Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

8.4.25

Vaginale infeksies

Infeksies word gewoonlik veroorsaak deur besmetlike stowwe wat via die vagina in die inwendige organe beland. Jy kan begin jeuk weens te warm of stywe klere, of weens uitdroging van te veel was met seep. Wees veral versigtig om te veel met geparfumeerde seep te was.

Vaginitis is ´n tipe infeksie wat veroorsaak word deur ´n geelgroen of rooierige afskeiding wat onaangenaam ruik. Dit gaan gewoonlik gepaard met ´n jeukirigheid en brandpyn.

Candida kan voorkom sonder om ´n infeksie te veroorsaak, maar as dit baie vermeerder kan dit ontsteking veroorsaak wat gepaard gaan met ´n witterige afskeiding.

Vee altyd van voor na agter af. Drink ook bosbessiesap. Dit maak die urine suur, wat die groei van bakterieë teenwerk. Vir Candida kan jy ´n tampon in jogurt doop en dan in die vagina plaas. Eet ook so gereeld as moontlik bioaktiewe jogurt. Vermy die oormatige inname van alkohol en eet minder suiker. Daar is verskillende swamteenmiddels beskikbaar om die infeksie te behandel. Dit behoort na sowat twee weke te werk.

Besoek dadelik jou dokter indien jy vermoed jy het Vaginitis.


Boereraat:

Belinda van Wijk: Los ongeveer 2 opgehoopte eetlepels koeksoda op in 'n warm bad water en sit 'n ruk, 20 min, daarin (bad dan soos gewoonlik). Dit help vir vaginale infeksie (jeukerigheid en branderigheid).

♦♦♦

Belinda van Wijk: Smeer voor slaaptyd redelik baie "gewone joghurt" (ongegeur) aan die seer gedeelte (sit net 'n pantyliner in jou broekie want dit mors baie), gaan slaap dan so en was dit môre oggend weer af. Herhaal totdat die toestand beter is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.4.25

Kruie vir kwale: Ekseem

Vanweë boegoe antiseptiese en antibakteriële eienskappe kan boegoe-olie gebruik word om ekseem te behandel.

♦♦♦

Sommige mense maak ’n eksterne wasmiddel met kankerbossie vir ekseem. Hiervoor gebruik jy 4 hande vol blare van die kankerbossie, ’n fyngedrukte bol wildeknoffel en 4 hande vol kruidjie-roer-my-nie se blare. Alles saam word in kookwater getrek vir 30 minute. Die lyf word gewas terwyl die mengsel nog warm is en die pasiënt moet ook 125 mℓ van die mengsel drink. Die 125 mℓ moet egter afgetap word na 15 minute se trek. As dit te sterk is, kan dit die persoon laat opgooi. Hoe bitterder ’n kankerbossie-mengsel is, hoe sterker is dit.

♦♦♦

Teeboom-olie (tea tree oil) help vir ekseem. Gooi 'n paar druppels in jou badwater.

♦♦♦

Laventel-olie help vir ekseem. Gooi 'n paar druppels in jou badwater.

♦♦♦

Rooibostee is ’n tradisionele teenvoeter vir ekseem. Maak ’n sterk pot rooibostee en voeg dit by jou badwater. Dit is ook geskik vir baba’s.

Jy kan die tee ook laat afkoel en dit op jou vel spat of jou vel daarmee afspoel. Of gebruik sommer n rooibos teesakkie en spons jou vel daarmee.

♦♦♦

Gousblom-tee help om ekseem en ander allergiese reaksies te verlig.

♦♦♦

Maak ’n tee met brandnetel en drink dit om jou allergiese reaksie te verlig.

♦♦♦

Meng 30 mℓ kremetart, 30 mℓ blomswael en 30 mℓ milk of magnesia met ’n potjie ongegeurde room (aquas cream). Smeer soggens en saans ’n bietjie aan die uitslag op jou vel. Dit is ook geskik vir kinders.

♦♦♦

Gooi 1 liter kookwater oor 3 koppies blare, stele en blomme van wildedagga.
Laat dit trek en afkoel.
Gooi dit by jou badwater vir ekseem.

♦♦♦

Voeg 'n paar takkies van ´n wilde daggaplant by jou badwater om ekseem te verlig.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

2.4.25

Kruie vir kwale: Boererate vir pitswere / bloedvinte

Die blare van die varkblom kan gebruik word om pitswere te behandel. Was die blare in warm water om dit te ontsmet en warm te maak en verbind die seerplek daarmee oornag. Herhaal soos nodig.

♦♦♦

Die knolle van die duiwelsklou kan fyngemaak en gekook word. Die aftreksel word dan twee maal per dag gedrink.

♦♦♦

In die Willowmore-omgewing word die plakkie se blare gekook tot sag en dan fyngemaak. Die afgekoelde pasta word dan aan pitswere gesweer.

♦♦♦

Die hele bitterbos word gebruik, insluitende die wortels. Gebruik 8 g varsgekapte bitterbos per koppie kookwater. Laat trek vir 3 minute. Gebruik dit vir ’n pitswere. Jy kan die mengsel aan die vel smeer in plaas van drink. Dit kan tot 8 keer per dag gedoen word.

♦♦♦

As jy pitswere of iets soortgelyks gereeld kry, moet jy gereeld probeer borrie drink. Dit is ’n natuurlike anti-inflammatoriese middel ... en eet jou rosyntjies.

♦♦♦

Maak tabakblare warm en en bedek die pitsweer daarmee. Vervang dit met warm blare wanneer hulle koud word.

♦♦♦

Gooi 1 liter kookwater oor 3 koppies blare, stele en blomme van wildedagga.
Laat dit trek en afkoel.
Gebruik dit op pitswere.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

1.4.25

Kruie vir kwale: Hoë bloeddruk

Sluit die goeie ou aartappel in my jou dieet om te help om jou bloeddruk af te bring.

♦♦♦

Boegoe kan help met die verlaging van bloeddruk.

♦♦♦

Die knolle van die duiwelsklou kan fyngemaak en gekook word. Die aftreksel word dan twee maal per dag gedrink.

♦♦♦

Grondboontjiebotter kan help om lae bloeddruk te verlig weens die inhoud van gesonde vette, proteïene en minerale soos magnesium en kalium, wat bydra tot die regulering van bloeddrukvlakke. Studies het getoon dat gereelde verbruik grondboontjie kan help om bloeddruk te verlaag, selfs by individue met hoë bloeddruk.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik die bol van wildeknoffel vir die behandeling van hoë bloeddruk.
Een plant se bol word fyngedruk en in melk gekook vir 10 minute. Klein bietjies van die aftreksel word dan in die oggend en aand gedrink.

(Cock, IE & Van Vuuren, SF. The traditional use of southern African medicinal plants in the treatment of viral respiratory diseases: A review of the ethnobotany and scientific evaluations. Journal of Ethnopharmacology. 2020)

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit steeds vir hoë bloeddruk.

♦♦♦

Die Khoi het Europeërs meer as 200 jaar gelede geleer van die medisinale waarde van die muishondbos. Vandag word dit ook gebruik vir hoë bloeddruk.
’n Kwart koppie vars blare word geweek in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Dit moet daagliks geneem word.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en drink vir hoë bloeddruk.

♦♦♦

Maak tee met pietersielie vir hulp met bloeddruk.

♦♦♦

Maak tee met komkommerkruid om jou bloedsomloop te verbeter.

♦♦♦

Grasuie kan help om hoë bloeddruk te verlaag. Dit bevat ook vitamien A, C en foeliensuur, kalium, kalsium en yster. Eet gereeld hiervan.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir hoë bloeddruk.

♦♦♦

Kap 5 g bitterbos-blare fyn en laat 5 minute trek in ’n koppie kookwater. Drink drie maal per dag vir hoë bloeddruk.

♦♦♦

’n Paar blare wilde roosmaryn, kankerbossie, laventel en boegoe saamgetrek as tee vir 5 minute. Dit help vir hoë bloeddruk, stres en moegheid.

♦♦♦

Gebruik 3 g bloublomsalie, 3 g kankerbossie en 3 g wildedagga om ’n tee mee te maak.
Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir hoë bloeddruk.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

31.3.25

Kruie vir kwale: Sweer

Wanneer jy in ’n doring trap en die punt breek in jou voet af kan jy ’n skyf aartappel op die plek vasmaak. Dit sal inflammasie en swering teenwerk en kan selfs die doring nader aan die oppervlak bring.

♦♦♦

Die blare van die varkblom kan gebruik word om sere en pitswere te behandel. Was die blare in warm water om dit te ontsmet en warm te maak en verbind die seerplek daarmee oornag. Herhaal soos nodig.

♦♦♦

Plaas 20 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute. Gebruik dit vir die behandeling van swere.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met swere. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

Maak 3 knoffelhuisies fyn saam met ’n knippie sout. Sit op ’n lappie en sit op die sweer.

♦♦♦

Bak 1 middelmatige ui in die kole so heel. Haal die buitenste skille af en sit die binneste so warm moontlik op die sweer om dit oop te trek.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

27.3.25

Inflammasie

Inflammasie is die reaksie van lewende weefsel op besmetting of beserings. Dit word gewoonlik gekenmerk daardeur dat die area warm voel, pyn, rooi lyk en of opswel. Dit vorm soms etter as dit ontsteek.

Wat medikasie sonder voorskrif betref kan jy iets koop wat ibuprofen bevat.

Boereraat:

'n Goeie natuurlike hulpmiddel is pynappelsap. Dit bevat die proteolitiese ensiem bromelien. Dit kom in heelwat tropiese vrugte voor en is 'n goeie teenvoeter vir inflammasie.

♦♦♦

Spyker balsem, waarvan die hoofbestanddeel terpentynolie is, kan gebruik word vir inflammasie.

26.3.25

Hoe om borsmelk te stop

Elke ma is uniek. Daar is baie redes wees waarom iemand verkies om op te hou met borsvoeding. As jy kan, raadpleeg altyd ’n dokter voordat jy probeer om jou borsmelk op te droog.

Jy kan nie enige spesifieke tyd koppel aan die opdroog van jou melk nie. Dit hang af van verskeie faktore. Dit sluit in jou ouderdom, die ouderdom van jou baba en jou gemiddelde melkvoorraad. Borsmelk kan dae, weke of maande neem om op te droog.

Indien jou baba nog borsvoed, word dit aanbeveel dat die kindjie eers geleidelik gespeen word.

Om jou melk te verminder hou gewoon op borsvoed. Wanneer jy ophou borsvoed, sal jou liggaam geleidelik ophou om melk te produseer. Die gebrek aan stimulasie vertel jou liggaam om op te hou lakteer. Om hierdie metode te gebruik:
o Druk af en toe melk uit om enige ophoping van melk te verlig.
o Gebruik yspakkies om inflammasie te beperk.
o Gebruik kruie. Navorsing dui daarop dat daar ’n paar kruie is wat kan help om jou melkvoorraad te verminder.

Kruie vir laktasie-onderdrukking
• Salie-tee, gemaak met 1 tot 3 gram gedroogde salieblare.
• Smeer jasmynblomme aan jou borste.
• Eet kuisboom-bessies. Die boom word ook genoem Abraham se balsem of monnikpeper.
• Eet pietersielie.

Geboortebeperking help ook om jou melk te verminder. Deur estrogeen as deel van ’n gekombineerde geboortebeperkingspil te gebruik, help jy om laktasie te stop. Die meeste moeders sien ’n daling in melkproduksie nadat hulle een pil per dag vir een week geneem het. Dit moet slegs geneem word nadat jy ’n dokter/kliniek geraadpleeg het.

Wat ander medikasie betref moet jy jou dokter/kliniek vra of jy iets mag gebruik wat pseudoëfedrien bevat, byvoorbeeld Sudafed. Navorsing toon dat Sudafed ’n merkbare afname in melkproduksie veroorsaak. Jy moet op die uitkyk wees vir simptome van angs en slapeloosheid terwyl jy Sudafed neem.

Koolblare en jou borste
Gebruik koolblare op jou borste. Dit bied verligting aan jou borste.

Hoe om koolblare op jou borste te gebruik
1. Was die blare van groenkool en verkoel in die yskas.
2. Plaas die blare oor jou borste – onder jou bra.
3. Verander die blare elke paar uur.

Spyker balsem, waarvan die hoofbestanddeel terpentynolie is, kan gebruik word vir seer tepels.

br>
(foto: Roch Lach)