Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

10.12.18

Proteïene in vleis dalk nie goed vir jou nie

’n Studie deur navorsers in die VSA en Frankryk het bevind dat vleis-proteïene geassosieer word met verhoogde risiko vir hartsiektes, terwyl proteïen van neute en sade voordelig vir die hart is.

Die belangrike bevinding was dat mense wat groot hoeveelhede vleis-proteïene verbruik ’n toename van 60% in kardiovaskulêre siektes ervaar, terwyl diegene wat groot hoeveelhede proteïen van neute en sade gebruik se kanse met 40% verlaag.

Dieetkundiges verwys al lank na die “slegte vette” in vleis en “goeie vette” in sade en neute, maar die nuwe navorsing wys op iets meer. Die proteïene van beide blyk ook ’n belangrike rol te speel in die biologiese prosesse.

Die navorsing is gedoen deur die Loma Linda University School of Public Health in Kalifornië en AgroParisTech en Institut National de la Recherche Agronomique, beide in Parys, Frankryk. Dit is gepubliseer in die joernaal International Journal of Epidemiology.

3.12.18

Hodgkin se limfoom / siekte

Hodgkin se siekte is ’n tipe kanker. Dit begin in limfositiese selle in die immuunstelsel en beïnvloed die limfkliere en limfweefsel.

Simptome:
• Vergrote limfklier in die nek, oksels of lies.
• Gewigsverlies
• Koors
• Sweet
• Swakheid

19.11.18

Tandvleisontsteking

Tandvleisontsteking word veroorsaak deur stukkies kos wat om die tande saampak.


Die tandvleis raak gevoelig en geswel. Normaalweg het dit ’n pienk kleur. Dit kan selfs bloei wanneer jy jou tande borsel.

Dit raak baie ernstig wanneer jou tandvleis begin doodgaan. Jou asem ruik dan gewoonlik sleg.

Die membraan wat in die tandholte is kan beskadig word en veroorsaak dat die tand los raak. Die toestand staan bekend as periodontitis.

Om dit te verhoed moet jy gereeld tande borsel en flos.

’n Algemene manier om pyn en ongemak van tandvleis siekte te verlig is om jou mond te spoel met ’n mengsel van warm water gemeng met sout.

12.11.18

Chemiese brandwond van die oog

Chemikalieë kan maklik by die oog inkom en die oppervlak beskadig. Dit kan tot ernstige letsels en selfs blindheid lei.

Simptome en tekens
• Intense pyn in die oog.
• Die beskadigde oog kan nie lig verdra nie.
• Die oog kan styf toe wees.
• Die oog kan rooi en geswel wees of baie waterig.

Behandeling
1. Hou die aangetaste kant van die persoon se gesig onder stadig lopende koue water. Die water moet weg van die gesig dreineer.
2. Verbind die oog met ’n steriele oogkunssinkie.
3. Kry die persoon so gou moontlik by die hospitaal.

7.11.18

Meer proteïene nie noodwendig goed vir ouer mans nie

Ongeag of jy jonk of oud is, manlik of vroulik, die Amerikaanse Instituut vir Geneeskunde se daaglikse aanbeveling vir proteïene is 0,8 g per kg per dag.

Heelwat kenners en organisasies beveel meer proteïene aan per dag vir ouer mans om spiermassa te onderhou. Dit is teenstrydig met al hoe navorsing wat bevind dat meer proteïene vir ouer volwassenes geen betekenisvolle voordeel inhou nie. Nuwe navorsing aan die gerespekteerde Brigham and Women's Hospital het ook nou bevind dat dit die geval is.

Die bevinding was dat die 0,8 g proteïene per kg per dag heeltemal voldoende is.

Die studie is gepubliseer in die joernaal JAMA Internal Medicine.

29.10.18

Skildklierprobleme

Die tiroïede klier / skildklier is betrokke by byna al die metaboliese prosesse in die liggaam. Dit stimuleer ook die afskeiding van voortplantingshormone. As ‘n persoon se skildklier nie behoorlik werk nie, kan die volgende probleme ontstaan:

Senuweeagtigheid of vermoeidheid
Spierswakheid
Gewigstoename of –verlies
Belemmerde geheue funksie
Verandering in menstruele vloei
Onvrugbaarheid of miskrame

Twee hormone word deur die skildklier vervaardig. Die hormone is belangrik by die regulering van liggaamshitte en die stimulering van metaboliese prosesse. Hierdie hormone bevat ’n hoë konsentrasie jodium. Trouens, byna 80 persent van die jodium in die liggaam word in die skildklier gevind. ’n Tekort aan hierdie element in die dieet kan lei tot ’n vergrote skildklier. In jong kinders kan ’n jodiumtekort hormoonvervaardiging onderdruk en gevolglik fisiese, verstandelike en seksuele ontwikkeling vertraag—’n toestand wat kretinisme genoem word.

Hierdie hormone:
Handhaaf bloeddruk.
Reguleer metabolisme.
Is noodsaaklik vir die ontwikkeling van been en die senuweestelsel – bevorder groei van selle.
Help met die uitskeiding van afvalprodukte deur die limf.
Speel belangrike rol in die funksionering van die voortplantingstelsel.
Speel belangrike rol in die funksie van hormone. Hormone speel ‘n rol in omtrent elke sisteem en proses in die liggaam, en verskeie simptome kan ervaar word indien die skildklier nie behoorlik funksioneer nie.