Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

25.3.19

Hipotermie


Hipotermie is ’n toestand wat ontwikkel wanneer die liggaamstemperatuur tot onder ongeveer 35°C daal.
Matige hipotermie kan normaalweg omgekeer word en die pasiënt herstel gewoonlik volkome. Herstel is egter moeilik indien die temperatuur onder 26°C daal.
Dit word gewoonlik veroorsaak deur: langdurige tye in koue water; ontoereikende beskerming teen ’n koue omgewing; of bloot weens algemene blootstelling aan koue na ’n lang tydperk in ’n swak verhitte huis.
Die vermoë van die liggaam om te skerm teen koue word ondermyn deur alkohol en verdowingsmiddels. Sekere mediese toestande soos suikersiekte kan ook ’n bydraende faktor wees.

Simptome en tekens
  • ·         Die persoon kla oor die koue
  • ·         Die vel word bleek – babas se vel kan pienk voorkom
  • ·         Die persoon voel abnormaal koud
  • ·         Intense en onbeheerde bibbering
  • ·         Bibbering kan toeneem en ’n gebrek aan spierkoördinasie en onduidelike spraak kan intree
  • ·         Die persoon kan irrasioneel optree
  • ·         Die pols en asemhalingstempo verlangsaam
  • ·         Verlies van bewussyn


MOET NOOIT AANNEEM dat die persoon dood is nie, al lyk dit asof daar geen asemhaling en hartklop is nie.

Behandeling

1.       Plaas isoleermateriaal om die persoon. Moet nie die hande of arms in regstreekse kontak met die liggaam plaas nie. Maak seker die kop en nek is ook bedek, maar nie die gesig nie. Laat die persoon lê. Plaas die persoon in die herstelposisie indien bewusteloos.
2.       Verwyder die persoon uit die koue omgewing na ’n warm area of vertrek.
3.       Indien die persoon se klere nat is, verwyder dit.
4.       Gee ’n persoon wat by sy/haar volle bewussyn is ’n warm, soet drankie.
5.       Begin met resussitasie indien die asemhaling en hartklop ophou.
6.       Ondersoek die persoon vir vriesbrand en behandel.
7.       Sorg dat die persoon sodra moontlik by die hospitaal kom.

18.3.19

Ons raaiselpad met alzheimersiekte - 'n Persoonlike Reis

Elise Nel se eens briljante man raak aggressief en vergeetagtig, en tree heeltemal anders op as wat sy hom ken. Sy het ’n vae vermoede wat die probleem is, maar uiteindelik word haar ergste vrese bewaarheid: haar geliefde man het Alzheimer se siekte. Hy vra haar in ’n oomblik van helderheid om tot die einde na hom om te sien, wat sy doen.

Elise vertel hierdie intieme en aangrypende verhaal met deernis vir haar man en elke persoon wat aan alzheimers ly. Sy gee ook praktiese raad vir versorgers en tekens waarna mens moet oplet.



4.3.19

Nuwe hoop vir gehoorverlies

Navorsers aan Harvard en die University of Southern California het ’n nuwe benadering gevind tot die herstel van selle in die binneoor. Dit het die potensiaal om die gehoor te verbeter van miljoene mense wat aan gehoorverlies ly.

Die meeste mense oor die ouderdom van 70 jaar en omtrent 17% van persone in ontwikkelde lande sukkel met gehoorverlies.

Dit was nog altyd moeilik om medikasie toe te dien aan selle in die binneoor. Een van die probleme met medikasie in die binneoor is dat dit nie in plek bly nie. Die vloeistof in die area maak dit moeilik vir medikasie om goed te werk. Die nuwe navorsing het hierdie probleem aangespreek. Die fokus van die navorsing was spesifiek die koglea, die spiraalvormige orgaan in die binneoor waar baie sensitiewe selle voorkom wat klank na die brein herlei.

25.2.19

Die ouer vrou en groente

Navorsing uit Australië, gepubliseer in die Journal of the American Heart Association, het bevind dat daar minder verdikking van die nekslagare is van ouer vrouens wat gereeld groente eet.

Dit is veral broccoli, blomkool, kool en Brusselse spruite wat voordelig is.

18.2.19

Hooikoors

Hooikoors is een van die algemeenste allergieë. Omtrent 20% van alle mense sukkel daarmee, mense in stede meer as op die platteland. Dit staan ook bekend as allergiese rinitis.

Dit het niks met hooi te doen nie; dit is ’n reaksie op stuifmeel. Dit irriteer die slymvliese en laat die neus, keel en oë jeuk. Die neusgange swel op en verstop, die neus drup en die oë raak rooi en seer.

Mense maak gewoonlik van neussproeie gebruik om simptome te verlig. Ongelukkig bring dit net tydelike verligting en wanneer die medikasie uitgewerk het swel die membrane nog meer as vantevore. Die sproei kan ook die beskermende slym in die neus uitdroog.

As jy te lank hierdie middels gebruik kan jou liggaam ophou reageer daarop.

Antihistamientablette is doeltreffend, maar kan ’n verdowende uitwerking op die liggaam hê. Indien jy nie van die reaksie hou nie kan jy plaaslike antiinflammatoriese behandelings, soos neus- of oogdruppels, gebruik wat antihistamiene of steroïede bevat, maar nie lomerigheid veroorsaak nie.

Boereraat:

’n Lagie petroleumjellie in jou neus kan help om stuifmeel op te vang.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



(foto: Petr Kratochvil)

21.1.19

Sweisoë

Wanneer die oë te lank blootgestel word aan skerp lig, kan die horingvlies van die oog beskadig word. Dit is uiters pynlik en kan tot ’n week duur daarvoor begin verbeter. Dit word maklik voorkom deur ’n sonbril te dra.
Die toestand kan veroorsaak word deur die weerkaatsing van die son of die ultravioletlig van sweiswerk.

Simptome en tekens
• Intense pyn in die oë, dit kan voel asof daar sand in die oë is
• Die oë is rooi, waterig en gevoelig vir lig

Behandeling
1. Spoel die oë uit met koue water.
2. Verbind die oë liggies met oogkussings.
3. Kry mediese hulp.

14.1.19

Langtermyn gebruik van kafeïen kan Alzheimer se siekte vererger

Dit is algemeen bekend dat geheueprobleme kenmerkend is van Alzheimer se siekte. Dit word ook gekenmerk deur neuropsigiatriese simptome, wat reeds in die vroeë stadia van die siekte voorkom. Laasgenoemde gedrags- en sielkundige simptome sluit in angs, apatie, depressie, hallusinasies, paranoia en nog ander. Dit is deel van ’n verskeidenheid simptome wat op verskillende maniere manifesteer, afhangende van die individuele pasiënt. Hierdie simptome word beskou as die sterkste bron van nood vir pasiënte en versorgers.

Koffie, of kafeïen, is onlangs voorgestel as 'n strategie om demensie te voorkom, beide by pasiënte met Alzheimer se siekte en by normale verouderingsprosesse, maar daar is egter nou bewyse dat kafeïen die teenoorgestelde effek kan uitoefen.

Navorsers verbonde aan die Karolinska Universiteitshospitaal in Stockhölm, Swede, het bevind dat die langtermyn gebruik van kafeïen neuropsigiatriese simptome in diegene met Alzheimer se siekte kan vererger.

Die navorsing is aangevoer deur wetenskaplikes verbonde aan Universitat Autonoma de Barcelona in Spanje.