Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

27.8.12

Vrae oor galstene


Thinus van Staden skryf: "Ek en my vrou bly in Ireland en my naam is Thinus. My vrou het onlangs haar galstene laat uithaal want dit het haar probleme begin gee. Nou n paar maande later word sy weer siek , maar net as sy enige vleis eet of alkohol drink. Nou ons was by die dokters hier in Ireland , maar hulle bied nie regtig help aan of stel regtig belang nie. Ons is regtig bekkommerd oor die probleem en sal enige raad waardeer. Wat moet ons doen ens."

Antwoord: Geen wonder Suid-Afrikaanse dokters is so gewild in Ierland nie. Nie net is daar 'n algemene tekort aan dokters in Ierland nie, maar daar is 'n aanvraag vir spesifiek Suid-Afrikaanse dokters. Ons opleiding word as tops beskou, maar ek vermoed dit is ook die manier waarop SA dokters hul pasiënte behandel wat hulle gewild maak.
Die raad is dus soek vir julle 'n Suid-Afrikaanse dokter.



Belinda du Plessis skryf: "Is dit 'n moet vir 'n operasie en wat moet jy eet en drink."

Antwoord: Indien dit erg is moet jy 'n operasie ondergaan. Die dokter sal bepaal watter tipe behandeling nodig is. Dit sal wissel van medikasie vir klein probleempies tot 'n operasie in die ergste gevalle.
Vet is jou grootste vyand so 'n laevet dieet is jou voorland. Vermy vette so ver as moontlik en eet steeds gebalanseerd.



Estelle skryf: "My dogter was swanger en het op 5 maande 'n miskraam gehad, 'n week later bars haar blindederm en word toe verwyder. Sy was skaars uit die hospitaal, ongeveer weer 'n week later beland sy weer in die hospitaal met hewige pyn wat toe dui op infeksie asook galstene. Sy is terug by die huis maar kla nog steeds van naarheid en sooibrand. Is daar enige rede tot kommer?"

Antwoord : Die beste raad is dat sy dit met haar dokter bespreek. Hier bestaan te veel moontlikhede en enige raad sal 'n raaiskoot wees. Indien die galstene verwyder is kan sy probeer om 'n tyd lank suiwel, vet en sterk kos te vermy en meer vesel te eet.



Christien Agema skryf :
"Ek het vandag 'n sonar gehad en daar is meer as 11 galstene uitgewys. Wat is die behandeling van galstene? Ek sien môre die dr. maar sal dit so gou as moontlik wil weet. Moet my galblaas verwyder word of kan dit ook met laser behandel word?"

Antwoord:
Galstene is kristalagtige korreltjies wat cholesterol bevat en in jou galblaas vorm. Soms is die enigste uitweg dat die galblaas verwyder word. Gelukkig kan dit andersins deur chirurgie verwyder word, met medisyne opgelos word of met ultrasoniese golwe opgebreek word.
Dit is baie belangrik dat hulle wel verwyder word. Galstene kan lewerontsteking en selfs lewerversaking veroorsaak. Verder kan hulle obstruksies vorm in jou derms of selfs die oorsaak van kanker wees.
Die eerste aanduiding dat jy galstene het is gewoonlik 'n kwaai pyn aan die regterkant van jou buik wat na jou rug versprei. Jy sal ook opgeblaas en winderig voel. Indien die galblaas afgesluit word kan jy geelsug ontwikkel.
Dit is meesal oorgewig individue en swanger vroue wat geelsug ontwikkel.

20.8.12

Koorsblaar


Annetjie van Emmenis skryf:

"Hoe verhoed jy koorsblare by 'n baba? As sy wel daarmee sit, wat is die goedkoopste manier om dit op te klaar? Sy is 10 maande oud."

Antwoord :

Koorsblare is hoogs aansteeklike, klein blasies op die vel rondom die mond en neus. Dit gaan dikwels gepaard met verkoue of koors. Die infeksie word veroorsaak deur die herpes simplex-virus. Jy is veral vatbaar vir die virus as jy onder stres verkeer of baie moeg is. Jou dokter sal 'n teenvirusmiddel voorskryf. Probeer om te keer dat die koorsblaar gekrap word want indien daardie selfde hande aan die oë vat kan dit blindheid veroorsaak. Sit 'n yspakkie teen die koorsblaar om dit minder te laat jeuk.

Dit is baie raar dat 'n baba koorsblare kry. Is jy seker dit is nie 'n ander aandoening nie? Sorg dat jou dokter dadelik vir baba diagnoseer en medikasie voorskryf.

13.8.12

Skraap / Kurettasie / Kurettering

'n Skraap (of kurettasie) is die chirurgiese skraping van die wand van 'n binneholte van die liggaam. Dit word veral gebruik vir die baarmoeder.

Lindie Smith skryf:
"Ek het 'n miskraam en toe skraap gehad. Ek wil graag weer swanger raak. Ek het nog glad nie gemenstrueer nie. Hoe vinnig kan ek swanger raak na die skraap en gaan ek eers ovuleer en dan mentrueer of anders om? Ek het krampe maar niks anders het nog gebeur nie. Kan ek dalk reeds weer swanger wees?"

Antwoord:
Jy kan onmiddelik weer swanger raak, maar jy moet liefs jou dokter vra oor wanneer hy/sy dink jy reg sal wees. Verkieslik moet jy twee tot drie maande wag. Maak ook seker jy het emosioneel herstel. Jy behoort weer te begin menstrueer na vier tot ses weke. Indien jy intussen enige pyn ervaar moet jy jou dokter gaan spreek.

31.7.12

Die ongelooflike liggaam: 'n Opwip-en-uitvou boek

Al ooit gehoor van ’n boek met ’n lewensgrootte mens binne-in? Hier is dit!

Leer jou liggaam ken met hierdie fantastiese uitvou-liggaam. Die flappies, opwip-dele en interessante beskrywings vertel jou alles omtrent die liggaam se stelsels en organe en hoe hulle werk. Ontdek die ongelooflike dinge wat onder jou vel aangaan, van hart tot harsings en van kop tot tone!

Die boek sluit ’n verstommende lewensgrootte uitvou-enopwip- plakkaat van die liggaam in.

Twee gaatjies in die stewige hardeband omslag maak dit moontlik om die boek teen die muur op te hang om die lewensgrootte plakkaat mooi te bekyk.

Koop / Buy Die ongelooflike ligaam: 'n Opwip-en-uitvou boek >>

Die ongelooflike liggaam: 'n Opwip-en-uitvou boek / deur Richard Walker -- Human & Rousseau, 2012. -- 32 p. ; sagteband. -- ISBN 9780798157285 : R 210.00

30.7.12

Slukdermspasma


Magdaleen skryf: "Ek wil graag 'n vraag aan u vra wat my gesondheid betref. Ek sukkel seker al 'n maand met 'n spastiese slukderm wat veroorsaak dat winde vassit en my baie ongemaklik laat voel. Ek drink medikasie vir die spastiese kolon, die sooibrand is baie minder maar die winde is nogal erg en soms voel dit of my hart vreeslik wil klop en ek's bang vir 'n hartaanval. Wat kan ek gebruik om die slukderm te laat ontspan sodat die winde vrylik kan uitkom, ek is tans op 'n diet om alle kosse wat gasse te veroorsaak uit te skakel. Soms is die winde erg en benoudheid dat ek bang voel en die stres by die werk help nie regtig vir my kwaal nie. Is daar enige voorstelle wat u vir my kan gee wat ek kan doen of gebruik vir die spastiese slukderm."



Antwoord: Verder voorstelle vir persone wat sukkel met slukdermprobleme is:
  • Moet nie klere en gordels dra wat te styf sit nie.
  • Moet nie lê of te veel buk na ete nie.
  • Moet nie rook nie.
  • Vermy sjokolade, kafeïen, vet en te veel alkohol.
  • Verloor gewig indien jy oorgewig is.
  • Lig die koppenent van jou bed met 20cm.
  • Eet saans 'n klein maaltyd.


Liesl Pretorius skryf:
"Wat is dit presies as jou slukderm 'n spasma kry. Ek kry partykeer 'n gevoel - op my bors - wat voel of dit spring/klop. Die eerste keer het ek amper gedink dit kan my hart wees, maar ek het toe hospitaal toe gegaan en hulle het gese dit is my slukderm wat 'n spasma kry. Ek kry dit nou weer, maar ek is altyd bang dat dit my hart kan wees. Is daar iets wat ek kan gebruik vir dit? Hoop u kan my help"

Antwoord:
Spasma van die slukderm (esofagus) is raar. Pasiënte ervaar pyn in die bors as gevolg van die sametrekking van 'n gedeelte van die slukderm. Dit word soms verwar met 'n hartaanval en dit kom so min as een keer per maand voor.
Stres is een van die oorsake van so 'n spasma. Gee aandag aan jou stresvlakke. Praat met jou dokter oor medikasie. Julle sal moontlik verskeie medikasie probeer voor julle enige resultate sien. Die belangrikste is die aanleer van ontspanningstegnieke.

23.7.12

Crohn-siekte / Ulseratiewe kolitis

Crohn-siekte (Ulseratiewe kolitis) is die ontsteking van die spysverteringsisteem. Dit kan enige deel van die ingewande aantas en inflammasie, ulserasies en diep letsels veroorsaak. Dit oorsake is nie heeltemal bekend nie.

Die simptome sluit in maagpyn, diaree (soms met bloed), winderigheid, naarheid, koors en moegheid.

Siekte, medikasie, sekere kossoorte en stres kan die simptome laat opvlam.

Dit is nie op die oomblik geneesbaar nie. Steroïede en asatioprien word gebruik vir die inflammasie. 'n Vloeibare dieet word aanbeveel wanneer simptome baie erg is. Rook is buite die kwessie.

Aangetaste ingewande (Crohn-siekte)

(foto Netha Hussain)

16.7.12

'n Nuwe hartklep-konsep

'n Nuwe hartklep-konsep is by die Universiteit Kaapstad (UK) ontwikkel.

Kapitaal van R30 miljoen is bekom om die kommersiële ontwikkeling en vervaardiging van toestelle wat beskadigde hartkleppe kan vervang, moontlik te maak.

Die werk is daarop gemik om lyers van rumatiese hartsiekte te help. Die tradisionele manier om dié siekte te behandel is 'n opehart-operasie, maar dié prosedure is buite bereik van arm lyers.

Navorsing by die Universiteit Kaapstad het daarop gedui dat 'n nuwe benadering nodig is. Drie toestelle wat die siekte onder beheer kan bring sonder opehart-chirurgie is op grond van die navorsing ontwikkel.