Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



24.6.15

Amputasie

As ’n ledemaat of vinger of toon geamputeer word in ’n ongeluk, is dit in meeste gevalle moontlik daarom weer te heg aan die liggaam. Die beseerde persoon en die geamputeerde deel moet egter sodra moontlik by ’n hospitaal kom. Sorg dat daar vooruit gebel word na die hospitaal, sodat daar voorbereidings getref kan word vir spesialis chirurgie.

Jy moet die volgende doen in so ’n geval:

1. Beheer die bloeding deur regstreekse druk, maar wees versigtig om nie die stomp te beskadig nie.
2. Plaas die geamputeerde deel in ’n skoon plastieksak. Indien moontlik, plaas die sak in ’n houer met ys. Die geamputeerde deel moet NIE aan die ys raak NIE.
3. Merk die sak met die persoon se naam en die tyd van die amputasie.
4. Neem die persoon dadelik na ’n hospitaal.

23.6.15

Deur te vas kan jy borskanker bekamp

Deur minder tyd te spandeer aan die etenstafel en oornag te vas help om glukosevlakke te verlaag en die risiko op borskanker te verminder. Dit is die bevinding van ’n studie gepubliseer in die joernaal Cancer Epidemiology, Biomarkers & Prevention.

22.6.15

Stap na afloop van prostaatkanker

Navorsing gepubliseer in die Journal of Cancer Survivorship: Research and Practice beveel aan dat diegene wat prostaatkanker oorleef moet begin stap.

Sowat drie-uur se stap per week verminder die newe-effekte van die behandeling vir prostaatkanker.

Normaalweg sluit die newe-effekte die volgende in: maagprobleme, blaasprobleme, seksuele disfunksie, moegheid, depressie, gewigstoename en probleme om ’n ereksie te handhaaf.

17.6.15

Noodhulp: die behandeling van ernstige uitwendige bloeding

1. Kyk of daar vreemde voorwerpe in die wond is. Oefen druk uit om die bloeding te beheer. Indien die wond baie groot is, druk die rande na mekaar.

2. Laat die persoon lê en indien die wond aan ’n ledemaat is wat nie gebreek is nie, lig en ondersteun daardie ledemaat.

3. Indien die wond aan ’n ledemaat is en regstreekse druk help nie om die bloeding te keer nie, plaas druk op die hoofslagaar wat bloed na daardie ledemaat vervoer.

4. Plaas ’n steriele ongemedikeerde wondbedekking op die wond en maak seker dat dit oor die wond se rande strek. Druk dit stewig vas en bind vas met ’n verband. Knoop die verband styf genoeg om die bloeding te beheer, maar moet nie die sirkulasie afsny nie.

5. Indien daar nog bloeding is, plaas nog wondbedekkings bo-op die oorspronklike wondbedekking.

6. Kry die persoon by ’n hospitaal.

10.6.15

Ernstige uitwendige bloeding

Wonde met ernstige uitwendige bloeding is soms so traumaties dat mens vergeet van wat jy moet doen.

Onthou die belangrikste is altyd asemhaling. Begin onmiddellik met kunsmatige asemhaling indien nodig. Kyk ook dat die lugweë oop is en oop bly. Gee dan aandag aan die wond.

Ernstige bloeding moet sodra moontlik behandel word. Soms kan jy net die bloeding verminder en nie stop nie, maar dit is soms genoeg om ’n lewe te red.

Behalwe ernstige bloedverlies sal die persoon ook die simptome en tekens van skok toon, kla dat hy dors is, duiselig voel, die persoon se vel kan koud en klam voel, die pols word vinniger maar swakker, die persoon is rusteloos en praat dalk aanhoudend en die asemhaling raak vlakker.

Kry die persoon so gou moontlik by ’n hospitaal.

9.6.15

Testikulêre kanker en liggaamsbou-aanvullings

Mans wat aanvullings gebruik vir liggaamsbou moet versigtig wees. Die British Journal of Cancer het onlangs ’n studie publiseer wat daarop wys dat liggaamsbouers wat aanvullings gebruik ’n groter kans het om testikulêre kanker te ontwikkel. Navorsers van Yale en Harvard was betrokke by die studie.

8.6.15

Vitamien D hou dalk prostaatkanker onder beheer

Mans met minder aggressiewe prostaatkanker kan dalk die verspreiding van enige gewasse vertraag of selfs laat verklein deur gereeld vitamien D te neem.

’n Span navorsers aan die Medical University of South Carolina het dit getoets en bevind dat meer as die helfte van hul pasiënte positief reageer op vitamien D. Dit help ook om inflammasie, wat geassosieer word met kanker, te verminder.