Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

27.9.23

Tiener swangerskappe

Elke jaar is daar duisende tieners wat swanger raak. Heelwat van hierdie kinders se toekomsdrome word oornag verpletter.

Ouers moet op die volgende let:

Weet jy wat jou kind na skool doen en waar hy of sy is?

Kinders raak seksueel aktief op 'n vroeë ouderdom.

Weet jy watter druk op jou kind geplaas word deur die groep waarin hy/sy haar bevind?

Die druk van maats se kant af is een van die grootste faktore wat 'n bydrae het tot tiener swangerskappe. Kinders is van nature nuuskierig en meisies sal seks hê net om te voel hoe dit is, maar heelwat meisies gee in onder die druk wat hul maats op hul plaas om seks te hê. Hulle is ook onkundig oor seks omdat hul ouers nie maklik met hulle praat hieroor nie. Verder veroorsaak drank en dwelmmiddels dat kinders heelwat makliker betrokke raak by seksuele speletjies.

In Suid-Afrika se arm gemeenskappe raak tieners soms met opset swanger sodat hulle die paar rand per maand kindertoelaag kan kry.

Praat met jou kinders oor seks. Stres die belangrikheid van kondome in seksuele verhoudings. Moet nie verwag dat die skool dit vir jou gaan doen nie.

Tieners of ouers wat meer hulp soek kan die volgende organisasies kontak:
Childline 116
Lifeline 021 461 1113
HIV/AIDS Helpdesk 0800 012 322
Crime Stop 0860 010 111
Suicide Helpline 0800 567 567

20.9.23

Het jy slegte spysvertering? Probeer borrie.

In die eerste kliniese navorsing wat borrie direk met konvensionele medikasie vir spysvertering vergelyk, het die geel spesery sy medisinale waarde bewys.

Hospitaalpasiënte in Thailand wat borriekapsules ontvang het, het net so goed herstel van hul maagpyn as dié wat konvensionele medikasie gebruik het. Borrie word lank reeds in Oosterse medisyne gebruik as ’n natuurlike anti-inflammatoriese en antimikrobiese behandeling, en die jongste bevindings kan kliniese gebruik regverdig, het die navorsers gesê.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal BMJ Evidence-Based Medicine.



(foto: Karl Solano)

19.9.23

Galsteen behandeling en simptome

Galstene is kristalagtige korreltjies wat cholesterol bevat en in jou galblaas vorm. Soms is die enigste uitweg dat die galblaas verwyder word. Gelukkig kan dit andersins deur chirurgie verwyder word, met medisyne opgelos word of met ultrasoniese golwe opgebreek word.

Dit is baie belangrik dat hulle wel verwyder word. Galstene kan lewerontsteking en selfs lewerversaking veroorsaak. Verder kan hulle obstruksies vorm in jou derms of selfs die oorsaak van kanker wees.

Die eerste aanduiding dat jy galstene het is gewoonlik 'n kwaai pyn aan die regterkant van jou buik wat na jou rug versprei. Jy sal ook opgeblaas en winderig voel. Indien die galblaas afgesluit word kan jy geelsug ontwikkel.

Dit is meesal oorgewig individue en swanger vroue wat geelsug ontwikkel.



(foto: Andrea Piacquadio)

7.9.23

Vog vasgevang in die oor

Jy kan hierdie metodes probeer om ontslae te raak van vloeistof wat in die oor vasgevang is:

1. Gaap of sluk om die Eustachius-buis te help oopmaak.
2. Kougom kou of stokkielekkers suig help om sluk aan te moedig.
3. Kantel jou kop na die kant en trek liggies aan jou oorlel om te help om die vloeistof te dreineer.
4. Gebruik ’n warm kompres op die aangetaste oor.
5. Jy kan help om kongestie te verminder en dreinering te bevorder met medikasie wat jy by ’n apteek kan kry.

As die vloeistof nie weggaan of ongemak veroorsaak, is dit 'n goeie idee om ’n dokter te raadpleeg vir ’n behoorlike diagnose en behandeling.



(foto: Karolina Grabowska)

6.9.23

Mans se vrugbaarheid in hul sestigs

Mans se vrugbaarheid is nog baie goed in hul sestigs. Mans se vrugbaarheid verminder nie so erg soos die van vroue nie.

Mans se probleem is eerder erektiele disfunksie. Hulle produseer nog baie spermselle, ongeveer 75% van wat iemand die helfte van hul ouderdom produseer.

Hoe lank jy vrugbaar bly hang maar af van jou gene en hoe gesond jy leef. Daar is mans wat reeds in hulle negentigs was wat kinders verwek het. Diegene met ’n gesonde lewenstyl se kanse is baie beter om baba's te verwek. Jy moet ook weet dat mans sekere tye van die maand meer vrugbaar is as ander. Wetenskaplikes skryf dit toe aan 'n interne siklus van elke man.

Daar is wel ’n groter risiko vir gesondheidsprobleme by die kinders van bejaarde persone.

5.9.23

Hardlywigheid by babas

Hardlywigheid by baba's kan 'n hengse kopseer wees vir ouers. Vier keer 'n dag se stoelgang by baba's is nie abnormaal nie. Onthou ook dat baba's wat geborsvoed word meer stoelgang het as die op formule. Dit neem ook af met ouderdom.

Indien jou baba jonger is as twee maande en sukkel dan moet jy asseblief dadelik jou dokter gaan spreek. Vir hardlywige baba's tussen twee en vier maande kan jy die baba twee keer per dag 120 ml water gee. Indien daar geen verbetering is nie kan jy vrugtesap in plaas van water gebruik. Indien daar dan nog geen verbetering is nie moet jy eerder die dokter gaan spreek.

Baba's wat reeds op vaste voeding is kan doen met bietjie ekstra vesel in hul dieet indien hulle hardlywig is. Ten minste twee keer per dag.

Indien jy van 'n enema gebruik maak om harde stoelgang uit te help mag dit net die watergebasseerde soort wees.



(foto: Todd Morris)

30.8.23

Wat moet gebeur voordat jy op die pil of inspuiting gaan – al die stappe

Jy kan 'n fisiese ondersoek na jou algemene gesondheid verwag wanneer jy ’n voorbehoedmiddel oorweeg. Meer spesifiek behoort hulle ook te kyk vir seksueel oordraagbare infeksies of moontlike fisiese probleme. ’n Volledige PAP-smeer kan gedoen word (afhangende van jou ouderdom en seksuele geskiedenis), jou borste en pelvis kan ondersoek word en jou bloeddruk en gewig kan geneem word. Dit kan ’n hele tydjie neem en jy kan verwag om vir meer as een besoek te gaan.

Op grond hiervan en jou persoonlike geskiedenis behoort hulle vir jou inligting te gee oor die onderskeie voorbehoedmiddels wat vir jou beskikbaar is.

Sodra jy jou metode gekies het moet daar opvolgbesoeke aan die kliniek geskeduleer word om moontlike newe-effekte te moniteer.

Indien jy vantevore by die kliniek was moet jy jou kliniek- of hospitaalkaart saamneem asook enige medikasie wat jy tans gebruik of onlangs gebruik het. Indien dit jou eerste keer by die kliniek is sal jy die nodige vorms moet invul en daar sal vir jou 'n lêer oopgemaak word. Laasgenoemde kan ook ’n hele tydjie duur. Neem jou identiteitsdokument saam indien dit jou eerste keer is.

Probeer eers uitvind presies hoeveel mense die kliniek besoek per dag. Klinieke en hospitale het meer as gereeld lang toue mense wat van die dienste gebruik wil maak. Dit sal dalk nodig wees om die dag af te vat by die werk. Gaan so vroeg as moontlik.

Dit mag wees dat jou kliniek nie jou keuse van voorbehoedmiddel in voorraad het nie. Vra dan om na ’n gesondheidsinstansie verwys te word wat wel die metode aanbied. Vra ook of jy 'n verwysingsbrief sal nodig hê vir die instansie en tref die nodige reëlings om dit op ’n spesifieke tyd in ontvangs te neem.