Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

19.3.25

Polisistiese niere

Hermien van Rensburg skryf :
"My dogter ly aan polisistiese niere & lewer. Sy is 3 jr terug gediagnoseer. Is daar 'n dieet of iets wat sy kan doen om die pynlike lewer en niere te verlig. Sy het akute rugpyn en haar lewer is redelik opgeswel. Die siekte is vreemd en daar is min mense wat blykbaar aan dit ly. Asb enige iets wat haar kan help. Sy is maar 33jr oud en het 2 klein kindertjies. die dr. sê daar is niks wat hy vir haar kan doen nie en sy moet haar normale lewe voortsit."

Antwoord :
Polisistiese niere is 'n oorerflike siekte waar die baba gebore word met veelvuldige siste op die niere en 'n swakker nierfunksie. Polisistiese niere gaan ook gewoonlik hand aan hand met siste op die niere, maar laasgenoemde kom meer algemeen voor.

Haar grootste risiko is hoë bloeddruk en enige dieet wat laag is in vet en slegs die nodige proteïene bevat word aanbeveel.

Haar dieet moet ook min kalium en so min as moontlik sout bevat om die druk op die niere te verlig.

Sy moet ook so veel as moontlik probeer ontslae raak van enige spanning in haar lewe en gereeld oefening doen.

Dit is nie die maklikste toestand om mee saam te leef nie. Bo alles het sy die deurlopende ondersteuning van haar vriende en familie nodig.

18.3.25

Kruie vir kwale: Diabetes

Boegoe kan bydra tot die handhawing van gesonde bloedsuikervlakke.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit steeds vir diabetes.

♦♦♦

Rooiwortel (Bulbine natalensis) is 'n vetplant wat in dele van Suid-Afrika groei. Die wortel, blaar en stam word as medisyne gebruik. Mense gebruik dit vir diabetes, maar daar is geen goeie wetenskaplike bewyse om hierdie gebruike te ondersteun nie.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir diabetes.

♦♦♦

Kap 5 g bitterbos-blare fyn en laat 5 minute trek in ’n koppie kookwater. Drink drie maal per dag vir diabetes.

♦♦♦

So min soos 1 gram borrie saam met ontbyt help om die geheue te verbeter van persone wat in die vroeë fase van die ontwikkeling van diabetes is.

♦♦♦

Gebruik 3 g bloublomsalie, 3 g kankerbossie en 3 g wildedagga om ’n tee mee te maak.
Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir diabetes.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

13.3.25

Pitswere / Bloedvinte / Pitsweer / Bloedvint

Pitswere word ook bloedvinte genoem. Dit ontstaan in 'n haarfolikel en vorm 'n rooi knop. Namate die infeksie versprei raak die knop vol geel etter. Die knop is gewoonlik baie gevoelig.

'n Pitsweer (bloedvint) word gewoonlik veroorsaak deur die bakterie stafilokokkus. Indien daar 'n hoë konsentrasie van bakterieë is kom die pitswere in groepe voor. Indien dit versprei na 'n aangrensende haarfolikel/s praat ons van 'n karbonkel. 'n Karbonkel is 'n pitsweer met meer as een pit. Dit kan tot 5 cm groot wees.

Pitswere kom meesal voor op klam areas van die liggaam. Agter die nek, in die lieste en onder die arms is die meer algemene areas.

Persone met 'n lae weerstand teen bakteriële infeksie, diegene met swak persoonlike higiëne, die wat oorgewig is en persone wat baie sweet loop die gevaar om pitswere te ontwikkel.

Moet nooit 'n pitsweer druk nie. Dit kan die infeksie laat versprei. Was om die pitsweer met antiseptiese seep om te verhoed dat dit na ander haarfolikels versprei; of probeer dit behandel met antiseptiese salf. Die beste is om die pitsweer weer vanself te laat verdwyn of om dit deur 'n dokter te laat oopsny.

Jy kan die ongemak van 'n pitsweer verlig met 'n klam, warm lappie.

WAARSKUWING: Vicks VapoRub is gewild onder sommige mense as behnadeling vir pitswere. Dit is egter nie 'n aanbevole of goedgekeurde behandeling nie, en die vervaardiger waarsku daarteen om dit op wonde of beskadigde vel te gebruik.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

12.3.25

Kruie vir kwale: Oorpyn

Gebruik vars wildeals blare vir oorpyn, met ’n opgerolde blaar in die oor.

♦♦♦

Hou ’n bedekte warmwatersak teen die aangetaste kant van die gesig.

♦♦♦

Gebruik 'n spuit of iets soortgelyks om 2 tot 4 druppels warm olyfolie in die oor van ’n klein kindjie, 2 jaar en ouer, of 5 tot 10 druppels in ’n volwassene se oor.

♦♦♦

Drup een druppel warm amandelolie en een druppel knoffelolie in die oor. Plaas ’n pluisie watte in die oor.

♦♦♦

Vir oorpyn, skil ’n groot ui en sny dit in die helfte. Maak ’n helfte versigtig warm in ’n mikrogolfoond en draai dit toe in ’n lappie. Hou dit met die plat kant teen, of so naby as moontlik, aan jou oor. Pasop vir brand. Die aroma van die ui het antibakteriële eienskappe en die hitte help vir die pyn.

♦♦♦

Drup ’n paar druppels uiesap in die oor.

♦♦♦

Drup ’n paar druppels knoffelsap in die oor.

♦♦♦

Bind ’n teelepel peper toe in ’n lappie. Week die lappie in naeltjieolie en druk dit dan in die oor.

♦♦♦

Braai 'n heel knoffelhuisie in klapperolie. Laat die olie afkoel en gooi dan in oor.

♦♦♦

Druk 'n stukkie tabak in jou oor vir oorpyn.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

11.3.25

Keel


´n Seer Keel is gewoonlik ´n simptoom van verkoue, griep of ander virusinfeksies. Enige iets wat die sensitiewe slymvliese agter in die keel irriteer, soos rook, dampe, baie warm kos en drank en skaafplekke kan ook ´n oorsaak wees. Akute seer keel klaar gewoonlik binne ´n paar dae of ´n paar weke op en die toestand is selde ernstig of gevaarlik. Dit kan egter dui op ander kwale soos masels en waterpokkies.

Rus, warm vloeistowwe, pynstillers en versigtige gorrel sal verligting bied.

Soek mediese hulp in die geval van ´n chroniese seer keel of indien ´n koors ontwikkel.

Boereraat:

Om 'n beentjie of visgraat wat vassit te laat loskom kan jy ’n stukkie droë brood eet met korsie en al.

♦♦♦

Om 'n beentjie of visgraat wat vassit te laat loskom moet jy met skoon asyn gorrel.

♦♦♦

Gorrel met 'n mengsel van water en (baie) koeksoda om 'n graatjie of beentjie in die keel los te maak.

♦♦♦

Wanneer ’n beentjie of visgraat het wat in die keel vassit kan jy ’n rou eier klop tot die wit en geel net gemeng is en sluk dit dan in. Dit sal die graatjie of been saamneem maag toe.

♦♦♦

Wanneer daar ’n visgraat of beentjie in jou keel vassit, kan jy ’n klein stukkie watte met botter of margarien smeer en dit afsluk.

♦♦♦

Neem 5 ml heuning in die mond en laat stadig in die keel afloop. Dit verlig die rou, seer gevoel in die keel.

♦♦♦

Neem ’n halwe glas louwarm water en gooi 2 eetlepels asyn en 2 ml sout by. Roer goed en gorrel dan daarmee.

♦♦♦

Meng ’n kwart koppie asyn met ’n kwart koppie heuning. Neem 1 eetlepel gorrel daarmee ses keer per dag.

♦♦♦

Gorrel met twee Dispentablette wat in water opgelos is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

10.3.25

Blaasinfeksie / Urienweginfeksie

Infeksies word dikwels veroorsaak deur besmetlike stowwe wat in die inwendige organe beland. Moegheid, koue en bloedarmoede kan jou weerstand teen infeksies verswak.

Raadpleeg jou dokter dadelik indien jy vermoed dat jy ´n blaasinfeksie het.

Boereraat:

Drink 'n bietjie koeksoda in gekookte water.

♦♦♦


Sien ook Kruie vir kwale: Blaasinfeksie

6.3.25

Kruie vir kwale: Insekbyt

Die blare van die varkblom kan gebruik word om die ongerief van insekbyte te verlig.

♦♦♦

Vryf die vars bokboegoe-blare op jou komberse en kussings om insekte, bv., muskiete, weg te hou in die nag.

♦♦♦

Plaas 20 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gebruik dit vir die behandeling van die bytplek van bosluise en ander insekte.

♦♦♦

Die jellieagtige inhoud van die medisynebossie kan op insekbyte gesmeer word.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met insekbyte. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

Vryf rou, fyngekerfde wit uie aan ’n vlooibyt.

♦♦♦

Smeer suurlemoensap aan ’n perdeby- of bysteek.

♦♦♦

Gooi 1 liter kookwater oor 3 koppies blare, stele en blomme van wildedagga.
Laat dit trek en afkoel.
Gebruik dit op insekbyte.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids