Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

26.8.24

A-pokke

A-pokke is ’n aansteeklike virussiekte wat by mense en sommige diere voorkom. Die simptome sluit in koors, geswelde limfknope en ’n uitslag wat blase vorm en dan korsies oor die blase. Die tyd vanaf blootstelling tot aanvang van simptome wissel van 5 tot 21 dae. Die simptome duur tipies 2 tot 4 weke.

Die siekte word veroorsaak deur a-pokkevirus. Dit kan versprei deur besmette diere, liggaamsvloeistowwe, besmette voorwerpe of noue kontak met ’n besmette persoon.

Dit is aansteeklik vanaf die begin van simptome tot wanneer al die rowe afgeval het.

Die pokke-entstof is tans die beste beskerming teen infeksie. Antivirale middels word ook gebruik om dit te bekamp.

Die siekte is veral gevaarlik vir kinders, swanger vroue of mense met swak immuunstelsels. Histories het die risiko van dood gewissel van 0% tot 11%. Meer onlangs het die sterftesyfer gestyg van ongeveer 3 tot 6%. Die meeste pasiënte herstel.

Die siekte het waarskynlik toegeneem na die staking van roetine-pokke-inentings.

Volgens die departement van gesondheid is die siekte tans onder beheer in Suid-Afrika. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die huidige uitbraak van a-pokke amptelik as ’n openbare noodtoestand geklassifiseer.

Tot op hede (18 Augustus 2024) het 24 mense in Suid-Afrika die siekte sedert die uitbraak opgedoen, waarvan 3 oorlede is.

22.8.24

Impotensie

Impotensie (ook genoem erektiele disfunksie) is die onvermoë van 'n man om 'n ereksie te kry. Oorsake kan fisies of psigies wees.

Die algemeenste fisiese oorsake is verminderde bloedvloei en senuweeskade, wat die gevolg kan wees van diabetes, niersiektes, chroniese alkoholisme, tabakverslawing, veelvuldige sklerose, aterosklerose, vaskulêre siektes en neurologiese siektes.

Ongeveer vyf persent van 40-jarige mans en tussen 15 en 25 persent van 65-jarige mans ly een of ander tyd hieraan. Hoewel die voorkoms met ouderdom toeneem, is dit nie 'n onvermydelike deel van veroudering nie.

Tussen 35 en 50 persent van mans met diabetes ervaar ook impotensie.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



(foto: Andrew Neel)

21.8.24

Jig

Dit is ´n gewrigsontsteking wat voorkom wanneer daar te veel uriensuur in die bloed is. Hewige pyn is gewoonlik die eerste simptoom. Dan raak die aangetaste gewrigte ontsteek, rooi, geswel en seer - dit lyk of daar infeksie in is. Die gewrigte voel warm en is uiters gevoelig. Jig kom in die meeste gevalle in die groottoon voor. Hiernaas kan die enkel, knieë en polsgewrigte ook aangetas word.

Sny rooivleis, alkohol en tamaties uit jou dieet en maak seker 60% van jou dieet bestaan uit groen groentes. Drink baie water om jou niere te help om oortollige uriensuur uit te skei.

Spreek jou dokter vir ´n diagnose.

19.8.24

Raad vir mangels wat seer is

Ontsteking van die mangels vind plaas as gevolg van bakterieë of 'n virus. Die simptome sluit in 'n seer keel, hoofpyn, koors, stemverlies en geswelde kliere in die nek en kaak. Dit kom veral by kinders voor.

Kry die kindjie dadelik by die dokter wanneer hulle sukkel om asem te haal, nie kan sluk nie of onbeheerbaar kwyl. In so 'n geval sal die dokter ook oorweeg om die mangels te verwyder.

Wanneer die ontsteking deur 'n virus veroorsaak is werk antibiotika nie sommer nie. Indien die dokter antibiotika voorskryf vir 'n bakteriële infeksie MOET julle die kursus voltooi al voel die kindjie beter na twee of drie dae, anders is die mangelontsteking sommer gou weer terug.

Dit kan 'n week of twee neem om te herstel. 'n Virusinfeksie moet jy maar sy gang laat gaan. Laat die kind rus, gee warm vloeistowwe soos rooibostee en sop en laat hulle gorrel met warm soutwater. Raad vir 'n seer keel is 'n teelepel heuning oplos in 'n glas warm water en plaas 'n paar druppels suurlemoensap by. (Geen heuning vir kinders jonger as 1 jaar.) Jy kan iets soos Tylenol gebruik vir die verligting van koors en pyn.

Indien jy dit wil voorkom moet jy kinders leer om gereeld hul hande te was. Leer hulle 'n liedjie om te sing, terwyl hulle hande was, en maak seker hulle was oral op die hand. Hande moet drooggemaak word met 'n skoon handdoek wat net vir hande is en die kraan moet ook met die handdoek toegedraai word.

12.8.24

Liddorings

’n Liddoring is ’n pynlike, harde verdikking van die vel aan jou voet. Dit kom veral voor op die tone.

Maak seker dat jou voete gereeld lug kry en droog is. Dra oop skoene om die probleem te help oplos. Maak ook seker jou skoene is nie te klein nie.

Boereraat:

Draai ’n lappie om die toon wat die liddoring het. Gooi nou asyn - so warm as moontlik op die lappie. Doen dit elke aand vir 8 dae. Die liddoring behoort na 8 dae heeltemal los te wees.

♦♦♦

Krap die liddoring goed en smeer dan Balsem Sulphuris aan. Laat dit droog word. Trek nou kouse en skoene aan. Herhaal soggens en saans tot die liddoring uitgedroog het.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

7.8.24

Wintershande en -voete / Pernio

Wintershande en -voete (pernio) is die brandende, jeukende geswel van hande en / of voete as gevolg van blootstelling aan koue.

Die koue veroorsaak dat die bloedtoevoer ingekort word.

Oefening help om die bloedsomloop te verbeter.

Boereraat:
Spyker balsem, waarvan die hoofbestanddeel terpentynolie is, kan gebruik word vir wintershande en-voete.

♦♦♦

’n Mengsel wat jy kan voorberei vir wintershande, -voete, gebarste hakskene, en selfs vir ekseem:
1 kg room met ’n waterbasis
50 mℓ gliserien,
1 klein potjie wit Vaseline (reukloos)
100g Johnson's babapoeier.

Meng alles saam en smeer mildelik aan die aangetaste dele.

♦♦♦

Meng helfte kerswas en helfte paraffien en smeer soggens en saans aan. Dit help ook vir gebarste voete in warm weer.

♦♦♦

Hou jou voete in warm water waarin paraffien is.

♦♦♦

Vryf geweerolie aan jou voete.

♦♦♦

Sit in die son en vryf paraffien aan jou voete.

♦♦♦

Smeer terpentyn aan wintervoete.

♦♦♦

Maak 1 eetlepel kalk aan met 1 bottel kookwater. Laat staan vir 24 uur voor dit afgegooi word. Gooi ´n eetlepel kalkwater oor elke bord kos wat jy eet.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



Soekgids aanwysers: winters voete, wintersvoete

6.8.24

Kruie vir kwale: Naarheid

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir naarheid. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Die blare en wortels van die kaneelbol word gebruik om ’n tee te maak vir die behandeling van naarheid.
Sny ’n stuk wortel van 1 cm skoon en 2 teelepels gekapte blare. Laat dit trek in ’n koppie kookwater vir 5 minute en gooi deur ’n sif voor jy dit drink.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word gebruik as medikasie vir naarheid. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

Een teelepel boegoebrandewyn, twee maal per dag.
Lees hier hoe om boegoebrandewyn te maak.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Drink ’n teelepel suurlemoensap met ’n bietjie warm water.

♦♦♦

Gooi ’n paar druppels vanilla by water of appelsap en drink.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Eet rou gemmer vir naarheid.

♦♦♦

Vars basielkruid help teen naarheid.



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids