Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

14.5.14

Noodhulp, behandelingsprioriteite

Wanneer iemand noodhulp nodig het, moet die volgende toetse uitgevoer word om vas te stel wat jy moet doen om te help.

Lugweg en asemhaling
Kyk of die lugweg oop is en die persoon asemhaal. Indien nie moet jy dadelik begin met kunsmatige asemhaling.

Bloeding
Kyk of die persoon bloei en beheer dit.

Bewusteloosheid
Plaas ’n bewustelose persoon in die herstelposisie en stel die bewussynsvlak vas. Indien die moontlikheid van ’n ruggraatbesering bestaan, moet jy nie die persoon beweeg nie – tensy hulle moeilik asemhaal.

Skok
Hou die persoon warm en stil en laat die persoon lê tot mediese hulp opdaag.

Ander
Tesny die omgewing gevaarlik is, moet alle beserings behandel word voor die persoon verskuif word. Indien daar gevaar bestaan moet jy die beseerde deel van die liggaam immobiliseer voor die persoon verskuif word.



(foto Aleksi Aaltonen)

12.5.14

Inenting

Inenting het al talle lewens gered sedert entstowwe algemeen beskikbaar geraak het. Inenting dwing die liggaam om immuniteit te skep. Tydens die proses word ’n verswakte vorm van die infeksie in jou liggaam geplaas. Jou immuunstelsel beveg dit en so word immuniteit geproduseer.

Daar is entstowwe beskikbaar vir ’n verskeidenheid siektes, soos byvoorbeeld waterpokkies, polio, masels, pampoentjies en griep.



(foto James Gathany)

7.5.14

Die Silvester-metode vir kunsmatige asemhaling

Indien mond-tot-mond-asemhaling nie moontlik is nie en die persoon is op hulle rug vasgepen, of moet op hulle rug wees, moet die Silvester-metode gebruik word.

Die persoon moet verkieslik op ’n stewige oppervlak lê. Verwyder enige versperrings uit die mond. Plaas iets soos ’n opgevoude kledingstuk of kussing onder die skouers, sodat die kop tot in die ooplugweg-posisie agteroor kan kantel.

Kniel by die persoon se kop, neem die polse en kruis hulle oor die onderste deel van die borskas – hou dit weg van die buik. Wieg nou vorentoe, terwyl jy jou rug reguit hou en druk 2 sekondes lank stewig op die onderste deel van die borskas.

Ontspan die druk, wieg agtertoe en trek met ’n ononderbroke swaaibeweging die ongeval se arms 3 sekondes lank so vêr moontlik opwaarts en uitwaarts. Herhaal dit 12 keer per minuut.

Toets vir ’n hartklop na 4 siklusse. Indien die hart klop, gaan voort tot die natuurlike asemhaling herstel het. Indien daar nie ’n hartklop is nie, pas uitwendige borskassamedrukking toe. Indien die persoon nie reageer nie, gaan voort met die kunsmatige asemhaling, met 15 borskassamedrukkings vir elke 2 Silvester-ventilasies.

Indien die persoon normaal begin asemhaal, plaas hom/haar in die herstelposisie.

5.5.14

Nuwe toets vir hoë bloeddruk tydens swangerskap

’n Nuwe toets wat die vlak van 'n plasentale proteïen nagaan kan dokters help bepaal of 'n vrou 'n ernstige vorm van hoë bloeddruk tydens swangerskap gaan ontwikkel. Hoë bloeddruk affekteer 6 tot 8 persent van swanger vroue in die Westerse wêreld. In Suid-Afrika is dit een van die grootste oorsake van sterftes onder moeders.

Pre-eklampsie is ’n komplekse vorm van hoë bloeddruk tydens swangerskap en kan die niere, lewer en brein beskadig en lei tot fetale komplikasies soos voortydige aflewering, lae geboorte gewig en stilgeboorte. Die toets is spesifiek ontwerp om vroue met pre-eklampsie vooraf te identifiseer. Vorige toetse kon dit slegs opspoor wanneer die toestand reeds skade aangerig het.

Die toets is reeds in 2013 in die VSA vrygestel.

29.4.14

Immuniteit

Immuniteit is die liggaam se vermoë om teenliggaampies teen infeksies te produseer en infeksies te onthou.

Immuniteit word op verskeie maniere geskep:

• Keer dat infeksies in die liggaam kom; byvoorbeeld slym wat stofdeeltjies opvang.
• Dit maak vreemde mikrobes dood; byvoorbeeld witbloedselle wat na plekke met infeksie beweeg en mikrobes doodmaak, gifstowwe verwyder en teenliggaampies vervaardig wat verdere infeksie beveg. So word aansteeklike siektes soos waterpokkies en pampoentjies onthou en teenliggaampies word daarvoor vervaardig sodat jy dit nie weer kry nie.
• Oorgeerfde immuniteit; soms erf jy die genetiese voordeel om meer immuun te wees teen sekere infeksies.

23.4.14

Nuwe otoskoop maak dalk diagnose by die huis moontlik

’n Nuwe otoskoop wat met jou slimfoon werk kan gebruik word om oorinfeksie te diagnoseer.

Dié instrument bied duidelike beelde van die die trommelvlies (timpaniese membraan) en kan dalk kort voor lank sorg dat jy nie meer die dokter hoef te besoek vir oorinfeksie nie. Jy kan slegs die foto’s aan jou dokter stuur vir ’n vinnige diagnose.

16.4.14

Die Holger Nielsen-metode vir kunsmatige asemhaling

Dit is nie altyd moontlik om mond-tot-mond-asemhaling te gebruik nie. Daar is dalk ernstige beserings aan die persoon se gesig, die persoon is dalk met die gesig na onder vasgepen, gooi dalk herhaaldelik op, of is vergiftig.

Borskassamedrukking kan nie in die posisie gedoen word nie.

Die persoon lê dus op sy/haar maag. Verkieslik kan jy die persoon op ’n harde oppervlakte laat lê. Plaas die persoon se hande een op die ander onder die kop. Draai die kop na die kant toe, sodat die wang op die boonste hand rus. Kantel die kop terug en trek die kakebeen vorentoe sodat die lugweg oop is.

Kniel op een knie by die persoon se kop en met jou ander voet by die punt van een van die elmboë. Plaas jou hande op die persoon se rug, bo-op die skouerblaaie. Jou duime moet aan weerskante van die ruggraat wees.

Hou jou elmboë reguit en wieg vorentoe tot jou arms min of meer vertikaal is. Druk vir ongeveer twee sekondes op die persoon. Pasop vir te veel druk!

Wieg terug en terselfdertyd beweeg jy jou hande opwaarts en uitwaarts by die arms lank tot by die elmboë. Lig die persoon se arms tot jy weerstand voel. Hou dit vir ongeveer 3 sekondes – dit help met inaseming.

Laat sak die persoon se arms en beweeg jou hande terug na die rug. Herhaal. Doen dit teen ’n tempo van ongeveer 12 keer per minuut.

Toets vir ’n hartklop na elke vier keer. Gaan voort indien daar ’n hartklop is. Indien nie, draai die persoon om en doen borskassamedrukking en daarna die Silvester-metode van kunsmatige asemhaling.

Sodra die persoon normaal asemhaal plaas jy hom/haar in die herstelposisie.