Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

4.4.24

Lae bloeddruk / Hipotensie

Hipotensie is lae bloeddruk. Indien jou bloeddruk te laag daal kan jy flou word. Dit word nie deur almal beskou as 'n siektetoestand, eerder 'n tydelike probleem.

Simptome sluit in sweterigheid, duiseligheid, swakheid en bewussynsverlies.

Sien Noodhulp vir die behandeling van bewussynsverlies.

Om lae bloeddruk teen te werk moet jy sterk en rou wortelsap drink. Eet oesters, soutvis, avokado, piesang en amandels.

Kruie wat jy kan gebruik sluit in roosmaryn, duisendblad, laventel, voëlent en vinkel.

28.3.24

Tendonitis

Tendonitis is 'n vorm van inflammasie. Die tendon (Achilles-tendon) aan die agterkant van die enkel word gereeld beseer.

Dit is veral persone wat gereeld opdraand of afdraand hardloop wat die besering opdoen. Die kan ook veroorsaak word deur nuwe hardloopskoene. Dit is raadsaam om altyd eers nuwe hardloopskoene vir 'n paar stadige oefenlopies te neem voor jy ernstig daarmee begin hardloop.

Soms is daar swelling weens die inflammasie, maar nie altyd nie. Jy kan ook soms die tendon hoor kraak.

Die tendons by die polse word ook gereeld beseer.

Behandel tendonitis met ys wat 'n paar keer per dag vir 20 minute op die plek geplaas word. Verdere behandeling is eenvoudig om die tendon te rus.

Wanneer daar nie meer pyn is nie kan jy met ligte oefening begin.

27.3.24

Die keuse tussen ’n histerektomie en laparoskopie

Die keuse tussen ’n histerektomie en laparoskopie gaan joune wees. Die dokter sal net 'n histerektomie voorstel indien die uiters noodsaaklik is.

'n Histerektomie is die verwydering van die baarmoeder. Vir 'n jonger vrou sou mens nie graag die baarmoeder wil verwyder nie, tensy dit absoluut noodsaaklik is. Menstruasie sal ophou indien die baarmoeder verwyder is.

'n Laparoskopie is 'n operasie wat gebruik word vir endometriose of die verwydering van ovariale siste. Met die operasie word 'n klein snytjie gemaak waardeur 'n klein prosedure uitgevoer word. Indien 'n groot sist of tumor verwyder moet word kan 'n groter sny gemaak word wat hulle dan 'n laparotomie noem.

Mens vertrou die dokter sal jou bystaan met die regte besluit na die uitslag van jou toetse.

25.3.24

Kruie vir Kwale: Boererate vir aambeie

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir aambeie.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Jy kan aambeie daarmee afspoel om verligting te gee.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir aambeie.
Jy kan aambeie daarmee afspoel om verligting te gee.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Jy kan aambeie daarmee afspoel om verligting te gee.

♦♦♦

Die hele bitterbos word gebruik, insluitende die wortels. Gebruik 8 g varsgekapte bitterbos per koppie kookwater. Laat trek vir 3 minute. Gebruik dit vir ’n abses. Jy kan die mengsel aan die vel smeer in plaas van drink. Dit kan tot 8 keer per dag gedoen word. Dit kan ook aangesmeer word vir aambeie.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met aambeie.

♦♦♦

Maak ’n sterk tee van tiemie en drink elke oggend en aand so ’n kelkie vol. Verder moet jy gereeld groente eet en vir ten minste ’n halfuur stap elke dag.

♦♦♦

Kook die sappige wortel van die slangvelplant in water of melk en drink elke dag ´n koppie vol.

♦♦♦

Meng 1 eetlepel Engelse sout, 1 eetlepel rabarber, 1 teelepel salpeter en 2 bottels water. Kook alles saam tot daar een bottel oor is. Neem 3-maal op ´n dag ´n eetlepel van die mengsel.

♦♦♦

Eet baie rosyntjies, dit is goed vir iemand wat aan aambeie ly.

♦♦♦

Smeer samboksalf gereeld binne en buite tot pyn verdwyn. Indien hardlywig, kan dit weer probleme gee. Jy kan selfs samboksalf eet om te help.

♦♦♦

Verhoed aambeie deur nooit hardlywig te wees nie. Gooi 1 eetlepel lynsaad in 'n glas water. Laat staan oornag. Gooi dan die water af en strooi die saad oor jou ontbytpap. Met gereelde gebruik sal jy nie weet van hardlywigheid nie.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

21.3.24

Simptome van 'n gewas op die eierstokke

Met kankergewasse op die eierstokke is die simptome gewoonlik as gevolg van iets anders wat deur die kanker geraak word. Enige twee of meer van die volgende simptome, maak nie saak wat nie, wat twee tot drie weke aanhou moet deur 'n dokter ondersoek word:

Swelling van die laer abdominale gedeelte, pyn in die laer abdominale gedeelte, naarheid, winde, verandering of probleme met jou toiletgewoontes, koors, moegheid, pyn gedurende seks, rugpyn en jy kan moeiliker asemhaal.

LET WEL dat hierdie simptome, en kombinasies daarvan, ook 'n aanduiding van ander probleme kan wees.

In sommige gevalle kan die simptome ook veroorsaak word deur goedaardige ovariale siste.

20.3.24

Terminilogie vir moeders


Soms word daar mediese terme deur dokters en verpleegsters gebruik wat moeders sonder ´n mediese agtergrond nie ken nie. Hier volg ´n paar sodat jy volgende keer beter kan verstaan en selfs saam praat!


Uterus = Baarmoeder
Serviks = Baarmoedermond
Kontraksies = kraampyne
Ontsluiting = Oopgaan van die baarmoedermond sodat die baba gebore kan word
Plasenta = Nageboorte
PV = Vaginale ondersoek
Bekkenskatting = ´n Ondersoek gedoen om die grootte van die pelvis se uitgang te bepaal gedoen deur die vagina
Posterior posisie = Die baba se ruggie wys na agter na die moeder se rug, en die gesiggie en ledemate na voor
Voorliggende deel = Die deel van die baba wat eerste gebore gaan word, gewoonlik die koppie, maar soms die boudjies
Stuit posisie = Die boudjies is onder en gaan eerste gebore word
Edeem = Swelling a.g.v. vloeistof wat teruggehou word, gewoonlik van die voete en enkels, maar kan in sekere gevalle ook oor die magie en in die gesig voorkom

(foto Bies)

18.3.24

Kruie vir kwale: Lewersiektes

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee drink vir lewersiektes.

♦♦♦


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids