Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

18.12.24

Makkalmoes tradisioneel 'n wenner

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om verkoue, griep, maagkrampe en longkwale te behandel. Die plant se risome word veral gebruik.

Makkalmoes word ook lank reeds in Chinese medisyne gebruik.

(Mhlongo, LS, Van Wyk, BE. 2019. Zulu medicinal ethnobotany: new records from the Amandawe area of KwaZulu-Natal, South Africa. South African Journal of Botany. Volume 122)

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

17.12.24

Kruie vir kwale: Boererate vir hardlywigheid

’n Aftreksel van die boomwortels van die kiepersolboom word gebruik vir ’n lakseermiddel.

♦♦♦

Gooi 1 eetlepel lynsaad in ’n glas water en laat staan dit oornag.
Gooi die water af en gooi die lynseed oor jou ontbytpap. Dit sal help indien dit gereeld gebruik word.

16.12.24

Atleetvoet

Atleetvoet (tinea) is 'n soort fungusinfeksie. Die vel raak skurf en seer, blasies vorm en die vel dop af. Indien die naels besmet is raak dit los of dit verdik en verkleur.

Die infeksie begin gewoonlik tussen die tone en versprei dan na die naels en voetsool.

Die mees algemene behandeling is 'n funguswerende room.


Indien jy maklik atleetvoet opdoen moet jy op die volgende let:

Dra elke dag 'n nuwe skoon paar sokkies.

Koop net suiwer katoenkouse.

Dra gereeld oop skoene soos sandale.

Loop gereeld kaalvoet.

Ontsmet gereeld die vloere van jou badkamers en storte, areas waar die infeksie gewoonlik oorgedra word.


12.12.24

Nog natuurlike opsies om verkoue teen te werk

Daar is ’n paar minder bekende plante wat ook ’n natuurlike opsie bied om verkoues te behandel. Hierdie bome en plant het verskillende eienskappe wat simptome soos keelseer, neusverstopping en hoes kan verlig. Met die regte kennis kan hulle 'n waardevolle toevoeging tot jou gesondheidsroetine wees. Die plante waarna ons hier verwys word lank reeds in tradisionele medisyne gebruik én die uitwerking op verkoue is ook deur wetenskaplike navorsing bevestig.

Wildepietersielie (Heteromorpha arborescens): Week 'n deel van hierdie boom se wortel in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

Rivier Jasmyn (Jasminum fluminense): Vyf blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

Wilde-kiaat (Pterocarpus angolensis): Twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

Njalaboom / Hoenderspoor (Xanthocercis zambesiaca): Ses blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

Sien ook Kruie vir kwale: Verkoue



(foto: Tima Miroshnichenko)

10.12.24

Swelsel / Swelling

’n Swelsel is ’n tydelike abnormale vergroting van ’n liggaamsdeel of orgaan, bv. a.g.v. ontsteking.

Boereraat:

Neem 10 mℓ kanferbrandewyn, 10 mℓ asyn, 10 mℓ terpentyn, 10 mℓ soetolie en 10 mℓ sout. Skud goed en smeer aan.

♦♦♦

Rol ’n gholfbal onder jou voete op lang vlugte om swelling in jou bene te voorkom.

♦♦♦



9.12.24

Koors

Koors is ’n styging in liggaamstemperatuur. Dit is ’n simptoom en nie ’n siekte nie. Koors help die liggaam om op die verdediging te gaan deur die aktiwiteit van die immuniteitstelsel te verhoog en meer witbloedliggaampies word gevorm wat die infeksie kan aanval. Jy hoef jou nie veel te bekommer oor koors onder 38ºC nie, maar kinders kan wel koorsstuipe kry by hierdie temperatuur. Bly in die bed as jy koors het.

Gebruik ’n koue, nat kompres met suurlemoen of appelasyn om ´n hoë koors te beheer, maar nie as die pasiënt koud kry nie. Drink baie vloeistowwe en ’n louwarm sponsbad kan ook help.

Spreek jou dokter indien dit gepaard gaan met ernstige bewing, rukbewegings, klappertand of indien dit wissel tussen kouekoors en sweetaanvalle.

bydrae: Barbara Pelser

Boereraat:

Volwassenes kan 10 tot 30 druppels antimoonwyn in kanferwater gegee word 3 of 4 keer per dag. Die laaste dosis met slaaptyd. Kinders kan ’n dosis van 5 tot 10 druppels gegee word.

♦♦♦

Drink suikerwater vir kouekoors.

♦♦♦

Laat die persoon bad in louwarm water met 2 koppies asyn by.

♦♦♦

Maak ’n handdoek nat met ’n mengsel van louwarm water en asyn. Plaas die handdoek/e op die persoon se lyf en kop. Herhaal die proses wanneer die handdoek koud is.

♦♦♦

Meng 15 mℓ brandewyn, 30 mℓ kookwater en ’n mespunt sout. Gee 20 mℓ elke 15 minute – slegs vir volwassenes.

♦♦♦

Om ’n kind se koors te breek, gooi twee koppies bruin asyn in baie lou badwater en spons die kind aanhoudend af. Dit kan net so effektief wees om mee te sponsbad in die bed as die kind te siek is om in die bad te sit.

5.12.24

Sonbrand

Te lang blootstelling aan die son se strale kan rooiheid, gejeuk en teerheid van die vel veroorsaak. Onder sekere omstandighede kan dit ernstig wees.

Simptome en tekens
• Die vel is rooi, teer en opgeswel met moontlike blase.
• Die vel sal warm voel.

Behandeling
1. Sorg dat die persoon in die koelte is en spons die vel liggies af met koue water.
2. Gee die persoon gereeld slukkies koue water.
3. Kry mediese hulp indien die blase ernstig lyk.

Boereraat:

Melk of jogurt kan aangesmeer word. Smeer kort-kort aan tot die brand weg is.

♦♦♦

Jy kan ’n pasta maak van koeksoda en sonbrand daarmee behandel.

♦♦♦

Bad in koue water met ’n bietjie koeksoda in – so koud moontlik.

♦♦♦

As jy oor jou hele liggaam deur die son gebrand is kan jy koel bad neem waarby jy een koppie asyn gevoeg het. Dit verlig die brandgevoel


Kruie vir kwale: Sonbrand

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids