Koors is ’n styging in liggaamstemperatuur. Dit is ’n simptoom en nie ’n siekte nie. Koors help die liggaam om op die verdediging te gaan deur die aktiwiteit van die immuniteitstelsel te verhoog en meer witbloedliggaampies word gevorm wat die infeksie kan aanval. Jy hoef jou nie veel te bekommer oor koors onder 38ºC nie, maar kinders kan wel koorsstuipe kry by hierdie temperatuur. Bly in die bed as jy koors het.
Gebruik ’n koue, nat kompres met suurlemoen of appelasyn om ´n hoë koors te beheer, maar nie as die pasiënt koud kry nie. Drink baie vloeistowwe en ’n louwarm sponsbad kan ook help.
Spreek jou dokter indien dit gepaard gaan met ernstige bewing, rukbewegings, klappertand of indien dit wissel tussen kouekoors en sweetaanvalle.
bydrae: Barbara Pelser
Boereraat:
Volwassenes kan 10 tot 30 druppels
antimoonwyn in
kanferwater gegee word 3 of 4 keer per dag. Die laaste dosis met slaaptyd. Kinders kan ’n dosis van 5 tot 10 druppels gegee word.
♦♦♦
Drink suikerwater vir kouekoors.
♦♦♦
Laat die persoon bad in louwarm water met 2 koppies asyn by.
♦♦♦
Maak ’n handdoek nat met ’n mengsel van louwarm water en asyn. Plaas die handdoek/e op die persoon se lyf en kop. Herhaal die proses wanneer die handdoek koud is.
♦♦♦
Meng 15 mℓ brandewyn, 30 mℓ kookwater en ’n mespunt sout. Gee 20 mℓ elke 15 minute – slegs vir volwassenes.
♦♦♦
Om ’n kind se koors te breek, gooi twee koppies bruin asyn in baie lou badwater en spons die kind aanhoudend af. Dit kan net so effektief wees om mee te sponsbad in die bed as die kind te siek is om in die bad te sit.