Ontsteking van die mangels vind plaas as gevolg van bakterieë of 'n virus. Die simptome sluit in 'n seer keel, hoofpyn, koors, stemverlies en geswelde kliere in die nek en kaak. Dit kom veral by kinders voor.
Kry die kindjie dadelik by die dokter wanneer hulle sukkel om asem te haal, nie kan sluk nie of onbeheerbaar kwyl. In so 'n geval sal die dokter ook oorweeg om die mangels te verwyder.
Wanneer die ontsteking deur 'n virus veroorsaak is werk antibiotika nie sommer nie. Indien die dokter antibiotika voorskryf vir 'n bakteriële infeksie MOET julle die kursus voltooi al voel die kindjie beter na twee of drie dae, anders is die mangelontsteking sommer gou weer terug.
Dit kan 'n week of twee neem om te herstel. 'n Virusinfeksie moet jy maar sy gang laat gaan. Laat die kind rus, gee warm vloeistowwe soos rooibostee en sop en laat hulle gorrel met warm soutwater. Raad vir 'n seer keel is 'n teelepel heuning oplos in 'n glas warm water en plaas 'n paar druppels suurlemoensap by. (Geen heuning vir kinders jonger as 1 jaar.) Jy kan iets soos Tylenol gebruik vir die verligting van koors en pyn.
Indien jy dit wil voorkom moet jy kinders leer om gereeld hul hande te was. Leer hulle 'n liedjie om te sing, terwyl hulle hande was, en maak seker hulle was oral op die hand. Hande moet drooggemaak word met 'n skoon handdoek wat net vir hande is en die kraan moet ook met die handdoek toegedraai word.
No comments :
Post a Comment