Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

2.10.25

Kruie vir kwale: Oorpyn

Jy kan ’n afkooksel maak van wildeals blare deur dit vir 10 minute te kook. Dit kan gebruik word om jou ore te was.

♦♦♦

Gebruik vars wildeals blare vir oorpyn, met ’n opgerolde blaar in die oor.

♦♦♦

Hou ’n bedekte warmwatersak teen die aangetaste kant van die gesig.

♦♦♦

Gebruik 'n spuit of iets soortgelyks om 2 tot 4 druppels warm olyfolie in die oor van ’n klein kindjie, 2 jaar en ouer, of 5 tot 10 druppels in ’n volwassene se oor.

♦♦♦

Drup een druppel warm amandelolie en een druppel knoffelolie in die oor. Plaas ’n pluisie watte in die oor.

♦♦♦

Vir oorpyn, skil ’n groot ui en sny dit in die helfte. Maak ’n helfte versigtig warm in ’n mikrogolfoond en draai dit toe in ’n lappie. Hou dit met die plat kant teen, of so naby as moontlik, aan jou oor. Pasop vir brand. Die aroma van die ui het antibakteriële eienskappe en die hitte help vir die pyn.

♦♦♦

Drup ’n paar druppels uiesap in die oor.

♦♦♦

Drup ’n paar druppels knoffelsap in die oor.

♦♦♦

Bind ’n teelepel peper toe in ’n lappie. Week die lappie in naeltjieolie en druk dit dan in die oor.

♦♦♦

Braai 'n heel knoffelhuisie in klapperolie. Laat die olie afkoel en gooi dan in oor.

♦♦♦

Druk 'n stukkie tabak in jou oor vir oorpyn.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

23.9.25

Kruie vir kwale: Winderigheid

Kajapoetolie kan gebruik word vir winde. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Duiwelsdrek word aanbeveel vir winderigheid. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n knipmes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van winderigheid. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas. Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir winderigheid. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Vir winderigheid, diarree, sooibrand en probleme met spysvertering. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word gebruik as medikasie vir winderigheid. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

Kou ’n paar groenment-blare vir winderigheid.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute. Dreineer en drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Neem ’n paar druppels anysolie op suiker wanneer nodig.

♦♦♦

Trek kruienaeltjies in kookwater en drink daarvan.

♦♦♦

Neem ’n bietjie kaneel gemeng met heuning.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Maak vir jou tee met vinkel om te help met winderigheid.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

22.9.25

Kruie vir kwale: Wonde

Jy kan ’n afkooksel maak van wildeals blare daardeur vir 10 minute te kook. Dit kan uitwendig aangewend word vir die behandeling van letsels.

♦♦♦

Sommige mense maak ’n eksterne wasmiddel met kankerbossie vir wonde. Hiervoor gebruik jy 4 hande vol blare van die kankerbossie, ’n fyngedrukte bol wildeknoffel en 4 hande vol kruidjie-roer-my-nie se blare. Alles saam word in kookwater getrek vir 30 minute. Die lyf word gewas terwyl die mengsel nog warm is en die pasiënt moet ook 125 mℓ van die mengsel drink. Die 125 mℓ moet egter afgetap word na 15 minute se trek. As dit te sterk is, kan dit die persoon laat opgooi. Hoe bitterder ’n kankerbossie-mengsel is, hoe sterker is dit.

♦♦♦

Die kruisbessie is ’n belangrike plant in tradisionele medisyne en word vir ’n verskeidenheid doeleindes gebruik. Gekneusde bas wat in warm water geweek is, word gebruik om wonde te behandel.

♦♦♦

Plaas 20 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gebruik dit vir die behandeling van wonde.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met wonde. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

Gousblomblare kan gebruik word om die inflammasie te behandel en enige wonde te help herstel. Week ’n hand vol blomblare in ’n koppie warm water vir 15 minute. Laat dit dan afkoel en plaas dit in die yskas vir 30 minute. Week dan ’n waslap in die aftreksel en hou dit op die geaffekteerde plek vir 5 minute. Doen dit ’n paar keer elke dag.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie bespoedig die herstelproses as jy dit aan wonde smeer.
Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

17.9.25

Kruie vir kwale: Maagpyn

Kajapoetolie kan gebruik word vir maagpyn. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Duiwelsdrek kan gebruik word vir maagpyn. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n mes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van maagpyn. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas.
Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om maagkrampe te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir maagpyn. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir maagprobleme.

♦♦♦

Vir maagprobleme. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg. Die tee kan gedrink word vir maagprobleme.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word al jare in die Wes-Kaap gebruik as medikasie vir maagpyn. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

’n Sterk aftreksel gemaak van die bitterbos kan eerste ding in die oggend gedrink word as ’n vinnig werkende lakseermiddel. Let asseblief daarop dat dit oormatige sweet en slaaploosheid kan veroorsaak.

♦♦♦

Die gereelde gebruik van rooibostee kan verligting bied vir maagpyn.

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir maagkrampe.

♦♦♦

Boegoebrandewyn is tot in die twintigste eeu nog vir maagkwale benut en daar is vandag nog boegoe vir dit voorskryf. Een teelepel, twee maal per dag.
Hierdie medikasie word gemaak deur ’n paar jong takkies boegoe by een bottel brandewyn te voeg. Maak toe en laat staan vir ’n week, terwyl jy dit een keer per dag goed skud.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Kapokbos kan gebruik word vir die behandeling hiervan. Maak ’n tee van die blare.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Die Hollandse setlaars het geglo dat die vrugte van die koekemakranka voordelig is vir jou maag. Hulle het die vrugte by brandewyn gevoeg en dit gebruik as medisyne.

Maak vir jou koekemakrankabrandewyn en drink dit as jou maag nie lekker voel nie.

(foto: Robert Jacob Gordon 1743-1795 The Man and his Travels at the Cape deur Patrick Cullinan)

♦♦♦

Laat jong takkies van ’n renosterbos trek in ’n bottel brandewyn. Drink soggens en saans sowat 30 mℓ hiervan. Dit help vir verskeie maagkwale, soos byvoorbeeld maagsere.

♦♦♦

Vars basielkruid help om maagkrampe te verminder.

♦♦♦

Maak tee met vinkel. Dit help vir maagpyn.

♦♦♦

Stamp die blare van die wilde als bos fyn en sit op 'n lap met asyn en plaas die lap op die maag van 'n baba met maagpyn.

♦♦♦

Trek die blare van die wilde als bos soos tee en drink.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

16.9.25

Kruie vir kwale: Herpes

Jy kan ’n afkooksel maak van wildeals blare deur dit vir 10 minute te kook. Dit kan uitwendig aangewend word vir die behandeling van herpes. Jy kan dit ook gebruik om liggaamsdele in te bad.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

11.9.25

Kruie vir kwale: Geswelde kliere

Jy kan teeboom-olie (tea tree oil) probeer. Smeer gereeld ’n druppel aan die area.

♦♦♦

Jy kan ’n afkooksel maak van wildeals blare daardeur vir 10 minute te kook. Dit kan uitwendig aangewend word vir die behandeling van klierontsteking.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

10.9.25

Blouoog

Die beste behandeling is om onmiddellik nadat jy die blouoog gekry het ’n katoenlap met ys daarin op die oog te hou vir so 10 minute. Jy moet dit gereeld doen die eerste 48 uur.

Boereraat:

Maak ’n mengsel van 1 teelepel Engelse sout en 1 koppie warm water en gebruik ’n stukkie watte om die oog te was met mengsel. Week dan skoon watte in die water en gaan lê en sit dit op die oog.

♦♦♦

Baie mense sweer ook by pynappel en papaja vir ’n blou-oog. Wend die moes van die vrugte aan rondom die wonde. Jy kan ook die sap van die vrugte drink of die vrugte eet. Enige vrugte met vitamien C kan geëet word om te help met die herstel.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids