Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

22.10.18

Chemiese brandwonde

Sekere chemikalieë kan skade veroorsaak aan ons vel- en ander weefsels. Die oë is veral kwesbaar. Ander chemikalieë kan deur die vel geabsorbeer word en ernstige skade in die liggaam veroorsaak, soms noodlottig.

Vinnige optrede is belangrik, maar so ook die veiligheid van die persoon wat ’n ongeval wil help. Hou jou eie veiligheid altyd in gedagte.

Simptome en tekens
• Die persoon kla dat die vel brand.
• Die vel kan gevlek of rooi wees. Blase kan ook voorkom en die vel kan afdop.

Behandeling
1. Spoel die aangetaste deel ten minste vir 10 minute onder stadig lopende koue water.
2. Verwyder enige besoedelde klere terwyl julle die wond afspoel.
3. Behandel verder soos vir ’n ernstige brandwond.
4. Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

9.10.18

’n Leeftyd van gereeld oefening vertraag veroudering

Indien jy gereeld aktief is bly jou liggaam jonger en gesonder.

Dit is die bevinding van navorsers aan die University of Birmingham en King's College Londen. Hulle het bevind dat gereelde oefening liggaamsvet en cholesterolvlakke onder beheer hou en dat mans se testosteroonvlakke meer stabiel is. Die immuniteitstelsel verouder ook glad nie soos die van mense wat nie oefen nie.

2.10.18

Breinkanker

Primêre breinkanker is kanker wat in die brein begin. Metastatiese kanker in die brein is kanker wat van elders afkomstig is en versprei het na die brein. Eersgenoemde is uiters skaars.

Simptome van kanker in die brein sluit in hoofpyn (meesal in die oggend), sensoriese versteurings (veranderings in vermoë om te praat, hoor of sien) en gestremdheid van geheue of koördinering.

Breinkanker word gewoonlik behandel met chirurgie of bestraling. Chemoterapie is minder effektief vir hierdie tipe kanker.


Area’s waar breinkanker gewoonlik voorkom.

25.9.18

Brandwonde in die mond en keel

Hierdie tipe brandwonde kom gewoonlik voor wanneer iets baie warm gedrink word, chemikalieë gesluk word of baie warm lug ingeasem word.

Hierdie beserings is baie ernstig, omdat die weefsel in die keel baie vinnig swel en sodoende die lugweg kan afsluit.

Simptome en tekens
• Hewige pyn in die mond en/of keel.
• Beskadigde vel om mond.
• Moeilike asemhaling.
• Moontlike bewusteloosheid.
• Skok.

Behandeling
1. Stel die persoon gerus.
2. Gee die persoon ’n slukkie koue water.
3. Verwyder enige klere en juweliersware om die nek en borskas.
4. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas in die herstelposisie.
5. Sorg dat die persoon sodra moontlik by die hospitaal kom.

13.9.18

Candida albicans / Sproei


Candida albicans is 'n algemene swamgis wat in die mond en vagina voorkom. Gewoonlik word dit in bedwang gehou deur onskadelike bakterieë, maar wanneer die bakterieë om een of ander rede nie hul werk kan doen nie, groei die swamme onbeheers en ontwikkel sproei.

Boereraat:

Maak 2 aspirienpille fyn en smeer op die tandvleis – NIE VIR KINDERS ONDER 13 jaar NIE.

♦♦♦

Meng 1 dessertlepel gliserien en 2 mℓ boraks goed en smeer die kind se mond 3 maal per dag tot die sere gesond is. Moet nie gebruik word indien die persoon asemhalingsprobleme het nie.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

11.9.18

Affodille help in stryd teen kanker

Navorsers het onlangs ontdek dak ’n natuurlike alkaloïed, wat van affodille verkry word, help om die groei van kankergewasse teen te werk.

Dié alkaloïed verbind met ribosome. Ribosome is belangrik vir die oorlewing van ons selle, omdat alle proteïene sintetiseer. Kankerselle maak staat op ribosome om hul volgehoue groei voort te sit. Hulle is uiters sensitief vir enige stof wat ’n invloed het op ribosome; in die geval word die proteïensintese vertraag. Die alkaloïed veroorsaak spanning binne die selkern wat lei tot die vernietiging van kankerselle. Die navorsing, gepubliseer in die joernaal Structure, duur voort.

Affodille word al eeue lank gebruik in tradisionele medisyne.


Ribosoom (grafika: D. Lafontaine – ULB)

27.8.18

Nierkanker

Nierkanker is 'n tipe kanker wat begin in die selle binne-in die nier.

Die twee mees algemene tipes nierkanker is nierselkarsinoom (NSK) en uroteelselkarsinoom (USK) van die renale pelvis. Hierdie name reflekteer die tipe sel waar die kanker ontwikkel.

Die verskillende tipes nierkanker (soos NSK en USK) ontstaan op verskillde maniere, wat beteken dit het verskillende uitkomste (of prognoses), en dat dit verskillend beoordeel en behandel moet word.

NSK is verantwoordelik vir ongeveer 80% van primêre nierkankers, en USK vir die meerderheid van die res.