Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



25.3.19

Hipotermie


Hipotermie is ’n toestand wat ontwikkel wanneer die liggaamstemperatuur tot onder ongeveer 35°C daal.
Matige hipotermie kan normaalweg omgekeer word en die pasiënt herstel gewoonlik volkome. Herstel is egter moeilik indien die temperatuur onder 26°C daal.
Dit word gewoonlik veroorsaak deur: langdurige tye in koue water; ontoereikende beskerming teen ’n koue omgewing; of bloot weens algemene blootstelling aan koue na ’n lang tydperk in ’n swak verhitte huis.
Die vermoë van die liggaam om te skerm teen koue word ondermyn deur alkohol en verdowingsmiddels. Sekere mediese toestande soos suikersiekte kan ook ’n bydraende faktor wees.

Simptome en tekens
  • ·         Die persoon kla oor die koue
  • ·         Die vel word bleek – babas se vel kan pienk voorkom
  • ·         Die persoon voel abnormaal koud
  • ·         Intense en onbeheerde bibbering
  • ·         Bibbering kan toeneem en ’n gebrek aan spierkoördinasie en onduidelike spraak kan intree
  • ·         Die persoon kan irrasioneel optree
  • ·         Die pols en asemhalingstempo verlangsaam
  • ·         Verlies van bewussyn


MOET NOOIT AANNEEM dat die persoon dood is nie, al lyk dit asof daar geen asemhaling en hartklop is nie.

Behandeling

1.       Plaas isoleermateriaal om die persoon. Moet nie die hande of arms in regstreekse kontak met die liggaam plaas nie. Maak seker die kop en nek is ook bedek, maar nie die gesig nie. Laat die persoon lê. Plaas die persoon in die herstelposisie indien bewusteloos.
2.       Verwyder die persoon uit die koue omgewing na ’n warm area of vertrek.
3.       Indien die persoon se klere nat is, verwyder dit.
4.       Gee ’n persoon wat by sy/haar volle bewussyn is ’n warm, soet drankie.
5.       Begin met resussitasie indien die asemhaling en hartklop ophou.
6.       Ondersoek die persoon vir vriesbrand en behandel.
7.       Sorg dat die persoon sodra moontlik by die hospitaal kom.

No comments :

Post a Comment