokant en die kruispunt van die ribbe aan die onderkant.
  3. Plaas jou duime halfpad tussen die twee plekke om die middel te kry.
  4. Plaas die hiel van jou een hand op die middel van die borsbeen en jou jou vingers weg van die ribbes. Bedek die hand met die ander hand en sluit die vingers saam.
  5. Hou jou arms reguit en leun vooroor tot jou arms vertikaal is. Druk af op die onderste helfte van die borsbeen. Druk 4 – 5 cm af. Leun terug om die druk te verlig. Doen 15 teen 'n tempo van 80 per minuut.
  6. Maak weer seker die lugweg is oop en doen weer mond-tot-mond-asemhaling.
  7. Doen 15 samedrukkings gevolg deur twee asemhalings. Toets dan vir die hartklop na die eerste minuut. Daarna toets jy vir 'n hartklop elke drie minute.
  8. Samedrukking moet onmiddellik gestaak word sodra die hart weer klop. Gaan voort met mond-tot-mond-asemhaling tot die asemhaling herstel het. Plaas dan die persoon in die herstelposisie.

26.2.14

Noodhulp: Mond-tot-mond –asemhaling

  1. Verwyder enige duidelike sigbare blokkerings oor die gesig of stywe goed om die nek. Maak die lugweg oop en verwyder alles wat in die mond of keel sigbaar is.
  2. Maak jou mond groot oop, haal diep asem, knyp die neusgate toe met jou vingers en plaas jou lippe lugdig om die persoon se mond.
  3. Kyk na die borskas en blaas lug in die longe tot die borskas so hoog moontlik styg.
  4. Neem jou mond weg van die persoon s’n en blaas enige oortollige lug uit. Kyk dat die borskas sak en asem weer in. Herhaal die proses. Doen die eerste vier inblasings so vinnig moontlik sonder om te veel aandag te gee aan die persoon se borskas.
  5. Toets vir 'n hartklop.
As die persoon se borskas nie styg nie is die eerste veronderstelling dat die lugweg nie oop is nie. Verander die posisie van die kop en kakebeen en probeer weer. As daar steeds geen lug die longe bereik nie, behandel die persoon vir verstikking.

As die hart normaalweg klop, gaan voort met mond-tot-mond –asemhaling teen die normale tempo vir asemhaling – 16 tot 18 keer per minuut – tot die natuurlike asemhaling herstel het. Daarna kan jy die asemhaling net aanhelp wanneer nodig. Wanneer die persoon normaal asemhaal, plaas hom / haar in die herstelposisie.

As die hart nie klop nie moet jy onmiddellik borskassamedrukking toepas.

As jy nie die persoon se mond kan gebruik nie, doen die asemhaling deur die neus. Vir klein kindertjies en babas moet dit altyd deur die neus gedoen word.

24.2.14

Gratis inenting teen servikale kanker

Meisies in graad 4 wat 9 jaar of ouer is en in 'n openbare skool in Suid-Afrika is sal vanjaar gratis ingeënt kan word teen die menslike papilloom-virus (MPV). 80% van servikale kanker word veroorsaak deur die virus wat seksueel oordraagbaar is.

Laerskole sal besoek word vir die immunisering. Die meisies moet twee keer ingeënt word vir die inenting om effektief te wees. Die eerste inentings is van 10 Maart to 11 April 2014, en die tweede van 29 September to 31 Oktober 2014.

Soos met enige inenting kan die boarm rooi en seer word. Die entstof maak egter nie die kind siek nie.

Hierdie veldtog om negejarige skoolgaande dogters in te ent, sal elke jaar vir die volgende drie jaar plaasvind. Die verspreidingsprogram sal daarna herevalueer word.

Die entstof Ceravic is ook by dokters en apteke beskikbaar, maar dan is dit nie gratis nie. Dit moet toegedien word voor meisies seksueel aktief raak.

19.2.14

Noodhulp: Toets vir 'n hartklop

Een van die eerste stappe om te neem by 'n bewustelose persoon is om te toets vir 'n hartklop. Jy moet seker wees daar is geen hartklop nie voor jy die borskas kan saamdruk!

Al is die persoon blou om die lippe, is die enigste betroubare manier om vas te stel dat die hart nie klop nie die kontrolering van die pols in die nek. Dié pols kan in die nek in die holte tussen die stemkas en die aanliggende spier gevoel word.

Die pols in die gewrig is nie 'n betroubare aanduiding van hartklop nie!

Kontroleer die hartklop weer na 'n minuut van borskassamedrukking en dan elke 3 minute. Moet nie die borskas saamdruk as daar 'n pols is nie!

17.2.14

Angina

Angina is 'n borspyn wat veroorsaak word deur die hart wat te min bloed en suurstof ontvang. Die oorsaak is gewoonlik aterosklerose.