Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

10.10.23

Tuberkulose / TB

Tuberkulose kom nog heelwat voor in Suid-Afrika en veral in die Wes-Kaap. Daar is 'n toenemende weerstand van TB-bakterieë teen antibiotika. Mense met 'n goeie gesondheid kry nie sommer die siekte nie, maar die res van die bevolking is taamlik blootgestel.

Kinders kan by geboorte 'n immunisering teen TB ontvang. Soms veroorsaak dit 'n abses by die plek waar die inspuiting toegedien is.

Die simptome van TB sluit in 'n aanhoudende gehoes, kortasemheid, borspyn en soms hoes die persoon bloederige slym. Behandeling duur sowat nege maande tot 'n jaar en dit is baie belangrik dat die pasiënt die kursus medikasie voltooi en nie van tyd tot tyd staak nie.



Boereraat:

Margaret Steele: "Meng een bottel Turlington met kondensmelk, dit moet die hele blik wees, roer goed dan gooi jy dit in a peanut butter bottel, baie goed vir TB, maar jy moet dit neem op jou nugter maag omtrent een tot twee eetlepels."

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.10.23

Tande getrek

Wat jy kan doen nadat ’n tand getrek is:
Bedek die wond met ’n stukkie gaas, rus en lig jou kop op, neem pynmedikasie, hou yspakkies toegedraai in lap teen die buitekant van jou gesig, eet sagte kos vir die eerste 24-48 uur.

MOENIE: Rook, strooitjies gebruik, spoeg, jou mond uitspoel, jou neus blaas of nies, of die plek druk met jou tong nie.



(foto: Karolina Grabowska)

2.10.23

Troshoofpyn

Troshoofpyn word soms met 'n migraine verwar, maar dit is alles behalwe dieselfde. Dit kom gewoonlik in die vroeë oggendure voor wanneer die lyer bewus word van 'n pyn agter een oog.

Die pyn vererger na 'n tyd en die oog word rooi en begin traan. 'n Verstoptheid of loperigheid kom voor in die neusgat aan dieselfde kant.

Die pyn duur enigiets van 20 minute tot twee ure. Die aandoening kan ook aanvalle vir twee maande lank meebring.

Hierdie soort hoofpyn kom meer by mans as vroue voor.

Troshoofpyne kan suksesvol behandel word met die antikonvulsiewe middel karbamasapien.



(foto: Andrea Piacquadio)

27.9.23

Tiener swangerskappe

Elke jaar is daar duisende tieners wat swanger raak. Heelwat van hierdie kinders se toekomsdrome word oornag verpletter.

Ouers moet op die volgende let:

Weet jy wat jou kind na skool doen en waar hy of sy is?

Kinders raak seksueel aktief op 'n vroeë ouderdom.

Weet jy watter druk op jou kind geplaas word deur die groep waarin hy/sy haar bevind?

Die druk van maats se kant af is een van die grootste faktore wat 'n bydrae het tot tiener swangerskappe. Kinders is van nature nuuskierig en meisies sal seks hê net om te voel hoe dit is, maar heelwat meisies gee in onder die druk wat hul maats op hul plaas om seks te hê. Hulle is ook onkundig oor seks omdat hul ouers nie maklik met hulle praat hieroor nie. Verder veroorsaak drank en dwelmmiddels dat kinders heelwat makliker betrokke raak by seksuele speletjies.

In Suid-Afrika se arm gemeenskappe raak tieners soms met opset swanger sodat hulle die paar rand per maand kindertoelaag kan kry.

Praat met jou kinders oor seks. Stres die belangrikheid van kondome in seksuele verhoudings. Moet nie verwag dat die skool dit vir jou gaan doen nie.

Tieners of ouers wat meer hulp soek kan die volgende organisasies kontak:
Childline 116
Lifeline 021 461 1113
HIV/AIDS Helpdesk 0800 012 322
Crime Stop 0860 010 111
Suicide Helpline 0800 567 567

20.9.23

Het jy slegte spysvertering? Probeer borrie.

In die eerste kliniese navorsing wat borrie direk met konvensionele medikasie vir spysvertering vergelyk, het die geel spesery sy medisinale waarde bewys.

Hospitaalpasiënte in Thailand wat borriekapsules ontvang het, het net so goed herstel van hul maagpyn as dié wat konvensionele medikasie gebruik het. Borrie word lank reeds in Oosterse medisyne gebruik as ’n natuurlike anti-inflammatoriese en antimikrobiese behandeling, en die jongste bevindings kan kliniese gebruik regverdig, het die navorsers gesê.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal BMJ Evidence-Based Medicine.



(foto: Karl Solano)

19.9.23

Galsteen behandeling en simptome

Galstene is kristalagtige korreltjies wat cholesterol bevat en in jou galblaas vorm. Soms is die enigste uitweg dat die galblaas verwyder word. Gelukkig kan dit andersins deur chirurgie verwyder word, met medisyne opgelos word of met ultrasoniese golwe opgebreek word.

Dit is baie belangrik dat hulle wel verwyder word. Galstene kan lewerontsteking en selfs lewerversaking veroorsaak. Verder kan hulle obstruksies vorm in jou derms of selfs die oorsaak van kanker wees.

Die eerste aanduiding dat jy galstene het is gewoonlik 'n kwaai pyn aan die regterkant van jou buik wat na jou rug versprei. Jy sal ook opgeblaas en winderig voel. Indien die galblaas afgesluit word kan jy geelsug ontwikkel.

Dit is meesal oorgewig individue en swanger vroue wat geelsug ontwikkel.



(foto: Andrea Piacquadio)

7.9.23

Vog vasgevang in die oor

Jy kan hierdie metodes probeer om ontslae te raak van vloeistof wat in die oor vasgevang is:

1. Gaap of sluk om die Eustachius-buis te help oopmaak.
2. Kougom kou of stokkielekkers suig help om sluk aan te moedig.
3. Kantel jou kop na die kant en trek liggies aan jou oorlel om te help om die vloeistof te dreineer.
4. Gebruik ’n warm kompres op die aangetaste oor.
5. Jy kan help om kongestie te verminder en dreinering te bevorder met medikasie wat jy by ’n apteek kan kry.

As die vloeistof nie weggaan of ongemak veroorsaak, is dit 'n goeie idee om ’n dokter te raadpleeg vir ’n behoorlike diagnose en behandeling.



(foto: Karolina Grabowska)