Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

3.10.24

Kruie vir kwale: Boererate vir rumatiek

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater vir rumatiek. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir rumatiek.

♦♦♦

Die Khoi het Europeërs meer as 200 jaar gelede geleer van die medisinale waarde van die muishondbos. Vandag word dit ook gebruik vir rumatiek.
’n Kwart koppie vars blare word geweek in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Dit moet daagliks geneem word.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

’n Eetlepel boegoebrandewyn twee maal per dag.

♦♦♦

Maak tee van kruidjie-roer-my-nie en gooi by jou badwater.

♦♦♦

Voeg die vrugte van die koekemakranka by brandewyn, laat trek en gebruik as medisyne.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

1.10.24

Asma

Asma is 'n siekte gekenmerk deur aamborstigheid, voortdurende gehoes, asemhalingsprobleme en ´n beklemmende gevoel in die bors. Meer ernstige simptome kan insluit ´n verhoogde polsslag, bleekheid of blouheid van die lippe en vingerpunte.

Die simptome is die oorsaak van duisende klein lugweë wat vernou in die bors, en hul binnewande swel. Dit belemmer lugvloei. Asmalyers se lugweë oorreageer en hierdie vernouings kan gevaarlik raak. Dit kan lewensgevaarlik wees weens die tekort aan suurstof, uitputting en ooreising.

Die toestand word gewoonlik oorgeërf. Tipiese simptome van die siekte by kinders is aamborstigheid en 'n gehoes, veral snags.

Asma kom ook voor in reaksie tot infeksie of allergieë.

Gereelde behandeling is nodig om asma te beheer. Slegs jou dokter behoort te bepaal, met behulp van toetse, of jy aan asma ly.


Boererate:

Toebors by kinders
Smeer hardevet met gemaalde naeltjies op lappe en sit op die bors en tussen die skouers.

26.9.24

Hare


Wees versigtig vir onnatuurlike produkte. Allergiese reaksies teenoor chemikalieë in hierdie tipe produkte kom dikwels voor. Wees ook versigtig vir hardhandige behandeling en moenie die hare kam terwyl dit nog nat is nie. Masseer die kopvel om bloedsirkulasie te verbeter en sodoende haarverlies te beperk.

Boereraat:

Vir sterker hare, meng ´n eier saam met jou sjampoe en los op jou hare vir 15 minute.

♦♦♦

Stres is beslis 'n bydraende faktor vir haarverlies. Pas jou lewenstyl aan.
Ander vorme van haarverlies is oorerflik en ander soorte weens 'n siektetoestand of behandeling vir 'n siektetoestand. Swak eetgewoontes wat 'n tekort aan yster veroorsaak het ook haarverlies tot gevolg.

♦♦♦

Vir die haarlyn wat al pad vat agterkop toe of vir diegene wat sukkel met ´n paar yl haartjies laat weet Martie dat jy so 2 teelepels sout in jou sjampoe moet gooi.

♦♦♦

´n Eenvoudige metode om ´n dik bos hare dunner te laat voel:
Meng ´n halwe koppie wit asyn met ´n halwe koppie suurlemoensap en smeer op hare. Draai ´n warm handdoek om jou hare en los op vir 15 minute. Gebruik ´n bottel verslane bier om jou hare mee af te spoel.
Dit ruik dalk nie te lekker nie, maar die reuk gaan uiteindelik weg.

♦♦♦

Wend olyfolie aan droë hare aan en draai dan jou hare met ´n warm gestoomde handdoek toe. Los aan vir ´n halfuur en was uit met jou normale sjampoe.

♦♦♦

Gel vir jou hare kos nie min nie. ´n Vinnige tuisgemaakte gel bestaan uit 2 teelepels sout en ´n kwart koppie amandelolie. Gooi dit in ´n sproeibottel en gebruik. Dit is ook baie gesonder vir jou hare as die gekoopte alternatief.

♦♦♦

Asyn kan die natuurlike glans van jou hare na vore bring. Meng een koppie asyn en twee koppies water. Wend aan jou hare nadat dit gewas is en laat op vir 5 minute voor jy dit afspoel. Gebruik wit asyn indien jy blond is en ´n balsemagtige asyn indien jou hare swart of bruin is. Rooikoppe moet asyn gebruik wat gemaak is van framboos.

♦♦♦

Spoel ´n koppie vodka deur jou grys hare, nadat jy dit gewas het en met ´n handdoek afgedroog het. Moet nie uitspoel nie.

♦♦♦

Neem ´n kwart koppie asyn en die sap van een suurlemoen. Gebruik soos ´n opknapper. Dit is minder olierig as gewone opknappers en werk baie goed.

♦♦♦

Bier verskaf volume en glans aan jou hare. Meng 1 koppie bier met 3 koppies water en gooi oor jou hare nadat jy dit gewas het. Kam deur en spoel af na 3 minute.

♦♦♦

Soms het jou hare ´n blaaskans nodig van al die geblaas en gewas. Hier is ´n paar idees oor hoe om jou hare weer op te kikker:
1) Meng twee eetlepels mayonaisse met 1/2 teelepel heuning. Wend dit aan droeë hare en sit in die son daarmee vir so 20 minute. Spoel af met mineraalwater. Was soos gewoonlik agterna.
2) Wend 1/2 koppie geklitste room aan droë hare. Los aan vir 30 minute voor jy dit soos normaalweg was.
3) Maak jou hare nat met olyfolie. Bind toe met ´n handdoek en los aan vir 30 minute voor jy dit soos normaalweg was.

♦♦♦

Indien jy jou hare tydelik wil bruin kleur of jou natuulike bruin na vore te bring kan jy van die volgende spotgoedkoop metode probeer:
Voeg twee eetlepels kitskoffie by jou hoeveelheid opknapper wat jy normaalweg sal gebruik. Los die mengsel op jou hare vir sowat 2 minute en spoel af.

♦♦♦

Meng gelyke dele olyfolie (die regte soort) en heuning saam. Wend aan jou hare deur by die punte te begin. Bind jou hare toe met ´n plastieksak en draai ´n warm handdoek daarom. Los aan vir 30 minute voor jy dit uitwas met jou gewone sjampoe. Gebruik een keer per week vir die beste resultate.

♦♦♦

Meng 10 druppels suurlemoensap met jou sjampoe en sorg dat jy altyd jou hare in lou water was.

♦♦♦

Piesangs is vol proteïne en natuurlike vette wat gebruik kan word om gekoekte hare weer te ontknoop. Maak ´n oorryp piesang fyn en smeer dit aan jou klam hare. Bedek jou hare nou met plastiek en draai ´n handdoek daarom. Los dit so vir 15 minute en spoel af.

♦♦♦

Verwyder kougom uit hare deur 'n teelepel grondboontjiebotter in die kougom te vryf. Dit sal gou loskom.

♦♦♦

Kamme sal gou skoon kom as dit 'n rukkie geweek word in warm water waarin 2 teelepels koeksoda opgelos is.

♦♦♦

Die sap van 1 suurlemoen geklits met die geel van 1 eier is 'n goeie haarwasmiddel vir ligte hare.

♦♦♦

Skep natuurlike ligstrepe in blonde hare: vul 'n sproeibottel met twee derde koppie Vodka en een derde koppie suurlemoensap. Sproei aan klam hare, gaan uit en spoel eers die aand af.

25.9.24

Griep

Griep is baie meer ernstig as net ´n verkoue. Dit is die infeksie van jou lugweë. Die virusse takel ook die liggaam se weerstand. Dit bring mee dat sekondêre infeksies soos longontsteking, brongitis en oorinfeksie voorkom. Die virus versprei met behulp van druppels wat uitgenies, uitgehoes of deur aanraking oorgedra word. Die hele liggaam reageer gewoonlik op die infeksie met simptome soos hoofpyn, moegheid, swakheid, seerkeel, spierpyn, loopneus, koors en droë hoes. Dit kan tot ´n paar weke voortduur.

´n Griepinenting is jou beste verdediging teen die virus. Dit is amper ´n moet vir ouer persone, hartlyers en diegene met longkwale om elke jaar vir ´n inenting te gaan.

Gaan sien onmiddellik jou dokter indien jy die virus onder lede het!

23.9.24

Hoë bloeddruk / Hipertensie

Hoë bloeddruk laat jou are verhard en put die hart uit. Dit is gewoonlik as gevolg van 'n ongesonde leefstyl, maar kan ook oorgeërf word.

Jy weet nie altyd dat jy hoë bloeddruk het nie, want die simptome is nie altyd ooglopend nie.

Die belangrikste dinge om te doen is:
  • Oefen gereeld (belangrikste)
  • Verloor gewig
  • Eet minder vet
  • Eet minder sout
  • Hou op met rook
  • Verminder stres
  • Gebruik alkohol oordeelkundig
Hoë bloeddruk (of hipertensie) kan ook met medikasie behandel word. Gaan spreek jou dokter.

BOERERAAT
Eet 'n piesang om jou bloeddruk in bedwang te hou.

17.9.24

Wat veroorsaak skarlakenkoors

Skarlakenkoors is 'n aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur sekere vorms van die streptokokkus-bakterie. Die kiem kom die liggaam binne deur die keel en word versprei deur klein druppels wat in die lug vrygelaat word wanneer die besmette persoon praat, hoes of nies.

Is skarlakenkoors aansteeklik?
Skarlakenkoors is hoogs aansteeklik. Mense wat antibiotika neem vir skarlakenkoors is nie meer aansteeklik na 24 uur nie, terwyl mense wat nie antibiotika neem nie vir tot drie weke lank aansteeklik is.

Wat is die simptome van skarlakenkoors?
'n Rooi keel is die eerste simptoom van die siekte. Daarna volg koors, hewige hoofpyne, braking, 'n versnelde hartklop en die tong is oortrek met 'n wit aanpaksel. Onder hierdie aanpaksel is die tong vol rooi kolle. Daarna volg 'n rooierige uitslag wat in die nek begin. Dit word verder gevolg deur afskilfering van die vel waar die uitslag voorgekom het. Die siekte kom hoofsaaklik voor in jong kinders en kan tot 3 weke aanhou. Dit kan ernstige hart, nier en gewrigsprobleme tot gevolg hê.

16.9.24

Wat help vir kouekoors / koue koors?

Wat is kouekoors?

Kouekoors word gewoonlik veroorsaak wanneer ’n siekte die liggaam se temperatuur beïnvloed. Jou liggaam voel dat die temperatuur moet hoër wees en dit laat jou voel asof jy koud kry.
Dit word gewoonlik meegebring deur virale of bakteriële infeksies. Bakteriële infeksies word met antibiotika behandel, virale infeksies moet hul gang gaan.

Wat help vir kouekoors?

Daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om jou simptome te verlig en beter te voel:
Bly gehidreer: Drink baie vloeistowwe, soos water, kruietee of warm sop, om te help om jou liggaam gehidreer te hou.
Rus: Kry baie rus om jou liggaam te help om die infeksie te beveg en energie te bespaar.
Oor-die-toonbank medikasie: Oor-die-toonbank pynstillers soos ibuprofen kan help om koors en ander simptome te verlig.
Stoom inaseming: As jy stoom uit ’n bak warm water of ’n warm stort inasem, kan dit help om benoudheid te verlig en asemhaling te vergemaklik.
Gorrel: Gorrel met warm soutwater. Dit kan help om 'n seer keel te verlig.
Bly warm: Hou jouself warm en gemaklik deur warm klere te dra en jouself met komberse toe te maak.
Vermy die verspreiding van die infeksie: Bedek jou mond en neus wanneer jy hoes of nies, en was jou hande gereeld om te verhoed dat die virus na ander versprei word.

As die volwassene se koors onder 38ºC bly hoef jy nie bekommerd te wees nie. Kinders kan egter koorsstuipe kry by hierdie temperatuur.
Kry mediese hulp indien die koors gepaard gaan met ernstige bewing, rukbewegings, klappertand of indien dit wissel tussen kouekoors en sweetaanvalle.



(Foto: Alex Greene)