Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

29.11.23

Wat is Tourettes?

Ek het al heelwat vrae gekry oor Tourettes-sindroom. Hier volg dan 'n samevatting van wat Tourettes is en behandeling daarvan.

Volgens die nuutste navorsing is die aanvang gewoonlik voor 18 jarige ouderdom. Die oorsaak van Tourettes is nie bekend nie, alhoewel dit lyk asof dit verbind kan word met die gene wat chemiese stowwe van een breinsel na die volgende oordra. Dit is veral Dopamien wat geaffekteer word, en is dan ooraktief in die brein. Dopamien is verantwoordelik vir beweging, en met ooraktiwiteit, kom daar dan die bekende "tic", of onwillekeurige beweging voor. 'n Streptokokkale infeksie kan ook Tourettes veroorsaak in sommige gevalle a.g.v. 'n immuunsisteem se reaksie op die strepinfeksie.

Die diagnose van Tourettes word gemaak op grond van die volgende:
· Veelvuldige motoriese "tics"
· Ten minste een "tic" wat met spraak verband hou
· Bg. Is teenwoordig vir meer as 'n jaar
· Bg. Het begin voor 18 jarige ouderdom
· Familiegeskiedenis van Tourettes
Daar is geen skanderings of bloedtoetse wat gedoen kan word om die diagnose te bevestig nie.

Kinders en volwassenes met Tourettes kan ook ander probleme ondervind soos Aandag Afleibaarheid sindroom, leerprobleme, rebelering t.o.v. gesag, hiperaktiwiteit, swak slaappatrone en ook 'n groter geneigdheid tot obsessief- kompulsiewe gedrag, bv. Tel van voorwerpe, herhaling van aksies, ens.

Meeste lyers ondervind 'n verbetering van die simptome na hul tienerjare. Min het ook medikasie nodig. Medikasie is gerig op die herstel van die chemiese wanbalans in die brein. Die word ook net voorgeskryf as die "tics" en gedrag van die lyer sy kwaliteit van lewe negatief raak.

Algemene medikasie is dan ook:
· Anti- psigotiese medikasie: dit het heelwat newe- effekte en anti- parkinson medikasie kan daarvoor help.
· Bloeddrukmedikasie genaamd clonidine wat "tics" help beheer
· Anti- depressante beheer obssesief- kompulsiewe gedrag
· Stimulante wat gebruik word om ander probleme te hanteer waarvan die bekendste methylphenidate of Ritalin is.

Tourettes is nie geneeslik nie, maar kan beheer word sodat die lyer 'n vol en kwaliteit lewe kan lei. Die belangrikste is die ondersteuning van familie en vriende. As gevolg van die eienaardigheid van die "tics" en die soms bissare optrede van die lyers, vind verwerping deur die samelewing dikwels plaas. Psigoterapie, arbeidsterapie en gedragsterapie kan lyers help om die alledaagse lewe suksesvol te hanteer.

skrywer: Suster Barbara Pelser



(foto: Andrea Piacquadio)

23.11.23

Borste - borskanker

'n Vrou se borste is vir haar baie belangrik. Dit is baie belangrik om enige verandering aan jou borste met 'n dokter te bespreek. Negentig persent van hierdie veranderinge is onskadelik, maar jy moet onthou dat een uit 12 vroue in ontwikkelde lande borskanker ontwikkel.

21.11.23

Vette

Vette is nie net 'n onding nie. Daar is goeie vette wat jou liggaam nodig het. Vitamiene A, D, E en K en belangrike vetsure kom in vette voor. Vette kan as versadig of onversadig geklassifiseer word. Onversadigde vette word in poli- en mono-onversadigde vette verdeel.

Versadigde vette
Dit kom voor in dierevette soos die van beeste, skape, varke en hoenders, suiwel en sekere plantprodukte soos palm- en klapperolie. 'n Hoë inname van versadigde vette verhoog die risiko van hartsiektes en kanker. Dit verhoog slegte cholesterol.

Mono-onversadigde vette
Dit kom voor in olyfolie, lynsaad, kanola-olie, avokadopeer, grondbone, pekanneute en amandels. Dit help om slegte cholesterol te verlaag sonder om goeie cholesterol te affekteer.

Poli-onversadigde vette
Dit kom voor in plantolies soos sonneblomolie asook in visolie. Dit is beter as versadigde vette en verlaag slegte cholesterol, maar dit kan ook goeie cholesterol nadelig beïnvloed.

Omega 3-vetsure
Jy vind dit in vetterige vis, sojabone en okkerneute. Dit speel 'n belangrike rol in breinontwikkeling. Dit help ook met inflammasie, die voorkoming van bloedklonte, hartvatsiektes en artritis.

Omega 6-vetsure
Dit kom voor in sonneblomolie, neute en sade. met genoeg hiervan bly jou selmembrane mooi gesond.



(oorspronklike foto: Laura Tancredi)

20.11.23

Brandwonde

Brandwonde word veroorsaak deur hitte, warm vloeistowwe, wrywing en chemikalieë. Die grootste gevaar verbonde aan brandwonde is vogverlies wat lei tot skoktoestande en infeksie.

Oppervlakkige brandwonde: Week die aangetaste deel in koue water vir 10-15 minute of totdat pyn verminder.

Dieper brandwonde: Simptome sluit in: blaasvorming, pyn en swelling. Ernstige son-brand moet dieselfde behandel word as oppervlakkige brandwonde.

Voldiepte brandwonde: Kry onmiddellike mediese hulp.

Ingeval van enige diep brandwond of indien die wond groter as jou handpalm is moet jy dadelik by ´n dokter uitkom.

Boereraat:
’n Kalamyn-oplossing gee verligting aan sonbrand.

♦♦♦

Smeer dadelik asyn aan 'n brandwond. Dit neem die brand weg en keer blase.

16.11.23

Spatare

Spatare ontstaan wanneer die aarkleppe onklaar raak wat die terugvloei van bloed na die hart keer. Bloed wat afwaarts vloei dam op in die are met die gevolg dat die are hul struktuur verloor. Die probleem met aarkleppe is gewoonlik oorgeërf. Dit kan ook ontstaan weens swangerskap of oorgewig.

Spatare kom veral in die bene voor.

Algemene simptome is moeë bene, pyn en geswolle enkels. Dit kan ook gebeur dat die bene 'n bruinerige blou kleur kry as gevolg van 'n tekort aan suurstof.

Ondersteunende rekkouse word aanbeveel vir persone met spatare. Rekkouse los egter nie die probleem van pyn of onooglike bene op nie. Verloor gewig indien jy oorgewig is. Die raad aan almal met spatare is om baie te stap.

Chirurgiese behandeling sluit in stroping van die aar. Die is 'n klein operasie met uitstekende resultate.

15.11.23

Winderigheid – behandeling en oorsake

Wind word normaalweg veroorsaak deur die fermentasie van onverteerde kos, wanneer jou ingewande sukkel met die afbreek van sekere kosse, jy lug gesluk het, hardlywigheid of indien daar ’n probleem is in jou ingewande met die vertering van voedsel.

Voedsel wat probleme kan veroorsaak is brokkoli, ertjies, bone, lensies, kool, uie, blomkool, piesangs, rosyne, volgraan brood, slaai en gaskoeldrank. Vermy ook vetterige kos.

Winde en naarheid kan ook veroorsaak word a.g.v. die pankreas wat nie genoeg ensieme afskei om kos in jou maag te verteer nie.

Behandeling
Eet stadig en wanneer jy ontspanne is.
Oefening is ook belangrik. Probeer ook om ’n entjie te gaan stap na ete.
Gaan spreek jou dokter indien jy alles probeer, maar sonder enige verligting. Diarree, hardlywigheid, braking, gewigsverlies, pyn en aanhoudende sooibrand is gewoonlik ook 'n teken dat jy by ’n dokter moet uitkom.

14.11.23

Kruie vir kwale: Nagsweet

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel geelblomsalie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
Drink dit vir nagsweet.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids