Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

25.10.16

Da Vinci-robotgeassisteerde chirurgiese stelse

Operasies met robot-arms waar die chirurg in drie dimensies sien wat hy doen maar nie voel nie, het die landskap van snykunde ook in Suid-Afrika verander, berig Elsabé Brits.

Die Da Vinci-robotgeassisteerde chirurgiese stelsel bestaan uit ’n afstandbeheerde monitor waar die chirurg sit en drie robot-arms, verder weg, laparoskopies beheer om te opereer. Die stelsel se kamera vergroot alles wat die dokter sien tien maal.

24.10.16

Koester jou swangerskap

Jou gids vir ’n kommervrye swangerskap en onvergeetlike geboorte

Dit sal jou help om jou keuses met insig en aanpasbaarheid uit te oefen en van die angstigheid ontslae te raak.

“As jy swanger is of swangerskap beplan, hoort hierdie boek op jou rak of jou bedkassie saam met Koester jou Baba en Slaap Kindjie Slaap.” Tina Otte, skrywer, spesialisredakteur Your Pregnancy-tydskrif.
Swangerskap is ’n ervaring soos min. Dit is die begin van ’n nuwe lewe, maar ook die geboorte van ’n ma wat met die verloop van nege maande op elke denkbare manier verander – fisies, emosioneel en sosiaal. Jou voeding, welstand en emosies gedurende hierdie wonderlike tydperk speel ’n rigtinggewende rol in die res van jou baba se lewe. Die ervaring moet vir jou ook veilig en behoudend wees sodat jy jou baba reg kan laat wegspring en sy potensiaal ontgin.

Die geboorte, wanneer jou baba haar verskyning in ons wêreld maak, is ’n diep betekenisvolle oomblik – een wat jy nie kan herhaal nie. Deur ten volle ingelig te wees, jou opsies te verstaan en ’n aktiewe rol te speel in die keuses wat gemaak word, sal ’n enorme verskil maak. Uiteindelik is dit nie belangrik hóé jou baba gebore word nie; wat belangrik is, is hoe jy dit ervaar en dat alles veilig afloop.

Lees Koester jou Swangerskap en raak ontslae van die angstigheid wat die onbekende meebring. Dit sal jou help om jou keuses met insig en aanpasbaarheid uit te oefen.
• Voorbereiding vir swangerskap
• Geboortekeuses
• Jou groeiende baba week vir week
• Jou veranderende liggaam week vir week
• ’n Gids tot die geboorteproses
• As jou baba te vroeg gebore word
• Jou nuweling se eerste dae en weke.

“Hierdie boek kon nie op ’n beter tyd or my pad gekom het nie. As swanger leser het ek dit as deeglik, gebruiksvriendelik en realisties ervaar. Dit het boonop soveel van my bekommernisse uit die weg geruim dat ek seker is alles sal goed afloop wanneer my baba kom – presies wat elke verwagtende vrou nodig het.” Lisa Raleigh, mediapersoonlikheid en welstandskenner.

“Dit was wonderlik om hierdie boek te lees ... so verfrissend om weer herinner te word aan die hele spektrum van die lieflike, verstommende ervaring wat swangerskap en geboorte is.” Kate Christie, Vroedvrou

“Geen vrou hoef vandag haar swangerskap en haar baba se geboorte bang en oningelig tegemoet te gaan nie. Voornemende ouers het toegang tot ’n magdom inligting en met hierdie boek sal jy goed ingelig en toegerus wees. Die skrywers het alles gedek wat jy gedurende die kinderbarende fase van jou lewe moet weet, en beskou alles met die ontwikkelende baba as vertrekpunt, maar ook vanuit die ma se perspektief.

Die inligting en raad in hierdie boek verskaf nuttige riglyne oor vele van die prosedures en opsies wat vandag beskikbaar is en sal vir seker daartoe bydra dat jy jou swangerskap en geboorte positief ervaar.” Tina Otte, skrywer, spesialisredakteur Your Pregnancy-tydskrif
“Hierdie jongste boek vir vroue en hulle gesondheidswerkers oor die wonderlike, maar dikwels moeilike en uitdagende ervaring van swanger raak, en bly, en geboorte te skenk aan ’n gesonde baba, is propvol praktiewe en wyse raad ... [Dit] beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om te verstaan hoe belangrik gebeure voor en na die geboorte is; dat dit skep van ’n veilige en liefdevolle omgewing vir die ma, pa, baba en gesin deurslaggewend is vir die suksesvolle ontwikkeling van die volgende geslag. ” Lynette Denny, Hoof en Professor, Verloskunde en Ginekologie, Universiteit Kaapstad en Groote Schuur-hospitaal


Koester jou swangerskap / deur Megan Faure, Jacky Searl, Heather Wood -- Metz Press, Augustus 2016; 176 p. ; sagteband. -- ISBN 9781928201960

Koester jou swangerskap,
Bettie Blom,
24 Oktober 2016.
2

19.10.16

Hartkramp / Angina Pectoris

Wanneer die kroonslagare, wat bloed na die hart voer, te nou word en geoksideerde bloed nie die hartspiere bereik nie ervaar jy erge pyn in jou bors. Dit word dikwels vir ’n hartaanval aangesien.

Dit kom veral by bejaardes voor en gaan gewoonlik gepaard met inspanning tydens oefening of selfs opgewondenheid.

Die pyn duur gewoonlik net ’n paar minute en sal ophou indien die persoon rus.

Simptome en tekens

• Pyn in die borskas wat dikwels na die linkerskouer en af na die arm en vingers versprei. Dit kan ook na die keel en ander arm versprei.

• Vel kan bleek en lippe blou wees.

• Persoon kan kortasem wees.

• Algemene swakheid.


17.10.16

Hartversaking

Hartversaking is ’n uiters ernstige toestand waar die hart skielik ophou klop. Die oorsaak is waarskynlik dan ’n omvattende koronêre verstopping.

Simptome en tekens
Die ongeval word bewusteloos.
Geen pols kan in die nek gevoel word nie.
Asemhaling en hartklop hou op.
Vel word bleek.

’n Mens moet dadelik die persoon probeer bybring met kunsmatige asemhaling en die persoon moet so gou moontlik by ’n hospitaal kom.

13.10.16

Allergiese neusontsteking

Omtrent 10% van ons sukkel met hierdie tipe neusontsteking. Dit is gewoonlik seisoenaal en gaan saam met oogontsteking.

Die mees algemene oorsake is stuifmeel van gras, bome en onkruid. Ander oorsake sluit in stofmyte en troeteldiere.

Die toestand kan vererger as bakteriële infeksie plaasvind as gevolg van die afskeidings uit die neus.

Simptome en tekens
Nies
’n Verstopte neusgat/ e wat afgewissel word met ’n loopneus
Jeukerige neus en oë
Droë of tranerige oë
Rooi oë

Die beste behandeling vir hierdie tipe allergiese reaksie is om die oorsaak te vermy, maar dit is ongelukkig selde prakties. Daar is ’n verskeidenheid antihistamiene en neussproei wat gebruik kan word.

7.10.16

Geswelde kliere

Boereraat:

Gebruik warm kompresse om geswelde kliere te behandel. Doop sommer ’n waslap in warm water, wring dit uit en hou dit op die geswelde kliere.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

6.10.16

Sweer

’n Sweer is ’n etterende wond. Dit is verkieslik dat ’n dokter dit behandel, want as daar infeksie ontstaan kan dit ernstige gevolge inhou.

Boereraat:

Hou die sweer ’n rukkie in sterk soutwater. Smeer dan vaseline aan. Hou aan met die behandeling tot die sweer gesonder begin lyk.

♦♦♦

Maak 'n pap van semels. Sit nou 'n mespunt koeksoda by. Smeer dik op die lap en maak dan in die middel 'n holte. Gooi die holte vol brandewyn. Sit so warm as moontlik op die sweer. Sodra dit afgekoel het, dan vervang jy dit met 'n nuwe pleister. Die brandewyn moet altyd in die holte gegooi word. en nie in die pleister ingeroer word nie anders verdamp dit net.

♦♦♦

Klits 2 eiergele en 1 eetlepel heuning en 'n bietjie meel saam tot 'n pasta. Smeer op 'n skoon linnelap en sit op die seerplek. Dit sal die sweer ooptrek.

♦♦♦

Gooi 2 eetlepels Engelse sout in 750 ml kookwater. Gooi dit dan in n houer waarin jy die wond kan doop. Hou die seerplek daarin - so warm as wat jy dit kan verdra. Hou dit ook lank in die water. Jy moet aanhou tot die swelsel sak en die sweer plooierig word.
Maak nou 'n linnelappie nat in rou lynolie of kasterolie en plaas dit op die wond. Verbind dit met 'n warm lap en laat net so vir 6 uur.
Herhaal die proses indien nodig.

♦♦♦

Doop ’n ou linnelap in brandewyn en wring die vloeistof uit. Sit die lap op die sweer en hou aan natmaak in die brandewyn tot die sweer ryp is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids