Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

26.11.25

Diabetes en swangerskap

Kenners meen al lank dat diabetes in swanger vroue nie altyd opgetel word nie. Nuwe riglyne gepubliseer in die Journal of Clinical Endocrinology and Metabolism beveel aan dat swanger vroue ’n toets vir diabetes ondergaan met hul eerste besoek aan die dokter wanneer hulle besef of vermoed hulle is swanger.

Diabetes kan nadelig wees vir beide die ma en haar fetus. Om beide gesond te hou is dit belangrik dat die toets so gou moontlik gedoen word.

Soveel as een uit elke vyf vroue ontwikkel ’n tipe diabetes wat met swangerskap verband hou. Die gevolg hiervan is normaalweg ’n abnormale groot baba.

Die nuwe riglyne beveel ook aan dat vroue wat oorgewig is probeer om gewig te verloor voor hulle swanger raak.



foto: David Roseborough

25.11.25

Kruie vir kwale: Winderigheid

Meng 5 druppels naeltjie-olie op 'n bietjie suiker saam met 'n paar druppels water. Dit is baie doeltreffend om wind in die maag en ingewande te verlig.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir winde. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Duiwelsdrek word aanbeveel vir winderigheid. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n knipmes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van winderigheid. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas. Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir winderigheid. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Vir winderigheid, diarree, sooibrand en probleme met spysvertering. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word gebruik as medikasie vir winderigheid. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

Kou ’n paar groenment-blare vir winderigheid.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute. Dreineer en drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Neem ’n paar druppels anysolie op suiker wanneer nodig.

♦♦♦

Trek kruienaeltjies in kookwater en drink daarvan.

♦♦♦

Neem ’n bietjie kaneel gemeng met heuning.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Maak vir jou tee met vinkel om te help met winderigheid.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

24.11.25

Kruie vir kwale: Koors

Witolien kan gebruik word om die immuunstelsel te ondersteun en kan help met simptome soos ligte koors.
Kook 'n paar vars, skoon blare om ’n tee te maak. Gooi die tee deur ‘’n siffie, koel af en drink.

♦♦♦

Jy kan ’n afkooksel maak van wildeals blare daardeur vir 10 minute te kook. Dit kan gebruik word vir die behandeling van koors. Kook dit saam met knoffel om dit op die voorkop te smeer as ’n koorswerende middel.

♦♦♦

Die blare van die bontaalwyn word rou gekou of fyngemaak om die jel of sap te onttrek. Hierdie jel kan oraal ingeneem word om koors te verminder. Die jel kan ook op die voorkop gesmeer word om hoofpyn wat deur koors veroorsaak word, te verlig.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om koors te verminder.

♦♦♦

Die knolle van die duiwelsklou kan fyngemaak en gekook word. Die aftreksel word dan twee maal per dag gedrink.

♦♦♦

’n Aftreksel van die boomwortels van die kiepersolboom word gebruik vir die behandeling van koors.
Week die wortels 3 tot 5 dae lank in alkohol of water te week en dan te filtreer. Jy moet omtrent ’n kg plantmateriaal gebruik vir 5 liter water. Om aftreksel te gebruik, vul 'n druppelaar of klein spuit met die vloeistof en drup dit in die mond, net onder die tong. Hou die tinktuur vir 'n paar sekondes in die mond voordat jy dit sluk. Spoel die mond dan deeglik uit met water om van die bitter smaak ontslae te raak. Die presiese dosis wat 'n persoon moet neem, hang af van hul ouderdom, maar dit is die beste om nie meer as 2 klein vol druppelaars te neem nie. Moenie tinkture aan kinders gee nie.

♦♦♦

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater om koors te breek. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Tee van suurlemoengras help om koors te verlig.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir koors.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met koors. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

’n Tee gemaak van kattekruid help vir koors.

♦♦♦

’n Tee gemaak van die blare van die koorsbossie help vir koors.

♦♦♦

Gee koue water om te drink en ’n bietjie komkommersap elke 2 minute.

♦♦♦

Neem ’n mespunt vol kremetart met ’n bietjie water vir koors.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

20.11.25

Menslike Papiloom-virus (MPV)

MPV is ’n virusinfeksie wat servikskanker kan veroorsaak. Meisies kan egter ingeënt word teen die virus voor hulle seksueel aktief raak.

Feite oor servikskanker in Suid-Afrika:
  • Servikskanker is die tweede algemeenste kanker wat by vroue in Suid-Afrika voorkom.
  • MPV is 100% verantwoordelik vir servikskanker – die kwaadaardigste tipes MPV is 16 en 18, en dit is verantwoordelik vir 70% van alle serkvikskankergevalle.
  • Die entstof Ceravix® word teen MPV gebruik. Dit moet twee keer toegedien word met ’n interval van ses maande tussen dosisse.
  • Die entstof is die doeltreffendste wanneer dit op negejarige ouderdom toegedien word.
  • Daar is byna geen of net baie ligte newe-effekte.
  • Die entstof se veiligheid is telkemale bevestig. Vier sterftes is in die navorsingsfase aangemeld. Drie van hierdie sterftes was in die groep wat die placebo-entstof (namaaksel) ontvang het, en die sterftes kon dus nie aan die entstof toegeskryf word nie. Die vierde sterfte het niks te doen gehad met entstofgebruik nie.
  • Die virus word versprei deur vel-op-vel-kontak gedurende seks. Enige vrou wat seksueel verkeer, selfs al het sy net een seksmaat in haar hele lewe, kan MPV opdoen. Dus moet mans en pa’s hul vroue aanmoedig om hul servikale sifting (Papsmeer wat MPV en kanker kan ontdek) te laat doen en hulle moet verseker dat hul dogters teen MPV ingeënt word.
  • Daar is tans geen middels wat MPV kan behandel nie, slegs middels wat dit kan help voorkom.
  • Daar is 52 tipes MPV waarvan sowat 15 gewasvormend is (dit veroorsaak kanker). Twee van hierdie 15 tipes – MPV-tipes 16 en 18 – word in 70% van alle servikskanker gevind.
  • MPV veroorsaak dat kankeragtige selle op die boonste lae (wat die silinderepiteel genoem word) van die serviks ontwikkel. As dit ongemerk gelaat word, sal die selle in kanker ontaard wat na die baarmoeder sal versprei en na enige ander area van die liggaam kan versprei.
  • Wanneer ’n gesonde vrou met MPV besmet word, kan kanker tussen 10 tot 20 neem om te ontwikkel. Dit is hoekom ons vroue aanmoedig om elke vyf jaar vandat hulle 30 jaar oud is ’n servikale sifting (Papsmeer) te hê.
  • ’n Servikale sifting is ontwerp om pre- en kankeragtige selle te diagnoseer sodat behandeling met die pasiënt bespreek kan word.
Onthou, die entstof beskerm net teen die twee algemeenste tipes MPV, tipe 16 en 18, wat verantwoordelik is vir 70% van servikskanker. Daar is ander minder algemene tipes MPV wat servikskanker kan veroorsaak. En onthou dat die entstof nie teen ander seksueel oordraagbare siektes soos MIV, gonorree, sifilis, chlamydia en ander skadelike infeksies verwant aan seksuele aktiwiteit beskerm nie. Dit is dus belangrik om kondome te gebruik en veilige seks te beoefen.

17.11.25

Kruie vir kwale: Keelseer

Witolien kan gebruik word om die immuunstelsel te ondersteun en kan help met simptome soos seer keel.

♦♦♦

Die stoom van gekookte wildeals blare kan ingeasem word om seer keel te verlig.

♦♦♦

Wildeals (Artemisia afra) kan gebruik word om ’n tee te maak deur ’n kwart koppie vars blare vir ongeveer 10 minute in 'n koppie kookwater te week. Die mengsel word dan gesif, en kan met heuning versoet word. Vir ’n seer keel kan jy gorrel met die tee.

♦♦♦

Die blare van die bontaalwyn word rou gekou of fyngemaak om die jel of sap te onttrek. Hierdie jel kan oraal ingeneem word om seer keel te verlig.
Gorrel daarmee vir ’n seer keel.

♦♦♦

Jy kan ’n blaar van die wilde salie kou om te help met ’n seer keel.
Gorrel daarmee vir ’n seer keel.

♦♦♦

Maak tee met gedroogde wilde-jasmyn blomme, met suurlemoensap en heuning. Drink dit vir ’n seer keel.
Gorrel daarmee vir ’n seer keel.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte salie-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gorrel daarmee vir ’n seer keel.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gorrel daarmee vir ’n seer keel.

♦♦♦

Gekookte suurvye kan gebruik word vir ’n seer keel.

♦♦♦

Om 'n beentjie of visgraat wat vassit te laat loskom moet jy met suurlemoensap gorrel.

♦♦♦
Sny ’n pynappel op met skil en al. Gooi dit in ’n kastrol saam met ’n bietjie water en laat kook tot die vrug papsag is.
Gooi die water deur ’n sif en gorrel kort-kort daarmee.

♦♦♦

Druk die sap van ’n lemoen uit, meng dit met warm water en drink vir ’n seer keel.

♦♦♦

As jou keel seer is, sny rou uie in ringe en sit in 'n flennielap en bind om die nek.

♦♦♦

As jou keel seer is, gooi 'n bietjie sout en suurlemoensap in warm water en gorrel.

♦♦♦

Teeboom-olie (tea tree oil) is ’n uitstekende behandeling vir ’n seer keel. Sodra die eerste tekens daar is begin jy deur gereeld ’n druppel olie aan jou keel te smeer en net daarna te gorrel met ’n halwe glas water en 1 druppel olie.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

11.11.25

Kruie vir kwale: Griep

Witolien word tradisioneel in Suid-Afrikaanse kruiemedisyne gebruik om te help met simptome van griep, dikwels in kombinasie met ander plante.

♦♦♦

Wildeals (Artemisia afra) kan gebruik word om ’n tee te maak deur ’n kwart koppie vars blare vir ongeveer 10 minute in 'n koppie kookwater te week. Die mengsel word dan gesif, en kan met heuning versoet word.

♦♦♦

Die blare van die bontaalwyn word rou gekou of fyngemaak om die jel of sap te onttrek. Hierdie jel kan oraal ingeneem word om die algemene ongemak wat met griep geassosieer word, te verlig. Jy kan ook die van die blare kan op die voorkop smeer om hoofpyn wat deur griep veroorsaak word, te verlig.

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om griep te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Daar is navorsing wat bevind het dat die blare van Hotnotskooigoed (Helichrysum melanacme) suksesvol gebruik kan word vir sekere griepvirusse.
Een voorstel is dat jy ’n aftreksel maak deur die blare 3 tot 5 dae lank in alkohol te week en dan te filtreer. Jy moet omtrent ’n kg plantmateriaal gebruik vir 5 liter water.
Om aftreksel te gebruik, vul 'n druppelaar of klein spuit met die vloeistof en drup dit in die mond, net onder die tong. Hou die tinktuur vir 'n paar sekondes in die mond voordat jy dit sluk. Spoel die mond dan deeglik uit met water om van die bitter smaak ontslae te raak. Die presiese dosis wat 'n persoon moet neem, hang af van hul ouderdom, maar dit is die beste om nie meer as 2 klein vol druppelaars te neem nie. Moenie tinkture aan kinders gee nie. (Lall, N., Hussein, A.A., Meyer, J.J.M., 2006. Antiviral and antituberculosis activity of Helichrysum melanacme constituents. Fitoterapia 77, 230–232.)

♦♦♦

Daar is reeds meer as een studie wat bevind het dat rooibos kan help om sekere griepvirusse te beveg.

(Rahmasaria R., Haruyamaa T., Charyasriwonga S., Nishidaa T., Kobayashia N. Antiviral activity of Aspalathus linearis against human influenza virus. Nat. Prod. Commun. 2017;12(4):599–602.)
(Lall N., Hussein A.A., Meyer J.J.M. Antiviral and antituberculosis activity of Helichrysum melanacme constituents. Fitoterapia. 2006;77:230–232. doi: 10.1016/j.fitote.2006.01.007. )

♦♦♦

Vir griep week Rastafariërs een wildeknoffel plant se bol en blare in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Die kalwerbossie kan suksesvol gebruik word vir die behandeling van sekere griepvirusse en die koronavirus-stam.

’n Aftreksel word gemaak deur die plant se wortels 3 tot 5 dae lank in alkohol of water te week en dan te filtreer.

Om aftreksel te gebruik, vul 'n druppelaar of klein spuit met die vloeistof en drup dit in die mond, net onder die tong. Hou die tinktuur vir 'n paar sekondes in die mond voordat jy dit sluk. Spoel die mond dan deeglik uit met water om van die bitter smaak ontslae te raak. Die presiese dosis wat 'n persoon moet neem, hang af van hul ouderdom, maar dit is die beste om nie meer as 2 klein vol druppelaars te neem nie. Moenie tinkture aan kinders gee nie.
(Michaelis M., Doerr H.W., Cinatl J. Investigation of the influence of EPs 7630, a herbal drug preparation from Pelargonium sidoides, on replication of a broad panel of respiratory viruses. Phytomedicine. 2011;18:384)

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik die bol van wildeknoffel vir die behandeling van griep.
Een plant se bol word fyngedruk en in melk gekook vir 10 minute. Klein bietjies van die aftreksel word dan in die oggend en aand gedrink.

(Cock, IE & Van Vuuren, SF. The traditional use of southern African medicinal plants in the treatment of viral respiratory diseases: A review of the ethnobotany and scientific evaluations. Journal of Ethnopharmacology. 2020)

♦♦♦

Sommige mense maak ’n eksterne wasmiddel met kankerbossie vir griep. Hiervoor gebruik jy 4 hande vol blare van die kankerbossie, ’n fyngedrukte bol wildeknoffel en 4 hande vol kruidjie-roer-my-nie se blare. Alles saam word in kookwater getrek vir 30 minute. Die lyf word gewas terwyl die mengsel nog warm is en die pasiënt moet ook 125 mℓ van die mengsel drink. Die 125 mℓ moet egter afgetap word na 15 minute se trek. As dit te sterk is, kan dit die persoon laat opgooi. Hoe bitterder ’n kankerbossie-mengsel is, hoe sterker is dit.


♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir griep.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir griep

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir griep

♦♦♦

Drink die sap van een suurlemoen saam met warm water, 'n teelepel heuning en twee aspirientablette vir griep.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

10.11.25

Wat is cholesterol?

Cholesterol word deur die liggaam vervaardig uit diereprodukte om jou gesondheid te handhaaf. 75% word deur jou lewer gemaak en 25% kom uit jou kos. Dit verteer vet en vervaardig vitamiene D en hormone.

Cholesterol kan nie in die bloed oplos nie, en daarom word dit na ons selle geneem deur lipoproteïene. Wanneer jy vet eet skakel jou lewer dit om in in 'n tipe lipoproteïene, laedigtheid- lipoproteïene, die sogenaamde "slegte" cholesterol (LDL). Te veel LDL in die bloed laat dit opbou in die slagare. Dit veroorsaak probleme soos aterosklerose. Indien jy geneties geneig is om baie LDL te hê , is jou kanse beter om reeds vroeg in jou lewe verstopte are te kry.

Hoëdigtheid- lipoproteïene (HDL), die sogenaamde "goeie" cholesterol, neem cholesterol uit die are na die lewer, waar dit uitgeskei word.