Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

13.1.15

Fetale blootstelling aan alkohol verbind aan gewigsprobleme

’n Nuwe studie het bevind dat kinders met fetale alkoholsindroom of gedeeltelike fetale alkoholsindroom geneig is om oorgewig te wees tydens adolessensie; sommige selfs ernstig vetsugtig.

Dit is nog nie duidelik of die probleem biologies van aard is en of dit ’n gedragsprobleem is nie; of selfs ’n kombinasie van die twee.

12.1.15

Aspiriene mag dalk help met bloedklonte

Aspiriene is dalk ’n goeie alternatiewe behandeling om te oorweeg om herhalende bloedklonte te voorkom.

Twee studies wat oor die tydperk van twee jaar onderneem is, het bevind dat die gebruik van aspiriene die kanse op herhalende bloedklonte met tot 42% verminder.

Dit is goeie nuus vir persone wat sukkel met diep binneaarse trombose, waar bloedklonte in are wat diep in die bene lê ontstaan, opbreek en in die longe beland waar dit are verstop.

Indien jy al ’n bloedklont gehad het, is jou kanse tot 10% om weer ’n klont in dieselfde jaar te ontwikkel. Daarna vermeerder jou kanse met sowat 5% per jaar.

Pasiënte word sterk aanbeveel om die gebruik van aspiriene eers met hul dokter te bespreek.

Die bevindings van die studies is gepubliseer in die joernaal Circulation.

7.1.15

Noodhulp: Bewustelose persone wat verstik het

1. Draai die persoon op sy of haar rug, maak die lugweg oop en begin met kunsmatige asemhaling.
2. Indien dit nie werk nie, rol die persoon met sy of haar gesig na jou toe met die borskas op jou bobeen. Dien vier houe toe op die rug.
3. Kyk of die versperring losgekom het, haal dit uit indien wel.
4. Indien nie, draai die persoon op die rug en pas buikdrukking toe. Kyk weer in die mond.
5. Herhaal die stappe indien die versperring nie loskom nie.
6. Indien die versperring uit is, plaas die persoon in die herstelposisie.

6.1.15

Strawwe oefening goed vir ouer dames

Ouer vrouens kan hul kanse op sekere hartsiektes verlaag deur die intensiteit van hul oefenprogramme te verhoog. Dit is die bevinding van ’n studie gepubliseer in die Journal of the American Heart Association.

Interessant was dat die bevindings daarop dui dat, al lei ’n dame aan vetsug, as die intensiteit van haar oefening hoër is as iemand wat nie vetsugtig is nie, is haar kanse minder om hartsiektes op te doen.

5.1.15

Laat baba toets vir immuniteitsgebreke

Daar is ’n toets beskikbaar vir ernstige gekombineerde immuniteitsgebreke, wat lewensgevaarlike oorgeërfde siektes by pasgebore baba’s kan identifiseer.

Ernstige immuniteitsgebreke ontstaan weens defektiewe gene betrokke in die ontwikkeling van selle wat infeksie bekamp. Meer as 80% van baba’s met die toestand het nooit ’n familiegeskiedenis daarvan gehad nie.

Dit kan fataal wees vir die baba, gewoonlik binne die eerste twee jaar. Behandeling behels die versterking van die baba se immuniteit met behulp van die oorplanting van stamselle of geenterapie.

Dit is belangrik vir pasgebore baba’s om die toets te ondergaan, want dit laat toe dat die baba suksesvol behandel kan word voor enige infeksie die liggaam oorneem. Volgens ’n nuwe studie aan die Universiteit van Kalifornië is ’n baba se beste kans ’n stamseloorplanting binne die eerste 3½ maande.

Die navorsing oor die toets is gepubliseer in die Journal of the American Medical Association; Newborn screening for severe combined immunodeficiency in 11 screening programs in the United States.

30.12.14

Roosmaryn en oreganum help om diabetes te beheer

Laboratorium-toetse het bevind dat die kruie roosmaryn en oreganum bestanddele bevat wat diabetes kan bekamp. Dié kruie bied moontlik ’n natuurlike manier om die glukosevlakke in die bloed te verlaag.

Die uitslag van die toetse kan gevind word in die Journal of Agricultural and Food Chemistry.

29.12.14

Te veel sout ’n groter gevaar vir diabete

Persone met tipe 2 diabetes wat baie sout inneem se kanse is dubbel die van ander mense om ’n kardiovaskulêre siekte te ontwikkel.

Mense ontwikkel diabetes as daar te veel suiker in hul bloedstroom is. Tipe 2 diabetes ontstaan wanneer die liggaam ’n weerstand ontwikkel teen die hormoon insulien. Insulien vervoer die suiker vanaf die bloed na die liggaamselle.

Kardiovaskulêre siektes, soos hartsiektes, kom meer voor onder diabete, as onder die res van die bevolking. ’n Onlangse studie toon nou duidelik dat persone met tipe 2 diabetes wat baie sout gebruik ’n nog groter kans staan om sulke siektes te ontwikkel.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism.