Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

21.11.11

Longontsteking

Longontsteking is die inflammasie van een of albei longe.

Die simptome is gewoonlik 'n pynlike, aanhoudende gehoes. Die gehoes kan met koors en kortasemheid gepaard gaan.

14.11.11

Eet goed, lyk goed

Sekere kossoorte hou jou nie net gesond nie, maar laat jou ook goed lyk:

Appelasyn
Hou die vel soepel en sag. Breek ook vette af en help met vertering.

Wortels
Hou die plooie weg.

Kaas
Beveg bakterieë in die mond en verhoed tandbederf.

Citrusvrugte
Hou plooie weg.

Rooibosbessies
Hou die uitskeidingskanale skoon en beveg bakterieë.

Knoffel
Hou plooie weg.

Patats
Hou die plooie weg.

Tamaties
Hou jou vel gesond.

Water... Water... Water...
Die goeie goeters wat al die vullis uit die liggaam spoel.

31.10.11

Bikini-uitslag

Hier is twee metodes om ontslae te raak van daai uitslag by jou bikini-lyn:

1) Smeer gewone joghurt op die area en laat vir 15 minute op.
2) Los ´n geweekte teesakkie op die area vir 10 minute.

24.10.11

Vrae oor die vel - ekseem, ingroei haartjies, jeuk, rooi kolle, merke, strepe, pigmentasie, hande, voete, aknee, swelling


Stella skryf: "Ek wil by u hoor. Ek het 'n rooi jeukerige brand op my T-zone van my gesig. Vriendin dink dis Ekseem. Wel my vel voel of dit styf trek en maak dan velletjies wat af kom, so as of dit te hard met 'n gesig skraapie gewas is. Die rooi uitslag begin my nou bietie pla. Niks wat ek gebruik help dit nie. Dink u dis ekseem en wat moet ek doen want ek kry dit nou gereeld. Meer as voorheen. Kan u my asseblief raad gee."
Antwoord :
Soos voorheen genoem is dit moeilik genoeg om 'n velaandoening te diagnoseer is dit amper onmoontlik om dit op die Web te doen. Vra jou dokter om jou te verwys na 'n spesialis.

Pieter Els skryf:
"Ek kry gereeld ingroei haartjies in my haarlyn agter in my nek. Ook puisies en knoppies agter my ore. Ek is 'n tipe 2 diabeet. Het hierdie dalk verband met bloedvaatjies, toevoer van bloed na vel? Wat is die probleem en wat kan ek gebruik vir dit?"
Antwoord:Dit is 'n algemene probleem wat baie heelwat mense voorkom. Wat wel vir diabete belangrik is, is om nie iets te gebruik wat moontlik infeksie kan veroorsaak nie. Dit help soms om jou hare bietjie langer te laat groei.

Maria skryf :
"Ek sukkel al vir 3 jaar met dieselfde probleem. Die ding is net ek is nie seker of dit ekseem is nie. My vel jeuk aanhoudend en hoe meer ek krap hoe meer jeuk dit. Dit is vanaf my bene, maag onder my borste en my arms. Ek sweet nie regtig nie (winter en somer) so dit is nie regtig dit wat dit kan veroorsaak nie. Die plekke waar dit jeuk is ook nie rooi nie en daar is ook geen uitloopsels nie. Dit voel meer of dit onder my vel is. Ek het al rome, olies en alles probeer, maar dit hou vir 'n dag of twee op dan begin dit weer. Die tipe seep wat ek gebruik is wit, maar dit is asof die wit seep my vel meer uitdroog selfs Dove en Vaseline. Ek kan nie gekleurde seep gebruik nie want dan kry ek infeksies en rash. So ek is al raadop, want nie eens varkvet werk nie. Het u dalk 'n idee wat dit kan wees? Ek kry dit reg deur die jaar."
Antwoord :
Dit klink nie soos ekseem nie aangesien jy sê dit voel asof dit onder jou vel is en daar is geen uitslag nie. Om 'n velaandoening te diagnoseer is moeilik genoeg en daarom is dit amper onmoontlik om dit op die Web te doen. Vra jou dokter om jou te verwys na 'n spesialis.

Katriena Muggel skryf :
"As ek bad dan brand jeuk my bene en arms. Al gebruik ek geen seep nie. Ek kon nog nooit uitvind wat die probleem is nie . Ek hou nie daarvan om te bad nie."
Antwoord :
Daar kan verskeie oorsake wees en jy moet dat jou dokter jou 'n veltoets gee. Indien jy 'n baie sensitiewe vel het kan dit selfs veroorsaak word deur die skoonmaakmiddels wat jy vir die bad gebruik.
Marizanne King skryf :
"My gesig,hande slaan roi kolle, merke, strepe uit wat baie irriterend is, dit raak warm asof ek my hande in warm water gedruk het, in my gesig slaan net dele uit, bv. my neus (dan lyk ek soos rudolph the rednose reindeer) of ek kry rooi "strepe" op my wange en ken, dit is hoogs irriterend ek het al als probeer, ek bly in London, en al wat die dokters hier vir 'n mens se is: you need more exercise! En ek gym tog elke dag en eet gesond. Kan suster asb vir my raad gee!! Op hierdie staduim van die dag sal ek enige iets doen. (ek glo nie dis menopause nie want ek word vlg maand eers 25)"
Antwoord:
Daar kan verskeie verklarings hiervoor wees. Oplossings vir die probleem is ook nie altyd maklik nie, indien enigsins. Aangesien jy in Londen is wil ek voorstel jy oorweeg die ION by Blades Court, Deodar Road, London SW15 2NU Tel: 0208 877 9993 Fax: 0208 877 9980.

Myriam skryf: "Ek het pigmentasie vlekke ontwikkel so drie jaar terug. Ek het alles probeer op die mark , maar niks help. Is daar enige raad?. Ek is 38 jaar oud."
Antwoord:
Dit hang alles af van watter tipe pigmentasie ons hier te doen het. Vir vlekke wat nie wil reageer op behandeling nie kan jy ligterapie probeer, dit werk in sowat 50% van alle gevalle. Daar is ook kosmetiese behandelings wat moontlik kan help met jou toestand.

Ans du Preez skryf:
"My hande en voete jeuk in die somermaande vreeslik. Al wat help is as ek dit in koue water sit. Partykeer krap ek my stukkend. Hierdie probleem kom op sy ergste in die nag voor. My voete en hande voel warm en ek kan nie spesifiseer waar die jeuk voorkom nie. Ek is al moedeloos en moet in die aande opstaan om my hande en voete in yskoue water te sit."
Antwoord:
Laat jou dokter jou toets vir allergieë.

A B skryf:
"My dogtertjie is nou 1 maand en 2 dae, sy het verlede Dinsdag sulke klein "bumps" op haar gesig gekry en my midwife het gesê dat dit heat rash is, nie te bekommer nie. Ons het Donderdag van Engeland geland in die Kaap en die rash het nou erger geword en die knoppies maak amper rofies, maar tog nie. Dit lyk asof dit weg is as sy slaap maar sodra sy met haar koppie teen jou sit of as sy klaar gevoed het dan raak die knoppies rooier en dit het ook nou al versprei na haar oortjies en onder die oortjies. Ek is aanbeveel om haar 2 keer 'n dag met koeksoda en water mengsel af te spons. Is dit hitte of dalk suur agv dieet. Watter vloestof is goed as mens borsvoed - sap gee ook suur en gas gee winde - bly net water oor? Het verskriklike dorste!"
Antwoord:
Dit klink soos 'n heat rash. Indien dit weens die hitte is kan jy begin deur haar uit die son te hou en vir haar los klere aan te trek, niks wat te styf teen die vel sit nie. Sorg ook dat jy haar voldoende afkoel sodra die temperatuur styg. Die koeksoda-mengsel (2 teelepels per 4 liter water) is 'n goeie idee. In warm weer kan jy haar op haar eie laat droog word na 'n bad in plaas van om haar af te droog met 'n handdoek. En hou haar naeltjies kort sodat sy nie haarself stukkend krap nie.
Dit is verstopte sweetgaatjies wat die uitslag veroorsaak. Haar sweetgaatjies is verskriklik klein en wanneer sy sweet om af te koel raak hulle maklik verstop. Dit is nie net hitte wat sweet veroorsaak nie maar ook koors. Sy kan selfs die uitslag ontwikkel weens 'n room of salf wat jy op haar smeer.
Water bly maar nommer een om die dors te les.

17.10.11

Vrae oor borsvoeding


MS skryf: "My eerste baba amper 2 is net vir 10 dae geborsvoed ons beplan tans nr 2 maar wil weet of ek dit sal kan doen. Ek het plat nippels en het nou vir my iets gekry wat sal help om dit uit te bring maar as dit nie sal help wil ek nie eers dink daaraan om swanger te raak nie. Ons beplan om sept swanger te raak sodat nr 2 junie se kant kan kom. Eks tans in Engeland en hier gaan hulle op 4 jaar skool toe. Dit los my tyd vir die baba in die dag. As ek net raad oor my plat nippels kan kry en of dit die moeite werd is om swanger te raak en weer te probeer sal ek soveel beter voel. Dit het my hart gebreek toe ek nie meer kon borsvoed nie maar was in deels ook my skuld oor ek dit net 1x op 'n dag gedoen het. Ek het nie genoeg hulp gekry tydens die eerste weke nie. My midwife was baie onhulpvaardig gewees."
Antwoord: Dit is wel moontlik om met plat tepels te borsvoed. Baba's wat kan goed vassuig kan self 'n plat tepel uittrek. Aangesien jy in Engeland is behoort jy nie probleme te hê om Breast Shells (ook genoem milk cups) op te spoor nie. Dit plaas druk op die area om die tepel sodat dit uit kan kom of ten minste makliker uitgesuig kan word. Jy begin dit reeds dra voor baba se geboorte vir 'n paar uur elke dag. 'n Ander stukkie toerusting is 'n Evert-it Nipple Enhancer wat jy by dieLa Leche League kan bestel. Dit doen omtrent dieselfde as 'n borspomp. Jy kan selfs 'n borspomp gebruik net voor jy borsvoed om die tepel uit te lig.
Indien hierdie tipe toerusting jou afsit kan jy die volgende oefening probeer. Plaas 'n duim aan weerskante en styf teen jou tepel. Druk nou die bors plat terwyl jy terselfdertyd die duime uitmekaar trek. Doen dit vyf keer per dag. Begin wanneer jy swanger raak en hou aan daarmee terwyl jy borsvoed. Elke keer as baba borvoed kan jy ook die vel liggies rek met jou een hand, duim bo en vier vingers onder. Dit sal dit makliker maak vir baba om die tepel te kry.
Alle sukses met julle planne!
Enige lesers met ander raad kan ook gerus van hulle laat hoor.

Chenelle skryf: "My eerste seuntjie is amper 2! Het geborsvoed tot op 5 maande. My melk was aan die begin maar min. My tweede is in April hier en wil net weet wat ek doen om die melk met beboorte "reg" te hê. Ek wil graag normaal kraam aangesien die eerste ook normaal was. My eerste was wel op 35 weke gebore en het 3.6 geweeg. Is daar sekere kosse wat ek kan opneem?"
Antwoord: Gesond bly is die belangrikste ding wat jy kan doen, voor die geboorte en in die tyd wat jy borsvoed. Volg 'n gesonde dieet en doen ligte, lae impak oefeninge.

Henriette skryf: "My baba is 6 weke oud en sukkel met krampe en winde. Nadat sy gedrink het wil sy nie die winde laat uit kom nie. Ek probeer om my dieet reg te eet maar weet nie wat als maak gas en wat nie. Kan jy dalk vir my 'n lys stuur van al die mag nie eet nie? Sy is baie wakker vir haar ouderdom en is verder gesond en weeg 'n volle 4.8kg. So ek glo my melk is voldoende maar gee haar gas en krampe wat baie seer maak. Sal dit waardeur as jy my kan help."
Antwoord: Dit gebeur wel dat sekere voedselsoorte soms 'n baba kan irriteer, maar ons soek te veel die fout by ons dieet. Navorsing ondersteun nie die idee dat ons dieet ons baba's winderig maak nie. Sommige baba's is gewoon meer winderig as ander. Dit is as gevolg van die baba se spysverteringstelsel wat nog leer om aan te pas in die nuwe omstandigehede. Tyd sal heel moontlik jou probleem oplos. Enkele ander dinge waarvoor jy kan pasop is:
  • Te veel melk te gou - baba kry nie kans om goed te sluk nie en daar kom te veel lug in saam met die melk
  • Huil - baba huil baie en sluk wind in die proses

Indien dit wel iets is wat jy inneem waarvoor baba sensitief is sal sy ook ander simptome toon soos braking, diaree, 'n neus wat loop of 'n uitslag.

Tanja van Loggerenberg skryf: "Ek het 'n seuntije van 11 maande en borsvoed nog steeds. Die afgelope tyd is my tepels ongelooflik gevoelig en my een bors is heelwat groter as die ander ene omdat die mannetjie net die een kant verkies. Ek laat hom altyd eerste aan die klein bors drink en gee genoeg tyd daarvoor maar my melkproduksie bly sleg in die een bors. Die ander bors is geswel en ek het mastitis in die bors gehad. (Dis al 5 maande terug!) Kan dit wees dat ek 'n abses in die bors het? Daar is nie 'n harde knop nie ... maar tog 'n rooierige merk bo op die bors. Ek's 'n voorstaander van lank borsvoed, maar die ongemak laat my wonder"
Antwoord: Dit gebeur dat 'n baba net een bors verkies. Wanneer jy ophou borsvoed sal die ander bors na normaal terugkeer. Indien die verskil in grootte jou pla kan jy 'n borspomp gebruik om die bors bietjie kleiner te maak. Die rooierige merk en swelling pla wel. Ek sou aanbeveel jy gaan vir 'n ondersoek. Dit kan wees dat die mastitis terug is, maar dit sal die ondersoek bepaal. Mastitis kom normaalweg gedurende die eerste drie maande voor, maar dit is glad nie onmoontlik dat dit nou weer kon opvlam nie. Indien jy dit vantevore gehad het is jou kanse groter as iemand wat dit nog nie gehad het nie om dit weer te kry. Ook omdat hy nie aan die bors drink nie kan bydra. Gedurende die tyd is dit belangrik dat jy baie vloeistof inneem en warm kompresse op die opgeswelde bors plaas van tyd tot tyd.

Louise Coetzee skryf :
"My seun is 11 maande oud. Ek borsvoed hom nog. Hy eet baie goed en kry tussen 3 en 4 melkvoedings 'n dag. Het darem nou sover gekom om die nagvoeding uit te sny. Ek is nou 6 weke swanger. My tepels is baie teer maar tepelroom bring darem bietjie verligting. Is dit wys om te borsvoed terwyl mens swanger is? Watter aanvullings kan ek neem? Ek is doodmoeg, slaap maar min want my seun 'n slegte slaper. My seun weier om ook bottel te drink en weier ook formulemelk! Ek gee ook vir hom tussendeur tee of sap uit 'n glas."
Antwoord:
Dit hang van jou af of jy nog wil borsvoed terwyl jy swanger is. In meeste gevalle kan vroue nog borsvoed tydens swangerskap. Die fetus sal niks kortkom nie. Die melk kan egter nou minder voedingswaarde hê (jou liggaam pas natuurlik aan sodat die fetus die regte voedingstowwe kry), maar dit is nie 'n probleem nie aangesien jy sê hy eet goed. Die beste is om jou dokter uit te vra oor jou spesifieke geval. Hy/sy behoort jou te ondersoek en 'n aanduiding te kry vn jou gesondheid en moontlike komplikasies. Praat ook met jou dokter oor (veilige) aanvullings. Jy behoort na jou dieet te kyk en seker te maak dit is optimaal vir jou en die baba wat jy dra.

Florence May skryf :
"Dit is nou al vier maande wat ek my dogter nie meer borsvoed, maar vandat ek haar nie meer borsvoed voel dit vir my of ek haar nog borsvoed, my borste voel of dit nog melk het en dit is seer."
Antwoord:
Dit is normaal. Net omdat jy opgehou borsvoed het beteken dit nie jou liggaam moet ophou melk produseer nie. Dit verskil van persoon tot persoon, maar dit kan nog etlike maande neem voor jou borste opdroog (jy sê ongelukkig nie presies hoe oud jou dogter was toe jy opgehou het nie). Jy kan die melk uitpomp. Dit sal nie veroorsaak dat jou liggaam nog ekstra melk vervaardig nie. Sit verkoelde koolblare op jou borste tot hulle verwelk en dra 'n stewige sportbra.

Aluchka skryf :
"Ek het a twee weke oue baba dogtertjie, ek borsvoed haar, so twee dae terug het sy begin opgooi, na elke borsvoeding en har maag werk ook aanhoudend, sonner ophou, sy braak ook sonner ophou, ek het nie a mediese fonds nie, wat kan ek doen? Sy het ook baja suur in haar gesiggie, sulke rooi kolletjies?"
Antwoord:
So 'n entjie laer af is vrae en antwoorde oor braking en die baba se magie. Indien jy daarna nog steeds voel jou baba se toestand is abnormaal moet jy dadelik na 'n staatskliniek neem. Jy betaal 'n klein fooi daar en hulle behoort jou in alle geval nie weg te wys nie. Hoop julle kom reg.

Rozanne Hollenbach skryf:
"Ek het ingetrekte nippels en hulle is in die laaste tyd so gevoelig, en hulle "kom uit" kan dit dalk 'n teken van 'n moontlike swangerskap wees? Ek is al 5 maande getroud."
Antwoord:
Nee, dit is nie 'n definitiewe aanduiding van swangerskap nie. Dit is wel nie onmoontlik nie.
Jy sê nie jou ouderdom nie so dit is moeilik om te raai wat die oorsaak kan wees. Het jy dalk onlangs van voorbehoedmiddel verander? Gebruik jy enige voorbehoedmiddel.

Philma van Eeden skryf:
"Ek's tans 6 maande swanger, wil bitter graag borsvoed. Ek het met my eerste kind geborsvoed. Ek was so onseker en het gegaan tot 6 weke wat my kleinding sproei in sy mond gehad het en my aangesteek het. Ek wil graag meer inligting rondom borsvoeding hê soos wanneer, tyd en hoe lank. Almal se tips en raad was nie genoeg nie, want almal het my meer depressed gemaak. Kan 'n mens borsvoed en op dieet gaan en oefening doen? Wanneer kan 'n mens begin met voorbehoedpille drink sonder om weer swanger te raak?"
Antwoord:
Van jou vrae is reeds hieronder beantwoord.
Wat die dieet betref is borsvoeding een van die beste maniere om gewig te verloor. Vir sommige vroue is dit die grootste aansporing om te borsvoed, want dit help jou om jou lyf terug te kry. Wag maar met die ander eetplanne tot jy klaar geborsvoed het.
Oefening kan jy wel doen. Dit nie net jou lyf nie, maar ook jou gemoedstoestand goed doen. Jy moet egter gebalanseerd eet en probeer om nie meer as twee kilogram per maand te verloor nie.
Borsvoed vir 6 weke voor jy weer met voorbehoedpille begin.

Nicolette de Koe skryf:
"Ek het 'n dogterjie van byna 3 jaar. Sy het bors gedrink tot op 2 jaar en ses maande. Ek is nou weer swanger en soms wil sy nog bors hê. Ek weier want my borste is baie seer. Ek is nog baie jonk en my bortse is vol rekmerke. Wat kan ek doen of gebruik. Ek beplan ook om die nuwe baba net 2 maande te laat drink. My een bors is ook kleiner as die ander een. Gee raad asb."
Antwoord:
Sien Speenlinge.

Delené Van Zijl skryf:
"Ek is nou 18 weke swanger en het besluit dat ek graag my seuntjie wil borsvoed, aangesien dit die gesondste en natuurlikste manier van voeding is. Ek wil net graag uitvind wat ek mag en nie mag eet nie. Ek het gehoor dat 'n mens nie sterk gegeurde kosse moet eet nie, maar wat nog?
Ek het 'n dogtertjie van 3 jaar maar ek het haar destyds net vir twee weke geborsvoed want dit was vir my vreeslik seer gewees en sy het nie genoeg melk ingekry nie. Wat staan my te doen om te voorkom dat dit so seer raak en dat ek weet my kind gaan genoeg melk inkry.
Antwoord:
Maak seker jy hou jou tepels droog tussen voedings. Hou ook seep en sjampoe weg van hulle wanneer jy jou was. Indien hulle baie seer raak moet jy 'n salf probeer wat lanolien bevat. Jy kan ook olyfolie aan hulle smeer.
Sien gerus die antwoorde op die res van jou vrae hieronder.

Anoniem skryf:
"My baba is nou so 5 dae oud. Ek borsvoed haar. Elke keer wanneer ek haar gevoed het dan gaan haar magie. Is dit normaal? Die ander vraag is: Terwyl sy drink, dan bring sy van die melk weer op. Hoekom is dit?"
Suster:
Dit is heeltemal normaal. Babas wat geborsvoed word se magie kan een maal per week gaan, of met elke voeding. As jy praat van "opbring", is dit die hele voeding of net 'n klein hoeveelheid? Indien dit 'n klein bietjie is, is dit dalk van 'n wind. Maak seker dat jy tussen die voedery deur wel windjies uitvryf. Tel die hoeveelheid nat doeke wat jou babatjie in 24 uur het. Dit behoort 7 - 10 te wees. Dan weet jy jou babatjie kry genoeg en hoef jy nie verder te bekommer nie.
Sterkte, en vasbyt met die borsvoeding!

Veronica skryf:
"My baba is 1 jaar oud en ek borsvoed hom nog steeds. Ek weet egter nie of hy genoeg melk inneem nie. Hy wil glad nie 'n beker of bottel drink nie. Bonop is hy 'n swak eter. My familie sê as ek hom van die bors afhaal sal hy beter eet. My baba huil verskriklik as ek hom 'n bottel probeer gee. Dit voel vir my nog nie reg om hom af te haal nie. Het u enige raad?"
Suster:
Ek wil jou gelukwens dat jy jou baba so suksesvol borsvoed. Knap gedaan! Op hierdie ouderdom behoort jou seuntjie al drie maaltye per dag te eet, en minder te drink. Jy noem nie hoe gereeld jy hom op die bors sit nie, maar 2 - 3 maal per dag behoort genoeg te wees, aangesien hy vitamienes en minerale inkry deur die vaste kos wat hy inneem. Probeer ook om hom nie voor ete aan die bors te laat drink nie, aangesien dit sy eetlus sal beïnvloed. Om sy eetlus nog te verbeter kan jy ook vir hom vitamienes gee. Daar is stroop of koubare multivitamienes wat jy by enige apteek of selfs groot afdelingswinkels kan koop. Jy hoef hom regtig nie nou af te haal nie. Moenie na ander luister nie. Doen wat jy voel is reg... jy is tog immers sy moeder en weet wat goed is vir albei van julle. Terwyl hy sy mylpale bereik en groei soos verwag is daar geen rede vir kommer nie.

Lee-Ann skryf:
"Ek gaan my baba borsvoed as hy nou in Desember gebore word. Die vraag wat ek wil vra is wat is die kossoorte wat ek moet vermy om te eet en wat mag ek drink en nie drink nie en watter vrugte moet ek vermy?"
Suster:
Ek is baie bly om te sien dat jy gaan borsvoed. Jy weet beslis hoe om jou babatjie 'n voorsprong te gee!
Die beste is om 'n gesonde dieet te volg. Dit is so dat jou babatjie ook geraak word deur wat jy eet en drink. Probeer kossoorte beperk of vermy wat gasvormend is bv. kool, blomkool en ook die wat suur veroorsaak soos tamaties. Dit is nie nodig om dit heeltemal te vermy nie, maar net min daarvan in te neem. Jy moet BAIE vloeistowwe inneem terwyl jy borsvoed. Jy sal vind dat jy in elke geval meer dikwels dors word. Drink water, tee en verminder maar die kaffeininname. Coke is ongelukkig uit, aangesien dit krampies by meeste babas veroorsaak. Drink min gaskoeldrank en beperk ook vrugtesappe, aangesien dit ook suurvormend is. Jy sal weldra agterkom wat jou babatjie omkrap.
Baie sterkte en laat weet hoe dit gaan.

Anoniem skryf:
"Ek wil aan neem maar wil borsvoed om ´n band te vorm met die kind. Wat kan ek neem/doen om te begin lakteer?"
Suster:
Tien uit tien vir jou! Die vorming van borsmelk is a.g.v. hormonale veranderings. Om te lakteer, sal jy hormonale behandeling moet kry. Die beste is om jou dokter te gaan sien aangesien dit net op voorskrif beskikbaar is. Sterkte en laat weet hoe dit gaan!

Joline skryf:
"My baba is 2 weke oud en ek borsvoed, maar dit lyk vir my of my melk opdroog of klaar word. Wat kan ek gebruik om my melk aan te help?"
Suster:
Tien uit tien vir jou dat jy jou babatjie borsvoed.
Eerstens moet jy baie vloeistowwe drink. Jy kan brouersgis tablette drink wat jou melkproduksie sal aanhelp. Wees ook geduldig. Na twee weke verander jou babatjie se behoeftes en sal jy hom/haar meer op die bors moet sit sodat jou borste kan aanpas. Maak ook seker dat jy die baba reg aan die bors sit, aangesien die suig van die baba melkproduksie bevorder. Moet verkieslik nie byvoedings gee nie. Jy kan ook La Leche kontak wat ´n organisasie is wat moeders bystaan en raad gee oor borsvoeding. Baie sterkte en moenie moedeloos raak nie! Jy gee jou babatjie ´n groot voorsprong.

Jen skryf:
"Indien ´n baba baie aan haar ma se bors drink, is dit moontlik dat haar menstruasie tydperk ongereeld is dat dit kan oorslaan? Ek het ´n baba wat gedurende die dag drink en gedurende die nag voel dit asof sy heelnag suig."
Suster:
Ja, dit is iets wat baie voorkom, en dit is waarom mense onder die wanindruk is dat jy nie kan swanger raak as jy borsvoed nie. Dit is NIE waar nie. Tydens borsvoeding is die kans dat jy kan swanger raak dieselfde as voorheen. Dit is ook nie raadsaam om jou baba aan jou bors te laat suig vir lang tye soos jy noem sy gedurende die nag doen nie. Jy sê nie hoe oud jou baba is nie, maar jy moet haar beperk tot 10 minute aan elke bors. Na 2 weke is jou melk gestabiliseer, en is 10 minute meer as genoeg vir haar om te kry wat sy nodig het. Die probleem as jy haar aan die bors laat suig vir lang periodes, is dat sy lui raak en nie goed suig nie, maar nie "dummy" aan die bors. Dit kan die melkproduksie beïnvloed, aangesien melkvervaardiging gestimuleer word as die baba suig.
Moet dus nie bekommerd wees oor jou mentruasie nie, maar sorg dat jy wel op voorbehoeding is, en beperk haar tyd op die bors.


Boererate:

Tepels
Gebruik Fryers balsem wanneer jy verwagtend is vir jou tepels om hulle sterk te maak, sodat die baba jou nie seermaak wanneer die aan jou drink nie.

10.10.11

Niere

Boereraat

Boegoeblare is goeie behandeling vir minder ernstige nierkwale. Berei boegoetee voor deur 'n handvol blare by 500 ml kookwater te voeg. Laat dit vir 15 minute trek. Drink 200 ml tot 400 ml op 'n keer, 3 keer per dag. Boegoe-essens kan ook gebruik word. Meng 5 ml to 10 ml essens met 200 ml water. Drink dit drie keer per dag.

3.10.11

Vergiftiging

Boererate vir iemand wat vergiftig is. Dit is veral kinders wat hierdie middels inkry. Aspirien is byvoorbeeld baie gevaarlik vir kinders onder 12 jaar. Moenie 'n braakmiddel gee, tensy dit so aangedui word nie.

Aspirien
Gee ‘n mengsel van deeglike gebrande en gepoeierde roosterbrood en “melk van Magnesia” in sterk tee. Gee dan ‘n braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water) en volg dit met koeksoda in warm water.

Bytsoda
Gee asyn in water en dan soet- of olyfolie of die wit van ‘n eier.

Insekdoders met D.D.T.
Gee ‘n braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water), volg dit dan met Engelse sout en water en daarna tee of koffie.

Jodiumtinktuur
Gee 'n dik styselpasta. Volg dit met sout in warm water totdat die braking skoon is. Daarna sterk tee of koffie.

Kanferolie
Gee 'n braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water).

Miergifstowwe en arseen preparate
Gee 'n mengsel van gepoeierde en deeglik gebrande roosterbrood – en Melk van magnesia in sterk tee. Gee dan ‘n braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water).

Ontsmettingsmiddel (karbolsuur)
Gee melk of die wit van ‘n eier, dan sterk tee of koffie.

Parafien
Gee 'n braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water). Volg dit met medisinale parafien. Daarna sterk tee of koffie.

Paragora
Gee mengsel van deeglike gebrande en gepoeierde roosterbrood en melk van magnesia in sterk tee. Gee dan Engelse sout in water.

Seepsoda
Gee asyn in water en dan soet- of olyfokie of die wit van eier.

Slaappille
Gee 'n mengsel van deeglike gebrande en gepoeierde roosterbrood en melk van magnesia in sterk tee. Gee dan 'n braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water) gevolg deur Engelse sout in water en sterk tee of koffie.

Strignien
Gee 'n mengsel van gebrande en gepoierde roosterbrood en melk van magnesia in sterk tee, volg op met braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water).

Terpentyn
Gee 'n braakmiddel (bv. 'n mengsel van sout en mosterd in warm water) dan medisinale parafien gevolg met sterk tee of koffie.